Gratis oproep: 0800 222 536
aanlyn: www.tip-offs.com
e-pos: remgro@tip-offs.com
Remgro Beperk het besluit om op ‘n proaktiewe wyse teen onetiese gedrag, diefstal, bedrog en verwante bedrywighede op te tree en het in hierdie verband kragte met Deloitte saamgesnoer om sodanige praktyke hok te slaan.
Remgro se etiese blitslyn, wat onafhanklik deur Deloitte bedryf word, is ingestel met die oog daarop om ‘n eerlike werketiek te bevorder en terselfdertyd ‘n meganisme aan werknemers, kliënte, aandeelhouers en die publiek beskikbaar te stel waardeur enige onetiese sakepraktyke onder die aandag van bestuur gebring kan word.
Die blitslyn dien as ‘n onafhanklike kanaal tussen bestuur, werknemers en belanghebbendes en alle inligting word vertroulik gehanteer terwyl die anonimiteit van klaers beskerm word. Die blitslyn word 24 uur per dag, 365 dae per jaar bedryf.
‘n Gereëlde ontleding van oproepe word gemaak en, indien nodig, word onafhanklike ondersoeke gedoen.
Remgro-blitslynprosedure
Skakel 0800 222 536 tolvry vanaf enige Telkom-foon of stuur die inligting per e-pos na die Deloitte etiese blitslyn by die volgende adres: remgro@tip-offs.com
Die gebruiker het die keuse om anoniem te bly.
Volledige inligting ten opsigte van bedrieglike, korrupte of onetiese praktyke word aan die telefoonoperateur verskaf:
Wie was betrokke en wat is gedoen?
Wat het gebeur?
Hoe is dit gedoen en hoe gereeld word dit gedoen?
Waar is dit gedoen – die presiese plek?
Wanneer is die voorval waargeneem – datum en tyd?
Waarde betrokke – geskatte geldwaarde?
‘n Verwysingsnommer word verskaf – dit is vertroulik en vir opvolgdoeleindes deur die klaer om in ‘n latere stadium nog inligting by die oorspronklike verslag te voeg, of om terugvoer te ontvang oor die saak wat aangemeld is, indien so versoek.