Hoe ons beleggings bestuur word
Remgro het ’n paar bedryfsfiliale waarvan RCL Foods Beperk (genoteer), Siqalo Foods Eiendoms Beperk (ongenoteer), Wispeco Holdings Eiendoms Beperk (ongenoteer) en Capevin Holdings Eiendoms Beperk (ongenoteer) die mees wesentlike is. Remgro se ander beleggings bestaan uit beide genoteerde en ongenoteerde maatskappye wat nie deur Remgro beheer word nie en wat meestal geassosieerdes en gesamentlike ondernemings is vanweë die beduidende invloed of gesamentlike beheer wat Remgro deur sy direksieverteenwoordiging uitoefen.
Ondanks die vlak van invloed of beheer, het Remgro ’n filosofie van gedesentraliseerde bestuur aanvaar, wat beteken dat sy onderliggende beleggings selfstandige direksies en bestuurstrukture het, terwyl Remgro slegs sy invloed deur nie-uitvoerende verteenwoordiging in die direksies van hierdie maatskappye uitoefen. Remgro se betrokkenheid is hoofsaaklik gefokus op steunverlening en oorsig, eerder as betrokkenheid in die dag-tot-dag-bestuur van sake-eenhede.
Die direksie van Remgro Beperk beskou dit in die beste belang van alle betrokkenes om die gedesentraliseerde besigheidsmodel te respekteer, asook die feit dat hierdie besighede in aparte wetlike entiteite bedryf word. Die steun wat onderliggende beleggings van Remgro as ‘n aandeelhouer ontvang, sluit in strategiese rigtinggewing, geduldige finansiële kapitaal, bestuursondersteuning deur toegang tot Remgro se breë en diverse netwerk van menslike kapitaal en die skep van ’n omgewing voordelig vir korporatiewe transaksies. Die ondersteuning wat Remgro verskaf, stel maatskappye waarin belê is in staat om hul groeistrategieë en teikens te bereik. Dit sluit ‘n nuutgevormde Remgro-samewerkingsnetwerk in wat ‘n struktuur vir Remgro en sy onderliggende beleggings skep om kennis te deel ten opsigte van verskeie funksies (bv. menslike hulpbronne, korporatiewe maatskaplike besteding, energie, ESG, ens.)
Aandeelhouersooreenkomste bestaan vir Remgro se geassosieerdes en gesamentlike ondernemings waar daar ook ander groot aandeelhouers betrokke is. Hierdie ooreenkomste dien as ‘n meganisme om Remgro se regte as ‘n aandeelhouer te beskerm en bestuur enige geassosieerde risiko’s. Ingevolge hierdie ooreenkomste het Remgro besluitnemingsbetrokkenheid by ’n duidelik omskrewe lys kernaangeleenthede wat hierdie ondernemings raak, soos die aanstelling of verwydering van direkteure, kapitaalstruktuur, besigheidstrategie, groot kapitale uitgawes, asook samesmeltings, verkrygings en vervreemdings.
Waar Remgro nie die reg tot direksieverteenwoordiging het nie, word beleggings as portefeuljebeleggings hanteer (beleggings teen billike waarde deur ander omvattende inkomste).
As ’n verantwoordelike rentmeester van sy onderliggende beleggings, oefen Remgro ook sy invloed uit om sover moontlik te verseker dat die betrokke ondernemings aan sy vereistes voldoen ten opsigte van sake soos bestuur, interne beheer, finansiële bestuur, risikobestuur, wetlike nakoming, maatskaplike verantwoordelikheid, veiligheid, gesondheids- en omgewingsbestuur, interne oudit, etiese bestuur, inligtingsbestuur, verhoudings met belanghebbendes, opvolgbeplanning en volhoubaarheid. Om sy volhoubaarheidsagenda verder te voer, beoog Remgro om in vennootskap met sy onderliggende beleggings oor hul waardekettings heen, volhoubare gedrag, volgens omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-beginsels, te beïnvloed en aan te moedig wat daarop gerig is om algemene en gesamentlike volhoubaarheidsdoelwitte te bereik.
Eienaarskapstruktuur
Remgro se uitgereikte aandelekapitaal bestaan uit die volgende twee klasse aandele:
529 217 007 gewone aandele sonder pariwaarde
Elke gewone aandeel het een stem
39 056 987 B-gewone aandele sonder pariwaarde
Elke B-gewone aandeel het 10 stemme
Alle ongenoteerde B-gewone aandele word deur Rupert Beleggings Eiendoms Beperk gehou, ’n maatskappy wat in Suid-Afrika geïnkorporeer is en as voertuig vir die Rupert-familiebelange in Remgro dien. Op 30 Junie 2023 was die ongenoteerde B-gewone aandele geregtig op 42.91% (2022: 42.66%) van die totale aantal stemme van aandeelhouers van die maatskappy.
‘n Ontleding van die grootste aandeelhouers verskyn hier.

Remgro belê in besighede, met aansien, wat in ooreenstemming met sy waardes en doelwitte is en oor kundige bestuurspanne beskik wat die potensiaal het om voortreflike verdienste, volhoubare kontantvloeigenerering en dividendgroei oor die lang termyn te kan lewer. Remgro gaan strategiese verbintenisse op ’n vennootskapsgrondslag aan en voeg waarde toe deur sy uitgebreide netwerk van menslike kapitaal.
As ‘n waardegedrewe besigheid erken Remgro sy kritieke rol as verantwoordelike rentmeester om bates te bestuur en nuwe beleggings te identifiseer in ooreenstemming met sy ESG beleggingsbeleid en -raamwerk. Ons verantwoordelike beleggingsbeginsels dryf beleggingsbesluite ten einde volhoubare finansiële opbrengste te lewer, terwyl ‘n positiewe, meetbare ESG-impak bevorder word.
Ons streef daarna om die impak doelgerig in die lewensiklus van beleggings te integreer en volhoubare waarde oor die lang termyn te skep deur ‘n volgehoue fokus op die verbetering van die ESG-vertoning. Remgro is daartoe verbind om die maatskappye waarin hy belê te help om vorm aan hul benadering tot ESG te gee en sodoende te verseker dat sy beleggings die strewe weerspieël om omgewings-, maatskaplike en ekonomiese verandering deur sy ekosisteem teweeg te bring.
Remgro beoog om, soos sy ESG-strategie geïmplementeer word, vordering te meet deur die verskaffing en openbaarmaking van deursigtige en akkurate ESG-inligting in ooreenstemming met internasionaal en plaaslik erkende standaarde. Dit sal ons in staat stel om beter doelwitte vir die toekoms te stel.

- Verwagte beleggingsopbrengste wat meer is as Remgro se interne minimum opbrengskoers
- Beleggingsbesluite gedrewe deur Remgro se verantwoordelike beleggingsbeginsels
- Bestaande kultuur en etiek van die direksie en bestuurspan
- ESG-strategie en impak van die onderneming, en ‘n ESG-profiel in ooreenstemming met Remgro se vereistes en standaarde
- Lewensvatbaarheid van produkte en dienste en die lewensiklus daarvan
- Toegangshindernisse

- Beleggings in ondernemings waar Remgro volhoubare waarde oor die lang termyn kan identifiseer
- Voorkeur vir ongenoteerde beleggings
- Klem op beleggings wat voortreflike finansiële opbrengste lewer, terwyl positiewe, meetbare maatskaplike en/of omgewingsimpak bevorder word
- Beleggings in ooreenstemming met Remgro se waardes en doelwitte om volhoubare belanghebbende-waarde te skep
- Standaardbedryfsprosedure vir beleggingsbestuurders om ESG in hul beleggingsbesluite te integreer
- Beduidende invloed en direksieverteenwoordiging is integraal
- Fokus op Suid-Afrikaanse beleggings en ander Afrika-lande deur onderliggende beleggings
- Oorweeg beleggings in ander lande op ’n opportunistiese grondslag
- Primêre sektorfokus:
- Gesondheidsorg
- Verbruikersprodukte
- Finansiële dienste
- Infrastruktuur