Remgro Beperk (Remgro) is verbind tot die hoogste vlak van korporatiewe bestuur, integriteit en etiek. Die raad van direkteure van Remgro (die direksie) is in die finale instansie daarvoor verantwoordelik dat bestuurstandaarde gestel en gehandhaaf word en word hierin ondersteun deur senior bestuur, wat daarna streef om ’n kultuur van nakoming, goeie bestuur en voortreflike prestasie by Remgro en sy filiale (Remgro-groep) te vestig.
Die King IV Verslag oor Korporatiewe Bestuur vir Suid-Afrika (King IV), wat op 1 November 2016 gepubliseer is, bevat ’n stel beginsels wat grondliggend vir goeie bestuur is, asook verwante, rigtinggewende aanbevole praktyke. Die JSE Beperk het sekere van King IV se aanbevole praktyke in die JSE se noteringsvereistes geïnkorporeer.
Die direksie is tevrede dat Remgro die beginsels vervat in King IV in die jaar onder oorsig toegepas het. Hierdie korporatiewe bestuursverslag verduidelik in ’n verhalende vorm hoe Remgro, met verwysing na sy praktyke, die beginsels, soos genoem in King IV, toegepas het. Hierdie verslag poog om aan Remgro-belanghebbendes ’n goeie begrip te gee van die maatskappy se bestuurstrukture en -prosesse ten einde hulle in staat te stel om Remgro se vermoë om waarde te skep en te behou, te kan beoordeel.
Die direksie bevestig sy nakoming van die Maatskappywet (Nr. 71 van 2008), soos gewysig, (Maatskappywet), en die maatskappy se akte van oprigting, vir die verslagtydperk.
Die direksie streef daarna om etiese en doeltreffende leiding te gee ten einde die volgende uitkomste, soos aanbeveel deur King IV, te prioritiseer: ’n etiese kultuur, goeie prestasie, doeltreffende beheer en legitimiteit. Dit word beklemtoon deur goeie en sigbare leierskap, wat gekenmerk word deur die etiese waardes van eerlikheid, integriteit, bevoegdheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, korrektheid, billikheid, diversiteit en deursigtigheid. Gesonde korporatiewe bestuurstrukture en -prosesse word toegepas en word deur die direksie as deurslaggewend beskou om volhoubare waarde in belang van alle belanghebbendes te lewer saam met innovasie en gesonde sakevernuf.
Die direksie is verantwoordelik vir rigtinggewing ten opsigte van etiese standaarde, strategie en die bedrywighede van die Remgro-groep deur die toepassing van geïntegreerde belangegroep-denkprosesse en toepaslike diversiteit om ’n volhoubare besigheid te bou, terwyl die impak van die Remgrogroep se strategie op die ekonomie, die gemeenskap en die omgewing (gesamentlik die “drieledige konteks”) in aanmerking geneem word. Die direksie is in die proses om aan hierdie etiese benadering tot die bou van ‘n volhoubare besigheid, wat ons lank reeds najaag, ‘n praktiese, moderne inslag te gee deur dit verder te ontwikkel met die oog daarop om Remgro ‘n leier op die gebied van omgewing-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-volhoubaarheid binne ‘n Suid-Afrikaanse konteks te maak, asook ESG-doelwitte, -standaarde en -praktyke in die besigheidstrategie te integreer en te vestig.
Remgro se ESG-prestasie word nou deur die direksie en die strategiese ESG-komitee gemonitor. Die implementering van ‘n ESG-handves en -bestuurstrukture bied strategiese leiding en oorsig ter ondersteuning van Remgro, en sy onderliggende beleggings, se verbintenis tot ESG.
As ’n verantwoordelike belegger is die direksie ’n voorstander van gesonde etiek en bestuur by alle entiteite waarin Remgro belê en gebruik hy sy beduidende invloed om te verseker dat alle genoteerde filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerdes die beginsels vervat in King IV onderskryf en toepas. Doeltreffende korporatiewe bestuur vorm deel van Remgro se beleggingsbeoordeling-maatstawwe en word verder op ’n deurlopende grondslag gemonitor deur nie-uitvoerende direksieverteenwoordiging by onderliggende beleggings. Vir hierdie doel mag Remgro se korporatiewe bestuursbeleid, waar toepaslik, as maatstaf gebruik word.
Om eties besigheid te doen is een van Remgro se hoofdoelwitte en dit word ondersteun deur die bestuur van etiek, soos opgeneem in sy Etiese Kode, wat streng afgedwing word. Doeltreffende leierskap moet gedemonstreer word ten einde Remgro se strategiese doelwitte en positiewe uitkomste te verwesentlik.
Elke individuele lid van die direksie is toepaslik gekwalifiseer en beskik oor uitgebreide, relevante ondervinding. Die direksie in sy geheel word jaarliks deur sy lede geëvalueer.
Om te verseker dat individuele direkteure hul magte uitoefen en hul funksies in goeie trou, vir ’n behoorlike doel, en in belang van Remgro, met sorg, vaardigheid en toewyding uitvoer, word van elke direkteur verwag om enige potensiële belangebotsing by direksievergaderings te verklaar en hulself van relevante besprekings te verskoon wanneer ’n belangebotsing bestaan. Remgro het ’n onafhanklike, nie-uitvoerende direkteur as hoof onafhanklike direkteur (HOD) aangestel om gedurende vergaderings as voorsitter op te tree in die geval waar die voorsitter van die direksie ’n potensiële belangebotsing mag hê. Die HOD is betrokke by die evaluering van die voorsitter.
Etiese en doeltreffende leiding ten einde die uitkomste aanbeveel deur King IV, te prioritiseer: ’n etiese kultuur, goeie prestasie, doeltreffende beheer en legitimiteit.
Die direksie glo dat etiese gedrag voortspruit uit gepaste waardestelsels inherent tot die mense in Remgro se diens, soos gerig en ondersteun deur sigbare etiese leierskap en ’n waardegedrewe korporatiewe kultuur. Leierskap, gegrond op etiese waardes, het ’n kultuur van etiese en morele gedrag en nakoming tot gevolg.
Die direksie, as deel van sy etiese leierskapverbintenis, hersien jaarliks sy wetlike nakomingsbeleid aan die hand van King IV en bevestig dat daar voldoende bestuursvermoë en beheermaatreëls bestaan om te verseker dat alle relevante wette en pertinente bedryfspraktyke nagekom word.
Die direksie behou egter die verantwoordelikheid om ’n kultuur van integriteit, bevoegdheid, korrektheid, eerlikheid, deursigtigheid, billikheid, verantwoordelikheid, diversiteit en aanspreeklikheid daar te stel, en te handhaaf, ten einde Remgro as ’n betroubare beleggingsvennoot van keuse te posisioneer.
Remgro het ’n Etiese Kode aanvaar wat ’n raamwerk van etiese praktyke en sakegedrag verskaf wat van toepassing op alle direkteure en personeel is en wat aandag aan die sleutel etiese risiko’s vir Remgro gee. Die kode is beskikbaar aan alle werknemers van Remgro via die maatskappy se intranet en ’n kopie daarvan word aan alle nuwe werknemers verskaf. Die Etiese Kode, sowel as ’n formele Geskenkbeleid, verskaf duidelike beleide ten opsigte van geskenke, uitnodigings en gunste wat van verskaffers of enige ander party ontvang word. Die aanbied van gunste om ’n onbillike voordeel te verkry, word streng verbied.
Remgro se etiese standaarde word toegepas by die prosesse vir indiensneming, beoordeling van prestasie en vergoeding vir werknemers, asook by die werwing van verskaffers.
Die direksie maak voorsiening vir sanksies en remediërende maatreëls waar Remgro se etiese standaarde geskend word. Die werklike voldoening aan etiese standaarde deur personeel en ander belanghebbendes is nie iets wat gereguleer kan word nie, maar spruit uit persoonlike oortuiging. Die oudit-en-risikokomitee monitor egter bedrogrisiko en verwante prosesse en die maatskaplikeen- etiesekomitee monitor voldoening aan die Etiese Kode en spreek gevalle van nie nakoming aan, sou dit ooit voorkom.
Die maatskappy het effektiewe voorkoming- en opsporings-prosesse rakende omkopery, korrupsie en bedrog, wat nakoming en risikovermindering verseker. Geen ondersoeke was nodig, of is gedoen, gedurende die verslagtydperk nie.
Remgro het ‘n fluitjieblaasproses geïmplementeer om werknemers en derde partye in staat te stel om enige vermeende of beweerde onreëlmatigheid of onetiese gedrag in ‘n vertroulike en beheerde omgewing te rapporteer. Verslae word gemonitor en bestuur, met gereëlde terugvoer aan die ouditen- risikokomitee. ‘n 24-uur anonieme Etiese blitslyn word deur ‘n onafhanklike eksterne diensverskaffer bestuur en toegang is telefonies of per e-pos beskikbaar. Gedurende die jaar onder oorsig is geen beweerde insident waarby Remgro, sy personeel of amptenare betrokke is, ontvang nie. Wanneer oproepe ontvang sou word wat verband hou met beweerde onreëlmatighede by onderliggende beleggings, sal sulke oproepe verwys word na die toepaslike bestuurstrukture by daardie maatskappye deur middel van Remgro se verteenwoordigers wat op die direksies van hierdie maatskappye dien. Waar gevalle van eksterne misdadige bedrywighede gerapporteer word, waar Remgro se naam, of identiteit en/of dié van beamptes wederregtelik gebruik is, word pro-aktiewe stappe geneem om sulke risikoprofiele te verminder, sulke gevalle by die SAPD aan te meld en ondersoeke, waar moontlik, te ondersteun.
’n Oorsig van die sleutelfokusareas wat verband hou met organisatoriese-etiek gedurende die verslagtydperk, asook beplande areas vir toekomstige fokus, word geopenbaar in die maatskaplikeen-etiesekomiteeverslag, saamgelees met die komitee se handves.
Die direksie is in die laaste instansie verantwoordelik vir Remgro se korporatiewe burgerskap. Dit weerspieël Remgro se jare lange geloof dat die maatskappy ‘n fundamentele verantwoordelikheid het om ‘n goeie korporatiewe burger te wees, ‘n duidelike gedragskode te hê, asook ‘n sterk kernwaardestelsel. As ‘n waardegedrewe besigheid erken Remgro sy maatskaplike en omgewingsverantwoordelikheid.
Die maatskaplike-en-etiesekomitee help die direksie om te verseker dat Remgro ’n goeie en verantwoordelike korporatiewe burger is en bly. Om dit te doen, werk die komitee ten nouste saam met die nuutgevormde strategiese ESG-komitee, wat deur beleide, raamwerke, standaarde en riglyne, toesig hou oor Remgro se benadering tot ESG-prestasie en rentmeesterskap, met inagneming van plaaslike en internasionale beste praktyke.
Die direksie hou toesig en monitor op ’n deurlopende grondslag hoe Remgro se strategieë, bedrywighede en uitsette sy status as ’n verantwoordelike korporatiewe burger beïnvloed. Hierdie oorsig- en moniteringsfunksie word gedoen met betrekking tot die drieledige konteks waarbinne Remgro funksioneer en sluit die maatskappy se bydrae tot volhoubare maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in van die gemeenskappe waar dit betrokke is, waaronder besigheidsontwikkeling en KMB-inisiatiewe, wat in ooreenstemming is met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.
Remgro erken dat as verantwoordelike rentmeester van sy beleggings, die beste vooruitgang ten opsigte van die bevordering van sy volhoubaarheidsagenda gemaak kan word deur in vennootskap met al sy onderliggende beleggings regoor hul waardekettings te tree om volhoubare gedrag te beïnvloed en aan te moedig en sodoende algemene en gemeenskaplike volhoubaarheidsdoelwitte te bereik. Remgro is daartoe verbind om die maatskappye waarin belê word, te help om hul benadering tot korporatiewe burgerskap te ontwikkel en daardeur te verseker dat sy beleggings die strewe weerspieël om omgewings-, maatskaplike en ekonomiese verandering regdeur die ekosisteem te bewerkstellig.
Die maatskaplike-en-etiesekomitee is verantwoordelik vir die hersiening en aanbeveling vir goedkeuring van die jaarlikse volhoubaarheidsinhoud wat in Remgro se geïntegreerde jaarverslag ingesluit, of op die maatskappy se webwerf gepubliseer word. Die maatskaplike-en-etiesekomitee is, volgens mandaat, ook daarvoor verantwoordelik om die doeltreffendheid van die Remgro-groep, wat bestaan uit Remgro en sy filiale se volhoubaarheidspraktyke, soos hieronder uiteengesit, te monitor en daardeur die direksie te help om een van sy waardes, naamlik om eties besigheid te doen, te verwesenlik.
Remgro se volhoubaarheids-ontwikkelingspraktyke sluit in: etiek en nakoming, korporatiewe maatskaplike besteding (KMB), verhoudings met belanghebbendes, breëbasis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB), gesondheid en openbare veiligheid, arbeidsverhoudings en werkomstandighede, gelyke indiensneming, opleiding en vaardigheidsontwikkeling, bestuur van die Remgro-groep se omgewingsimpak, menseregte en die verbod op kinderarbeid. Die maatskaplike-en-etiesekomitee se toesigrol sluit in die nagaan van relevante wetgewing, ander wetlike vereistes of bestaande beste praktykkodes, spesifiek ten opsigte van aangeleenthede wat verband hou met maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, goeie korporatiewe burgerskap, die omgewing, gesondheid en openbare veiligheid, verbruikersverhoudings, asook arbeid en indiensneming.
Remgro hersien sy Etiese Kode, Geskenkbeleid, Sosiale Mediabeleid, MIV/vigsbeleid, en veiligheid-, gesondheid- en omgewingsbestuursbeleid (VGO-bestuursbeleid) jaarliks aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV.
Die maatskaplike-en-etiesekomitee monitor ook Remgro se deelname aan, en die resultate verkry, in eksterne opnames, spesifiek die FTSE/JSE-Verantwoordelike Beleggingsindeks en die CDP (voorheen Koolstofopenbaarmakingsprojek). In hierdie verband neem die maatskaplike-en-etiesekomitee kennis van die eksterne erkenning en prestasies van die Remgro-groep.
Remgro glo dat eerlikheid, korrektheid, hoflikheid, diens, onderlinge ondersteuning en vertroue die gees weerspieël waarin dit probeer om ’n goeie korporatiewe burger te wees. Werkplek-, ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvolhoubare praktyke was nog altyd deel van Remgro se kernwaardes. Die volhoubaarheidsverslag verskaf ’n volle begrip van Remgro se pogings om, saam met volhoubare finansiële opbrengste, by te dra tot ‘n meetbare, positiewe maatskaplike en omgewingsimpak om sy sleuteldoelwitte te bereik, naamlik om waardeskepping vir al sy belangegroepe maksimaal te verhoog terwyl besigheid op ’n etiese wyse gedoen word.
Korporatiewe burgerskap sluit die verbintenis van ’n besigheid in om tot volhoubare ekonomiese ontwikkeling by te dra en onderskryf die beginsel dat geen onderneming in afsondering bestaan nie, maar deel vorm van die omgewing waarin dit sake doen. In sy verhouding met die gemeenskap streef Remgro daarna om ’n waardevennoot te wees en in hierdie verband fokus sy betrokkenheid by die gemeenskap op die uitskakeling van die uitwerking van armoede, asook investering in jongmense uit agtergeblewe gemeenskappe, in die geloof dat sodanige belegging gesonde dividende ver in die toekoms sal lewer.
Remgro se KMB-inisiatiewe en donasieprogram dek ’n breë spektrum van die gemeenskap en kan soos volg opgesom word: gemeenskapsontwikkeling, kulturele ontwikkeling, entrepreneurskap, opleiding en onderwys; omgewing, gesondheidsorg en sportontwikkeling.
Remgro streef na ’n korporatiewe maatskaplike besteding van nagenoeg 2.5% van sy jaarlikse netto vrye kontantvloei. In hierdie verband vergader ’n amptelike KMB-komitee gereeld om skenkings aan instellings in nood te oorweeg. Donasies aan kwalifiserende instellings word >op ’n jaarlikse grondslag en vir ’n spesifieke tydperk gemaak en hoewel sulke bydraes ’n wye terrein dek, word geen donasies aan politieke partye of godsdienstige instellings gemaak nie. Remgro respekteer sy werknemers se keuse om deel te neem aan hierdie instellings, maar oefen nie self ’n keuse uit nie.
Die direksie glo dat BBSEB ’n maatskaplike, politieke en ekonomiese noodsaak is en ondersteun en moedig Remgro se filiale, geassosieerdes en gesamentlike ondernemings se inisiatiewe in hierdie verband aan. Tot die mate wat Remgro se filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerdes BBSEB implementeer, neem Remgro se aandeelhouers effektief aan hierdie BBSEB-inisiatiewe, en die koste en voordele daaraan verbonde, deel. Remgro meet sy BBSEB-status teen die generiese telkaartmaatstawwe wat deur die Departement van Handel, Nywerheid en Kompetisie opgestel word. Ingevolge die jongste beoordeling van Remgro se BBSEB-status in September 2022, het die maatskappy en sy filiale, Distell Group Holdings Beperk (Distell), RCL Foods Beperk (RCL Foods), Siqalo Foods Eiendoms Beperk (Siqalo Foods) en Wispeco Holdings Eiendoms Beperk (Wispeco), ’n punt van 80.05 behaal en sodoende ’n vlak 4 bydraerstatus verwerf.
Daarbenewens het die direksie met tyd aansienlik getransformeer. Ses van die 11 nie-uitvoerende direkteure (55%) en sewe van die 14 direkteure (50%) is swart persone. Op bestuursraadsvlak is een van die vyf lede (20%) ‘n swart persoon. Remgro monitor en dra by tot die BBSEB-vertoning van die onderliggende beleggings deur direksieverteenwoordiging, asook deelname en die fasilitering van korporatiewe aksies by hierdie maatskappye. Gelyke indiensneming verteenwoordig Remgro se vernaamste transformasie-uitdaging. ’n Jaarlikse arbeidsplan word by die Departement van Indiensneming en Arbeid ingedien waarin Remgro se gedetailleerde transformasiedoelwitte uiteengesit word. Hoewel pogings aangewend word om swart verteenwoordiging op Remgro se bestuursvlak te verbeter, bly lae arbeidsomset en beperkte organiese groei beperkende faktore.
Remgro voldoen aan die vereistes van die Wet op Vaardigheidsontwikkeling (Nr. 97 van 1998) ingevolge waarvan ’n vaste persentasie van sy betaalstaat as ’n opleidingsheffing aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens betaal word. ’n Jaarlikse verslag rakende alle opleiding wat by Remgro plaasgevind het, word aan die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid voorgelê.
Aangesien Remgro (met uitsluiting van sy filiale, Distell, RCL Foods, Siqalo Foods en Wispeco) nie ’n bedryfsmaatskappy is nie, het dit ’n klein verkrygingsfunksie en word sy verkrygingsprofiel gekenmerk deur ’n hoë professionele dienstekomponent teenoor materiaal wat aangekoop word. Hoewel die verkrygingsfunksie klein is, streef Remgro daarna om sover moontlik van BBSEB-geakkrediteerde verskaffers (vlak 3 en beter) gebruik te maak.
Om sy impak op die omgewing te bestuur, het Remgro die Veiligheid, Gesondheid en Omgewings (VGO)-bestuursbeleid geïmplementeer, wat jaarliks hersien word en wat van toepassing is op Remgro Bestuursdienste Beperk (RBD). Die direksie is uiteindelik verantwoordelik vir die implementering van die VGO-bestuursbeleid, maar delegeer hierdie verantwoordelikheid na die Risiko-, Geleentheids-, Tegnologie- en Inligtingsbestuurs- Operasionele subkomitee (RGTIB) (wat ’n subkomitee van die oudit-en-risikokomitee is) en die maatskaplike-en-etiesekomitee – komitees wat verantwoordelik is vir die hersiening en aanbeveling vir goedkeuring van omgewingsprosedures wat deur RBD geïmplementeer en gehandhaaf word. Sover dit Distell, RCL Foods, Siqalo Foods en Wispeco betref, is dit die verantwoordelikheid van Remgro se verteenwoordigers op die direksies van hierdie maatskappye om gerusstelling te verkry oor die effektiwiteit en doeltreffendheid van hul onderskeie omgewings- en maatskaplike bestuursprosesse. Gedurende die jaar onder oorsig, het Remgro ‘n operasionele ESG-komitee daargestel, wat aan die strategiese ESG-komitee rapporteer.
Die direksie fokus ook op wetlike en regulerende nakoming deur voorspraak te maak vir die nakoming van gesonde bestuursbeginsels by alle onderliggende beleggings. Hiervoor gebruik Remgro sy beduidende invloed om te verseker dat sy genoteerde filiale en geassosieerdes die beginsels, soos vervat in King IV, onderskryf en toepas. Die direksie hersien jaarliks die toepassingstatus van King IV se beginsels.
Remgro se belastingbeleid verskans die groep se fokus vir die bestuur van belastingsake om (1) volle nakoming van belastingwette en -regulasies te verseker in jurisdiksies waar Remgro belange het, (2) te verseker dat Remgro se belastingsake in ooreenstemming met verantwoordelike korporatiewe burgerskap is en (3) kennis te neem van verwante reputasiegevolge. Remgro erken dat dit ’n verantwoordelikheid het, nie alleen ten opsigte van aandeelhouers nie, maar ook teenoor ’n groter belangegroep, wat belastingowerhede insluit. In die nakoming hiervan werk Remgro saam met belastingowerhede deur: (1) die letter en gees van bestaande belastingwette en -regulasies na te kom en (2) verantwoordbare verhoudings met belastingowerhede te kweek.
Die direksie verseker ook dat Remgro die Grondwet van Suid-Afrika, wette, belangrike standaarde, asook sy eie gedragskode en beleide nakom.
Meer besonderhede oor Remgro se volhoubaarheidspraktyke, insluitende ’n oorsig van sleutelfokusgebiede gedurende die verslagtydperk, hoogtepunte van volhoubaarheid en beplande fokusgebiede vir die toekoms, kan gevind word in die volhoubaarheidsverslag.
As ‘n verantwoordelike belegger, is die direksie ’n voorstander van gesonde etiek en bestuur by alle entiteite waarin Remgro belê.
Remgro se direksie is in die laaste instansie aanspreeklik vir die vertoning van Remgro, gedagtig daaraan dat strategie, risiko, prestasie en volhoubaarheid onafskeidbaar van mekaar is. Die direksie verskaf strategiese rigting deur voorstelle, bespreking en bevraagtekening en keur planne en strategieë, gegrond op die waardes en doelwitte van Remgro, asook belanghebbendes se belange en verwagtinge, goed. Die direksie, in samewerking met die strategiese ESG-komitee, monitor Remgro se ESG-prestasie. Die direksie hou ook, deur middel van die beleggingskomitee, wat ondersteun word deur ’n goedgekeurde delegering van gesag, toesig oor die Remgro-groep se korporatiewe aksies.
Die raad se formele direksiehandves, wat hier beskikbaar is, beskryf die sleutelverantwoordelikhede van die direksie, wat onder andere insluit dat rigting gegee word aan etiese standaarde, strategie en bedrywighede van die Remgro-groep ten einde ’n volhoubare besigheid te bou, terwyl die impak van die Remgro-groep se strategie binne die drieledige konteks terselfdertyd in ag geneem word.
Die direksie het die formulering en ontwikkeling van Remgro se strategie aan die bestuursraad gedelegeer en het die beleid en bedryfsplanne goedgekeur wat deur bestuur opgestel is om uitvoering aan die goedgekeurde strategie te gee. Die bestuursraad se mandaat is hier beskikbaar. Die bestuursraad word ondersteun deur verskeie senior bestuur-spanne, insluitende een wat, as deel van toekomsverkenning, op nuwe en ontwrigtende tegnologieë fokus.
Remgro se beleggingskomitee en beleggingsbestuurders is nou, in samewerking met die strategiese ESG-komitee en die operasionele ESG-komitee, verantwoordelik om te verseker dat die oorweging van ESG-kwessies deel van beleggings- en bestuurspraktyke vorm. Die ontwikkeling van ‘n beleggingsraamwerk, wat doelbewus ESG-oorwegings insluit, bring mee dat volhoubaarheidstrewe nou ‘n hoeksteen van Remgro se beleggingsbesluitneming vorm. Beginsels en evalueringsmaatstawwe sluit ESG-risiko’s, impakoorwegings, waardeskeppingsgeleenthede en volhoubaarheid vir bestaande en potensiële beleggings in.
Die direksie keur goed, hou toesig oor en beoordeel deurlopend Remgro se strategie, sy risiko’s, geleenthede en ander belangrike sake wat verband hou met die drieledige konteks waarin Remgro sy sake bedryf, asook die mate waarin die voorgestelde strategie afhanklik is van die hulpbronne, en onderlinge verwantskap, tussen die verskillende kapitaalvorme (bestaande uit finansiële, vervaardigings-, menslike, intellektuele, natuurlike, maatskaplike en verhoudingskapitaal, soos van toepassing) (kapitaal), die regmatige en billike behoeftes, belange en verwagtinge van belanghebbendes, asook die toename, afname of transformasie van die onderskeie vorme van kapitaal wat mag ontstaan by die uitvoering van die voorgestelde strategie.
As deel van prestasie-oorsig is die direksie baie ingestel op Remgro se lewensvatbaarheid en sy status as ’n lopende saak en word hierdie aspek twee keer per jaar in oënskou geneem. Uitvoerende direkteure dra hul insig tot die dag-tot-dag bedrywighede by, waardeur die direksie in staat gestel word om doelwitte te identifiseer, rigting te verskaf en die uitvoerbaarheid en volhoubaarheid van voorgestelde strategieë te bepaal.
Die direksie het bestuur se bepaling van die rapporteringsraamwerke goedgekeur, waaronder rapporteringstandaarde en wetlike nakoming, soos, onder andere, die Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde, die JSE se Noteringsvereistes, sowel as die Maatskappywet en die beginsels van die Internasionale Geïntegreerde Rapporteringsraamwerk tot die mate wat dit van toepassing is.
Die direksie het bestuur se grondslag vir die bepaling van wesentlikheid goedgekeur wat bepaal watter inligting in eksterne verslae ingesluit moet word. Die direksie reik die volgende verslae uit, wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit is: die voorsitter se verslag, die hoofuitvoerende beampte se verslag, die hoof finansiële beampte se verslag, die verslag van die raad van direkteure, die korporatiewe bestuursverslag, die maatskaplike-en-etiesekomiteeverslag, die volhoubaarheidsverslag, die risiko- en geleentheidsbestuursverslag, die oudit-en-risikokomiteeverslag en die vergoedingsverslag ten einde te voldoen aan die regmatige en billike inligting wat deur wesentlike belanghebbendes vereis word.
Remgro se geïntegreerde jaarverslag fokus op inhoud eerder as formaliteit en gee ’n holistiese beeld van Remgro se besigheidsmodel, hoe die maatskappy bestuur word en hoe dit sy beleggings bestuur. Remgro se hoofdoelwit is om ’n volledige ontleding van sy besigheid te gee ten einde te voorsien in die inligtingsbehoeftes van sleutelbelanghebbendes wat van die geïntegreerde jaarverslag gebruik maak.
Genoegsame beheermaatreëls bestaan om toepaslike, betroubare en akkurate rapportering te verseker. Die maatskaplike-en-etiesekomitee is verantwoordelik vir die hersiening, en aanbeveling vir goedkeuring, van die jaarlikse volhoubaarheidsinhoud wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit word. Die oudit-en-risikokomitee hersien die volle geïntegreerde jaarverslag en maak aanbevelings aan die direksie in dié verband. ’n Eksterne oudit en verskeie gerusstellingsprosesse, soos hierin genoem, word gebruik om te verseker dat die inligting wat aan belanghebbendes verskaf word, betroubaar is. Die direksie is tevrede met die integriteit van sy eksterne verslae.
Remgro maak seker dat die relevante korporatiewe bestuursopenbaarmakings wat ingevolge King IV vereis word, die geïntegreerde jaarverslag, finansiële jaarstate en Remgro se eksterne verslae en kernmandate en -beleide aan belanghebbendes beskikbaar gestel en op sy intranet en/of webwerf (soos toepaslik) gepubliseer word. Die geïntegreerde jaarverslag, wat ’n losstaande verslag is, sluit net ’n verkorte weergawe van die volhoubaarheidsverslag, sowel as die verkorte finansiële state in. Die volledige volhoubaarheidsverslag en finansiële jaarstate ten opsigte van die jaar onder oorsig is op Remgro se webwerf beskikbaar. Remgro verwys ook na sy deelname aan die JSE se Verantwoordelike Beleggingsindeks, wat die FTSE Russell ESG-gradering as openbaarmakingsmaatstaf gebruik.
Remgro het ’n ten volle funksionele direksie wat die Remgro-groep lei en beheer. Die direksiehandves beskryf en noteer die verantwoordelikhede, funksies en samestelling van die direksie en dien as ’n verwysing vir nuwe direkteure. Alle direkteure van Remgro onderskryf die direksiehandves, wat gereeld hersien word om die effektiewe funksionering daarvan te verseker.
Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie sy handves hersien aan die hand van die beginsels en aanbevelings van King IV. Die direksie is tevrede dat hy sy pligte en verantwoordelikhede, soos beskryf in die direksiehandves, gedurende die jaar onder oorsig nagekom het.
Een van die hoofverantwoordelikhede van direkteure en senior bestuurslede wat in ’n nie-uitvoerende hoedanigheid op die direksies dien van Remgro se filiale en onderliggende beleggings, is om goeie bestuur by hierdie maatskappye aan te moedig, insluitende, waar toepaslik, die aanvaarding van, en implementering van, beginsels en beheermaatreëls wat deel van Remgro se beleid vorm. Die aktiwiteite van direkteure en senior bestuur wat op die direksies dien van onderliggende beleggings, geskied verder volgens formele riglyne, soos deur die direksie goedgekeur.
Die direksie vergader minstens vyf keer per jaar en volg ’n jaarlikse werkplan om te verseker dat alle relevante sake aandag geniet. Die voorsitter ontmoet Remgro se HUB deur die jaar tussen vergaderings om belangrike sake te bespreek. Direksielede, en subkomitees van die raad, ontvang minstens ’n week voor elke vergadering ’n agenda, tesame met ondersteunende dokumentasie, om hulle in staat te stel om hul behoorlik voor te berei vir vergaderings.
Alle direkteure het onbeperkte toegang tot die dienste van die maatskappysekretaris en senior bestuur, sowel as tot Remgro se maatskappyrekords. Die maatskappysekretaris verskaf deurlopende leiding ten opsigte van korporatiewe bestuursverwante aangeleenthede.
Die direksie het ’n protokol goedgekeur wat gevolg moet word indien enige van sy lede of komitees op Remgro se koste, met vooraf kennisgewing aan die HUB of maatskappysekretaris, onafhanklike eksterne professionele advies wil bekom oor sake wat binne die bestek van hul verpligtinge val. Die direksie het ook ’n protokol goedgekeur wat deur sy nie-uitvoerende lede gevolg moet word vir die aanvra van dokumentasie en die reëling van vergaderings met bestuur, d.w.s. deur die oordra van versoeke aan ’n lid van die bestuursraad, of die maatskappysekretaris, welke persoon verantwoordelik is vir die verskaffing van die nodige dokumentasie en/of die reëling van die nodige vergaderings.
Samestelling
In nakoming van die aanbevole praktyke van King IV, bestaan die direksie uit 14 direkteure van wie drie uitvoerende en 11 nie-uitvoerende direkteure is. Sewe van die nie-uitvoerende direkteure is onafhanklik. Die samestelling van die direksie weerspieël ’n balans tussen uitvoerende en nie-uitvoerende direkteure om te verseker dat daar ’n duidelike skeiding van verantwoordelikhede is en geen individu onbeperkte besluitnemingsmag het nie.
Uitvoerende direkteure dra hulle insig tot die dag-tot-dag bedrywighede oor wat die direksie in staat stel om doelwitte te identifiseer, rigting te verskaf en die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van voorgestelde strategieë te bepaal. Hierdie direkteure is oor die algemeen verantwoordelik vir die inwerkingstelling van alle bedryfsbesluite.
Nie-uitvoerende direkteure, daarteenoor, word gekies om in die direksie te dien op grond van hul wyer kennis, vaardighede en ervaring wat nodig is om Remgro te bestuur en van hulle word verwag om effektief tot besluitneming en die formulering van beleid by te dra.
Die direksie bevorder diversiteit in sy geledere en daar word na verskeie eienskappe gekyk, waaronder kennisveld, vaardighede en ondervinding, ouderdom, kultuur, ras en geslag. Die vergoedings-en-nominasiekomitee het ‘n diversiteitsbeleid aanvaar. Die beleid rakende die bevordering van diversiteit geld slegs ten opsigte van die direksie en, hoewel formele teikens nie gestel word nie, benut die vergoedings-en-nominasiekomitee elke geleentheid om die geslags- en rasdiversiteit van die direksie te bevorder. Die direksie het getransformeer, met ses van die 11 nie-uitvoerende direkteure (55%) en sewe van die 14 direkteure (50%) wat swart persone is en twee uit 14 direkteure (14%) wat vroue is. Op bestuursraadvlak is een uit die vyf lede (20%) ’n swart persoon en een uit die vyf lede (20%) is vroulik.
Die direksie is tevrede dat sy huidige lede oor die kollektiewe kennis, vaardighede en ondervinding beskik om sy verantwoordelikhede na te kom, die Remgro-groep se doelwitte te bereik en oor die lang termyn aandeelhouerswaarde te skep. Besonderhede van elke direkteur verskyn hier.
Benoeming, verkiesing en aanstellings
Daar is ’n formele en deursigtige proses vir aanstellings in die direksie. Die aanstelling van direkteure is ’n funksie van die hele direksie, gegrond op aanbevelings wat deur die vergoedings-en-nominasiekomitee gemaak word.
Wanneer benoemings oorweeg word, kyk die direksie na die kollektiewe kennis, vaardighede en ervaring wat verlang word, die diversiteit van die direksie en of die kandidaat aan die vereiste maatstawwe voldoen.
Die kandidate vir nie-uitvoerende direksielede moet aan die direksie besonderhede van hul professionele verpligtinge verskaf en bevestig dat hulle genoegsame tyd beskikbaar het om hul verantwoordelikhede as lid van die direksie na te kom. Alle benoemde kandidate se agtergrond word onafhanklik ondersoek en hul kwalifikasies onafhanklik nagegaan.
’n Kort professionele oorsig van elke kandidaat wat beskikbaar is vir verkiesing by die algemene jaarvergadering (AJV), insluitende besonderhede van bestaande beroepsverpligtinge, vergesel die kennisgewing vir die AJV, tesame met ’n verklaring deur die direksie wat bevestig dat dit die kandidaat se verkiesing en/of herverkiesing steun.
Nuutaangestelde direkteure ondergaan ’n uitgebreide induksie-program, wat by hul aanstelling deur die maatskappysekretaris gekoördineer word, om hulle in staat te stel om in so ’n kort tyd as moontlik ’n betekenisvolle bydrae te kan maak. Die induksieprogram sluit die verskaffing van ’n induksiepakket in wat, onder andere, bestaan uit agendas en notules van die twee mees onlangse direksie- en subkomiteevergaderings, die jongste finansiële jaarstate en geïntegreerde jaarverslag, Remgro se Etiese Kode, induksievergaderings met uitvoerende direkteure en senior bestuur (indien versoek), asook inligting oor die JSE se noteringsvereistes. Hierdie proses verseker dat nuwe direkteure ’n goeie begrip kry van Remgro se kernbesigheid, asook van hul fidusiêre verpligtinge.
Gereelde toeligting oor wetlike en korporatiewe bestuurs-ontwikkelings, sowel as risiko’s en veranderinge in die eksterne omgewing van Remgro, word aan direkteure verskaf.
Ingevolge Remgro se akte van oprigting moet minstens ’n derde van die direkteure jaarliks op ’n rotasiegrondslag aftree, maar hulle mag hulself vir herverkiesing vir ’n verdere termyn beskikbaar stel. Die direkteure wat moet aftree, sal dié wees wat die langste gedien het sedert hul laaste verkiesing. ’n Direkteur wat reeds drie jaar gedien het sedert sy of haar laaste verkiesing, sal by sodanige vergadering aftree.
Benoeming vir herverkiesing geskied slegs na ’n beoordeling van die direksie se prestasie en is daarom gegrond op die direkteur se vertoning in die verlede, insluitende die bywoning van direksie- en komiteevergaderings, asook die direkteur se bydrae en sy of haar objektiwiteit by sakebeoordeling. Die direksie het ’n opvolgplan vir direkteurskappe daargestel.
Onafhanklikheid en konflik
Die onafhanklikheid van nie-uitvoerende direkteure wat as onafhanklik gekategoriseer is, word jaarliks hersien en die onafhanklikheid van onafhanklike nie-uitvoerende direkteure wat vir meer as nege jaar in die direksie gedien het, word aan ’n oorsig onderwerp. Die direksie beoordeel onafhanklikheid aan die hand van enige belange, posisie, assosiasie of verwantskap wat, indien dit deur ’n redelike en ingeligte derde party beoordeel sou word, die moontlikheid inhou dat ’n nie-uitvoerende direkteur, wat as onafhanklik gekategoriseer is, beïnvloed kan word of dat dit tot partydigheid in besluitneming mag aanleiding gee. Die termyn van elke direkteur verskyn hier.
Elke direkteur moet aan die direksie ’n verklaring voorlê van alle finansiële, ekonomiese en ander belange wat deur die direkteur, of sy of haar verwante partye, in Remgro gehou word wanneer daar noemenswaardige veranderinge plaasvind, en sodra hulle daarvan bewus raak. Aan die begin van elke direksievergadering word van direkteure en komiteelede verwag om enige belangebotsing rakende sake op die agenda openbaar te maak. Enige sodanige konflik word proaktief deur die direksie bestuur, onderhewig aan wetlike bepalings.
Alle inligting wat direkteure in die uitvoering van hul pligte bekom wat nie openbaar gemaak word nie, word as vertroulik beskou. Direkteure mag nie sulke inligting gebruik vir persoonlike gewin of tot voordeel van derde partye nie. In hierdie verband moet direkteure, onder andere, Remgro se Etiese Kode, die bepalings van die Wet op Finansiële Markte (Nr. 19 van 2012) (ten opsigte van “binnekennis”) en die JSE se noteringsvereistes (ten opsigte van “pryssensitiewe inligting”) nakom in die openbaarmaking van enige inligting, aandeletransaksies en die openbaarmaking van sodanige verhandelinge.
Voorsitter
Die voorsitter, saam met ‘n ondervoorsitter, word op ’n jaarlikse grondslag deur die direksie verkies. Die rol en verantwoordelikhede van die voorsitter word in die direksiehandves gedokumenteer en is apart van dié van die HUB.
Die voorsitter van die direksie, mnr Johann Rupert, is nie ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur nie. Die direksie erken die aanbevole praktyk van King IV om ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur as voorsitter aan te stel, maar gegewe sy kennis van die besigheid, sy sakeondervinding en die verantwoordelikheid van die direksie om op prestasie te fokus in die bevordering van Remgro se kommersiële en ekonomiese belange, word hierdie reëling nie net as wenslik nie, maar ook as noodsaaklik geag om die sakedoelwitte van Remgro te bereik. In nakoming van King IV en die JSE se noteringsvereistes het die direksie egter me S E N De Bruyn as die HOD aangestel. Die hooffunksie van die HOD is, onder andere, om leierskap en advies aan die direksie te verskaf sonder om afbreuk te doen aan die gesag van die voorsitter wanneer laasgenoemde ’n botsing van belange het. Die verantwoordelikhede van die HOD word in die direksiehandves gedokumenteer. Die HOD word op ’n jaarlikse grondslag deur die direksie aangestel.
Die direksie is tevrede met die aantal beroepsposisies wat die voorsitter na buite beklee en het vertroue dat hierdie posisies hom nie verhinder om sy pligte na te kom nie. Die direksie het ’n opvolgplan vir die posisie van voorsitter daargestel.
Direksie | Oudit-en- risiko- komitee |
Vergoedings- en- nominasie- komitee |
Maat- skaplike- en-etiese- komitee |
Bestuurs- raad |
Beleggings- komitee |
Strategiese ESG- komitee |
|
Aantal vergaderings gehou | 5 | 4 | 2 | 3 | 12 | 1 | 2 |
---|---|---|---|---|---|---|---|
Bywoning deur direkteure Nie-uitvoerende direkteure |
|||||||
J P Rupert | 5 | 2 | 1 | ||||
J Malherbe | 5 | 1 | |||||
P J Neethling(1) | 5 | ||||||
A E Rupert | 5 | ||||||
Onafhanklike nie-uitvoerende direkteure | |||||||
S E N De Bruyn | 5 | 4 | 2 | 3 | 2 | ||
N P Mageza | 5 | 4 | 3 | ||||
P J Moleketi | 5 | 4 | 2 | ||||
M Morobe | 5 | 3 | 2 | ||||
G G Nieuwoudt | 5 | 1 | |||||
K S Rantloane | 5 | 1 | 2 | ||||
F Robertson(2) | 5 | 3 | 2 | ||||
Uitvoerende direkteure en bestuursraad | |||||||
J J Durand | 5 | 12 | 1 | ||||
P R Louw | 3 | 12 | |||||
M Lubbe | 5 | 12 | 2 | ||||
P J Uys | 3 | 10 | 2 | ||||
N J Williams | 5 | 12 | 1 | ||||
(1) | Mnr P J Neethling is aangestel as alternatiewe lid vir mnr J P Rupert op die beleggingskomitee met effek vanaf 23 Maart 2022. Daar was geen fisiese vergadering sedert sy aanstelling nie. | ||||||
(2) | Mnr F Robertson is aangestel as lid van die beleggingskomitee met effek vanaf 21 September 2021. Daar was geen fisiese vergadering sedert sy aanstelling nie. |
Die direksie delegeer sekere funksies en verantwoordelikhede na individuele direkteure, asook na staande of ad hoc-direksiekomitees. Die direksie verstaan egter dat die delegering van verantwoordelikhede na ’n komitee of ’n spesifieke direkteur op geen wyse ontheffing van die direksie se aanspreeklikheid beteken nie.
Spesifieke verantwoordelikhede word na die direksie se subkomitees gedelegeer, wat duidelike take in ooreenstemming met goedgekeurde mandate het. Die delegering na komitees word by wyse van formele mandate aan elke komitee aangeteken. Dié mandate word jaarliks deur die direksie hersien. Terugvoering van die komitees se werksaamhede word by elke direksievergadering aan die raad voorgelê na afloop van die rel>evante komitee vergadering.
Lede van die uitvoerende en senior bestuur word genooi om komiteevergaderings op ’n staande of ad hoc-grondslag by te woon om tersaaklike inligting en insigte in hul onderskeie verantwoordelikheidsgebiede te verskaf.
Oudit-en-risikokomitee
Remgro het ’n oudit-en-risikokomitee aangestel wat uit vier onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, met voldoende vaardighede en ondervinding, bestaan. Een van die lede van die komitee is deur die direksie aangestel om as voorsitter van die komitee op te tree.
Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik vir die oorsig van die Remgro-groep se geïntegreerde jaarverslag, interne finansiële beheermaatreëls en rekenkundige stelsels, interne oudit, eksterne oudit, risiko- en geleentheidsbestuur, die gekonsolideerde finansiële state en enige ander voorgenome vrystelling van pryssensitiewe inligting vir eksterne distribusie of publisering, insluitende dit wat deur enige regulerende of statutêre owerheid vereis word. Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik vir die toepassing van ’n gekombineerde gerusstellingsmodel om ’n gekoördineerde benadering tot alle gerusstellingsaksies te verseker.
Die verantwoordelikhede van die oudit-en-risikokomitee is gekodifiseer in ’n formele mandaat wat minstens jaarliks hersien word en wat hier beskikbaar is. Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie die opdrag van die oudit-en-risikokomitee aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien. ’n Verslag van die oudit-en-risikokomitee, wat beskryf hoe die komitee sy verpligtinge nagekom het, word jaarliks publiseer.
Die direksie glo dat die huidige lede van die oudit-en-risikokomitee voldoende bevoeg en ervare is. Die HUB en HFB is nie lede van die oudit-en-risikokomitee nie, maar woon vergaderings op uitnodiging by, indien nodig, om tersaaklike inligting en insigte te verskaf.
Die oudit-en-risikokomitee onderneem jaarliks ’n hersiening van Remgro se HFB en die finansiële funksie. Remgro het ’n uitvoerende finansiële direkteur (mnr Neville Williams) as HFB van die maatskappy aangestel. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede met die toepaslike kundigheid en ervaring van die finansiële direkteur.
Die oudit-en-risikokomitee vergader minstens jaarliks met die interne en eksterne ouditeure onderskeidelik, sonder die teenwoordigheid van bestuur, om ’n uitruiling van sienings en besorgdhede, wat moontlik nie geskik is vir ’n openbare gesprek nie, te vergemaklik.
Die oudit-en-risikokomitee het gedurende die jaar onder oorsig PricewaterhouseCoopers Geïnk. (PwC) as onafhanklike eksterne ouditeur benoem en sy fooi, asook sy aanstellingsvoorwaardes, goedgekeur. Die aanstelling is by Remgro se AJV aan aandeelhouers voorgelê vir goedkeuring. Die komitee is tevrede dat Remgro se eksterne ouditeure onafhanklik van die maatskappy is en daarom hul funksies sonder onbehoorlike beïnvloeding kan verrig. Die aangewese eksterne ouditvennoot roteer elke vyf jaar. PwC is die afgelope 54 jaar die maatskappy se ouditeur. Die besigheid van die maatskappy is voorheen deur Rembrandt Groep Beperk behartig van wie, gegrond op beskikbare statutêre rekords, PwC en sy voorgangers reeds vir 74 jaar die eksterne ouditeur is. Die komitee is tevrede dat PwC, nieteenstaande sy termyn as eksterne ouditeur, onafhanklik van die maatskappy is.
Ingevolge die vereistes van die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (IRBA) is die maatskappy verplig om sy eksterne ouditeure vir die 2024-finansiële jaar te roteer. Na ‘n omvattende tenderproses gedurende die 2021-finansiële jaar het die oudit-en-risikokomitee aanbeveel dat Ernst & Young Geïnk. (EY), met ingang van die finansiële jaar wat op 30 Junie 2024 eindig, as die nuwe eksterne ouditeur van Remgro aangestel word. ‘n Aanduidende, nie-bindende adviesmosie om EY vanaf die 2024-finansiële jaar aan te stel, is by Remgro se AJV, wat op 25 November 2021 gehou is, ter tafel gelê. By die vergadering het 99.72% van die gewone aandeelhouers, wat die stemme van die B-gewone aandeelhouers uitsluit, ten gunste van EY se aanstelling, met ingang van die 2024-finansiële jaar, gestem. Die gewone besluit om die statutêre aanstelling te maak, sal eers by die maatskappy se 2023-AJV voorgelê word. Onderhewig aan die goedkeuring van die relevante gewone besluite by die maatskappy se 2022-AJV sal die huidige eksterne ouditeur van die maatskappy, PwC, voortgaan om as eksterne ouditeur van die maatskappy op te tree vir die finansiële jaar wat op 30 Junie 2023 eindig.
Die oudit-en-risikokomitee vergader minstens vier keer gedurende ’n verslagtydperk. Die doeltreffendheid van die komitee word op ’n jaarlikse grondslag beoordeel by wyse van selfevaluering, asook ’n beoordeling deur die direksie.
Die oudit-en-risikokomitee verskaf terugvoering aan die direksie by elke direksievergadering wat op die vergadering van die oudit-en-risikokomitee volg. Rapportering aan aandeelhouers geskied deur die oudit-en-risikokomiteeverslag.
Die oudit-en-risikokomitee is tevrede dat Remgro toepaslike finansiële rapporteringsprosedures daargestel het, wat werk, en dat die komitee sy verpligtinge, in terme van sy mandaat, nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die oudit-en-risikokomitee sy verantwoordelikhede nagekom het.
Maatskaplike-en-etiesekomitee
Die direksie het die algemene oorsig en rapportering oor volhoubaarheid aan die oudit-en-risikokomitee, bygestaan deur die maatskaplike-en-etiesekomitee, gedelegeer. Die maatskaplike-en-etiesekomitee hou toesig en doen verslag oor Remgro se etiek, volhoubare ontwikkeling, asook verhoudings met belanghebbendes en verseker daardeur dat Remgro ’n goeie en verantwoordelike korporatiewe burger is, en bly. Die rol en verantwoordelikhede van die maatskaplike-en-etiesekomitee is gekodifiseer in ’n handves wat minstens jaarliks nagegaan en gedurende die verslagtydperk aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien is. ’n Maatskaplike-en-etiesekomiteeverslag word jaarliks gepubliseer waarin aangedui word hoe die komitee sy verpligtinge nagekom het.
Die maatskaplike-en-etiesekomitee bestaan tans uit vyf lede, insluitende uitvoerende en nie-uitvoerende lede, waarvan die meerderheid onafhanklike nie-uitvoerende direkteure is. Die direksie glo dat die huidige komiteelede oor voldoende kundigheid en ervaring beskik.
Die maatskaplike-en-etiesekomitee vergader minstens twee keer gedurende ’n verslagtydperk. Die doeltreffendheid van die komitee word op ’n jaarlikse grondslag beoordeel by wyse van selfevaluering, asook direksiebeoordeling.
Rapportering aan aandeelhouers geskied deur die maatskaplike-en-etiesekomiteeverslag. Die maatskaplike-en-etiesekomitee is tevrede dat dit sy verantwoordelikhede ingevolge die handves nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die komitee sy verantwoordelikhede nagekom het.
Vergoedings-en-nominasiekomitee
Die vergoedings-en-nominasiekomitee bestaan uit vier lede, almal nie-uitvoerende direkteure, met die meerderheid wat as onafhanklik geklassifiseer kan word. Die voorsitter tree as ex officio-voorsitter van die vergoedings-en-nominasiekomitee op. Hoewel hy nie onafhanklik is nie, ondersteun die direksie sy voorsitterskap gegewe die noodsaaklikheid om Remgro se vergoedingsbeleid in ooreenstemming met sy korporatiewe strategie te bring, asook die feit dat hy geen vergoeding van Remgro ontvang nie.
Die vergoedings-en-nominasiekomitee vergader minstens een keer per jaar. Die HUB woon alle vergaderings van die komitee ex officio by. Die vergoedings-en-nominasiekomitee se mandaat word jaarliks hersien en die komitee se doeltreffendheid word daarvolgens beoordeel. Die komitee is tevrede dat dit sy verantwoordelikhede, ingevolge sy mandaat, nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die vergoedings-en-nominasiekomitee sy verantwoordelikhede nagekom het.
Die direksie, en die onafhanklikheid van onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, word jaarliks deur die HOD en die direksie geëvalueer. Die vertoning van direkteure word nie op ’n individuele grondslag gedoen nie. Die subkomitees van die direksie doen jaarliks ’n selfevaluering deur lede, met terugvoering aan die raad, terwyl die direksie self ook ’n beoordeling doen.
Die direksie bepaal sy eie funksies, verpligtinge en prestasiemaatstawwe (wat onder andere die beginsels en aanbevole praktyke van King IV in aanmerking neem), sowel as dié van subkomitees, om as norm vir prestasiebeoordeling te dien. Die direksie het besluit om, vanweë die moontlike sensitiewe aard daarvan, nie ’n oorsig van die evalueringsproses, resultate en aksieplanne in die geïntegreerde jaarverslag bekend te maak nie.
Die direksie, onder leiding van die HOD, het die onafhanklikheid van die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure oorweeg en is tevrede met hul onafhanklikheid, insluitende die onafhanklikheid van mnre Fred Robertson (aangestel 28 Maart 2001), Murphy Morobe (aangestel 18 Junie 2007), Peter Mageza (aangestel 4 November 2009) en Jabu Moleketi (aangestel 4 November 2009), wat elkeen reeds meer as nege jaar in die Remgro-direksie dien. Gegrond op die evaluering van voorgenoemde direkteure, is daar geen getuienis van enige omstandighede of verwantskappe wat hulle oordeel sal benadeel nie en die direksie is tevrede dat hulle onafhanklikheid op geen manier deur hul dienstermyn beïnvloed word nie.
Soos hierbo genoem, het die direksie ’n HOD aangestel om leiding ten opsigte van die beoordeling van die voorsitter se vertoning te gee.
Die direksie is tevrede dat die evalueringsproses die volgehoue verbetering van Remgro se prestasie en doeltreffendheid tot gevolg het.
Remgro se primêre doelwit is om welvaartskepping en volhoubare groei maksimaal na te streef en in hierdie verband word in die besonder gesorg dat alle aandeelhouers, of klasse van aandeelhouers, gelyke behandeling kry.
Die direksie delegeer gesag op ’n manier wat uiting gee aan sy siening oor die behoud en delegering van gesag. Uiteindelik is dit die direksie wat die Remgro-groep lei en beheer rakende wesentlike en strategiese kwessies wat ’n invloed op die reputasie en prestasie van die Remgro-groep kan hê. Ander sake word deur die bestuursraad en/of die beleggingskomitee, of deur senior bestuur hanteer, soos deur ’n formele delegering van gesag toegelaat word.
Die direksie is tevrede dat sy delegering van gesag tot rolduidelikheid en die effektiewe uitoefening van gesag en verantwoordelikhede bydra.
Bestuursraad
Die bestuursraad is ’n subkomitee van die direksie en is hoofsaaklik verantwoordelik vir beleidvasstelling, monitering en bestuur van bestaande beleggings, identifisering en aanbeveling van nuwe beleggingsgeleenthede en die uitvoering van besluite en strategie wat deur die direksie goedgekeur is. Die bestuursraad se mandaat is hier beskikbaar. Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie die bestuursraad se mandaat aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien.
Die bestuursraad bestaan tans uit vyf lede, van wie al drie uitvoerende direkteure in die direksie is, asook mnre Pieter Louw en Pieter Uys. Die HUB is die voorsitter van die bestuursraad, wat maandeliks vergader om die behoorlike nakoming van sy verantwoordelikhede te verseker. Die doeltreffendheid van die bestuursraad word op ’n jaarlikse grondslag gedoen deur selfevaluering, asook ’n beoordeling deur die direksie.
Beleggingskomitee
Die beleggingskomitee is ’n subkomitee van die direksie en is verantwoordelik vir die oorweging en goedkeuring van nuwe beleggings, die verlenging of vervreemding van bestaande beleggings en om oorweging te skenk, en aanbevelings aan die direksie te maak, rakende alle ander beleggings wat buite sy mandaat, wat hier beskikbaar is, val. Die beleggingskomitee is verantwoordelik om te verseker dat, deur sy beleggingsraamwerk en in samewerking met die strategiese en operasionele ESG-komitee, ESG-kwessies by beleggings- en bestuurspraktyke geïntegreer word. Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie, aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV, die mandaat van die beleggingskomitee hersien.
Die beleggingskomitee bestaan uit sewe lede (met een lid wat ‘n alternatief het), van wie vyf nie-uitvoerende direkteure is, asook die HUB en HFB. Die voorsitter van die direksie is die voorsitter van die beleggingskomitee. Die beleggingskomitee vergader op ’n ad hoc-grondslag. Die doeltreffendheid van die beleggingskomitee word op ’n jaarlikse grondslag deur selfevaluering, asook ’n beoordeling deur die direksie, gedoen.
Waardasiekomitee
Die waardasiekomitee is met ingang van 28 Mei 2021 as ‘n subkomitee van die oudit-en-risikokomitee daargestel. Die komitee help die oudit-en-risikokomitee met die bepaling, en aanbeveling aan die direksie, van die waarde van Remgro se ongenoteerde beleggings en die interne waardasie van Remgro se wesentlike beleggings.
Gedurende die jaar onder oorsig het die oudit-en-risikokomitee die mandaat van die waardasiekomitee hersien.
Die waardasiekomitee bestaan uit sewe lede, waarvan vyf nie-uitvoerende direkteure is, sowel as die HUB en die HFB, onder voorsitterskap van ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur. Die meerderheid lede van die komitee is onafhanklik. Die waardasiekomitee vergader minstens twee keer gedurende ‘n verslagtydperk.
Omgewings-, maatskaplike en bestuurskomitees
Die direksie het met ingang van 25 November 2021 strategiese en operasionele ESG-komitees daargestel. Die doel is om, deur die nakoming van oorsigverantwoordelikhede en die verskaffing van leiding, die direksie te help met die implementering en ontwikkeling van Remgro se ESG-strategie en sy strewe om beste praktyke in ESG en volhoubaarheid te verwesenlik, en as sodanig erken te word. Die opdragveld van die komitees sluit kwessies in soos die impak van klimaatsverandering, energie- en natuurlike hulpbronbewaring, omgewings- en verskaffingskettingvolhoubaarheid, menseregte, diversiteit en insluiting, asook ander ESG-kwessies wat toepaslik en wesentlik vir Remgro en sy onderliggende beleggings is, of mag word.
Die strategiese ESG-komitee is ‘n subkomitee van die direksie en bestaan uit vyf lede, waaronder drie onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, sowel as die voorsitter van die operasionele ESG-komitee en die direkteur verantwoordelik vir nakoming en KMB. Die komitee vergader kwartaalliks.
Die operasionele ESG-komitee is ‘n subkomitee van die strategiese ESG-komitee en bestaan uit lede van die bestuursraad en senior bestuur. Die komitee vergader maandeliks.
Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie die handves van die strategiese ESG-komitee en die opdrag van die operasionele ESG-komitee hersien.
Rapportering aan aandeelhouers geskied deur die volhoubaarheidsverslag, ‘n verkorte weergawe daarvan kan hier gevind word.
HUB en HFB se funksies
Die HUB en HFB word deur die direksie op ’n jaarlikse grondslag aangestel en is ex officio-lede van die direksie. Die HUB, mnr Jannie Durand, is verantwoordelik vir die dag-tot-dag-bestuur van Remgro en hy word ondersteun deur mnr Neville Williams, die HFB van Remgro. Saam het hulle 54 jaar diens by Remgro en Remgro-verwante besighede en beskik hulle oor die nodige bevoegdheid, karakter en gesag, asook hulpbronne, om hul taak te verrig.
Die HUB is verantwoordelik om leiding te gee ten opsigte van die implementering en uitvoering van goedgekeurde strategie, beleid en bedryfsbeplanning en dien as die skakel tussen die bestuursraad en die direksie. Die HUB is aanspreeklik en rapporteer aan die direksie en sy vertoning word jaarliks deur die direksie beoordeel. Die HUB en die HFB beklee bykomende professionele posisies, waarvan die meeste gevind kan word hier
Die direksie het ’n opvolgplan vir die HUB en oorblywende lede van die bestuursraad, wat periodiek hersien word om die kontinuïteit van uitvoerende leierskap te verseker.
Maatskappysekretaris
Die aanstelling van die maatskappysekretaris word deur die direksie goedgekeur en die direksie is verantwoordelik vir die verwydering van die maatskappysekretaris. Me Danielle Dreyer is die maatskappysekretaris en is ’n heeltydse werknemer van Remgro.
Die maatskappysekretaris het onbelemmerde toegang tot die direksie, maar is nie ’n lid daarvan nie. Die maatskappysekretaris is verantwoordelik om leiding aan die direksie gesamentlik en, aan direkteure individueel, te gee rakende hulle pligte, verantwoordelikhede en mag, en om hulle bewus te maak van wetgewing en regulasies wat op Remgro betrekking het. Alle direkteure het onbeperkte toegang tot die dienste van die maatskappysekretaris. Die direksie is tevrede dat die reëlings in dié verband doeltreffend is.
Die maatskappysekretaris is ook daarvoor verantwoordelik dat behoorlike korporatiewe bestuursbeginsels nagekom word en dat direksie-oriëntering of opleiding, waar nodig, en gegrond op jaarlikse prestasiebeoordelings, gegee word. Die maatskappysekretaris verseker die behoorlike administrasie van verrigtinge en sake wat met die direksie, Remgro en die aandeelhouers van Remgro verband hou in ooreenstemming met toepaslike wetgewing en prosedures.
Die maatskappysekretaris rapporteer, deur die voorsitter, aan die direksie oor alle statutêre pligte en funksies wat in verband met die direksie uitgevoer is. Sover dit ander pligte en administratiewe sake betref, rapporteer die maatskappysekretaris aan uitvoerende bestuur.
Die direksie onderneem ’n jaarlikse evaluering van die maatskappysekretaris se bevoegdhede, kwalifikasies en ervaring, soos deur die JSE se noteringsvereistes bepaal. Die evalueringsproses sluit ’n beoordeling deur elke direksielid van die maatskappysekretaris se geskiktheid, vaardighede, kennis en die uitvoering van pligte in. Die direksie is tevrede dat die maatskappysekretaris die nodige bevoegdheid, kwalifikasies, ondervinding, status en objektiwiteit het om onafhanklike leiding en ondersteuning op die hoogste besluitnemingsvlak in Remgro te verskaf.
Die direksie is in die finale instansie verantwoordelik vir die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsbestuursproses en interne beheerstelsel. Die direksie het ’n omvattende risiko- en geleentheidsbestuurstelsel ingestel, wat onderhou word, en voortdurende risiko- en geleentheidsidentifisering en -beoordeling, asook die vaslegging van interne beheermaatreëls, insluit.
Die risiko- en geleentheidsbestuursproses behels die beplanning, rangskikking en beheer van bedrywighede en hulpbronne om die negatiewe impak van risiko’s te verminder tot vlakke wat Remgro kan verdra, sowel as om geleenthede wat sommige risiko’s bied te optimaliseer. Bykomend daartoe beoordeel die prosesse strategiese risiko en die belyning van strategie met die doelwitte en visie van Remgro. Aangesien Remgro ’n beleggingshouermaatskappy is, neem die risiko- en geleentheidsbestuursproses kennis van die risiko’s en geleenthede binne Remgro, asook dié inherent in die beleggingsportefeulje.
Die direksie het die aard en omvang van risiko’s wat Remgro bereid is om te aanvaar in navolging van strategiese doelwitte, beoordeel en aanvaar. Die direksie formaliseer en keur die risiko-aptyt, risikodraende vermoë en risiko-toleransievlakke op ’n jaargrondslag goed.
Die oudit-en-risikokomitee is integraal in die implementering van die ondernemingswye risiko- en geleentheidsbestuursbeleid en monitor, volgens die mandaat verleen deur die direksie, die risiko- en geleentheidsbestuursprosesse en interne beheerstelsels van Remgro en sy volfiliale. Die oudit-en-risikokomitee gee minstens jaarliks terugvoer aan die direksie oor die doeltreffendheid van die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsbestuursprosesse.
Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid definieer die doelwitte, metodiek en verantwoordelikhede van die onderskeie bestuursrolspelers in Remgro. Die risiko- en geleentheidsbeleid streef, onder andere, daarna om die risiko’s en geleenthede voortspruitend uit die drieledige konteks waarin Remgro sy sake bedryf, en die kapitaal wat Remgro gebruik en in werking stel, te evalueer ten einde veerkragtigheid, prestasie en hulpbronontplooiing te optimaliseer. Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid is onderhewig aan ’n jaarlikse hersiening en enige voorgestelde wysigings word aan die oudit-en-risikokomitee voorgelê, en daarna vir aanbeveling aan die direksie, wat dit goedkeur. Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie die risiko- en geleentheidsbestuurs-beleid hersien aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV, asook die huidige COSO-onderneming-risikobestuursraamwerk.
Die oudit-en-risikokomitee het toesig van die operasionele risiko- en geleentheidsbestuursfunksie oorgedra na die RGTIB-komitee, wat ’n subkomitee van die oudit-en-risikokomitee is. Die mandaat van die RGTIB-komitee sluit die handhawing van die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid, die daarstelling van ’n bedryfsrisiko- en -geleentheidsregister, tegnologie- en inligtingsrisikobestuur, wetlike nakoming en beroepsgesondheid en -veiligheid in. Gedurende die jaar onder oorsig het die oudit-en-risikokomitee die mandaat van die RGTIB-komitee aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien.
’n Jaarlikse onafhanklike interne oudit word gedoen oor die doeltreffendheid van die RGTIB-komitee, wat deel is van die risiko- en geleentheidsbestuursproses wat deur die direksie goedgekeur word. Daarbenewens het die RGTIB-komitee sy vertoning teen sy mandaat gemeet en die positiewe resultate van hierdie beoordeling aan die oudit-en-risikokomitee gerapporteer.
Die HFB tree as voorsitter van die RGTIB-komitee op en die 15 ander lede is almal senior bestuurders van Remgro. Die voorsitter van die oudit-en-risikokomitee het ‘n staande uitnodiging om die vergaderings as ’n ex officio-lid by te woon om die doeltreffende werking van die komitee te verseker en te sorg dat toepaslike risiko-inligting met die komitee gedeel word.
Die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsassessering, wat alle maatskappye in Remgro se beleggingsportefeulje insluit, word deur die bestuursraad geassesseer.
Remgro se interne ouditafdeling is ’n effektiewe, onafhanklike beoordelingsfunksie en vorm ’n integrale deel van die ondernemingswye risiko- en geleentheidsbestuurstelsel wat gerusstelling verskaf oor die doeltreffendheid van Remgro se interne beheerstelsel. Die oudit-en-risikokomitee het gedurende die jaar onder oorsig verslae oor die doeltreffendheid van die interne beheerstelsels, wat deur die interne ouditfunksie uitgevoer is, geëvalueer, oorweging geskenk aan inligting wat deur bestuur verskaf is, en samesprekings met die eksterne ouditeur gevoer oor die resultate van sy oudit.
Meer besonderhede oor Remgro se risiko-bestuursfunksie is vervat in die risiko- en geleentheidsbestuursverslag, wat hier ingesluit word. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede dat die stelsel, sowel as die proses van risiko- en geleentheidsbestuur, doeltreffend is.
Remgro het ’n behoorlik saamgestelde veiligheids- gesondheids- en omgewingskomitee, soos vereis deur die Wet op Beroeps-gesondheid en -veiligheid (Nr. 85 van 1993). Die komitee is ’n subkomitee van die RGTIB-komitee en verseker dat Remgro ’n veilige en gesonde risikovrye omgewing vir personeel en besoekers verskaf, en in stand hou, deur risiko’s te identifiseer en te sorg dat maatreëls om die risiko’s te verminder, doeltreffend is en nagekom word. Verder monitor dit omgewingspraktyke.
’n Oorsig van sleutelfokusareas in die verslagtydperk, beplande areas vir toekomstige fokus, sowel as doelstellings, asook die kernrisiko’s wat Remgro in die gesig staar, word in die risiko- en geleentheidsbestuursverslag ingesluit.
Die direksie en uitvoerende bestuur is deeglik bewus van die rol van tegnologie en inligting en die impak daarvan op Remgro se besigheid, met inagneming van die relatief beperkte tegnologiese behoeftes van ’n beleggingshouermaatskappy.
Die RGTIB-komitee oorweeg die tegnologie- en inligtings-risikoregister op ’n gereelde grondslag, terwyl die vordering met tegnologie en inligting, asook beheerverwante projekte, direk deur die oudit-en-risikokomitee self gemonitor word. Die direksie hou toesig oor hierdie komitees en is tevrede dat tegnologie en inligting behoorlik bestuur word en in ooreenstemming met die doelwitte van die Remgro-groep se besigheid is.
Remgro het ’n tegnologie- en inligtingsbestuursbeleid wat jaarliks, ingevolge die beginsels en aanbevelings van King IV, hersien en aangevul word deur bestuursgegronde beleide, soos tegnologie- en aanvaarbare inligtingsgebruiksbeleid, asook die inligtingsekuriteitsbeleid.
Die hoof van tegnologie en inligting rapporteer aan Remgro-groep se HFB en tegnologie- en inligtingsverwante sake word deur ’n tegnologie- en inligtingsloodskomitee hanteer, wat uit die hoof van tegnologie en inligting en ses ander lede van senior bestuur bestaan. Hierdie komitee rapporteer ook aan die RGTIB-komitee oor die vordering wat met tegnologie- en inligtingsverwante projekte gemaak word. Die RGTIB-komitee, op sy beurt, oorweeg en monitor die vordering met tegnologie- en inligtingsverwante projekte. Die tegnologie- en inligtingsloodskomitee is ook verantwoordelik om toe te sien dat uitvoering aan die tegnologie- en inligtingsbestuursbeleid gegee word. Die bestuurder van die regsafdeling is, ingevolge Wet 4 van 2013 op Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) en sy regulasies, as inligtingsbeampte aangestel. Die projek, wat bekendgestel is om POPIA-nakoming te verseker, sal aan die tegnologie- en inligtingsloodskomitee rapporteer in ooreenstemming met die komitee se rol om tegnologie- en inligtingsbestuur te lei en te bevorder.
Remgro het sy tegnologie- en inligtingsbedrywighede, deur middel van omvattende diensvlakooreenkomste na betroubare diensverskaffers uitgekontrakteer. Die diensvlakooreenkomste van diensverskaffers, wat onder andere kerndienste, soos die lewering van stelsel- en gebruiksondersteuning, stelselbeskikbaarheid, kuberrisikobestuur, virusbeskerming, telefoon- en ander algemene kontroles insluit, word jaarliks hersien, en die nakoming daarvan gemonitor. Tegnologie- en inligtingsdiensbestuur is op die internasionale ITIL (Information Technology Infrastructure Library)-raamwerk gebaseer. Die dienste van ‘n sekuriteitsbedryfsentrum is ook geïmplementeer om kuberrisiko te monitor.
Tegnologie en inligtingsrisikobestuur is ten volle geïntegreer en ingesluit in Remgro se gesamentlike gerusstellings-proses. ’n Besigheidskontinuïteitsplan is geformaliseer en suksesvolle toetse uitgevoer ten opsigte van rugsteun- en rampherstelprosesse. Volledige terugvoering oor die Remgro-groep se tegnologie- en inligtingsrisiko’s word aan die RGTIB-komitee en die oudit-en-risikokomitee verskaf.
Inligtingsekuriteitsbeleide is oral in Remgro in plek en reguleer, onder andere, die prosessering en beskerming van eie en derdeparty-inligting. Indien vereis, word spesialisvaardighede van buite bekom om met inligtingstegnologiedienste te help.
’n Oorsig van die sleutelfokusareas gedurende die verslag-tydperk, asook beplande toekomstige fokusareas, kan in die risiko- en geleentheidsbestuursverslag gevind word.
Die nakoming van wette, reëls, regulasies en relevante kodes is integraal tot Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursproses. Die oudit-en-risikokomitee is, onder andere, daarvoor verantwoordelik dat ’n behoorlike nakomingsraamwerk ingestel word, nie-nakoming gerapporteer word, asook om enige wesentlike skending van relevante wetlike regulerende vereistes na te gaan. Die maatskaplike-en-etiesekomitee het ook ’n mandaat om die doeltreffendheid van nakomingsbestuur in die Remgro-groep te monitor.
Die oudit-en-risikokomitee monitor nakoming van die Etiese Kode en gee aandag aan gevalle van bedrog en onreëlmatighede. Die Remgro-groep het ’n effektiewe teenkorrupsie- bedrogvoorkomings- en opsporingsproses en verseker daardeur nakoming en risikovermindering. Geen beweerde voorvalle ten opsigte van Remgro, sy personeel en amptenare is gedurende die jaar gerapporteer nie.
In die jaar onder oorsig het die direksie Remgro se wetlike nakomingsbeleid en -raamwerk aan die hand van die beginsels van King IV hersien. Die direksie het bevestig dat daar voldoende bestuursvermoë en -beheermaatreëls bestaan om te verseker dat alle relevante wette en bedryfspraktyke nagekom word. Die wetlike nakomingsbeleidsraamwerk identifiseer watter nie-bindende reëls, kodes en standaarde deur Remgro aanvaar is.
Die regsafdeling bring bestuur gereeld op hoogte van alle veranderinge in toepaslike wetgewing en regulasies en wetlike nakoming word op ‘n deurlopende grondslag gemonitor en verslag daaroor aan die oudit-en-risikokomitee gedoen.
Nakomingsbeheer berus ook by senior bestuur, wat gereeld aan die RGTIB-komitee moet verslag doen oor hul nakoming deur die gebruik van ’n selfevalueringsmetodiek. Hierdie proses vorm deel van die jaarlikse gesamentlike gerusstellingsproses.
Die maatskappysekretaris is verantwoordelik om leiding aan die direksie gesamentlik, en direkteure afsonderlik, te gee oor hul pligte, verantwoordelikhede en gesag en hulle bewus te maak van wetgewing en regulasies wat op Remgro van toepassing is. Die maatskappysekretaris is verantwoordelik vir die behoorlike administrasie van direksieverrigtinge en sake rakende toepaslike wetgewing en prosedures.
Wetlike nakoming is ’n staande agendapunt vir direksie-vergaderings. Terugvoering oor die Remgro-groep se wetlike en regulerende risiko’s word op ’n gereelde basis aan die oudit-en-risikokomitee verskaf. Die direksie sien toe dat nakoming begryp word, nie alleen vir die verpligtinge wat dit meebring nie, maar ook vir die regte en beskerming wat dit bied, dat nakomingsbestuur beteken dat ’n holistiese siening geneem word van hoe toepaslike wette en nie-bindende reëls, kodes en standaarde verband hou met mekaar en dat nakoming die volgehoue monitering van die regulerende omgewing, en ’n paslike reaksie ten opsigte van veranderinge en ontwikkelings, behels.
Me Mariza Lubbe, as ’n uitvoerende direkteur, is verantwoordelik vir nakoming en korporatiewe maatskaplike besteding. As deel van haar pligte rakende nakoming, monitor sy Remgro se verantwoordelikhede ingevolge die Maatskappywet, die JSE se noteringsvereistes en King IV, sowel as die behoorlike en wetlike implementering van Remgro se korporatiewe bedrywighede.
Remgro se vergoedings-en-nominasiekomitee is, onder andere, verantwoordelik vir die daarstelling van ’n vergoedingsbeleid, toesig oor die vasstelling en administrasie van die vergoeding van alle direkteure, bestuursraadslede en ander werknemers, sowel as die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure (wie se vergoeding uiteindelik, by wyse van ’n spesiale besluit, deur aandeelhouers goedgekeur word voor die betaling daarvan).
Die vergoedings-en-nominasiekomitee adviseer die direksie oor sake soos vergoedingsbeginsels en die voorwaardes van indiensneming van alle direkteure en bestuursraadslede, die direksiestruktuur en -samestelling, direkteursvergoeding en langtermyn-aansporingsmaatreëls en opvolgplanne vir die direksie, HUB en ander bestuursraadaanstellings.
Remgro het ’n formele vergoedingsbeleid wat die vergoedingsbeginsels vir die hele organisasie uiteensit. Die vergoedingsbeleid is in ooreenstemming met Remgro se benadering om alle werknemers billik en mededingend, en ooreenkomstig hul vermoë, vaardighede, verantwoordelikhede en vertoningsvlak, te vergoed. Die salarisvlak van werknemers is een van verskeie elemente in die strategie om personeel te behou, te motiveer en, waar nodig, hoëgehalte mense te werf.
Die vergoedingsverslag gee ’n oorsig en begrip van Remgro se vergoedingsbeginsels, -beleid en -praktyke. Die vergoeding van direkteure en voorgeskrewe beamptes word in die vergoedingsverslag geopenbaar. Die direksie het besluit dat onafhanklike nie-uitvoerende direkteure nie vergoed moet word met ’n basiese fooi en bywoningsfooi ten opsigte van hul direksie- en komiteeverpligtinge nie. Die fooi wat aan nie-uitvoerende direkteure betaal word, is dus ’n vaste jaarlikse fooi. Die enigste uitsondering is die bywoningsfooi per vergadering, wat op die beleggingskomitee van toepassing is. Die vereiste aantal beleggingskomiteevergaderings kan nie aan die begin van die finansiële jaar bepaal word nie en om te voorkom dat direkteure vergoed word vir ‘n funksie wat slegs by geleentheid voorkom, het die vergoedingskomitee ‘n vaste bywoningsfooi per vergadering vasgestel. Dié besluit is geneem omdat baie direkteure aansienlike waarde tot die Remgro-groep buite formele direksie- en komiteevergaderings toevoeg, soms meer as wat hulle binne die raamwerk van ’n formele vergadering kan doen.
Met ingang van 2017 lê Remgro sy vergoedingsbeleid en vergoedingsimplementeringsverslag vir afsonderlike, nie-bindende adviesstemming deur aandeelhouers by die AJVs voor. In die geval van ’n 25% of meer afkeurende stem oor die vergoedingsbeleid of vergoedingsimplementeringsverslag (of beide), sal die vergoedings-en-nominasiekomitee in gesprek tree met afkeurende aandeelhouers, soos deur King IV aanbeveel.
Remgro se vergoedingsbeleid en vergoedingsimplementerings-verslag is vir afsonderlike, nie-bindende adviesstemming by die maatskappy se AJV op 25 November 2021 voorgelê. By die vergadering het 69.91% en 88.17% van die gewone aandeelhouers, wat die stemme van die B-gewone aandeelhouers uitsluit, ten gunste van die vergoedingsbeleid en vergoedingsimplementeringsverslag gestem.
Gesamentlike gerusstelling
Die direksie erken sy aanspreeklikheid teenoor belanghebbendes om inligting wat relevant, akkuraat en betroubaar is, te verskaf. In hierdie verband moet genoem word dat Remgro ’n gesamentlike gerusstellingsmodel volg, wat bestuur, interne oudit en eksterne gerusstelling (bv. verifiëring van BBSEB-telkaart en Koolstofopenbaarmakingsprojek) insluit. Remgro glo dat hierdie gerusstellingsmodel die nodige gerusstelling oor die gehalte en betroubaarheid van inligting verskaf. Die verskillende opsies en vlakke van onafhanklike gerusstelling beskikbaar, word deurlopend evalueer om optimale gerusstelling te verseker.
Die gekonsolideerde finansiële jaarstate van Remgro is deur die onafhanklike eksterne ouditeur, PricewaterhouseCoopers Geïnk., in ooreenstemming met internasionale ouditstandaarde, geoudit. Remgro erken die toenemende vereistes van beleggers en regulerende en ander riglyne, soos King IV en die geïntegreerde rapporteringsriglyne, vir die eksterne gerusstelling van gekose nie-finansiële inligting.
Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik om te verseker dat die gesamentlike gerusstellingsmodel toegepas word om ’n gekoördineerde benadering tot alle gerusstellingsaktiwiteite te verskaf, en dat die gesamentlike gerusstelling wat ontvang word, geskik is om aandag te gee aan al die wesentlike risiko’s waarmee Remgro te doen kry. Dit is ook daarvoor verantwoordelik om die verhouding tussen Remgro en eksterne diensverskaffers te monitor. Verskeie ander vrywillige eksterne akkreditering-, sertifisering- en gerusstellingsinisiatiewe word in die Remgro-groep onderneem.
Remgro het ’n ondernemingswye risiko- en geleentheids-bestuurstelsel geïmplementeer wat deel van die algehele gesamentlike gerusstellingsplan vorm. Tegnologie- en inligtingsrisiko en geleentheidsbestuur is ten volle in Remgro se gesamentlike gerusstellingsproses geïntegreer.
Die direksie is tevrede dat ’n gesamentlike gerusstellingsmodel toegepas word wat die onderskeie gerusstellingsdienste en -funksies insluit op ’n wyse wat die doelwitte van gerusstelling ondersteun.
Die direksie se leiding neem wetlike vereistes in ag met betrekking tot gerusstelling, en of dit toegepas moet word op die onderliggende gegewens wat gebruik word om ’n verslag voor te berei, of op die proses vir die voorbereiding en aanbieding van ’n verslag, of beide. In die bepaling van hoe om gerusstelling ten opsigte van eksterne verslae te verkry, word oorweging daaraan geskenk of die aard, omvang en mate van gerusstelling geskik is vir die teikengehoor, en doel van die verslag, en die evaluering van die onderliggende inhoud van die verslag. Die direksie is tevrede dat die eksterne verslae van Remgro die aanbevole praktyke van King IV nakom.
Interne oudit
Interne oudit vorm ’n integrale deel van Remgro se ondernemingswye risiko- en geleentheidsbestuurstelsel om gerusstelling oor die doeltreffendheid van Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursproses en interne beheerstelsel te gee. Die interne ouditfunksie is onafhanklik van bestuur en het onbelemmerde toegang tot die oudit-en-risikokomitee en senior bestuur.
Remgro se hoofouditbestuurder (HOB) verskaf ’n jaarlikse geskrewe beoordeling aan die oudit-en-risikokomitee van die doeltreffendheid van Remgro se bestuur, die beheeromgewing en stelsels van interne beheer en risiko- en geleentheidsbestuur. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede met die onafhanklikheid, gehalte en omvang van die interne ouditproses.
Verslae oor die doeltreffendheid van Remgro se interne beheermaatreëls word in die risiko- en geleentheids-bestuursverslag en die oudit-en-risikokomiteeverslag ingesluit. Die oudit-en-risikokomitee het onder andere die verslae van die interne en eksterne ouditeure nagegaan en is tevrede met die geskiktheid en doeltreffendheid van die Remgro-groep se interne beheerstelsels.
In die jaar onder oorsig het die oudit-en-risikokomitee die interne ouditmandaat, aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV, hersien vir goedkeuring deur die direksie.
Die direksie monitor deurlopend dat interne oudit ’n omvattende gehalteversekering- en verbeteringsproses volg, dat Remgro se risikoprofiel gereeld hersien word en dat die risikogebaseerde jaarlikse interne ouditwerkplan daarvolgens goedgekeur word.
Die oudit-en-risikokomitee het mnr Deon Annandale as Remgro se HOB aangestel. Die direksie is tevrede met die eienskappe, objektiwiteit en onafhanklikheid van die HOB en dat hy oor die nodige status en bevoegdheid beskik. Die HOB word genooi om vergaderings van die bestuursraad by te woon, soos en wanneer nodig, bykomend tot staande uitnodigings na die RGTIB, Operasionele ESG- en tesouriekomitee se vergaderings en die beleggingstrategie-konferensie.
‘n Eksterne, onafhanklike hersiening van die interne ouditfunksie word minstens elke drie jaar gedoen.
Die direksie is die uiteindelike bewaarder van sy korporatiewe reputasie en verhoudings met belanghebbendes. Remgro se verhoudings met alle belanghebbendes is gegrond op die volgende waardes wat verskans, en ondersteun word, deur die maatskappy se Etiese Kode: integriteit, bevoegdheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, billikheid en deursigtigheid. Remgro het ’n belangegroepbeleid aanvaar wat die maatskappy se benadering en strategie ten opsigte van skakeling met belanghebbendes uiteensit, waardeur verseker word dat die benadering korporatiewe bestuursriglyne in ag neem.
Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie die groep-bestuursraamwerk hersien wat sy rigting ten opsigte van verhoudings en die uitvoering van gesag regdeur die Remgro-groep verwoord, en waardeur erkenning aan groepmaatskappye as belanghebbendes van Remgro verleen word.
Remgro se hoofbelangegroepe is sy aandeelhouers en die beleggingsgemeenskap, sy personeel, die onderliggende beleggings en die ander aandeelhouers van hierdie maatskappye, die gemeenskap, die omgewing waarin sake bedryf word, verskaffers en diensverskaffers, asook die Suid-Afrikaanse regering en regulerende liggame. Die verwagtinge van hierdie belanghebbendes word in ag geneem by die vasstelling van die areas waaroor regdeur die volhoubaarheidsverslag gerapporteer word.
Effektiewe kommunikasie met aandeelhouers en ander belanghebbendes is grondliggend in die handhawing van Remgro se reputasie as ’n beleggingsvennoot van keuse. Remgro benut ’n wye verskeidenheid van kommunikasiemetodes om te verseker dat kommunikasie met belanghebbendes duidelik en verstaanbaar, sowel as deursigtig, ewewigtig en geloofwaardig is en dat alle relevante feite, hetsy positief of negatief, verskaf word. Sorg word gedra dat die skakeling met belanghebbendes, waar toepaslik, nie slegs eenrigtingkommunikasie nie, maar konstruktiewe, vennootskapsgegronde skakeling is. Dit verseker dat alle regmatige verwagtinge van belanghebbendes sover moontlik geïdentifiseer en hanteer word.
Kommunikasie met beleggers is gegrond op tydige, gebalanseerde, duidelike en deursigtige inligting. In hierdie opsig het die beleggersgemeenskap toegang tot dieselfde inligting as Remgro-aandeelhouers. Vaste protokolmaatreëls is in plek om die aard, mate en frekwensie van kommunikasie met beleggers te reël. Aandeelhouers en die beleggersgemeenskap word aangemoedig om Remgro se AJVs by te woon, waar aktuele sake openlik bespreek word. Verdere interaksie met institusionele beleggers vind minstens twee keer per jaar tydens die inskakelaanbiedings by die bekendstelling van die maatskappy se tussen- en finale resultate plaas, waar vrae aan die HUB en HFB gestel kan word. Buiten hierdie geleenthede, neem die bestuurspan van tyd tot tyd aan beleggingsamesprekings deel, hoofsaaklik met die doel om te verseker dat Remgro se aandeelstorie so wyd moontlik verstaan en weerspieël word in heersende kapitaalmarkevaluerings. Remgro streef daarna om voortdurend sy kommunikasie, boodskapoordrag en openbaarmaking te verbeter sodat aandeelhouers bestuur se siening van waarde beter kan verstaan. Ons glo dat deursigtige kommunikasie ons beter posisioneer om wyer institusionele dekking en sigbaarheid in internasionale kapitaalmarkte te geniet met die oog op groter investering. Ons bly egter gedissiplineerd om die behoefte om met die beleggersgemeenskap te kommunikeer, te balanseer met die noodsaak om inligtingsongelykheid te vermy en nakoming van die relevante openbaarmakingsvereistes en regulasies ingevolge ons noteringsvereistes te verseker. In hierdie verband word die beleggersgemeenskap aangemoedig om Remgro se beleggersverhoudingsbestuurder direk te skakel met navrae oor enige beleggersverwante aangeleenthede. Kontakbesonderhede vir beleggersverhoudings is beskikbaar in die beleggersgedeelte van die maatskappy hier.
Die direksie is beskikbaar om by die AJV van Remgro genader te word en te reageer op aandeelhouers se navrae oor hoe die direksie sy bestuursverpligtinge nakom. Die aangewese vennoot van die eksterne ouditeursfirma woon ook die AJV by. Die uitkoms van Remgro se AJV is in die openbaar op die effektebeurs se nuusdiens (SENS) beskikbaar.
Remgro, soos ander organisasies, het baie ekonomiese impakte op sy belangegroepe deur, onder andere, die skep en verspreiding van welvaart, die skep van indiensnemingsgeleenthede, die billike en mededingende vergoeding van werknemers, die betaling van belastings en KMB-inisiatiewe. Remgro bestuur hierdie impakte deurlopend en skakel met belanghebbendes oor sake wat relevant vir hulle is.
Remgro se primêre doelwit is om welvaartskepping en volhoubare groei maksimaal na te streef en in hierdie verband word in die besonder gesorg dat alle aandeelhouers, of klasse van aandeelhouers, gelyke behandeling kry. Spesiale sorg word daaraan bestee om minderheidsaandeelhouers te beskerm teen aksies deur, of in belang van, die vernaamste aandeelhouer wat tot hul nadeel mag wees. In hierdie verband het Remgro ’n HOD aangestel om by vergaderings as voorsitter op te tree in situasies waar die voorsitter ’n botsing van belange het.
Die direksie het nie ’n formele geskilbeslegtingsproses met betrekking tot aandeelhouers ingestel nie, omdat dit glo dat die bestaande prosesse in die Remgro-groep bevredigend funksioneer en nie ’n meer formele en afsonderlike meganisme vereis nie. Aandeelhouers mag ook, bykomend, relevante hulpmiddels ingevolge die Maatskappywet gebruik.
’n Oorsig van die sleutelfokusareas in die verslagtydperk, asook beplande toekomstige fokusareas met betrekking tot die inklusiwiteit van belanghebbendes, kan in die Verkorte volhoubaarheidsverslag gevind word.
Die direksie is tevrede met Remgro se toepassing van die beginsels, soos in King IV vasgelê, en het sy toepassing van die 16 toepaslike King IV-beginsels in hierdie verslag gedemonstreer. Remgro is daartoe verbind om toe te sien dat korporatiewe bestuur nagekom en korporatiewe bestuursprosesse deurlopend hersien word ten einde te verseker dat dit doeltreffend en nakomend bly.