Bydrae tot wesensverdienste 30 Junie
2022
R miljoen
30 Junie
2021
R miljoen
CIVH 47 (435)
Grindrod 263 16
SEACOM 37 26
Ander 266 17
613 (376)

Profiel:

CIVH is aktief in die telekommunikasie- en inligtingstegnologiesektor. Die belangrikste bedryfsmaatskappye van die groep is Dark Fibre Africa Eiendoms Beperk (DFA) en Vumatel Eiendoms Beperk (Vumatel), wat optiese veselnetwerke bou en besit.

KORPORATIEWE INLIGTING

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2022 R24 126 miljoen
Hoofuitvoerende beampte van CIVH R S M Ndlovu
Remgro genomineerde direkteure C W Ceasar, P J Uys

VOLHOUBAARHEIDSMAATSTAWWE

KMB/Opleidingspandering R26 miljoen
Aantal werknemers 1 702
BBSEB-status CIVH: Vlak 2
FINANSIËLE HOOGTEPUNTE Jaar geëindig
31 Maart 2022 
R miljoen 
Omset 5 324 14.8
Bedryfswins 1 470 53.9
Wesensverdienste 81 110.2

Community Investment Ventures Holdings Eiendoms Beperk (CIVH)

CIVH is aktief in die telekommunikasie- en inligtings-tegnologiesektor en is die houermaatskappy van ‘n groep maatskappye waarvan DFA en Vumatel die grootste bedryfsfiliale is.

DFA is die voorste verskaffer wat vrye toegang tot vesel- en verbindingsinfrastruktuur in Suid-Afrika bied. Dit bou, installeer, bestuur en onderhou ‘n optieseveselnetwerk wat telekommunikasieverkeer in stedelike gebiede, asook langafstandroetes, hanteer en aan klante (telekommunikasie-maatskappye en internetdiensverskaffers (IDVs)) verhuur word deur van ‘n groothandelsmodel gebruik te maak wat vrye toegang bied. DFA beskik oor veselbates wat oor meer as 13 400 km strek en besit netwerke in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Midrand, Centurion en Pretoria, sowel as in 24 kleiner stedelike gebiede, soos Oos-Londen, Polokwane, Tlokwe, Emalahleni en George, om slegs ‘n paar te noem.

Vumatel is ‘n veselverskaffer op die laaste-myl-vlak wat vrye toegang bied en vesel-tot-huis (FTTH)-produkte, asook dienste aan IDVs, verskaf. Vumatel installeer FTTH in woongebiede en beskik oor meer as 33 000 km se veselbates. Nadat die vesel geïnstalleer is, verhuur Vumatel sy infrastruktuur aan IDVs, wat op hul beurt breëband-kleinhandelsinternetdienste aan eindgebruikers verskaf.

CIVH het ‘n Maart-jaareinde en gevolglik is sy resultate vir die 12 maande geëindig 31 Maart 2022 ingesluit by dié van Remgro vir die jaar onder oorsig. Die bydrae van CIVH se voortgesette bedrywighede tot Remgro se wesensverdienste het ‘n wins van R47 miljoen getoon, vergeleke met ‘n wesensverlies van R435 miljoen die vorige jaar. Die 2022-finansiële jaar is gekenmerk deur groter markmededinging wat beide DFA en Vumatel betref. Dit was sigbaar in die hoër afloopkoerse en meer prysdruk as wat oorspronklik verwag is. Die groep het ook ‘n mate van makro-ekonomiese druk ervaar weens hervestigings van kliënte, wanbetalings en verhoogde invorderingskoste. Hierdie makro-ekonomiese druk is verder in besigheidsforums en sekuriteitsbedrywighede ervaar waar die bou van nuwe netwerke onderneem is. By DFA het sekuriteitskoste byna drievoudig toegeneem in die 2022-finansiële jaar. Hierdie tendense word versigtig dopgehou terwyl die besigheid bedag is daarop om sy produkte voortdurend aan te pas ten einde mededingend te bly.

Die groep genereer gesonde kontantvloei uit sy bedrywighede en R2 178 miljoen is gedurende die jaar in die besigheid herinvesteer om bedrywighede uit te brei en sy netwerkvoetspoor te vergroot.

CIVH het in Julie 2021 en Augustus 2021, ingevolge ‘n regte-uitgifte, aandelekapitaal ten bedrae van R3.7 miljard uitgereik. In September 2021 het die maatskappy aandele teruggekoop ten bedrae van R709 miljoen. Die inspuiting van ekwiteitskapitaal het CIVH se kapitaalstruktuur versterk en dit in staat gestel om die buigsaamheid te behou wat nodig is om toekomstige geleenthede te benut.

Vumatel het sy posisie as die FTTH-markleier in huisverbindings en aktiewe intekenaars behou, met ‘n markaandeel van sowat 37% in beide kategorieë. Die besigheid gaan voort om deur sy Reach-produkaanbieding vesel suksesvol na laer lewenstandaardmeting (LSM)-gebiede te versprei. Dit sluit die voorafbetaalde “Reach”-platform in, wat alle verwagtinge oortref het. Buiten die bevordering van nuwe intekenare op die bestaande infrastruktuur, het sleutelfokusgebiede die afgelope jaar steeds die uitbreiding van sy Active Ethernet- en Gigabit Passive Optic Network (GPON)-netwerke in Ekurhuleni en Kaapstad ingesluit, asook die uitbreiding van sy vermoë in “Reach”-gebiede, soos Mitchells Plein, Vosloorus en Soweto.

Die Vumatel-groep se omset vir die tydperk het met 26% tot R2 981 miljoen toegeneem, vergeleke met R2 360 miljoen die vorige jaar, en is aangehelp deur intekenaregroei vir die jaar.

Die huidige boekwaarde van DFA se optieseveselnetwerk is meer as R9.5 miljard. Die netwerk se bedryfstyd vir die jaar onder oorsig is op 99.98% gehandhaaf en die gemiddelde tyd vir herstelwerk was minder as 2.5 uur, heelwat bo bedryfstandaarde. DFA se inkomstemodel pas goed by klante se behoeftes aan en bied buigsame betalingsopsies, met ‘n mengsel van ‘n voorafbetaalde bedrag en maandelikse annuïteit, of meerjarige kontrakte, meestal tot 15 jaar, op ‘n annuïteitsgrondslag. Die toekomstige waarde van huidige annuïteitskontrakte (bestellings uitgesluit) bedra meer as R11.7 miljard.

Die DFA-groep se omset vir die finansiële jaar geëindig 31 Maart 2022 het marginaal op ‘n jaargrondslag tot R2 485 miljoen (2021: R2 388 miljoen) toegeneem. Die annuïteitsbasis op 31 Maart 2021 was R192 miljoen per maand, terwyl die maatskappy op 31 Maart 2022 op ‘n basis van R198 miljoen per maand geëindig het.

Vumatel ondersteun steeds sy onafhanklike KMB-stigting, wat ten doel het om volhoubare ekostelsels te skep in gemeenskappe waar sake gedoen word. Die doel is om ‘n betekenisvolle en volhoubare bydraes in hierdie gemeenskappe te maak en sodoende bande te versterk wat die Vuma-handelsmerk ondersteun en dit van mededingers onderskei. Fokusgebiede sluit onderwys, veiligheid, omgewing en gesondheidsorg in. Die besigheid bly verbind tot die Vuma-skoleprojek, waar 550 skole reeds verbind is in gebiede waar vesel geïnstalleer word – elke skool waar Vumatel verbybeweeg, ontvang ‘n gratis internetdiensaanbod van 1 Gbps.

DFA het ‘n vlak 1 BBSEB-gradering die jaar behaal. Kritieke leemtes in infrastruktuurontwikkeling, bv. plattelandse skoolverbindings, bly ‘n sleutelfokusgebied van KMB om die digitale kloof in gebiede met hoë armoede te oorbrug. Die positiewe impak hiervan sal wees om leerders toegang tot e-onderrig te gee, en uiteindelik om werkskepping en toegang tot die ekonomie te bevorder.

Profiel:

SEACOM se erfenis spruit uit die skep van verbindings in Afrika. SEACOM was instrumenteel om as telekommunikasieverskaffer die eerste onafhanklike veselverbindings op die vasteland moontlik te maak en sodoende Afrika aan die digitale wêreld bloot te stel. Met ‘n toekoms-oriëntasie en volgehoue beleggings in digitale platforms, stelsels en mense het die maatskappy hom as ‘n saamgevoegde telekommunikasieverskaffer gevestig wat voortgaan om die groothandels- en ondernemersmark in Suider- en Oos-Afrika te bedien deur die verskaffing van hoëkapasiteit plaaslike en internasionale optieseveselverbindings, asook internet- en wolkdienste.

KORPORATIEWE INLIGTING

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2022 R2 586 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte O Fortuin
Remgro genomineerde direkteure H J Carse, P J Uys

VOLHOUBAARHEIDSMAATSTAWWE

KMB/Opleidingspandering $0.4 miljoen
Aantal werknemers 303
FINANSIËLE HOOGTEPUNTE
SEACOM is ’n privaat maatskappy en sy finansiële inligting word nie in detail geopenbaar nie as gevolg van beperkinge op openbaarmaking soos onderling tussen aandeelhouers ooreengekom.

SEACOM Capital Beperk (SEACOM)

Remgro het ‘n effektiewe belang van 30% in SEACOM, ‘n saamgevoegde telekommunikasieverskaffer wat optiese veselverbindings bedryf en bemark en ook internet-, stem-, wolk- en sekuriteitsoplossings aan die groothandels- en ondernemersmark in Suider- en Oos-Afrika bied.

SEACOM het ‘n Desember-jaareinde en dus is sy resultate vir die 12 maande tot 30 Junie 2022 by dié van Remgro gevoeg vir die jaar onder oorsig. SEACOM se bydrae tot Remgro se wesensverdienste het ‘n wins van R37 miljoen (2021: R26 miljoen) bedra. Die toename in winsgewendheid gedurende dié tydperk is toe te skryf aan ‘n aantal eenmalige uitgawes die vorige jaar.

Die besigheid het in die stygende vraag van die ondernemer-sektor na verbindings en wolkdienste voorsien soos maatskappye uit die Covid-19-pandemie beweeg het, asook in die voortgesette groei in die groothandelsektor namate Afrika se digitale infrastruktuur volwassenheid bereik.

SEACOM se vermoë om by die snel ontwikkelende datamark aan te pas, en te belê in sy ondersese en landnetwerk asook wolkinfrastruktuur, stel die maatskappy in staat om op die toenemende vraag na vinniger en meer betroubare datadienste te reageer, wat kritiek is om sy mededingende posisie te behou. Enkele hoogtepunte in dié verband sluit die verkryging van ‘n metro-veselbesigheid in Kenia in die tweede helfte van 2021 in, asook infrastruktuurbates in Uganda in die eerste kwartaal van 2022.

SEACOM gaan voort om in groei-inisiatiewe te belê, soos die verkryging van EOH se netwerk-oplossingsbesigheid asook die organiese, strategiese verbeterings aan sy netwerk, soos die onlangse verkryging van kapasiteit op Google se Equiano-kabel, wat later in 2022 gereed sal wees.

SEACOM is ‘n gereelde betaler van dividende as gevolg van sy kontantwinste.

Energy Exchange of Southern Africa

Profiel:

Energy Exchange of Southern Africa fasiliteer die oordrag van energie tussen diegene wat dit produseer en dié wat dit verbruik.
Webwerf www.energyexchangesa.com