Hierdie verslag gee ’n uiteensetting van ons vergoedingsbeleid en die vergoedingsimplementeringsverslag vir uitvoerende direkteure en nie-uitvoerende direkteure se vergoeding vir die 2025-finansiële jaar en word in drie dele aangebied:
| i) | Deel 1: Die agtergrondverslag wat konteks gee oor ons vergoedingsbeleid en prestasie; |
| ii) | Deel 2: ’n Oorsig van die vergoedingsbeleid soos wat dit van toepassing sal wees in die 2026-finansiële jaar; en |
| iii) | Deel 3: Die vergoedingsimplementeringsverslag wat in besonderhede aandui hoe die bestaande beleid in die jaar onder oorsig geïmplementeer is, insluitende die openbaarmaking van betalings aan uitvoerende direkteure en nie-uitvoerende direkteure gemaak in die jaar geëindig 30 Junie 2025. |
Remgro se vergoedingsfilosofie word gelei deur sy volhoubaarheidsgefokusde sakestrategie, met omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG) as ’n sleutelelement, en die uiteindelike doelwit om volhoubare waarde en akkumulatiewe opbrengste oor die lang termyn vir aandeelhouers te lewer en terselfdertyd ’n positiewe ESG-impak te bewerkstellig wat gedeelde waarde vir alle belanghebbendes ontsluit.
Ons gebruik ’n eenvoudige vergoedingstruktuur met ’n duidelike langtermynfokus om alle werknemers in ooreenstemming met ons langtermynstrategie te bring. Die oorkoepelende beginsels van hierdie strategie is dat vergoeding billik moet wees, ’n fokus op waardeskepping moet hê en deur sterk bestuurstoesig gerugsteun moet wees. ’n Oorsig van ons vergoedingsbenadering word hieronder uiteengesit.

Die vernaamste veranderinge in hierdie raamwerk vergeleke met die 2024-verslag is:
- Die bekendstelling van twee nuwe finansiële prestasiemaatstawwe, naamlik totale aandeelhoueropbrengs (TSR) en wesensverdienste per aandeel (WVPA), en die gewysigde gewig wat aan die finansiële prestasiemaatstawwe toegeken word; en
- Teikens wat aansienlik meer uitstaande is wat vir al die finansiële prestasiemaatstawwe bekendgestel is.
(Verwys asseblief na die vergoedingsverslag vir meer besonderhede oor die finansiële maatstawwe wat vir die LTA-toekennings vir 2024 geld).
Hierdie deurdagte en doelbewuste veranderinge het gelei tot ’n strategiese ommekeer na aktiewer portefeulje-optimalisering, gefokusde en noukeurige kapitaaltoekenning en ’n doelbewuste strewe om volhoubare ondernemings te lei. Dit word in fyner besonderhede in die hoofuitvoerende beampte (HUB) se verslag bespreek.
Oorsig van prestasie- en vergoedingsuitkomste vir die jaar onder oorsig
Die 2025-finansiële jaar is deur voortslepende makro-ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika sowel as wêreldwyd gekenmerk. Plaaslike BBP-groei het traag gebly en is negatief beïnvloed deur voortdurende druk op vrag en logistiek, onbetroubare energietoevoer en swak infrastruktuur. Al het inflasie laer geneig en binne die Reserwebank se teikenband gebly, het hoë rentekoerse en verhoogde insetkoste steeds druk op sakevertoning en verbruikersentiment uitgeoefen. Rentekoersverligting het eers teen die einde van die verslagdoeningstydperk geblyk en beperkte korttermynvoordeel gebied. Wêreldwyd het toenemende geopolitieke spanning, handelsbeleid-onsekerheid en onbestendige kommoditeitsmarkte tot ’n behoedsame beleggingsomgewing en ’n selfs ingewikkelder bedryfslandskap bygedra.
Remgro het binne hierdie konteks daarop gefokus om beduidende veranderinge wat in die vorige jaar bekendgestel is gedurende die huidige jaar te konsolideer en bedrywighede regoor sy kernbates te verbeter. Bestuur het die implementering van sleutelinisiatiewe, gedissiplineerde kostebeheer en die versterking van prestasiebeginsels geprioritiseer. Onderliggende beleggings soos Mediclinic, Heineken Beverages, CIVH, RCL Foods, Siqalo Foods en Rainbow het elkeen bemoedigende tekens van vordering getoon. Hierdie verbeteringe was te danke aan gefokusde uitvoering, sterker bestuursraamwerke en voortdurende pogings om elke besigheid vir veerkragtigheid en groei oor die lang termyn te posisioneer.
Remgro het voortgegaan om sy volhoubaarheidsagenda te bevorder. Pogings gedurende die jaar was daarop gerig om ESG-verwante openbaarmaking te verbeter, die integrasie van ESG in beleggings- en oorsigprosesse te versterk en betrokkenheid by onderliggende beleggings se volhoubaarheidskwessies te verhoog. Hierdie pogings ondersteun die groep se langtermynfokus op verantwoordelike kapitaaltoekenning en waardeskepping.
Wat vooruitsigte betref, bly Remgro daartoe verbind om sy strategie gedissiplineerd uit te voer. Dit sluit in om kernbeleggings te optimaliseer en nie-kernbates verantwoordelik te verkoop, asook ’n voortgesette fokus op volhoubare groei. Hierdie prioriteite beïnvloed steeds die groep se benadering tot vergoeding wat ontwerp is om bestuursuitkomste in ooreenstemming te bring met prestasie en waardeskepping vir aandeelhouers oor die lang termyn.
Bestuur bly daartoe verbind om deur ’n verskerpte fokus op sy kern- en groeibates, die verkoop van nie-kernbates en ’n hernieude fokus op groeigeleenthede, bykomende waarde te ontsluit. Die maatskappy gaan ook voort met sy volhoubaarheidstrewe om, deur volgehoue verbeteringe in openbaarmaking en aandeelhouersbetrokkenheid, Remgro as ’n ESG-bedryfsleier te vestig. Ons het in hierdie verband ’n stel kern-ESG-aanwysers geïdentifiseer en gebruik hierdie aanwysers, saam met ons ESGdoelwitte, om openbaarmaking te verbeter en volgehoue groei van ons ESG-program te verseker.
Totale gewaarborgde pakket (TGP)
In ooreenstemming met Remgro se filosofie ten opsigte van billike en verantwoordelike vergoeding, is die volgende besluit geneem met betrekking tot verhogings:
- Uitvoerende direkteure, lede van die bestuursraad en senior bestuur het verhogings in die omgewing van 5.89% vir die 2025-finansiële jaar ontvang.
- Personeel op bestuursvlakke het verhogings van ongeveer 5.97% en nie-bestuursvlakpersoneel het salarisaanpassings van gemiddeld ongeveer 6.26% vir die 2025-finansiële jaar ontvang.
Langtermynaansporings (LTA)-planne
Die vestigingsuitkomste van die 2022-LTA-planne, waarvan die prestasietydperk op 30 Junie 2025 geëindig het, was 83.7%. Besonderhede van die vestiging van hierdie toekennings word in Deel 3 van hierdie verslag uiteengesit.
Die 2025-finansiële jaar was die eerste jaar waar slegs CSP-toekennings gemaak is. Die vergoedings-en-nominasiekomitee (die komitee) het vertroue dat die maatskappy se veranderlike vergoedingsaanbod sonder ’n korttermynaansporingsplan die vereiste doelwit nakom: om sleuteltalent te lok, te motiveer en te behou. Dit, tesame met die finansiële en nie-finansiële ESG-verwante sleutelprestasieteikens, verseker dat ons werknemers op ’n volhoubare en voortreflike wyse ’n beduidende bydrae tot die maatskappy se langtermyn-doelwitte lewer.
Opvolgbeplanning en billike vergoeding
Opvolgbeplanning is en was nog altyd vir die komitee ’n sleutelfokusgebied. Gelyke verteenwoordiging binne ons organisasie is van besondere belang en geniet voorkeur wanneer die geleentheid om nuwe aanstellings te maak hom voordoen. Die komitee is tevrede dat daar binne die verskillende verantwoordelikheidsvlakke geen beduidende geslagsbetalingsgapings is nie, maar gaan voort om die geslagsbetalingsgaping en ander billike vergoedingsverhoudings te monitor.
Die komitee het vordering gemaak met die ontwikkeling van ’n alleenstaande beleid vir billike vergoeding, en hierdie beleid sal in die 2026-finansiële jaar gefinaliseer en aan die direksie voorgelê word. Die beleid is daarop gemik om billike en gelyke betaling regdeur die maatskappy te verseker, asook om vir die vereistes vir openbaarmaking ingevolge die Maatskappywysigingswet voor te berei. Hoewel die Wet se openbaarmakingsvereistes vir vergoeding nog nie van krag is nie, word die betrokke verhoudings intern deur die maatskappy gemonitor en sal die groep dit openbaar soos en wanneer dit vereis word. Ons het vertroue dat ons bestaande praktyke om betalingsgapings regdeur die maatskappy na te spoor en aan te spreek ons ’n voorsprong gee wat verpligte openbaarmaking betref.
Reis tot dusver om ESG-maatstawwe in toekenning te verskans
Die eerste Remgro LTA-toekennings, met ESG-maatstawwe, is in 2020 (synde die 2019- en 2020-LTA-toekennings) toegeken. Om bestuur verder aan te spoor en te motiveer om stukrag aan hierdie reis te gee, is kwalitatiewe ESG-maatstawwe in 2021 en 2022 in Remgro LTA-toekennings opgeneem wat gedetailleerde strategiese teikens meet wat op spesifieke datums bereik moet word. Deur die opneem van spesifieke ESG-maatstawwe in die LTA demonstreer Remgro sy openbare verbintenis tot ESG. Ná die 2023-toekennings sal ESG-teikens 15% van die LTA-toekennings verteenwoordig met die fokus op sleutelmaatstawwe wat deel vorm van die ESG-maatstawwe.
Gedurende die jaar onder oorsig is verskeie inisiatiewe bekendgestel om openbaarmaking en konsekwentheid gesamentlik aan te vul en te verbeter sonder om die unieke eienskappe van elke onderliggende belegging uit die oog te verloor.
Remgro se samewerkingsnetwerk is gedurende die jaar ’n platform gegee om ooreengekome projekte en inisiatiewe te loods, te lei en deur te voer.
Die ses geïdentifiseerde sleutelfokusgebiede sal oor die kort tot medium termyn voortduur en terselfdertyd uitbrei om verbetering en groei aan te moedig. Hierdie fokusgebiede sluit in klimaatsverandering, afvalvermindering by vullingsterrein, assessering van klimaatsverwante risiko en geleenthede, diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit, verantwoordelike verkryging en openbaarmaking.
Dit is die komitee se siening dat die spesifieke kwalitatiewe teikens uitdagend genoeg, en in ooreenstemming met die maatskappy se strategie, is, terwyl dit suksesvol ’n stewige fondament verskaf om die maatskappy se ESG-strewe te verwesentlik.
Meer besonderhede word in Deel 2 en 3 van hierdie verslag verskaf.
Stemresultate en aandeelhouersdeelname
By die algemene jaarvergadering (AJV) wat op 28 November 2024 gehou is, het 88.11% van Remgro se gewone aandeelhouers ten gunste van die vergoedingsbeleid gestem, terwyl 66.04% van die gewone aandeelhouers ten gunste van die vergoedingsimplementeringsverslag gestem het. Aangesien meer as 25% van die genoteerde gewone aandeelhouers teen die vergoedingsimplementeringsverslag gestem het en in nakoming van King IV en die noteringsvereistes van die JSE, is teenstemmende aandeelhouers genooi om met die maatskappy deur middel van virtuele sessies in gesprek te tree deur middel van ’n SENS-aankondiging op 29 November 2024. Teen die afsnydatum van 5 Desember 2024, het geen aandeelhouers hul belangstelling geregistreer om met die maatskappy in gesprek te tree nie, en teen die afsnydatum van 9 Desember 2024, is geen besware, navrae of aanbevelings ten opsigte van die vergoedingsimplementeringsverslag ontvang nie.
Die komitee het ’n aktiewe rol ingeneem deur na aandeelhouers se bekommernisse oor die afgelope paar jaar te luister, en dit het noodsaaklike veranderinge aan sy vergoedingsfilosofie en -beleid tot gevolg gehad. Die reis na ’n robuuste en goed toegeruste vergoedingsfilosofie en -beleid was tot dusver suksesvol. Die komitee bly ontvanklik vir die aktiewe oorweging van aandeelhouers se sienings oor enige kwessie rakende vergoeding en nominasie met die doel om ’n balans te handhaaf tussen die implementering van inisiatiewe wat onmiddellike aandag vereis en dié wat oorweging en verdere verkenning voor implementering vereis. Ter opsomming, die veranderinge wat aangebring is as gevolg van aandeelhouers se terugvoering oor die afgelope paar jare, sluit in:
- Die bekendstelling van LTA-planne wat op prestasie gegrond is;
- Die bekendstelling van maatstawwe vir TSR en WVPA as LTA-prestasiemaatstawwe, en die afskaffing van die strategiese inisiatiewe maatstaf om fokus op waardeskepping en winsgewendheid te verskerp;
- Voortgesette hersiening en bekendstelling van meer uitdagende teikens vir die LTAs;
- ’n Beduidende fokusverskuiwing oor hoe die groep sy ESG-verpligtinge beskou met teikens wat vir bestuur ingestel is;
- Die openbaring van nie-finansiële teikens vir bestuur;
- Die bekendstelling van ’n Malus- en Clawback-beleid;
- Die implementering van ’n minimum aandeelhoudingsvereiste (MAV)-beleid wat verseker dat bestuur belyn is met aandeelhouers se belange;
- Die kontraktering van ’n onafhanklike deskundige om die onafhanklikheid van langdienende nie-uitvoerende direkteure te beoordeel; en
- Vir alle toekomstige aanstellings sal ’n nie-uitvoerende direkteur wat vir langer as 12 jaar op die direksie dien nie meer as onafhanklik geklassifiseer word nie.
Hierdie inisiatiewe beklemtoon die komitee se voorneme om aandeelhouers se belange in ooreenstemming met dié van bestuur te bring.
Vergoeding is ’n sleutelfaktor in die aansporing van werknemers op alle vlakke om Remgro te help om sy strategiese doelwitte te bereik en ’n volhoubare besigheid oor die lang termyn te bou. Die komitee bly verbind tot skakeling met aandeelhouers en verwelkom konstruktiewe terugvoering wat hulle ten opsigte van die maatskappy se benadering tot vergoeding mag gee ten einde billike en verantwoordelike vergoeding te verseker.
Uittrede en opvolging van nie-uitvoerende direkteure
Aandeelhouers is in verlede jaar se vergoedingsverslag in kennis gestel dat mnr F Robertson en mnr N P Mageza van die direksie aftree, effektief vanaf 30 Junie 2025. Die komitee en die direksie bedank hulle vir hul waardevolle bydrae en professionele toewyding gedurende hul termyn.
Die komitee neem ook kennis daarvan dat mnr F Robertson die posisie van ondervoorsitter vervul het. Ná sy uittrede is die voormalige hoof onafhanklike direkteur, me Sonja De Bruyn, as die ondervoorsitter van die direksie aangestel. Me Sonja De Bruyn se diepgaande begrip van Remgro se besigheidsmodel posisioneer haar goed om die rol te vervul, en die komitee en direksie het vertroue in haar vermoë om die verantwoordelikhede wat die rol behels, na te kom.
Mnr M Morobe sal mnr F Robertson as ’n komiteelid vervang. Mnr M Morobe is goed geplaas om hierdie posisie te vervul, en die komitee sien daarna uit om sy vars idees en perspektiewe oor die komitee se werking te oorweeg.
Die komitee is bewus daarvan dat daar twee vakatures in die direksie is wat gevul moet word. Die proses om geskikte kandidate te identifiseer, is reeds onderweg, en aanstellings sal na verwagting voor die einde van die 2025-kalender jaar gefinaliseer word. Gegewe die kompleksiteit en strategiese belang daarvan om op Remgro se direksie te dien, sal die komitee sorg dat die aanstellingsproses deeglik en deurdag is.
Aktiwiteite van vergoedings-en-nominasiekomitee in 2025
Nadat verskeie veranderinge aan die vergoedingsbeleid in die vorige jaar geïmplementeer is, het die komitee vir die 2025-finansiële jaar gefokus op konsolidasie en om te verseker dat die gewysigde vergoedingsbeleid dienooreenkomstig met aandeelhouers se verwagtings, gelewer het. Sleutelfokusgebiede het die volgende ingesluit:
- Monitor dat die nuwe LTA-prestasiemaatstawwe behaal word en beoordeel die impak daarvan op gedrag en waardeskepping oor die lang termyn;
- Finaliseer en keur die prestasieteikens vir die LTA goed;
- Hou toesig oor die nakoming van die minimum aandeelhoudingsvereiste om belyning tussen bestuur en aandeelhouers te versterk; en
- Skakel met bestuur om te verseker dat die gewysigde vergoedingsraamwerk ten volle verstaan en konsekwent toegepas word.
Toekomstige fokusgebiede
Gedurende die 2026-finansiële jaar sal die komitee oorweging aan die volgende skenk:
- Om die effektiewe datum van die Maatskappywysigingswet se vergoedingsverwante artikels, asook enige implikasies en verwante implikasies wat dit vir verslagdoening inhou, te monitor. Die komitee sal intussen voortgaan met die interne ontleding van vergoedingsverskille en bly daartoe verbind om die uitkomste, indien nodig, in die 2026-geïntegreerde jaarverslag te openbaar;
- Om te verseker dat ons interne menslike hulpbronneen vergoedingsbeleid transformasie regdeur die besigheid ondersteun; en
- Die finalisering van ’n billike en verantwoordelike vergoedingsbeleid.
Adviseurs
Gedurende die 2025-finansiële jaar het die komitee REMchannel en PricewaterhouseCoopers Geïnk (PwC) betrek om bestuur en die direksie, by die uitvoering van sy pligte en verantwoordelikhede by te staan.
Die komitee is tevrede en beskou die konsultante ten volle objektief en onafhanklik.
Ten slotte
Die komitee is van mening dat Remgro se vergoedingsbeleid in die 2025-finansiële jaar sy gestelde doelwitte bereik het. Remgro streef voortdurend daarna om die maatskappy se vergoedingspraktyke te verbeter en sien uit na sy skakeling met aandeelhouers om hul ondersteuning te kry vir die besluite oor die vergoedingsbeleid en die vergoedingsimplementeringsverslag (verwys na gewone besluite nommer 16 en 17 in die kennisgewing aan aandeelhouers van die AJV op 27 November 2025.
Die vergoedingsbeleid bied ’n oorsig van Remgro se vergoedingsbeginsels vir die organisasie as ’n geheel en is van toepassing op alle permanente werknemers. Die inligting wat in hierdie beleid verskaf word, is op aanbeveling van die komitee, deur die direksie goedgekeur. Hierdie vergoedingsbeleid sal aan ’n nie-bindende adviserende stem deur aandeelhouers by die volgende AJV op 27 November 2025 voorgelê word.
Bestuur
Die komitee word deur die direksie aangestel, met gedelegeerde gesag, en die funksies van hierdie direksiekomitee is goed gevestig binne Remgro se bedryfsomgewing. In wese is dit die rol van die komitee om billike en verantwoordelike vergoeding regdeur die maatskappy te verseker, deur die daarstel en implementering van toepaslike beleide, en dat die openbaarmaking van vergoeding akkuraat, volledig en deursigtig geskied. Uiteindelike verantwoordelikheid berus by die direksie.
Die komitee word bestuur met ’n mandaat wat jaarliks deur die direksie hersien en goedgekeur word, en wat aanbevelings vir beste bestuurspraktyk insluit. Dit dien ook om lede van die komitee te help met die uitvoering van hul rol en verantwoordelikhede.
Die komitee bestaan uit vier nie-uitvoerende direkteure, waarvan drie onafhanklik is. Die lede van die komitee vir die jaar onder oorsig was:
- Mnr J P Rupert (nie-uitvoerende direkteur en voorsitter);
- Me S E N De Bruyn (hoof onafhanklike nie-uitvoerende direkteur);
- Mnr P J Moleketi (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur);
- Mnr F Robertson (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur) wat op 30 Junie 2025 afgetree het; en
- Mnr M Morobe (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur) wat aangestel is effektief vanaf Julie 2025.
Die direksie erken die aanbevole praktyk in King IV dat die voorsitter van die direksie nie die voorsitter van hierdie komitee behoort te wees nie, maar om die volgende redes word hierdie reëling as toepaslik beskou:
- Dit is noodsaaklik om die maatskappy se vergoedingsbenadering in ooreenstemming met die korporatiewe strategie te bring;
- Die voorsitter ontvang geen vergoeding of fooie van Remgro nie en dus is daar geen belangebotsing ten opsigte van die goedkeuring van fooie vir nie-uitvoerende direkteure nie;
- Die voorsitter is ’n beduidende aandeelhouer in die besigheid en daarom word dit nie as onbillik beskou dat hy as voorsitter van hierdie komitee dien nie; en
- Volgens die samestelling van die komitee bly die meerderheid lede van die komitee onafhanklike nie-uitvoerende direkteure.
Die komitee het drie keer gedurende die jaar formeel vergader en het verskeie informele interaksies gehad ter voorbereiding van die formele vergaderings, skakelings met aandeelhouers en voorafgaande vergaderings. Besonderhede oor die bywoning van die formele vergaderings word in die korporatiewe bestuursverslag uiteengesit.
Die opdrag van die komitee, soos vervat in die mandaat, sluit die volgende in:
Ten opsigte van die nominasiefunksie:
- Help die direksie met die proses om geskikte kandidate te identifiseer om as direkteure aan te stel;
- Verseker die daarstelling van ’n formele en deursigtige proses vir die aanstel van direkteure;
- Hou toesig oor die ontwikkeling van ’n formele induksieprogram vir nuwe direkteure;
- Evalueer die prestasie van die direksie; en
- Verseker dat formele opvolgplanne vir die direksie, hoofuitvoerende beampte (HUB) en ander bestuursraadslede ontwikkel en geïmplementeer word.
Ten opsigte van die vergoedingsfunksie:
- Hou toesig oor die daarstelling van ’n organisasiewye vergoedingsbeleid wat positiewe uitkomste bevorder binne die ekonomiese, maatskaplike en omgewingsverband waarin Remgro sy sake bedryf;
- Bevorder ’n etiese kultuur en verantwoordelike korporatiewe burgerskap binne die vergoedingsverband;
- Hou toesig oor die billike, verantwoordelike en deursigtige daarstelling en administrasie van vergoeding van alle werknemers;
- Adviseer oor die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure, vir goedkeuring deur die aandeelhouers by die AJV;
- Verseker dat vergoeding voldoen aan Remgro se behoeftes en strategiese doelwitte en in ooreenstemming met die aandeelhouers se goedgekeurde plan en reëls geadministreer word;
- Hou toesig oor die voorbereiding, en aanbeveling aan die direksie, van die vergoedingsverslag wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit moet word; en
- Verseker dat die vergoedingsbeleid en vergoedingsimplementeringsverslag vir twee afsonderlike nie-bindende adviserende stemme deur aandeelhouers by die AJV voorgelê word.
Koppeling van ESG met vergoeding
Bestaande praktyke
Werkplek-, ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvolhoubaarheidspraktyke was nog altyd deel van Remgro se kernwaardes en deur die nuwe ESG-strategie word hierdie praktyke in die algehele vergoedingsraamwerk verskans.
| Raakpunte met ESG | Raakpunte met vergoeding |
| Omgewing | Insluiting van ESG-maatstawwe in LTA-planne Individuele SPIs sluit spesifieke ESG-maatstawwe in |
| Maatskaplik | TGP van nie-bestuurspersoneel is mededingend en is geposisioneer rondom die 75ste persentiel van die mark Alle werknemers neem deel aan die LTA-plan Werknemers op laer vlakke ontvang oor die algemeen hoër persentasie verhogings |
| Bestuur | Balanseer werknemerbelange en dié van aandeelhouers deur groei in intrinsieke netto batewaarde (INBW) te vergoed Belyning van bestuursvergoeding en waardeskepping vir aandeelhouers deur die aanvaarding van ’n MAV Tree op in ooreenstemming met internasionale beste praktyke deur Malus- en Clawback-beginsels in veranderlike vergoeding te inkorporeer Duidelike en deursigtige vergoedingsrapportering Ontwikkeling van ’n ESG-bestuursraamwerk |
Billike en verantwoordelike vergoeding regdeur die maatskappy
Die bereiking van Remgro se strategie is afhanklik van die waardes, talent en vaardighede van alle werknemers van die maatskappy en daarom beskou Remgro werknemers as kritieke bates. Remgro is verbind tot die beginsel om alle werknemers van die maatskappy te vergoed op ’n wyse wat billik, regverdig en verantwoordelik is, en streef daarna om ’n omgewing te skep wat inklusief is. Dié onderneming word in die vergoedingsbeleid vasgelê.
Die TGP van alle werknemers word rondom die 75ste persentiel van die mark (in verskillende posvlakke) geposisioneer en neem in ag dat die maatskappy nie korttermynaansporings (KTA) het nie. Vir uitvoerende direkteure, voorgeskrewe beamptes en senior bestuurders word die mediaan van die verwysingsgroep deur die maatskappy geteiken, volgens ’n totale vergoedings (TV)- vergelyking. Alle werknemers, en nie net bestuurspersoneel nie, kom daarby in aanmerking vir die ontvangs van LTA-toekennings. Werknemers op die laer vlakke ontvang oor die algemeen hoër persentasie verhogings as ander werknemers.
Deurlopende handelinge in dié verband sluit in:
- Beoordeling van vergoedingsvoorwaardes tussen werknemers op dieselfde vlak in ooreenstemming met die beginsel van “gelyke betaling vir werk van gelyke waarde” ten einde te verseker dat ongeregverdigde vergoedingsongelykhede, in die besonder enige verskille vir geslag en ras, geïdentifiseer en hanteer word.
- Investering in mense, wat insluit: talentbestuur, ontwikkelingsgeleenthede vir alle werknemers, verskeie opleidingskursusse, volgens behoeftes geïdentifiseer, en ’n werknemerwaarde-aanbod, wat met korporatiewe waardes en kultuur belyn is.
- Billike en verantwoordelike vergoedingspraktyke bly ’n sleutelfokusgebied vir die komitee in die 2026-finansiële jaar, en ons het ten doel om die billike en verantwoordelike vergoedingsbeleid te finaliseer en goed te keur.
Komponente van vergoeding
Remgro het twee komponente van vergoeding, naamlik vaste vergoeding (wat byvoordele insluit) en LTAs in die vorm van die SAR-plan en die CSP (geen nuwe toekennings sal vir die voorsienbare toekoms ingevolge die SAR-plan gemaak word nie). Remgro betaal nie korttermynaansporings nie en glo dat bestuur se besluitneming op die lang termyn moet fokus, in ooreenstemming met die filosofie dat hulle vergoed moet word waar langtermynwaarde wat geskep word, bewese is, sonder oormatige risikoneming oor die kort termyn.
Dieselfde vergoedingsbeginsels en -komponente is van toepassing op alle werknemers van Remgro. Die vergoedingsbeleide, -beginsels en -praktyke van Remgro se onderliggende beleggings, word deur vergoedingskomiteestrukture in daardie organisasies bestuur.
Die besonderhede van die komponente word op die volgende bladsy uiteengesit.
Klik hier vir meer inligting

