ESG en volhoubaarheid – hoogtepunte

Ontwikkel ’n verslagdoeningsraamwerk om konsekwente en vergelykbare verslagdoening aan te moedig wat openbaarmaking en deursigtigheid op wesentlike fokusgebiede regoor die portefeulje bevorder.

Maatstafbepaling en herwinning- en doeltreffendheidsmaatstawwe vir waterverbruikis in werking gestel by die meeste maatskappye. 6 uit die 10 onderliggende beleggings wat by Remgro se ESG-verslagdoening ingesluit is, het waterteikens.

Opleiding vir Remgro-bestuurslede met betrekking tot klimaatsverwante risiko en geleenthede deur scenario-ontleding te gebruik. Aanvang van risikoscenario-identifisering.

Doen ’n opname om begrip van ESG-risikobestuurs prosesse en -volwassenheid binne die portefeulje uit te brei.

Hersien direksie subkomitee-strukture en -mandaat vir die samesmelting van die strategiese ESG-komitee en die maatskaplike-en-etiesekomitee effektief vanaf 1 Julie 2024.

Behaal vlak 4-bydraerstatus volgens BBSEB.

Kom ons verbintenis na om ’n belasting deursigtigheidsverslag te publiseer.

Remgro het onderliggende beleggings wat in verslagdoening ingesluit is, aangemoedig om ’n salarisgaping-ontleding. uit te voer. Elkeen het ’n beoordeling voltooi, en bestuur is besig om die uitslae na te gaan.

Koolstofverslagdoening sluit nou 12 (2024: nege) maatskappye in by Remgro se klimaatsverslagdoeningsgrens (insluitend Remgro by die kern). Dit verteenwoordig meer as 82% (2024: 72.9%) van INBW.

Remgro word steeds ingesluit by die FTSE4Good-indeksreeks.

Al 10 onderliggende beleggings wat oor ESG aan Remgro rapporteer, het óf reeds strategieë in plek óf meetbare doelwitte of teikens om kweekhuisgasvrystellings en/of energieverbruik te verminder..

Voortgesette gebruik van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte om ons impak oor ons KMB-program te meet.

Hernubare energie word ál meer binne die portefeulje gebruik (insluitend party onderliggende beleggings wat kragkoopooreenkomste onderteken en in sonkraginfrastruktuur belê).

Onderneem ’n IFRS S1 - en S2-gapingsontleding teenoor ons vorige verslag om toekomstige belyning te oorweeg.

Lees die volledige ESG en Volhoubaarheidsverslag

Remgro se langtermyn volhoubaarheidstrewes word ondersteun deur ’n spesifieke fokus op wesentlike omgewings- en maatskaplike kwessies, insluitend risikobestuur en bestuur.

Strategie

Vir Remgro is omgewing, maatskaplik en bestuur (ESG) ’n strategiese prioriteit; een met ons voortgesette reis om volhoubare ondernemings te lei en verantwoordelik te belê as middelpunt. Ons bly daartoe verbind, as ’n verantwoordelike belegger, om daardie dinge te doen wat ons glo nodig is om die volhoubaarheid van ons besigheid en ons portefeulje te verbeter.

Ons strategie is in drie steunpilare geanker: volhoubare beleggingsrentmeesterskap, ESG-implementering regoor ons groep en die ontsluiting van gedeelde waarde vir Suid-Afrika en haar mense.

Remgro se toewyding tot die verbetering van volhoubare beleggingsrentmeesterskap:

  • Ons demonstreer steeds ons toewyding tot die bevordering van belanghebbendes se betrokkenheid en ons pogings om dit te bewerkstellig deur beter kommunikasie. Die Remgro-direksie se nie-uitvoerende lede onderneem byvoorbeeld ’n jaarlikse bestuurskontakgeleentheid om met die beleggersgemeenskap te skakel. Hierdie geleentheid lewer tasbare veranderinge op, byvoorbeeld dié wat met die belyning van die groep se vergoedingsfilosofie verband hou.
  • Impakbelegging is deel van Remgro se DNS en het die ESG-en impakbeleggingtendens voorafgegaan.
  • Ons besef dat meer gereelde en vrywillige verslagdoening deursigtigheid aan aandeelhouers bied. Ons publiseer byvoorbeeld steeds Mediclinic se resultate, al is die groep nou ongenoteer.

Wat ESG-aksie regoor ons portefeulje betref:

  • Ons kontroleer, in vennootskap met ons onderliggende beleggings, die implementering van inisiatiewe regoor die groep om ESG-prestasie in sleutelfokusgebiede te verbeter. Ons erken heelwat werk is nodig om aan aandeelhouers se verwagtinge oor kwantitatiewe teikens te voldoen, dus bly dit vir ons ’n fokusgebied en ’n prioriteit.
  • Ons werk saam met onderliggende beleggings om ’n stel sleutelprestasie-aanwysers uit te rol en verslagdoening en openbaarmaking daaroor te verbeter.

Die laaste steunpilaar het die ontsluiting van gedeelde waarde vir gemeenskappe as kern:

  • Ons gaan voort om ons hulpbronne en energie in opheffing deur middel van verskeie maatskaplike inisiatiewe te belê. Ons werk aktief saam met al ons maatskaplike vennote aan inisiatiewe en oplossings wat groei en ontwikkeling dryf met die doel om die veelvuldige bedreigings van ongelykheid, werkloosheid en armoede te verlig. Dit is werk waarop ons ongelooflik trots is.
  • Wat ander elemente van hierdie maatskaplike steunpilaar betref, is daar egter meer werk om te doen. Om die transformasie van ons talentpoel te dryf met die oog op diversiteit is byvoorbeeld ’n prioriteit waartoe die bestuurspan volkome verbind is.

Die groep gaan voort om rentmeesterskap op ESG-kwessies binne sy portefeulje uit te oefen om sodoende sy strategie na te kom. Remgro teiken jaarliks ’n kerngroep maatskappye, insluitend volfiliale en ander maatskappye in die portefeulje – gewoonlik dié waaroor die groep bedryfsbeheer beskik of wat ’n wesentlike belegging is – en saam verteenwoordig hierdie maatskappye ongeveer 80% van INBW.

Bestuur en oorsig

Gedurende die finansiële jaar is beduidende vordering gemaak in ESG-bestuurskwessies, die versterking van betrokke bestuurskomitees se beleide en handveste, asook die aanmoediging van elke maatskappy in die portefeulje om dieselfde te doen. Die versterking van ESG-risikobestuur en die verbetering van die gehalte van prestasiemaatstawwe en -data wat deur Remgro by die kern en in sy volfiliale nagespoor word, het ook bykomende aandag geniet. Werk duur voort by maatskappye waarin die groep ’n strategiese belang het. Menigte hiervan is genoteerde maatskappye of het internasionale blootstelling met ’n groeiende benadering tot ESG.

Die maatskaplike-en-etiesekomitee hou toesig oor ESG-strategie en -beleid, en die operasionele ESG-komitee rapporteer daaraan. Verwys na die ESG en Volhoubaarheidsverslag of die maatskaplike-en- etiesekomiteeverslag vir meer besonderhede oor bestuurstrukture.

Risikobestuur

Ons rapporteringsuite bevat ’n Klimaatsverslag oor klimaatsverwante kwessies, asook ’n ESG en Volhoubaarheidsverslag Hierdie twee verslae vervat gedetailleerde en relevante dekking van ons ESG-risikobestuur.

Vordering

Ons ESG-pogings oor die afgelope drie jaar is gerig op die gebiede wat vir ons belanghebbendes van waarde is en regoor ons diverse portefeulje relevant is. Vanjaar se verslag demonstreer ’n groter begrip van ESG en die waarde wat verhoogde bestuur, risikobestuur, water- en energiedoeltreffendheid en toenemende hernubare energieverbruik toevoeg. Duidelike aanwysers is nou gevestig om die vordering van hierdie omgewingsprioriteite, asook verskeie maatskaplike faktore te meet. Dit verskaf ’n stewige grondslag vir Remgro se voortgesette verslagdoening en gebruik sleuteldata wat van ons filiale en onderliggende beleggings verkry is.

Hierdie verslae dek ook maatskaplike kwessies soos etiek, diversiteit en bemagtiging. Daar was verdere klem in vanjaar se verslag op die skep van basislyn-ontledings vir toekomstige verslagdoening oor diversiteit en inklusiwiteitkwessies.

Vooruitsig

Wat vooruitsigte betref, sluit die hoofdoelwitte vir die komende jaar in om die ESG-dataversamelingproses te verfyn en vorderingsmaatstawwe te verbeter – beide binne Remgro en regoor ons onderliggende beleggings – namate ESG-vermoëns groei. Groter samewerking met beleggings sal die ontwikkeling van en ooreenstemming met betekenisvolle ESG-aanwysers en ’n groter inkoop ondersteun. Die keuring van ’n doeltreffende ESG-hulpmiddel vir dataversameling is prioriteit. Die identifisering en vaslegging van klimaatsverwante risiko-scenario’s en geleenthede om toekomstige veerkragtigheid te versterk is ’n prioriteit.

Korporatiewe maatskaplike besteding

Remgro se korporatiewe maatskaplike bestedingsprogram word in die ESG en Volhoubaarheidsverslag uiteengesit. Voortgesette skakeling en samewerking met maatskappye in die portefeulje is daarop gemik om die groep se ontwikkelingsimpak te bevorder.

Vir meer inligting oor die maatskappy se korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, besoek die volledige ESG en Volhoubaarheidsverslag.