Namate Remgro voortgaan om sy portefeulje te ontwikkel en te optimaliseer, het ons bestuursfilosofie meer dinamies geraak om aan te pas by die behoeftes van die onderliggende beleggings.
Hoe ons beleggings bestuur word
Remgro het ’n paar bedryfsfiliale waarvan RCL Foods Beperk (genoteer), Rainbow Chicken Beperk (genoteer), Siqalo Foods Eiendoms Beperk (ongenoteer), Wispeco Holdings Eiendoms Beperk (ongenoteer) en Capevin Holdings Eiendoms Beperk (ongenoteer) die mees wesentlike is. Remgro se ander wesentlike beleggings bestaan uit beide genoteerde en ongenoteerde maatskappye wat nie deur Remgro beheer word nie en wat meestal geassosieerdes en gesamentlike ondernemings is vanweë die beduidende invloed of gesamentlike beheer wat Remgro deur sy direksieverteenwoordiging uitoefen.
Ondanks die vlak van invloed of beheer, bly ons standaard-bestuursfilosofie een van gedesentraliseerde, bemagtigde vennootskap, waar Remgro homself verbind tot bestuursbronne, soos deur die portefeulje op enige gegewe tydstip benodig. Dit beteken dat die onderliggende beleggings outonome direksies en bestuurstrukture het, terwyl Remgro slegs sy invloed deur nie-uitvoerende verteenwoordiging in die direksies van hierdie maatskappye uitoefen. Namate Remgro voortgaan met pogings om sy portefeulje te optimaliseer, het ons bestuursfilosofie meer dinamies geraak om aan te pas by die behoeftes van die onderliggende beleggings. So benodig beleggings in ‘n vroeë fase byvoorbeeld nouer betrokkenheid en net so maak onderliggende beleggings wat nadelige marktoestande of bedryfsuitdagings ervaar meer staat op Remgro se insette. Vennootskap met onderliggende beleggings om prestasie te bevorder, bly ‘n strategiese doelwit vir Remgro, wat deur hierdie dinamiese bestuursfilosofie onderskraag word.
Die direksie van Remgro glo dat die voorgenoemde “nommerpas”-model die mees geskik is om prestasie op onderliggende beleggingsvlak te bevorder. Die volle impak van hierdie dinamiese model word bereik deur ‘n aandeelhouersvennoot te wees wat bestuur aanspreeklik hou vir ooreengekome strategieë en teikens, geduldige finansiële kapitaal, strategiese ondersteuning en toegang tot hulpbronne en kundigheid deur Remgro se breë en diverse netwerk. Remgro glo dat hierdie komponente ‘n omgewing skep waarin onderliggende beleggings in staat gestel word om hul organiese en nie-organiese groeistrategieë te bereik en waardeur langtermynwaarde vir alle belanghebbendes geskep word.
Daarby het Remgro die Remgro-samewerkingsnetwerk gevorm, ‘n groepwye inisiatief wat daarop gemik is om geleenthede vir beter skakeling, samewerking en die deel van inligting tot voordeel van die groep, te bevorder. Die netwerk poog om inligting en ervarings byeen te bring en die onderlinge deel van kennis en samewerking te bevorder ten opsigte van verskeie funksies by al Remgro se onderliggende beleggings. Fokusgebiede sluit tans menslike hulpbronne, korporatiewe maatskaplike besteding, ESG, innovasie en tegnologie in, met bykomende geleenthede vir die hefboomwerking van groepwye perspektiewe, wat deurlopend ondersoek word.
Aandeelhouersooreenkomste bestaan vir Remgro se geassosieerdes en gesamentlike ondernemings waar daar ook ander groot aandeelhouers betrokke is. Hierdie ooreenkomste dien as ’n meganisme om Remgro se regte as ’n aandeelhouer te beskerm en bestuur enige geassosieerde risiko’s. Ingevolge hierdie ooreenkomste het Remgro besluitnemingsbetrokkenheid by ’n duidelik omskrewe lys kernaangeleenthede wat hierdie ondernemings raak, wat tipies sake insluit, soos die aanstelling of verwydering van direkteure, kapitaalstruktuur, besigheidstrategie, groot kapitale uitgawes, asook samesmeltings, verkrygings en vervreemdings.
Waar Remgro nie die reg tot direksieverteenwoordiging het nie, word beleggings as portefeuljebeleggings hanteer.
As ’n verantwoordelike rentmeester van sy onderliggende beleggings, gebruik Remgro sy invloed om te verseker dat die ondernemings aan hoë standaarde en beste praktyk voldoen in gebiede soos bestuur, interne beheer, finansiële en risikobestuur, wetlike nakoming, maatskaplike verantwoordelikheid, veiligheid, gesondheids- en omgewingsbestuur, interne oudit, etiese bestuur, inligtingsbestuur, verhoudings met belanghebbendes, opvolgbeplanning en volhoubaarheid. Met betrekking tot sy volhoubaarheidsagenda, in die besonder, aanvaar Remgro sy rentmeestersrol vir die daarstelling van beste praktyke ten opsigte van omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-beginsels, ten einde gedeelde volhoubaarheidsdoelwitte regoor die groep te bereik.
Beleggingsfilosofie
Remgro belê in besighede, met aansien, wat in ooreenstemming met sy waardes en doelwitte is en oor kundige bestuurspanne beskik wat die potensiaal het om voortreflike verdienste, volhoubare kontantvloeigenerering en dividendgroei oor die lang termyn te lewer. Remgro gaan strategiese verbintenisse op ’n vennootskapsgrondslag aan en voeg waarde toe deur sy uitgebreide netwerk van menslike kapitaal.
Remgro aanvaar verantwoordelike rentmeesterskap om bates te bestuur en nuwe beleggings te identifiseer in ooreenstemming met sy ESG-beleggingsbeleid. Ons beginsels dryf beleggingsbesluite ten einde volhoubare finansiële opbrengste en positiewe ESG-impakte te lewer.
Ons integreer impak in die lewensiklus van beleggings, met ’n fokus op langtermynwaarde. Remgro ondersteun onderliggende beleggings om hul ESG-benadering in ooreenstemming met ons verbintenis tot omgewings-, maatskaplike en ekonomiese verandering te bring.
Ons monitor voortdurend ons ESG-strategie.
Remgro se beleggingstrategie en beleggingsmaatstawwe
- Remgro belê in ondernemings waar Remgro volhoubare waarde oor die lang termyn kan identifiseer en wat toegangshindernisse verskaf en verwagte opbrengste wat meer is as Remgro se minimum interne opbrengskoers.
- Remgro kies beleggings wat voortreflike finansiële opbrengste kan lewer.
- Remgro heg waarde aan entrepreneurs en ondersteun bestuurspanne wat in ooreenstemming is sover dit doel, waarde en finansiële uitkoms betref om volhoubare waarde vir belanghebbendes te skep.
- Remgro oorweeg die lewensvatbaarheid van produkte en dienste, met inagneming van produk-lewensiklusse, en streef daarna om ‘n portefeulje te handhaaf wat blootstelling bied aan siklusse in verskillende stadiums van rypwording.
- Remgro fokus op Suid-Afrikaanse beleggings en ander Afrika-lande deur onderliggende beleggings en beleggings verder weg op ‘n baie geselekteerde grondslag.
- Remgro gee voorkeur aan ongenoteerde bates en soek beduidende invloed en direksieverteenwoordiging in sy onderliggende beleggings.
- Remgro se primêre fokus is op die volgende sektore:
- Gesondheidsorg
- Verbruikersprodukte
- Finansiële dienste
- Infrastruktuur
- Nywerheid

