Die direksie is in die finale instansie verantwoordelik vir die risiko- en geleentheidsbestuursproses en die interne beheerstelsel van Remgro. Die direksie het die omvattende risiko- en geleentheidsbestuursbeleid en -plan wat deur die bestuur geïmplementeer is, nagegaan. Hierdie plan behels voortdurende risiko- en geleentheidsopsporing en identifisering en assessering, asook die vaslegging van interne beheermaatreëls sowel as risikovermindering en versekeringstrategieë.
Remgro se omgewing-, maatskaplike en bestuurs (ESG)- risikobestuursraamwerk wat riglyne gee vir verantwoordelike belegging, is ook relevant in hierdie opsig, omdat dit verseker dat die oorweging van ESG-risiko’s en -geleenthede, sowel as impak- en volhoubaarheidsoorwegings, geïntegreer en vasgelê word in risiko- en geleentheidsbestuurspraktyke. Die fokus is op die verwesentliking van geskikte geleenthede en die oorweging van ooglopende risiko-aspekte in die daarstelling van volhoubare waardeskeppende strategieë.
Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik om die doeltreffendheid van die risiko- en geleentheidsbestuursproses en interne beheerstelsels te monitor en in hierdie verband word hy ondersteun deur sy subkomitee, die risiko-, geleentheids-, tegnologie- en inligtingsbestuurs- operasionele subkomitee (RGTIB). Die strategiese ESG-komitee speel ‘n belangrike rol ter ondersteuning van die oudit- en risikokomitee deur oorsig en die monitering van Remgro se ESG-vertoning en rentmeesterskap by wyse van beleide, raamwerke, standaarde en riglyne. Die groep se interne en eksterne ouditeure, saam met bestuur en sekere eksterne konsultante, het die taak om gekombineerde gerusstellingsverslae aan die oudit-en-risikokomitee te lewer.
Etiese leierskap en menslike kapitaal vorm die hoekstene van Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursfilosofie omdat dit bedryfsbevoegdheid, entrepreneursvernuf, ’n goeie korporatiewe reputasie en doeltreffende bestuur verseker. Die finansiële, vervaardigde, intellektuele, maatskaplike en verhoudings-, asook natuurlike bates vorm deel van die “seskapitaalbegrip” waarna in die King IV Verslag oor Korporatiewe Bestuur vir Suid-Afrika (2016) (King IV) verwys word. Hierdie kategorieë van kapitaal, asook die onderlinge verband en benutting daarvan, in wisselende mate, vorm ’n wesentlike deel van die risiko- en geleentheidsproses in die maatskappy.
Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursproses behels die ordening van hulpbronne om die bereiking van die maatskappy se gestelde doelwitte, gepaardgaande met sy doel, strategiese en belynde besigheidsplanne te verseker, insluitende die benutting van beskikbare geleenthede wat voldoen aan die risikoaptytmaatstawwe deur die direksie daargestel. Risikoprofiele inherent tot bestaande bedrywighede en beleggings word binne die goedgekeurde risiko-toleransievlakke gehandhaaf, waardeur die risiko-opbrengsparameters geoptimaliseer word vir die skep van volhoubare groei en waarde vir aandeelhouers en ander belanghebbendes.
Die inkorporering van ‘n ESG-beleggingsraamwerk, wat doelbewus voorsiening maak vir ESG-oorwegings, het Remgro se volhoubaarheidsambisies as ‘n integrale deel van beleggingsbesluitneming gevestig. Beginsels en beoordelingsmaatstawwe sluit ESG-risiko’s in, asook impak-oorwegings, waardeskeppingsgeleenthede en volhoubaarheid van bestaande en potensiële beleggings. Om die implementering van hierdie ESG-beleggingsraamwerk te ondersteun, het Remgro standaardbedryfsprosedures (SOP) ontwikkel wat die verskillende bestuurstrukture en beleggingspanne in staat stel om die raamwerk konsekwent en doeltreffend toe te pas.
Strategiese risikobeoordeling sluit in die oorweging van moontlike toekomsscenario’s, inaggenome, onder andere, politieke, omgewings-, sosiale, tegnologiese, ekonomiese en wetgewende ontwikkelings, beide in die Remgro- en globale omgewing, asook in die marksektore waarin belê word. Gegewe die voortdurende eskalering van ESG-uitdagings plaaslik en internasionaal, is die groep se reaksie ‘n ooreenstemmende opgradering van ESGstrukture en -inisiatiewe, bykomend tot die goeie prosesse wat in vorige jare aanvaar is. Die ESG-bedryfskomitee sal ook toesig hou oor die voortgesette verbetering van die ESG risiko- en geleentheidsregister, wat ontwerp word om as grondslag te dien vir doelgerigte besluitneming.
Vanweë die aard en omvang van Remgro se beleggingsportefeulje, fokus hierdie verslag op die bedrywighede van die maatskappy en sy filiale, behalwe waar sulke entiteite afsonderlike genoteerde bedryfsfiliale met outonome direksies en voldoende eksterne rapportering is, of die wesentlikheid van sodanige inligting onvoldoende geag word om volledige openbaarmaking te regverdig. Derhalwe bevat hierdie verslag risiko- en geleentheidsbestuursinligting van die maatskappy, Remgro Bestuursdienste Beperk (Remgro se dienstemaatskappy) en V&R Management Services AG(1). Hierdie eksterne verslagparameters word hersien om te verseker dat dit in ooreenstemming met internasionale ontwikkelings in dié verband is.
- ‘n Volfiliaal, geregistreer en bestuur in Switserland, wat administratiewe, rekeningkundige en tesouriedienste aan Remgro se buitelandse filiale en derde partye verskaf.
Die struktuur hieronder is ingestel en word gehandhaaf om die doeltreffende en effektiewe bestuur van risiko en geleenthede in die maatskappy te verseker.
Die funksie van die hoof risikobeampte word tussen die volgende individue verdeel:
- Die HUB rapporteer op ’n deurlopende grondslag direk aan die direksie oor risiko’s wat ’n uitwerking op die doeltreffende en effektiewe uitvoering van sy strategie mag hê en geleenthede aan die beleggingskomitee voorgelê.
- Die HFB, as voorsitter van die RGTIB-komitee, is verantwoordelik vir die toepassing van risiko- en geleentheidsbestuur in die daaglikse bedrywighede van die maatskappy, wat die opstel, hersiening en handhawing van die maatskappy risiko-register en risiko- en geleentheidsbestuursbeleid en -plan insluit.
- Die hoofouditbestuurder (HOB) woon vergaderings van die bestuursraad, die operasionele ESG-komitee en RGTIBkomitee by en verleen waardetoevoegende oorwegings en onafhanklike gerusstelling oor die effektiwiteit van die komitee se werksaamhede, asook die risikobestuursproses en stelsel van interne beheer.
Direksie- en bestuurstrukture
Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid is op die beginsels en raamwerk van die internasionale COSO (Komitee van Borgorganisasies van die Treadway-kommissie) Ondernemings-risikobestuur – Geïntegreerde Raamwerk gegrond en voldoen aan die aanbevelings van King IV. Hierdie beleid beskryf die doel, metodiek, prosesse en verantwoordelikhede van die onderskeie rolspelers in die maatskappy se risiko- en geleentheidsbestuur. Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid is onderworpe aan jaarlikse hersiening en enige voorgestelde wysigings word aan die oudit-en-risikokomitee vir oorweging en aanbeveling aan die direksie vir goedkeuring, voorgelê.
Remgro is ’n beleggingshouermaatskappy en as sodanig neem die risiko- en geleentheidsbestuursproses die risiko’s en geleenthede binne die maatskappy, sowel as die risiko’s en geleenthede inherent tot sy beleggingsportefeulje in ag.
Wesentlike eksterne risiko’s sluit voortdurende en toenemende onsekerheid in oor die regering se vermoë om uitvoering aan sy mandaat te gee en die volgehoue wêreldwye ekonomiese afswaai, vererger deur die impak van die Russiese-Oekraïne-konflik, wat ’n uitwerking het op markvertroue, asook globale, streeks- en plaaslike stabiliteit.
Deur bogenoemde prosesse verseker Remgro, as ’n verantwoordelike belegger, dat behoorlike korporatiewe bestuur geïmplementeer en gehandhaaf word in alle ondernemings waarin belê word.
Remgro wend toegewyde prosesse aan om ontwrigtende risiko’s betyds te identifiseer en doeltreffend te temper, asook om geleenthede te benut wat verband hou met toekomsontwikkelings.
Risiko’s en geleenthede wat na vore kom, word met ’n gesonde korporatiewe en entrepreneurskultuur geïntegreer om rigting te gee aan strategie en beleggingsmandaatoorwegings.
Die onderstaande tabel gee ’n opsomming van die belangrikste bedryfsdoelwitte en verwante risikoverminderingsprosesse wat in Remgro se risikoregister opgeneem is:
Sleuteldoelwitte |
Sleutelbeheermaatreëls |
|||||||
Die aanstelling en behoud van direkteure en beamptes wat oor geskikte vaardighede en ondervinding beskik, asook die vereiste waardes en dryfkrag. |
Doeltreffende funksionering van die vergoedings-en-nominasiekomitee. Prestasiebeoordelings en evaluerings. Sterk etiese leierskap. Volgehoue vaardigheids- en eienskapontwikkeling in ooreenstemming met besigheidsontwikkeling en korporatiewe waardes. “Staying Future Fit”-projek en inisiatiewe wat die bestuursraad ondersteun. Doeltreffende funksionering van die talent-en vergoedingsbestuurskomitee. |
|||||||
Etiese en sigbare leierskap via bestuurstrukture en verwante prosesse vir die handhawing van Remgro se reputasie as ’n goeie korporatiewe burger en ’n maatskaplike en omgewingsverantwoordelike belegger. |
Prosedures vir teenkorrupsie-, asook bedrogvoorkoming- en -opsporing. Vasgelegde stelsel van waardes en etiek en die handhawing daarvan deur sigbare leierskap en etiese bevoegdheidsopleiding. Formele etiese bestuursbeleid en gedragskodes. Formele belasting-, omgewings- en maatskaplike beleide. Korporatiewe kultuur wat op voortreflike uitvoering, billike handeling en deursigtigheid in verslagdoening fokus. Omvattende korporatiewe bestuurstrukture en -stelsels wat aan King IV voldoen. Effektiewe en geloofwaardige kommunikasie met beleggers en belanghebbendes. Doeltreffende funksionering van die maatskaplike-en-etiesekomitee. Doeltreffende oorsig van ESG-beleide en vertoning deur die strategiese ESG-komitee. Besigheidstrategieë in ooreenstemming met korporatiewe doelwitte, gegrond op inklusiewe belangegroepbeginsels. Effektiewe funksionering van die oudit-en-risikokomitee. Doeltreffende interne beheermaatreëls, gesamentlike gerusstelling-, risikobestuur- en rapporteringsprosesse. |
|||||||
Ontwikkeling en implementering van ‘n ESG- en volhoubaarheidstrategie om konsekwentheid van standaarde regdeur Remgro en sy onderliggende beleggings te verseker. Belyning met internasionale en plaaslike beste praktyke. |
ESG-handves en bestuurstrukture wat strategiese rigting en oorsig verskaf ter ondersteuning van Remgro se volhoubaarheidsdoelwitte. Rentmeesterskap van onderliggende beleggings met betrekking tot ESG- en volhoubaarheidskwessies om, deur die nakoming van ESG-beginsels, volhoubare optrede te beïnvloed en te dryf ten einde algemene en gesamentlike volhoubaarheidsdoelwitte te bereik. Direksie-oorsig saam met strategiese ESG-komitee. Direksieriglyne ten opsigte van die korporatiewe maatskaplike bestedingsfunksie. Inbedryfstelling van gereelde basislyn vir ESGvoetspoorrapportering regoor gekose onderliggende beleggings. Veiligheids-, gesondheids- en omgewingsbestuur, binne die raamwerk van die RGTIB-komitee, met formele beleide. Voorbereiding vir die openbaarmaking in ooreenstemming met die aanbevelings van die Taakspan oor Klimaatverwante Finansiële Openbaarmaking (TCFD)-raamwerk. Suksesvolle deelname aan die CDP (voorheen Koolstofopenbaarmakingsprojek) en insluiting in FTSE/JSE Verantwoordelike Beleggingsindeks. |
|||||||
Aanvaarding en implementering van ’n toepaslike langtermynstrategie en besigheidsplanne binne die aanvaarde risiko-aptyt wat goed aan bestuur gekommunikeer en gedelegeer is. |
Doeltreffende bestuursraad wat deur uitvoerende bestuur en ’n ervare beleggingsafdeling ondersteun word. Hou van ‘n omvattende Remgro 2030-werkswinkel om opkomende risiko- en geleentheidstendense regoor die volle strategiese en bedryfspektrum van die groep te oorweeg, waaronder internasionale ontwikkelings in tegnologie, verbruikerswese, mark- en sakemodelontwrigtings, asook beleggersneigings, om inhoud aan medium- tot langtermyn-strategiese ontwikkeling en beleggingsfokus te gee. Ontwikkeling, implementering en monitering van verskeie strategiese inisiatiewe om effektief te reageer op belangrike huidige aspekte, insluitende ‘n omvattende en tydige belyning met toekomstige ontwikkelings. Belegging in die bevordering van menslike en intellektuele kapitaal wat in die groep ontplooi is. Toegewyde aandag aan risiko’s en geleenthede geassosieer met globale en plaaslike politieke, sosio-ekonomiese, wetgewende en tegnologiese ontwikkelings. Behoorlike ontwerp en implementering van toepaslike risiko-reaksie, die daarstelling en implementering van sake-veerkragtigheid en kontinuïteitsreëlings, wat Remgro in staat stel om onder onstabiele omstandighede sake te doen, om weerstand te bied teen erge skokke en daarvan te herstel, en om ondernemingsveerkragtigheid te bevorder. Fokusgebiede sluit, onder andere, kommerwekkende tendense in, soos die mislukking van infrastruktuur, wisselvalligheid en agteruitgang van elektrisiteitsverskaffing, toenemende misdaad, gemeenskapsgriewe, wat verband hou met gebrek aan dienslewering, en voortgesette verswakking van die ekonomie. Effektiewe beoordeling van risiko’s en geleenthede voortspruitend uit die drieledige konteks waarin Remgro sake doen (naamlik die ekonomie, gemeenskap en omgewing) en die kapitaal wat Remgro gebruik en in werking stel (naamlik finansiële, vervaardigde-, intellektuele, menslike, maatskaplike en verhoudings-, asook natuurlike) om prestasie- en hulpbronontplooiing te optimaliseer. Werkgroepe gefokus op toekomsverkenning en sleutel-beleggingsdoelwitte wat aan die bestuursraad rapporteer. |
|||||||
Handhawing van die belangrikheid van Remgro se korporatiewe teenwoordigheid in die beleggingshoueromgewing aangesien dit hom in staat stel om ’n betekenisvolle aandeel in uitgesoekte beleggingsgeleenthede te bekom, waardeur die maatskappy se beleggingsfilosofie om te belê in besighede wat bogemiddelde verdienste, kontantvloei en dividendgroei oor die lang termyn kan lewer, kragtig nagestreef word. |
’n Konserwatiewe sakebenadering, met langtermyn-beleggingsmaatstawwe, wat op groei, volhoubaarheid en likiditeit gefokus is. Korporatiewe bedrywighede is in ooreenstemming met die langtermynstrategie en verantwoordelike beleggingsmaatstawwe. Omvattende netwerke en robuuste prosesse gefokus op die identifisering van beleggingsgeleenthede, asook risikogegronde omsigtigheidsoorsigte, gelei deur verantwoordelike beleggingsoorwegings. Duidelike riglyne, verskans in die beleggingsraamwerk, om te verseker dat beleggingsbesluite, hersiening en kapitaaltoewysing in ooreenstemming met ESG- en volhoubaarheidsdoelwitte is. Effektiewe funksionering van die beleggingskomitee word ondersteun deur te verseker dat die oorweging van ESG-risiko’s deel van beleggings- en bestuurspraktyke vorm. Beleggingsbestuurders se reeks werkswinkels om oor ESG te beraadslaag. Bekendstelling van ‘n standaardbedryfsprosedure vir beleggingsbestuurders om ESG in hul beleggingsbesluite te integreer, m.a.w. die inbedryfstelling van die verantwoordelike ESG-beleggingsraamwerk. Doeltreffende beleggersverhoudings en korporatiewe kommunikasie. HUB-forum, met deelname deur beleggingsleierskap, om die impak van sleutelinisiatiewe te belyn en saam te voeg, insluitende KMB en ESG-bedrywighede. |
|||||||
Verseker dat geleentheidsrisiko’s bestuur word om verlore beleggingsgeleenthede te voorkom wat aan Remgro se streng beleggingsmaatstawwe voldoen. |
Bekwame en ervare beleggingsafdeling, met effektiewe bedryfsprosesse en -kontroles. Doeltreffende ondersteuningstrukture en onderhandelings-prosesse, waarby bewese omsigtigheidsprosesse ingesluit is. Robuuste transaksie-implementering en sekretariële en regsondersteunings- en nakomingsprosesse. Verseker dat korporatiewe kultuur nie verantwoordelike risikoneming en geleentheidsbenutting strem nie. Direksie-oorsig en bestuursmonitering van prestasie teenoor beleggingsplanne en -strategieë. Hersiening van prosesse om genoegsame veerkragtigheid in besluitneming, en die uitvoering daarvan, te verseker. |
|||||||
Beskikbare likiditeit om nuwe beleggings te finansier en suksesvolles verder te ondersteun. |
Doeltreffende funksionering van die tesourie en beleggingskomitees. Konserwatiewe kontantadministrasie en ’n goed bestuurde en veilige tesourie-omgewing, terwyl na maksimale opbrengste gesoek word binne die risiko-aptyt van kontant by die kern. Handhawing van voldoende leenfasiliteite. Handhawing van ‘n sterk balansstaat. |
|||||||
Doeltreffende groepstrukturering om bestaande en nuwe beleggings te huisves. | Toepaslike beheerstrukture, ondersteun deur bevoegde en ervare regs- en korporatiewe belastingspesialiste. | |||||||
Doeltreffende bestuur van onderliggende beleggings en versekering dat Remgro se beleggingsmaatstawwe gehandhaaf en die groep se regte beskerm word.(1) |
Omvattende aandeelhouersooreenkomste word ten tye van belegging aangegaan. Dit vergemaklik doeltreffende beheer of beduidende invloed oor die uitvoerende bestuurspanne van onderliggende beleggings en verseker dat strategieë, doelwitte en leweringsteikens, insluitende ESG-standaarde en -verwagtinge nagekom word en dat ooglopende risiko’s behoorlik bestuur word. Verhoogde fokus op menslike kapitaalontwikkeling en ontplooiing, saam met uitvoerige aandag aan onderliggende beleggings. Strukture vir gedetailleerde verslagdoening, hersiening en bestuur word geïmplementeer om te verseker dat tydige, akkurate en betroubare inligting in besluitnemingsprosesse gebruik word. Die vroeë identifisering van buitengewone beleggingsrisikoprofiele deur middel van interne prosesse. |
|||||||
Doeltreffende interne bedrywighede, waaronder sekretariële, finansiële, menslike hulpbronne, nakoming en alle ander afdelingsfunksies van die dienstemaatskappy en volfiliale onder beheer van die bestuur van die dienstemaatskappy. |
Kundige en ervare bestuurders hersien gereeld beleide en praktyke wat rigting gee aan interne beheermaatreëls wat daarop gemik is om te verseker dat toepaslike doelwitte konsekwent bereik word. Fokusgebiede sluit, onder andere, kuber- en bedrogsrisikovermindering in, asook verhoogde doeltreffendheid deur die aanvaarding van tegnologiese ontwikkelings. |
|||||||
Gegewe die belangrikheid van tesourie is die volgende doelwitte in die mandaat van die tesouriekomitee (’n bestuurskomitee, onder voorsitterskap van die hoof finansiële beampte (HFB), bestaande uit die hoofuitvoerende beampte (HUB) en ander senior bestuurders) geïntegreer:
|
’n Formele tesouriebeleid word deur die tesouriekomitee in stand gehou en hersien en wysigings word aan die direksie vir goedkeuring voorgelê. Bekwame personeel word in die tesourie-afdeling in diens geneem en omvattende interne beheermaatreëls word ingestel en aan voldoen. Die tesourie-afdeling is onderhewig aan kwartaallikse FAIS- en FICA-oorsigte van die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (GOFD)-gekeurde eksterne nakomingsbeampte. Daarby word die tesourie-afdeling (administratiewe en verhandelingskantoor) aan gereelde interne ouditoorsigte onderwerp, asook ’n jaareinde-oorsig deur die eksterne ouditeure. Voortgesette beoordeling van geskikte beleggingsprodukte binne die raamwerk van die goedgekeurde tesouriebeleid. |
|||||||
Akkurate, deursigtige en betroubare rapportering aan, en interaksie met, belanghebbendes. |
Formele beleid ten opsigte van kommunikasie met belanghebbendes. Doeltreffende interne finansiële beheermaatreëls. Omvattende gesamentlike gerusstellingsplanne en -prosesse, waaronder nie-finansiële en ESG-inligting. Gestruktureerde en deurdagte geïntegreerde rapportering, insluitende oorweging van internasionale ontwikkelings ten opsigte van eksterne verslagdoeningsraamwerke oor nie-finansiële inligting. Voldoende en deursigtige openbaarmaking en rapportering van risiko’s en geleenthede. Hersiening van die doeltreffende belyning van eksterne verslagdoeningsraamwerke met internasionale ontwikkelings en raamwerke. Doeltreffende funksionering van die oudit-en-risikokomitee. |
|||||||
Voldoening aan belasting- en ander relevante wetgewing en industriepraktyke. |
Indiensneming van belastingspesialiste en raadpleging met onafhanklike belasting- en regsberoepslui. Belastingbeleid. Wetlike nakomingsbeleid gekoppel aan deskundige regsadvies. Doeltreffende nakomingsbeleid en -prosedures. |
|||||||
Betroubare en veilige inligting- en tegnologiese stelsels om sakedoelwitte en -vereistes te ondersteun. |
Doeltreffende uitkontrakteringsooreenkoms met ’n geloofwaardige diensverskaffer en diensvlakke wat kostedoeltreffende, veilige en beskikbare stelsels en netwerke ondersteun. Tegnologie- en inligtingsbestuursbeleid ondersteun deur prosedures rakende sleutelaktiwiteite, soos besigheidskontinuïteit, inligting- en kubersekuriteit, behoud van dokumente en aanvaarbare gebruiksbeleid, insluitende POPIA-vereistes. |
|||||||
Die Remgro-direksie het die risiko-toleransievlakke opgestel en goedgekeur om die direksie se risiko-aptyt te definieer en te verseker dat alle risiko’s in die groep binne hierdie perke bestuur word.
Vanweë die aard van sy kernbedrywighede, gebruik Remgro toegewyde en pasmaakmetodes om toleransievlakke in die volgende drie risikokategorieë te hanteer:
Beleggings
Risiko-toleransievlakke word bepaal in ooreenstemming met die koste om die belegging te finansier (GGKK), soos aangepas met risikogewig (Beta), om ’n volhoubare en positiewe risikoopbrengsomgewing te verseker, met inagname van die beleggingsportefeulje.
Tesourie
Gegewe die likiditeitsvereistes om bestaande beleggings te ondersteun en nuwe beleggingsgeleenthede te benut, word die risiko-toleransievlakke en gekoppelde opbrengste vir kontant wat in Suid-Afrika en internasionaal gehou word, gemeet ingevolge die uitleenkoerse wat die hoofbanke in die geldmark bepaal, met insluiting van, maar nie beperk tot, STeFI (korttermyn-vasterente) of LIBOR (Londense interbank-aanbodkoers), sowel as nakoming van vereiste kredietgraderings wat vir goedgekeurde teenpartye vasgestel is. Dit word deurlopend gemonitor en herevalueer gegewe heersende markvolatiliteit, risiko en, by tye, negatiewe opbrengste op kontant in sekere internasionale geldmarkte. Gegewe die heersende lae rentekoersomgewing gedurende die eerste kwartaal van die verslagtydperk, was dit die taak van die tesouriekomitee om gepaste beleggingsinstrumente vir kontant by die kern aan die beleggingskomitee of direksie voor te lê vir oorweging. Gegewe die voortgesette tendens van stygende rentekoerse in die oorblywende gedeelte van die rapporteringstydperk, is oorweging ook aan die koste van befondsing en ‘n aanpassing van die skuld by die kern gegee.
Buitelandse valutarisiko’s en kapitaalbewaringsrisiko’s, tydens ’n ongunstige ekonomiese klimaat, word deur ’n konserwatiewe beleid ten opsigte van verskansingstrategieë en teenpartykeuring verminder.
Tesouriefondse word belê ingevolge ’n direksiegoedgekeurde tesouriebeleid wat kyk na teenparty- (krediet)risiko, likiditeitsrisiko, rentekoersrisiko, wisselkoersrisiko, instrumentrisiko, kommersiële risiko (handelsvoorwaardes), asook die beleid wat opgestel is om kontant en likiede bates te beveilig.
Ander
Hierdie kategorie sluit risiko’s in wat verband hou met onbeplande bateverliese en blootstelling aan laste, waarborge, sakeonderbreking en ander bedryfsrisiko’s.
In sulke gevalle het die direksie, bykomend tot streng interne beheermaatreëls, ’n konserwatiewe benadering aanvaar om deur voldoende versekeringsdekking die verwagte maksimum verlies te verminder sou die risiko’s in hierdie kategorieë ’n werklikheid word.
Risiko-aptyt word as die risiko beskryf wat die maatskappy bereid is om te aanvaar sonder dat verdere risiko-verminderende aksies oorweeg word, of die mate en aard van risiko wat die maatskappy bereid is om te aanvaar in die soeke na doelwitte. Dit word ook as die risikogeneigdheid van die direksie in die strewe na volhoubare welvaartskepping beskryf.
Die volgende kwalitatiewe en kwantitatiewe faktore word deur die direksie oorweeg wanneer die risiko-aptyt bepaal word:
- risiko-opbrengsprofiel van die bestaande beleggingsportefeulje;
- beskikbaarheid van kontantbronne en ander likiede bates wat maklik na kontant omgeskakel kan word;
- beskikbare befondsingsgeleenthede;
- risiko-opbrengsprofiel van voorgenome geleenthede;
- ESG-profiel van die huidige portefeulje en beleggingssektore;
- finansiële maatstawwe van toepassing in die meting van prestasie, insluitende:
- intrinsieke netto batewaarde (INBW);
- opbrengs op INBW relatief tot vergelykende risiko-beleggings;
- dividendbeleid;
- vryekontantvloei; en
- hefboomverhoudings;
- internasionale en plaaslike ekonomiese siklusse en tendense;
- buitelandse valutakoerse en tendense;
- wesentlikheid van risiko’s met verwysing na die INBW van die groep;
- risikobestuursvermoë en volwassenheid;
- hulpbrontoekenning en -strategie; en
- risiko-scenario’s betreffende “black-swan” en toekoms-skanderingsmetodes.
Risikodraende vermoë word as ’n geldwaarde gedefinieer wat as maatstaf gebruik word om die maksimum verlies te bepaal wat die maatskappy kan ly sonder om dit aan ’n situasie bloot te stel waar die voortbestaan en lopendesaak-status daarvan bedreig word.
Gegewe die aard en samestelling van Remgro se INBW, te wete ekwiteitsbeleggings, netto oorskot kontant en die konserwatiewe grootte van skuld by houermaatskappyvlak, is daar tans geen bekende blootstellings wat die lopendesaakstatus van die groep in gedrang kan bring nie.
Die risiko- en geleentheidsbestuursproses is daarby ook ingestel op die eksterne omgewing om te verseker dat nuwe risiko’s en geleenthede tydig geïdentifiseer en die doeltreffendheid van tydige reaksie daarop geëvalueer word. Scenario’s word verder gebruik om die geskiktheid van die maatskappy se sakeveerkragtigheid te beoordeel.
Die maatskappy hersien jaarliks sy Tegnologiebeleide. Die tegnologie- en inligtingsbestuursbeleid definieer die omvang, rol en verantwoordelikhede van tegnologie- en inligtingsbestuur om te verseker dat tegnologie en inligting die bereiking van Remgro se sakedoelwitte ondersteun en verwesenlik, asook uiting en uitvoering gee aan Remgro se riglyne ten opsigte van die aanwending van tegnologie en inligting. Die beleid word verder met bestuursgebaseerde beleid, soos die tegnologie- en inligtings aanvaarbare gebruiksbeleid, die inligtingssekuriteitsbeleid en inligtingvertroulikheidsbeleid, wat gedefinieer word in ooreenstemming met POPIA, aangevul.
Die tegnologie- en inligtingsrisikobestuursproses is ten volle geïntegreer met die gekombineerde gerusstellingsproses van die maatskappy en in ooreenstemming met COBIT (beheerdoelwitte vir inligting en verwante tegnologieë).
Voorkomende tegnologieë en praktyke is in plek regoor die onderskeie lae van tegnologie- en inligtingsekuriteit, insluitende fisiese indringingsvoorkoming, infrastruktuurindringingsvoorkoming en -monitering, platformbeheer, toepassingsvlaksekuriteit en prosesseringsbeheer. Die sekuriteitsbedryfsentrum (SOC) se diensverskaffer monitor en waarsku teen kuberaktiwiteit en -patrone. Weeklikse kwesbaarheidsbeoordelings word in standaardbedryfsprosedures ingesluit en daarby word onafhanklike kwesbaarheidsondersoeke en indringingstoetse periodiek onderneem. Sekuriteitsbeheer word ook indiepte nagegaan gedurende die jaarlikse NIST-gebaseerde (Nasionale Instituut vir Standaarde en Tegnologie) kuberversekeringsoorsig en ons kubersekuriteitstrategie word ook uitgebrei deur die ondersteuningsprosesse ten opsigte van kuberversekering.
Daar was geen voorvalle van inligtingsekuriteits- of kuberprotokolskending aangeteken in die jaar onder oorsig nie en die volgehoue versterking van die kubersekuriteit postuur bly ‘n hoë prioriteit.
’n Besigheidskontinuïteitsplan is saamgestel en suksesvolle toetse is gedoen op die rugsteun- en rampherwinningsproses.
Alle tegnologieverwante voorvalle, insluitende potensiële sekuriteitsinsidente, word deur die dienstoonbank gerapporteer, vanwaar die nodige eskaleringsproses van stapel gestuur word.
Derdeparty-risikobeoordeling word in ooreenstemming met bedryfsverwante blootstelling en ontwikkelings gebring. Geleentheidsbepaling vorm deel van die jaarlikse tegnologie- en inligtingstrategie-oorsig. Opkomende tegnologieë en innovasies word gemonitor, gekies en ontplooi, waar nodig, om die prestasie van die organisasie deur inligting, kommunikasie en digitale tegnologieë te verbeter.
As deel van die direksie se verbintenis tot etiese leierskap, is ’n wetlike nakomingsbeleid goedgekeur en is daar bevestig dat voldoende bestuurskapasiteit en kontroles in plek is ten einde te verseker dat daar aan alle toepaslike wette en belangrike industriepraktyke voldoen word.
Die administrasie van die wetlike nakomingsisteem is by ’n amptenaar gesetel wat oor die toepaslike regskwalifikasies beskik. Die maatskappy se senior bestuurslede word op ’n gereelde basis van alle nuwe wetgewing of wysigings ingelig.
Die nakomingskontroles berus by senior bestuur van wie dit ook verwag word om op ’n gereelde grondslag aan die maatskaplike-en-etiesekomitee verslag te doen rakende hulle nakoming deur gebruik te maak van ’n kontrole-selfevaluasiemetodologie. Hierdie proses is ingesluit in die jaarlikse gesamentlike gerusstellingsplan. Die uitkoms en nakomingsbepalings word aan die direksie, via die RGTIB-komitee, gerapporteer en geen voorvalle van nie-nakoming, of boetes weens nie-nakoming, is aangemeld nie.
Die groep handhaaf ’n gesonde beheeromgewing, insluitende ’n omvattende interne beheerstelsel wat daarop gemik is om risiko’s in die onderneming te verminder en te verseker dat die groep se doelwitte deurlopend bereik word. Interne beheermaatreëls is op die beginsel geskoei dat aanvaarbare risiko inherent is in die ontwerp en implementering van ’n kostedoeltreffende interne beheerstelsel. Die stelsel sluit moniteringsmeganismes en temperingsprosesse in om tydig leemtes aan te vul waar dit bespeur word. Die stelsel gebruik die COSO interne beheer – geïntegreerde raamwerk as maatstaf.
Die interne ouditfunksie staan onder die bestuur van Remgro Bestuursdienste Beperk, en die HOB, mnr Deon Annandale, rapporteer aan die voorsitter van die oudit-en-risikokomitee en funksioneel aan die HFB. Die afdeling voldoen aan die vereistes van King IV en die internasionale standaarde vir die beroepspraktyk van interne oudit. Die afdeling handhaaf ’n drievlakprogram vir gehaltegerusstelling en -verbetering, soos voorgeskryf deur die Instituut van Interne Ouditeure. Dit behels ’n volgehoue selfevalueringsproses, met onafhanklike eksterne beoordeling deur ’n internasionale eksterne ouditeursfirma, anders as die groep se eksterne ouditeure, elke drie jaar.
Die interne ouditplanne, soos deur die oudit-en-risikokomitee goedgekeur, word op ’n risikogebaseerde gerusstellingsbenadering opgestel, met die klem daarop om waarde tot die beheeromgewing toe te voeg terwyl onafhanklike gerusstelling aan die oudit-en-risikokomitee en die direksie verleen word rakende die doeltreffendheid van onder andere interne finansiële beheermaatreëls; interne beheer oor bedryfs- en nakomingsaangeleenthede; geskiktheid van bestuurstelsels insluitende die “ingesteldheid van bo“; die doeltreffendheid van die gesamentlike gerusstellings- en risiko- en geleentheidsbestuursproses.
Die funksie is daarby strategies in lyn met die skep en behoud van waarde en die verskaffing van insig in risiko’s wat na vore kom.
Die interne ouditafdeling verskaf ook onafhanklike interne oudit- en risiko- en geleentheidsbestuursdienste aan sommige groepmaatskappye wat verkies om die funksie uit te kontrakteer. In sulke gevalle word toegewysde prosesse gehandhaaf om die onafhanklike werking van die afdeling te verseker, insluitende sy fidusiêre verpligting ten opsigte van groepmaatskappye en die beveiliging van hul besigheidsinligting.
Indien nodig, word deskundige vaardighede van buite bekom om met inligtingstegnologie en forensiese dienste behulpsaam te wees.
Die direksie, deur middel van die oudit-en-risikokomitee, het die gedokumenteerde beleide, prosedures en onafhanklike gerusstellingsverslae oorweeg en is tevrede dat die beheeromgewing, saam met interne beheer-, risiko- en geleentheidsbestuursprosesse wat in die groep geïmplementeer is, doeltreffend funksioneer.
Die direksie is nie bewus van enige blootstelling of posisie wat daartoe kan lei dat die oorblywende risikoprofiel van die groep die perke oorskry van die risikodraende vermoë wat deur die direksie bepaal is nie.
Die volgende was fokusgebiede gedurende die jaar onder oorsig:
- Die Rusland-Oekraïne-konflik, en verwante implikasies, insluitend sake-veerkragtigheid;
- Opkomende risiko’s, insluitende globale en plaaslike politieke en sosio-ekonomiese ontwikkelings en neigings, insluitende misdaad, korrupsie, infrastruktuur en elektrisiteitstabiliteit;
- Omvangrykheid van bedrogvoorkoming en -opsporing prosesse gegewe die omvang en voorkoms van nie-Remgro gerapporteerde onreëlmatighede in die pers;
- Verwikkelinge ten opsigte van internasionale finansiële rapporteringstandaarde en ESG-rapporteringsraamwerke;
- Ouditeur-rotasieverwikkelinge en reputasieskade deur sommige ouditfirmas gely;
- Wesentlike transaksies in die finansiële jaar;
- Doeltreffendheid van risiko- en geleentheid-, asook gesamentlike gerusstellingsprosesse;
- Menings oor die doeltreffendheid van die beheeromgewing en interne finansiële beheer;
- Eksterne maatstafbepaling van die tesouriebeleid teenoor internasionale beste praktyke;
- Terme en gerusstellingsplanne van beide interne en eksterne oudit;
- Eksterne rapportering, beide finansieel en nie-finansieel;
- Beoordeling van die HFB, finansiële afdeling en HOB;
- Inligtings- en tegnologiebestuur, waaronder kuberrisiko; en
- ESG- en volhoubaarheidsverwante faktore.
Bogenoemde aspekte sal in die agenda herhaal word, met betrekking tot fokusgebiede, gegewe die groepbestuur-standaarde en ooreenstemmende komiteemandaat.