Bestuur

Die direksie se strategiese ESG-komitee, wat ingevolge sy mandaat klimaatsverandering en ESG-onderwerpe oorweeg, het gedurende die finansiële jaar met die maatskaplike-en-etiesekomitee saamgesmelt, en gevolglik is klimaatsverandering nou by laasgenoemde se mandaat ingesluit. Daarbenewens oorweeg die oudit-en-risikokomitee klimaatsverwante risiko en geleenthede, en die beleggingskomitee oorweeg ESG-faktore ál meer in beleggingsbesluite. Hierdie komitees het gedurende die jaar verskeie voorleggings en insette oor klimaatsverwante kwessies ontvang.

Remgro het openbaarmakingsriglyne vir sy onderliggende beleggings ontwikkel ten einde die groep se verbintenis tot sy rentmeestersrol binne sy portefeulje verder te verhoog. Hierdie riglyne sluit aanwysers vir klimaatsverandering, energiedoeltreffendheid, hernubare energieverbruik en verwante ESG-kwessies soos water in. Verskeie maatskappye in die portefeulje neem aan die koolstofopenbaarmakingsprojek (CDP) deel en verskaf CDP-data aan Remgro.

Remgro se beleggingsbestuurders en direkteure wat op die direksies van maatskappye in die portefeulje dien, het gedurende die tweede kwartaal van 2025 opleiding ontvang oor die behoefte vir klimaatsverwante scenario-ontleding en wat van so ’n ontleding verwag word. Hierdie opleiding stel hulle in staat om toesig oor en betrokkenheid by klimaatsverwante kwessies op daardie direksies te verhoog.

Onderliggende beleggings se volwassenheidsvlak wat klimaatsverwante sake betref, verskil regdeur die portefeulje, met dié wat reeds genoteer is, internasionale blootstelling het of dié wat reeds aan koolstofbegrotings onderhewig is, soos Mediclinic Group Beperk, Heineken Beverages Holdings Beperk (Heineken Beverages), OUTsurance Group Beperk (OUTsurance Group) en PGSI Beperk, wat verder gevorderd is as ander.

Remgro koppel sedert 2021 die groep se ESG-reis aan sy langtermynvergoedingsaansporings, en in 2023 het Remgro die maatskappye waarin dit belê, aangemoedig om dieselfde te doen (verwys na die vergoedingsverslag). SPI’s vir energiebasislyne, vermindering van vrystellings, hernubare energie en energiedoeltreffendheid word ook ingesluit. ’n Groter groep onderliggende beleggings is in 2025 in die stelselmatige dataversameling vir Remgro se vlak 3-vrystellingsprofiel ingesluit. Vrystellings wat in hierdie verslag vanaf Remgro by die kern en 11 onderliggende beleggings versamel is, verteenwoordig 82% van INBW. Die groep het ook op maatstafbepaling, die aanmoediging van energiedoeltreffendheid, die gebruik van hernubare energie (waar toepaslik) en die openbaarmaking van klimaatsverwante prestasie gefokus.

Strategie

Remgro het in 2025 sy klimaatstrategie bevorder deur eksterne deskundiges te betrek om klimaatsverwante risiko’s en geleenthede regoor sy portefeulje te help identifiseer. Dit sluit ’n proses om meer omvattende scenario-ontledings te ontwikkel en ’n evaluering van sleutelsektore vir kwesbaarheid in. Insette van beleggingsbestuurders en onderliggende beleggings bepaal die proses wat die beoordeling van bestuur, strategie en vernaamste klimaatsrisiko’s verfyn.

Dit het uit die aanvanklike 2024-beoordeling geblyk dat daar ’n groeiende begrip van klimaatsverwante risiko’s en geleenthede binne die mandate van direksiekomitees is soos risiko en maatskaplik-en- etiek. Die portefeulje se sleutel-onderliggende beleggings bereken en rapporteer hul vlak 1- en vlak 2-koolstofvrystellings, maar baie moet nog vlak 3-vrystellings bereken. Dit is ’n kwessie waarmee verskeie maatskappye wêreldwyd worstel. Beoordeling van die impak van risiko's op besigheidsmodelle sal gedurende die 2026-finansiële jaar volg.

’n Paar data-hersamestellings is in vanjaar se koolstofvoetspoorverslag gemaak wat op bladsy 15 en 16 van die volledige Klimaatsverslag, ingesluit is. Dit stem ooreen met die verwagtinge van groeiende begrip en vermoëns om hierdie data te bestuur en te openbaar.

Risiko en geleenthede

Remgro se blootstelling aan klimaatsverwante risiko word oorweeg deur potensiële impakte op sy onderliggende beleggings. Die maatskappye word gekonfronteer deur beide fisiese risiko’s, wat hoofsaaklik gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse omgewing wat teen ’n hoër koers as die globale gemiddelde verhit en die land se inherente wateruitdagings, asook die oorgangsrisiko vanweë regulatoriese veranderinge, verbruikers-en markdruk en stygende koste van finansiering en versekering weens risikograderings. Dit bly ’n uitdaging vir maatskappye met multinasionale bedrywighede en verskaffingskettings om die vereistes in verskeie jurisdiksies na te kom.

Hewige vloede wat in vorige jare ervaar is, het die afgelope jaar in Suid-Afrika voortgeduur met beduidende menslike impak in die betrokke gebiede, asook logistieke ontwrigtings.

Een van die uitdagings waarmee Remgro gedurende die finansiële jaar gekonfronteer is, het tot die hersamestelling van sekere koolstofuitlatings (verwys na bladsy 7 van die Klimaatsverslag, gelei vanweë die verkoop van hernubare energiesertifikate deur verskaffers wat sonkragstelsels aan sekere maatskappye verskaf het. Dit het tot dubbelboekhouding gelei. ’n Eksterne assessering is onderneem, en die groep glo daar is nou voldoende duidelikheid vir die hersamestelling van die syfers en om verdere probleme in die toekoms te verhoed.

Fisiese risiko

Water is ’n sleutelrisiko wat al Remgro se onderliggende beleggings beïnvloed en vorm deel van die ESG-risikoregister (verwys na bladsy 7 van die ESG en Volhoubaarheidsverslag). Hierdie risiko word verhoog deur klimaatsverandering en die waarskynlikheid van uiterste weersomstandighede soos vloede en droogte wat ál meer toeneem. Die bedreiging van onvoldoende water word vererger deur die agteruitgaan van infrastruktuur vir watertoevoer en -toegang, asook sanitasiestelsels wat swak funksioneer.

Uiterste hitte en hittegolwe wat ál langer duur, kan moontlik beduidende invloede op verskeie van Remgro se beleggings uitoefen, veral dié in die voedsel- en dranksektore, soos Heineken Beverages, en in die landbousektor, soos RCL Foods Beperk, Rainbow Chicken Beperk en Siqalo Foods Eiendoms Beperk. Klimaatsverandering beïnvloed die suksesvolle kweek van basiese landbouprodukte soos oliesade, druiwe en hop. Talle ander sektore moet die impak van uiterste hitte in ag neem aangesien dit veral buitewerkers beïnvloed, byvoorbeeld in die telekommunikasiesektor soos die Maziv Eiendoms Beperk groep (’n volfiliaal van Community Investment Ventures Holdings Eiendoms Beperk). Uiterste hitte beteken ’n groter aanvraag na verkoeling en lugversorging wat op sy beurt energieverbruik kan verhoog en eindelik ’n finansiële impak sal hê en na hoër vrystellings sal lei. Die uitbreiding van digitalisering en die gebruik van kunsmatige intelligensie sal energievrystellings in die meeste maatskappye waarskynlik laat toeneem. Verdere belegging in hernubare energie en energiedoeltreffendheid is nodig om vrystellingsvlakke te handhaaf of te verminder. Die meeste onderliggende beleggings is in die proses om energiedoeltreffendheidsmaatstawwe te assesseer of om deels na hernubare energie om te skakel as ’n manier om baat te vind by die vele voordele wat aan die bestuur van kweekhuisgasvrystellings verbonde is, asook om die risiko’s van energietoevoer in Suid-Afrika te verminder en bedryfsenergiekoste te bestuur.

Die versekeringsektor word aan ’n toenemende aantal weerverwante eise blootgestel. Vloede, brande en droogte oor die afgelope jare het gelei tot rekordeise in Suid-Afrika en Australië, waar OUTsurance Group ’n aansienlike teenwoordigheid het. Dele van Suid-Afrika het die afgelope drie jaar hewige vloede ervaar wat ’n impak gehad het op ondernemings, logistiek en ontheemding van mense, waarvan baie nie verseker was nie en rampverligting benodig om hul huise weer te vestig.

Oorgangsrisiko

Koolstofbelasting, die verwagte instelling van verpligte belastingbegrotings (die konsepregulasies hiervoor is in die tweede kwartaal van 2024 vir kommentaar gepubliseer) en sektorale vrystellingsteikens beteken daar is regulatoriese druk op maatskappye in die nywerheids- en landbousektore om sake onder strenger vrystellingsbeperkings te bedryf om sodoende Suid-Afrika te ondersteun om sy verpligtinge aan die Parys-ooreenkoms na te kom. Soos in die nasionale begrotingsrede van Februarie 2024 uiteengesit, sal versuiming om die koolstofbegrotings na te kom aan koolstofbelastingstrafmaatreëls gekoppel word.

Remgro het ’n in-diepte beoordeling van klimaatsrisiko’s en-geleenthede vir sy onderliggende beleggings geloods wat vir Suid-Afrikaanse toestande pasgemaak is. Hierdie ontleding sal beoordeel hoe klimaatsrisiko’s, soos koolstofbelasting en uiterste weerstoestande, die portefeulje kan beïnvloed en tot in watter mate die beleggings wat beoordeel word hierop voorbereid is. Aanvanklike beoordelings het gefokus op volfiliale en beleggings wat in die vinnig bewegende verbruikersgoederesektor bedrywig is, insluitend water-risiko. Die bevindinge sal die groep se portefeuljebestuur lei en help om maatskappye te identifiseer wat geteikende risikovermindering vereis of dié wat oor klimaatsverwante geleenthede beskik. Die ontleding sal ook berekeninge vir die finansiële impak van potensiële risiko’s en geleenthede in verskeie scenario’s beïnvloed.

Buitelandse klimaatsverwante beleide of regulasies kan verdere oorgangsrisiko inhou vir Suid-Afrikaanse maatskappye wat na ander markte uitvoer of in gevalle waar die maatskappy materiale, produkte of onderdele (bv. toerusting) van ander lande moet verkry.

Daarbenewens hou invoering ál meer geassosieerde fisiese risiko in, byvoorbeeld logistieke vertragings weens storms. Die potensiële impak van die Europese Unie (EU) se oorgrenskoolstofbelasting, wat die “Carbon Border Adjustment Mechanism” (CBAM) genoem word, moet nog volledig deur die groep beoordeel word en vereis verdere navorsing. Die Suid- Afrikaanse ekonomie sal onder toenemende druk verkeer met klimaatsverwante risiko’s wat toeneem. Ekonomiese impak sal ook sektore wat aan verbruikers gekoppel word, soos voedsel en drank, beïnvloed. Die finansiële impak op hierdie sektore ondergaan ook ’n nouer evaluering gegewe die druk van klimaatsverandering en ekonomiese toestande wat met mekaar verband hou. Remgro reageer hierop met opleiding in scenarioontleding vir sy bestuur en deur ESG-verslagdoening uit te brei om meer maatskappye in sy portefeulje daarby in te sluit.

Suid-Afrikaanse maatskappye word deur groter risiko van beide fisiese weersomstandighede soos vloede en uiterste hitte, asook oorgangsveranderinge soos nuwe regulasies en koolstofbelasting gekonfronteer. Remgro en sy onderliggende beleggings bestuur hierdie uitdagings deur opname van hernubare energie te verhoog, energiedoeltreffendheid te verbeter en in-diepte klimaatsrisiko-assesserings uit te voer.

Nuwe ontwikkelinge sal die waarskynlike bekendstelling van verpligte koolstofbegrotings in Suid-Afrika, wat nie-nakoming aan hoër koolstofbelasting sal koppel, en konsepregulasies wat in die tweede kwartaal van 2024 gepubliseer is, insluit. Die groep het ook sy basislyn-ESG-verslagdoening uitgebrei om 12 maatskappy in te sluit, op vanaf 10, en meer as die helfte van die maatskappye het koolstofverwydering-teikens gestel.

In reaksie op oorgangsrisiko’s het baie onderliggende beleggings hernubare energieprojekte ondersoek of daarin belê of is die maatskappye besig om geleenthede daarvoor te beoordeel. Daar word aansienlik in fotovoltaïese sonkragstelsels belê, in die besonder ’n 75MW-installasie deur Air Products South Africa Eiendoms Beperk. Remgro het energiehandelsvermoëns bevorder deur Energy Exchange of Southern Africa Eiendoms Beperk (Energy Exchange) wat groter toegang tot groen energie bewerkstellig.

As ’n houermaatskappy kan Remgro se vlak 3-vrystellings voorkom asof dit toeneem namate meer onderliggende beleggings vrystellingsdata verskaf. Dit behoort egter oor die medium termyn te stabiliseer en dan begin afneem. Vanjaar is 12 (2024: nege) maatskappye by die koolstofvoetspoor ingesluit.

Remgro beskik oor ’n gelisensieerde energiehandelaar, Energy Exchange, wat groen energie van opwekkers van hernubare energie verkry en daardie energie op ’n kontrakbasis verskaf aan maatskappye wat verkies om nie in die tegnologie te belê nie, maar graag groener energie vir hul werksaamhede wil beveilig.

Teikens en maatstawwe

Remgro is op ’n koolstofverwyderingreis en neem al meer as ’n dekade lank deel aan die CDP. Die groep het egter nog nie kwantifiserende teikens vir vrystellingverminderings vir sy werksaamhede of portefeulje gestel nie. Die groep het ’n gestelde voorneme om koolstof te verwyder, maar het tot op datum nog nie ’n tydlyn uiteengesit nie.

Hoewel daar nog baie gedoen moet word, is daar reeds vordering wat klimaatsaksie betref. Baie van Remgro se onderliggende beleggings het reeds ESG-teikens ten opsigte van klimaatsverandering en energiebestuur gestel. Al 10 onderliggende beleggings, wat net meer as 80% van INBW verteenwoordig en ESG aan Remgro rapporteer, het óf strategieë in plek óf meetbare doelwitte of teikens om kweekhuisgasvrystellings en/of energieverbruik te verminder. Remgro gaan voort om met volfiliale en die maatskappye in sy portefeulje saam te werk om voortgesette verbeterings te lewer.

Scenario-ontleding

Remgro se beleggingsbestuurders en direkteure wat op die direksies van filiale dien, het gedurende die jaar opleiding in klimaatsverwante scenario-ontleding ontvang. Dit is deur ’n eksterne klimaatsverandering-konsultasiefirma behartig en het die identifisering van klimaatsverwante risiko’s en geleenthede binne die Remgro-portefeulje behels, asook hoe om verskillende klimaatsverandering- scenario’s te gebruik om beleggingontleding te bepaal.

Soos onder “Oorgangsrisiko” hierbo bespreek, kan oorgangsrisiko’s van nuwe klimaatsregulasies, soos Suid-Afrika se koolstofbegrotings en die EU se oorgrens-koolstofbelasting, uitvoerders aansienlik beïnvloed en vereis dit verdere beoordeling. Remgro spreek hierdie kwessies aan deur scenario-ontleding, verhoogde ESG-verslagdoening en beleggings in hernubare energie en energiedoeltreffendheid.

Vir meer inligting, verwys na die volledige Klimaatsverslag