Die maatskaplike-en-etiesekomitee (die komitee) help die direksie met die oorsig van, en rapportering oor Remgro se etiek, verantwoordelike korporatiewe burgerskap, volhoubare ontwikkeling, wetlike nakoming en verhoudings met belanghebbendes. In hierdie verband werk die komitee ten nouste saam met die strategiese ESG-komitee, wat toesig hou oor raakvlakke tussen sy eie opdrag en dié van ander direksiekomitees, insluitende hierdie komitee, en wat afsonderlik verslag doen (verwys hieronder). Hierdie verslag van die komitee is voorberei in ooreenstemming met die vereistes van die Maatskappywet (Nr. 71 van 2008), soos gewysig (Maatskappywet), en die King IV Verslag oor Korporatiewe Bestuur vir Suid-Afrika (2016) (King IV) en beskryf, onder andere, hoe die komitee in die jaar geëindig 30 Junie 2022 sy statutêre verpligtinge ingevolge die Maatskappywet, asook ten opsigte van die bykomende pligte deur die direksie daaraan toegeken, nagekom het.
Komiteelede en bywoning van vergaderings
Die komitee bestaan uit vyf lede wat oor die nodige vaardighede en ondervinding beskik en deur die direksie aangestel en van wie die meerderheid, soos aanbeveel deur King IV, nie betrokke is by die dag-tot-dag-bestuur van Remgro se besigheid nie, of nie enige tyd die vorige drie finansiële jare betrokke was nie. Die lede van die komitee vir die jaar onder oorsig is uiteengesit in die onderstaande tabel. Die voorsitter van die komitee is mnr Murphy Morobe, ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur. Ingevolge die komitee se handves moet minstens twee vergaderings gedurende elke finansiële jaar gehou word.
Samestelling van die komitee
Komiteelid* | Aantal vergaderings gehou |
Aantal vergaderings bygewoon |
M Morobe (Voorsitter) | 3 | 3 |
---|---|---|
S E N De Bruyn | 3 | 3 |
N P Mageza | 3 | 3 |
P R Louw | 3 | 3 |
P J Uys | 3 | 3 |
* | ’n Verkorte curriculum vitae van alle direkteure van die maatskappy word hier verskaf, terwyl die kwalifikasies van mnre P R Louw en P J Uys (wat lede van die bestuursraad, asook voorgeskrewe beamptes ingevolge die Maatskappywet is) hier verskyn. |
Rol en verantwoordelikhede
Die komitee se rol en verantwoordelikhede word bepaal deur ’n formele handves, soos deur die direksie goedgekeur. Die handves is onderhewig aan ’n jaarlikse hersiening deur die direksie.
Die hoofdoelwitte van die komitee is om die direksie by te staan met die monitering van die groep se vertoning ten opsigte van etiek, verantwoordelike korporatiewe burgerskap, volhoubare ontwikkeling, nakoming en verhoudings met belanghebbendes. Dit word onder andere gedoen deur baie van die sleutel volhoubare ontwikkelingspraktyke van die groep, soos hieronder uiteengesit, te monitor. Sodoende word die direksie gehelp om sy doelwitte te verwesenlik, naamlik om besigheid eties en volhoubaar te doen.
Remgro se vernaamste volbedryfsfiliale is Wispeco Holdings Eiendoms Beperk (Wispeco) en Siqalo Foods Eiendoms Beperk (Siqalo Foods). Beide Wispeco en Siqalo Foods het hul eie maatskaplike-en-etiesekomitees daargestel, wat onafhanklik van hierdie komitee funksioneer. Remgro se verteenwoordigers op die direksies van Wispeco en Siqalo Foods het ook staande uitnodigings om vergaderings van daardie komitees ex officio by te woon. Die notules van die maatskappye se vergaderings, sowel as dié van die maatskaplike-en-etiesekomitees van Distell Group Holdings Beperk (Distell) en RCL Foods Beperk (RCL Foods) word as ’n vaste besprekingspunt in die agenda van die komitee ingesluit. Gedurende die jaar onder oorsig het voorgenoemde maatskappye (waar toepaslik) verslae oor hul onderskeie maatskaplike-en-etiesekomitees se bedrywighede aan dié komitee voorgelê.
Daarby het Distell, RCL Foods en Wispeco gedurende die jaar onder oorsig voorleggings aan die komitee gedoen en spesifiek gerapporteer oor die maatskaplike en etiese bestuursaktiwiteite van onderskeie besighede.
Die komitee is tevrede dat hy al sy verpligtinge in ooreenstemming met sy jaarlikse program behoorlik nagekom het, soos verder hieronder uiteengesit.
Beleidsoorsig
Die komitee is verantwoordelik vir die ontwikkeling en hersiening van die groep se beleide rakende die verbintenis tot, asook die bestuur en rapportering van, die groep se sleutel maatskaplike en etiese prestasie en om aanbevelings aan bestuur en/of die direksie te maak in dié verband. Gedurende die jaar onder oorsig het die komitee sy handves, sowel as die maatskappy se Etiese Kode, Geskenkebeleid, Sosiale mediabeleid, MIV/vigs-beleid en Veiligheids-, Gesondheids- en Omgewingsbestuursbeleid hersien.
Monitering van volhoubare ontwikkelingspraktyke
Remgro se algehele omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-prestasie staan nou onder die oorsig en monitering van die strategiese ESG-komitee op direksievlak. Die implementering van die ESG-handves en -bestuurstrukture verskaf strategiese leiding en oorsig ter ondersteuning van Remgro se verbintenis, en dié van sy onderliggende beleggings met betrekking tot ESG. Die direksie en die strategiese ESG-komitee monitor Remgro se ESG-prestasie en rentmeesterskap deur beleide, raamwerke, standaarde en riglyne, wat ook dié van die maatskaplike-enetiesekomitee insluit.
Die strategiese ESG-komitee is ook verantwoordelik vir die integrering van ESG-beleide in sakebedrywighede, die handveste van ander direksiekomitees, sowel as Remgro se toekomstige ontwikkeling en strategie.
In die uitvoering van sy pligte het die komitee baie van die sleutel volhoubare ontwikkelingspraktyke van die groep hersien, met spesifieke verwysing na:
- etiek en nakoming;
- korporatiewe maatskaplike besteding;
- verhoudings met belanghebbendes;
- breë-basis swart ekonomiese bemagtiging;
- gesondheid en openbare veiligheid;
- arbeidsverhoudings en werksomstandighede;
- opleiding en vaardigheidsontwikkeling;
- bestuur van die groep se omgewingsimpak; en
- menseregte en anti-kinderarbeidbeginsels.
Die komitee se oorsigrol sluit ook die monitering van enige toepaslike wetgewing, ander wetlike vereistes of bestaande kodes van beste praktyke in, spesifiek ten opsigte van sake wat verband hou met maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, goeie korporatiewe burgerskap, gelyke indiensneming, die omgewing, gesondheid en openbare veiligheid, verbruikersverhoudings, sowel as arbeid en indiensneming en algehele ESG-praktyke.
Die volhoubaarheidsverslag gee volledige insig in Remgro se pogings om, saam met finansiële opbrengste, by te dra tot meetbare en positiewe maatskaplike en omgewingsimpakte ten einde te voldoen aan sy strewe om maksimum waarde vir alle belanghebbendes te skep terwyl volhoubaar sake gedoen word.
Die komitee monitor ook Remgro se deelname aan eksterne opnames rakende volhoubaarheidsaspekte wat betrekking het op die groep, en die resultate wat daarin behaal is. In dié verband het die komitee kennis geneem van eksterne erkenning en prestasies deur die groep, soos weergegee hier.
Openbare verslagdoening en gerusstelling
Die komitee, saam met die oudit-en-risikokomitee, is verantwoordelik vir die hersiening en aanbeveling vir goedkeuring van die jaarlikse volhoubaarheidsinhoud wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit. Die komitee is ook betrokke om die behoefte vir eksterne gerusstelling van die groep se openbare verslagdoening oor sleutelelemente van sy volhoubare ontwikkelingsvertoning te bepaal en aanbevelings daaroor te maak. Tot hierdie mate het die komitee die inhoud van die verkorte volhoubaarheidsverslag, wat in die geïntegreerde jaarverslag ingesluit is, en die volledige volhoubaarheidsverslag, nagegaan en dit aanbeveel vir goedkeuring deur die direksie.
Van die komitee word ook vereis om deur een van sy lede aan die maatskappy se aandeelhouers verslag te doen oor sake binne sy mandaat op die algemene jaarvergadering wat op 30 November 2022 plaasvind. In die kennisgewing van die algemene jaarvergadering, word aandeelhouers verwys na die komitee se verslag wat saam met die volledige volhoubaarheidsverslag gelees moet word. Enige spesifieke vrae aan die komitee kan voor die vergadering na die maatskappysekretaris gestuur word. Komiteelede sal die jaarvergadering bywoon om vrae te beantwoord.
Murphy Morobe
Voorsitter van die maatskaplike-en-etiesekomitee
Stellenbosch
26 September 2022