Bydrae tot wesensverdienste 30 Junie
2024
R miljoen
30 Junie
2023
R miljoen
eMedia Investments 113 130
Ander 43 41
156 171

eMedia Investments Eiendoms Beperk (eMedia Investments)

Effektiewe belang 32.3%

Profiel: eMedia Investments beskik oor ’n reeks mediabelange waarvan e.tv die beduidendste is. eMedia Investments is die enigste onafhanklike gratis televisie-uitsaaier in Suid-Afrika.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2024: R1 860 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte: M K I Sherrif
Remgro genomineerde direkteure: H J Carse, N J Williams
Webwerf: www.etv.co.za

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R120 miljoen
Opleidingspandering: R6 miljoen
Aantal werknemers: 847
BBSEB-status: Vlak 2
Omgewingsaspek: Vlak 1- en 2-uitlatings van 9 638 ton CO2e
Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 31 Maart 2024
R miljoen %
Omset 3 059 (2.1)
Bedryfswins 514 (9.0)
Wesensverdienste 353 (12.7)

Remgro het ’n effektiewe belang van 32.3% in eMedia Investments, wat oor ’n reeks mediabelange beskik, waaronder Suid-Afrika se enigste private gratis televisiekanale (e.tv, eMovies, eMovies Extra, eExtra, eToonz, eReality, eSeries, ePlesier, eNews Channel Africa (eNCA)), die gratis satellietplatform Openview, Gautenggebaseerde jeugradiostasie, Y, ’n aVOD- en SVOD OTT-platform, eVOD en verskeie ander ateljeefasiliteite en produksiebesighede.

eMedia Investments het ’n Maart-jaareinde en gevolglik is sy resultate vir die jaar tot 31 Maart 2024 by dié van Remgro ingesluit vir die jaar onder oorsig. eMedia Investments se bydrae tot Remgro se wesensverdienste het R113 miljoen (2023: R130 miljoen) bedra.

eMedia Investments het ’n bevredigende finansiële prestasie vir sy Maart 2024-finansiële jaareinde gelewer ondanks uitdagings soos voortgesette beurtkrag wat kykertalle negatief beïnvloed het en tot ’n verdere 1%-afname in advertensiebesteding vir die televisiemark gelei het. Die akteurs- en skrywerstaking in Hollywood aan die begin van die finansiële jaar het Media Film Service erg geknou en gelei tot ’n R32 miljoen laer wins ná belasting vergeleke met die vorige jaar. Hierbenewens het regsgedinge teen MultiChoice regskoste op jaargrondslag met R9 miljoen laat toeneem. Ondanks hierdie uitdagings het eMedia Investments gunstige resultate vir die 2024-finansiële jaar behaal.

eMedia Investments het ’n spitstydgleuf-kykermarkaandeel van 33.5% (Maart 2023: 34.5%). Die maatskappy se spitstydgleufaandeelgemiddeld was 34.4% (Maart 2023: 34.8%), wat eMedia Investments die grootste uitsaaier in beide die 06:00 tot 24:00 en die spitstydgleuf maak. Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat eMedia Investments die SAUK in die spitstydgleuf oortref. Die maatskappy gaan daarmee voort om die impak van die naderende analoog-afskakeling te bestuur en is in besprekings met die departement van kommunikasie en digitale tegnologie oor ’n datum vir die afskakeling van e.tv se analoogsein.

eMedia Investments kan daarmee spog dat vier van sy kanale konstant onder die top-10-satellietkanale in die land is. Hierdie kanale was ’n twispunt tussen eMedia Investments en die DStv-platform, wat daartoe gelei het dat eMedia Investments ’n klag teen MultiChoice by die Mededingingskommissie ingedien het. Die geskille tussen die partye is egter bevredigend besleg en alle regstappe is beëindig. eMedia Investments het ’n vertroulike skikkingsooreenkoms met MultiChoice aangegaan wat die saak betref.

Die Openview-platform het die aantal geaktiveerde ontvangstoestelle tot 3 428 523 op 31 Maart 2024 (31 Maart 2023: 3 166 461) verhoog.

eNCA lewer steeds ’n bevredigende vertoning. Die maatskappy teiken die oordeelkundige nuuskyker en het sy posisionering verander na: “bevraagteken, dink, tree op”. Dit bly die voorste genereerder van advertensie-omset in die nuusmark.

eVOD word geposisioneer as die “Netflix van Suid-Afrika”. Dit bied ’n platform wat hoofsaaklik gevul is met e.tv se plaaslike inhoud in ’n video-op-aanvraag-formaat. Groei neem steeds toe wat geregistreerde kykers betref en laasgenoemde is tans 1 129 162 kykers met 1.3 miljard minute se kyktyd. Verdere verbeterings word beplan om die aantal geregistreerde kykers en advertensieomset te verhoog.

Ander inisiatiewe is Ultraview en Snapeee. Ultraview is die betaalTV, en Snapeee neem liniêre televisie na ’n digitale ervaring vir die gehoor deur die gebruik van ’n televisieskerm en selfoon om televisiekyk gladweg na ’n dubbelskerm-ervaring te neem.

Die konstruksie van ’n super-moderne VFX-studio in Hyde Park is onderweg en sal na verwagting in Maart 2025 voltooi wees. Ander verwikkelings sluit ’n verbeterde ontvangstoestel in.