Die maatskaplike-en-etiesekomitee (die komitee) help die direksie met die oorsig van, en rapportering oor Remgro se etiek, verantwoordelike korporatiewe burgerskap, ESG en volhoubare ontwikkeling, wetlike nakoming en verhoudings met belanghebbendes. In 2024 is die strategiese ESG-komitee met die komitee saamgevoeg om direksiedoeltreffendheid te verbeter en sy werksaamhede in ooreenstemming met wysiginge aan die Maatskappywet te bring. Hierdie verslag van die komitee is voorberei in ooreenstemming met die vereistes van die Maatskappywet (Nr. 71 van 2008), soos gewysig (Maatskappywet), en die King IV Verslag oor Korporatiewe Bestuur vir Suid-Afrika (2016) (King IV) en beskryf, onder andere, hoe die komitee in die jaar geëindig 30 Junie 2025 sy statutêre verpligtinge ingevolge die Maatskappywet, asook ten opsigte van die bykomende pligte deur die direksie daaraan toegeken, nagekom het. Die maatskaplike-en-etiesekomitee ontvang leiding van die operasionele ESG-komitee, wat ‘n uitvoerende komitee is en nou onder voorsitterskap van me M Lubbe, uitvoerende direkteur van Remgro, staan.

Komiteelede en bywoning van vergaderings

Die komitee bestaan uit vyf lede wat oor die nodige vaardighede en ondervinding beskik en deur die direksie aangestel en van wie die meerderheid, soos aanbeveel deur King IV, nie betrokke is by die dag-tot-dag-bestuur van Remgro se besigheid nie, of nie enige tyd die vorige drie finansiële jare betrokke was nie. Die lede van die komitee vir die jaar onder oorsig is uiteengesit in die onderstaande tabel. Die voorsitter van die komitee is mnr Murphy Morobe, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur.

Samestelling van die komitee

Komiteelid (1) Aantal
vergaderings
gehou
Aantal
vergaderings
bygewoon
M (Murphy) Morobe (Voorsitter) 4 4
S E N De Bruyn 4 3
N P Mageza(2) 4 3
P J Moleketi(3) 4 3
P J Uys(4) 4 2
M Lubbe(5) 4 4
K S Rantloane(6) 4 3

 

(1) ’n Verkorte curriculum vitae van alle direkteure van die maatskappy word hier verskaf.
(2) Mnr N P Mageza het met ingang van 30 Junie 2025 as lid van die komitee uitgetree.
(3) Mnr P J Moleketi is vanaf 18 September 2024 aangestel.
(4) In die lig van onlangse wysiginge aan die Maatskappywet het mnr P J Uys, met ingang van 24 Maart 2025, as lid van die komitee bedank, aangesien hy nie ‘n direkteur van die maatskappy is nie. Mnr P J Uys het tot sy uittrede op 31 Julie 2025 die komitee se vergaderings op uitnodiging bygewoon.
(5) Me M Lubbe is vanaf 1 Julie 2024 aangestel.
(6) Mnr K S Rantloane is met ingang van 1 Julie 2024 aangestel.

 

Rol en verantwoordelikhede

Die komitee se rol en verantwoordelikhede word bepaal deur ’n formele handves, wat deur die direksie op 24 Maart 2025 hersien en goedgekeur is. Die handves is onderhewig aan ’n jaarlikse hersiening deur die direksie.

Die hoofdoelwitte van die komitee is om die direksie by te staan met die monitering van die groep se vertoning ten opsigte van etiek, verantwoordelike korporatiewe burgerskap, volhoubare ontwikkeling, nakoming en verhoudings met belanghebbendes. Dit word onder andere gedoen deur die sleutel volhoubare ontwikkelingspraktyke van die groep, soos hieronder uiteengesit, te monitor. Sodoende word die direksie gehelp om sy doelwitte te verwesentlik, naamlik om besigheid eties en volhoubaar te doen.

Remgro se filiale wat apart bedryf word, Wispeco Holdings Eiendoms Beperk (Wispeco), Siqalo Foods Eiendoms Beperk (Siqalo Foods), Rainbow Chicken Beperk (Rainbow), Capevin Holdings Eiendoms Beperk (Capevin) en RCL Foods Beperk (RCL Foods) het hul eie maatskaplike-en-etiesekomitees daargestel, wat onafhanklik van hierdie komitee funksioneer. Remgro se verteenwoordigers op die direksies van volfiliale, Wispeco en Siqalo Foods het ook staande uitnodigings om vergaderings van daardie komitees ex officio by te woon. Gedurende die jaar onder oorsig het voorgenoemde maatskappye (waar toepaslik) ook verslae oor hul onderskeie maatskaplike-en-etiesekomitees se bedrywighede aan dié komitee voorgelê.

Daarby het Siqalo Foods, Wispeco, Maziv Eiendoms Beperk (‘n volfiliaal van Community Investment Ventures Holdings Eiendoms Beperk), RCL Foods en Rainbow gedurende die jaar onder oorsig voorleggings aan die komitee gedoen en spesifiek gerapporteer oor hul volhoubare strategieë en die maatskaplike en etiese bestuursaktiwiteite van hul onderskeie besighede.

Die komitee is tevrede dat hy al sy verpligtinge in ooreenstemming met sy jaarlikse program behoorlik nagekom het, soos verder hieronder uiteengesit.

Beleidsoorsig

Die komitee is verantwoordelik vir die ontwikkeling en hersiening van die groep se beleide rakende die verbintenis tot, asook die bestuur en rapportering van, die groep se sleutel maatskaplike en etiese prestasie en om aanbevelings aan bestuur en/of die direksie te maak in dié verband. Gedurende die jaar onder oorsig het die komitee sy handves, sowel as die maatskappy se Etiese Kode, geskenkebeleid, en geskenkeregister, spesifiek van toepassing op direkteure, die BBSEB-prestasie, sosiale mediabeleid, Etiese blitslyn en verslae, MIV/vigsbeleid asook veiligheids-, gesondheids- en omgewingsbestuursbeleide en implementering hersien. Dit het ook KMB-uitgawes, nie-finansiële rapportering en datagerusstelling, ESG- en klimaatsveranderingstrategieë, asook risikobestuur oorweeg.

Monitering van volhoubare ontwikkelingspraktyke

Sedert die samesmelting in 2024 van die strategiese ESG-komitee en die komitee, verskaf hierdie komitee strategiese rigting en oorsig ter ondersteuning van Remgro se verbintenis tot beste praktyk in omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-prestasie en die rentmeesterskap van ESG in sy beleggingsportefeulje. Die handves en mandaat van die komitee sluit spesifiek klimaatsverandering, energie- en natuurlike hulpbronbewaring, omgewings- en voorsieningskettingvolhoubaarheid, menseregte, diversiteit en insluiting, billike en regverdige vergoeding en ander ESG-aangeleenthede wat relevant en wesentlik mag raak, in. Die handves sluit die sleutelverantwoordelikhede van die vorige strategiese ESG-komitee in.

Die direksie en die komitee monitor Remgro se ESG-prestasie en rentmeesterskap deur beleide, raamwerke, standaarde en riglyne. Dit ontvang die strategie- en beleidsaanbevelings en vorderingsverslae via die operasionele ESG-komitee, en direk van die maatskaplike-en-etiesekomitees van filiale.

In die uitvoering van sy pligte het die komitee die sleutel volhoubare ontwikkelingspraktyke van die groep hersien, met spesifieke verwysing na:

  • verantwoordelike beleggingsbeleid en -raamwerk;
  • etiek en nakoming;
  • bedrog, omkopery en korrupsie-opsporing en -reaksie;
  • korporatiewe maatskaplike besteding;
  • verhoudings met belanghebbendes;
  • breë-basis swart ekonomiese bemagtiging;
  • gesondheid, veiligheid en omgewingshigiëne en openbare veiligheid;
  • arbeidsverhoudings en werksomstandighede;
  • opleiding en vaardigheidsontwikkeling;
  • bestuur van die groep se omgewingsimpak; en
  • menseregte en anti-kinderarbeidbeginsels.

Die komitee se oorsigrol sluit ook die monitering van enige toepaslike wetgewing, ander wetlike vereistes of bestaande kodes van beste praktyke in, spesifiek ten opsigte van sake wat verband hou met maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, goeie korporatiewe burgerskap, gelyke indiensneming, die omgewing, gesondheid en openbare veiligheid, verbruikersverhoudings, sowel as arbeid en indiensneming en algehele ESG-praktyke.

Die ESG en Volhoubaarheidsverslag gee volledige insig in Remgro se pogings om by te dra tot meetbare en positiewe maatskaplike en omgewingsimpakte en waarde vir alle belanghebbendes te skep terwyl volhoubaar sake gedoen word. Remgro het vir die afgelope twee jaar oor klimaatsverwante sake gerapporteer. Die nuutste openbaarmaking oor klimaatsverandering is beskikbaar in die Klimaatsverslag.

Die komitee monitor ook Remgro se deelname aan eksterne opnames rakende ESG en volhoubaarheidsaspekte wat betrekking het op die groep, en die resultate wat daarin behaal is.

Openbare verslagdoening en gerusstelling

Die komitee, saam met die oudit-en-risikokomitee, is verantwoordelik vir die hersiening en aanbeveling vir goedkeuring van die jaarlikse volhoubaarheidsinhoud wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit is. Die komitee is ook betrokke om die toekomstige behoefte vir eksterne gerusstelling van die groep se openbare verslagdoening oor sleutelelemente van sy volhoubare ontwikkelingsvertoning te bepaal en aanbevelings daaroor te maak. Die groep versterk sy nie-finansiële interne gerusstellingsvermoë. Die komitee het die inhoud van die verkorte ESG en Volhoubaarheidsverslag, wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit is, en die volledige ESG en Volhoubaarheidsverslag, nagegaan en dit aanbeveel vir goedkeuring deur die direksie.

Van die komitee word ook vereis om deur een van sy lede aan die maatskappy se aandeelhouers verslag te doen oor sake binne sy mandaat op die algemene jaarvergadering wat op 27 November 2025 plaasvind. In die kennisgewing van die algemene jaarvergadering, word aandeelhouers verwys na die komitee se verslag wat saam met die volledige ESG en Volhoubaarheidsverslag, gelees moet word. Enige spesifieke vrae aan die komitee kan voor die vergadering na die maatskappysekretaris gestuur word. Komiteelede sal die jaarvergadering bywoon om vrae te beantwoord.

Murphy Morobe
Voorsitter van die maatskaplike-en-etiesekomitee

Stellenbosch
22 September 2025