Bydrae tot wesensverdienste 30 Junie
2025
R miljoen
30 Junie
2024
R miljoen
 RCL Foods 1 119 855
 Heineken Beverages
    – entiteitsbydrae (50) (573)
    – IFRS 3 uitgawe (22)
 Siqalo Foods
    – entiteitsbydrae 467 452
    – IFRS 3 uitgawe (2) (2)
Rainbow 469 145
Capevin (3) 79
2 000 934

RCL Foods Beperk

(RCL Foods)

Effektiewe belang: 79.6%

Profiel: RCL Foods is een van Suid-Afrika se voorste kosvervaardigers wat ’n wye verskeidenheid kosprodukte, onder handelsmerke en privaatetiket, in verskeie kategorieë vervaardig, van huishoudelike stapelprodukte tot waardetoegevoegde en spesialiteitsaanbiedinge.

In die vergelykende tydperk was RCL Foods ’n houermaatskappy met gediversifiseerde belange, wat op twee kategorieë fokus: voedsel (kruideniersware, bak en suiker) en Rainbow (hoender, insluitend Epol-dierevoedsel, en afval-tot-waarde-bedrywighede wat afloopwater en ander afvalmateriaal verwerk om krag, hitte en herwonne water te vervaardig). Op 1 Julie 2024 het die voedsel- en Rainbow-afdelings geskei en onafhanklike maatskappye gevorm. Rainbow Chicken Beperk (Rainbow) was teen die einde van Junie 2024 afsonderlik genoteer en deur RCL Foods ontbondel, effektief vanaf 1 Julie 2024.


Korporatiewe inligting

Markkapitalisasie op 30 Junie 2025: R9 867 miljoen
Genoteer op: JSE Beperk
Hoofuitvoerende beampte: P D Cruickshank
Remgro genomineerde direkteure: C P F Vosloo, L Zingitwa

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R22 miljoen
Opleidingspandering: R50 miljoen
Aantal werknemers: 10 500
BBSEB-status: Vlak 3
Omgewingsaspek: Vlak 1-en 2-uitlatings van 551 309 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 30 Junie
2025
R miljoen
2024(1)
R miljoen
%
verandering
 Omset 26 494 26 017 1.8
 Bedryfswins 1 918 1 638 17.1
 Onderliggende wesensverdienste 1 306 1 137 14.8
 Wesensverdienste 1 397 1 083 29.0
(1) Vergelykende syfers is vir voortgesette bedrywighede hersaamgestel, aangesien Rainbow ontbondel en Vector verkoop is.

RCL Foods se wesensverdienste vir die jaar geëindig 30 Junie 2025 het met 29.0% tot R1 397 miljoen (2024: R1 083 miljoen) toegeneem. Remgro se gedeelte van die wesensverdienste het R1 119 miljoen (2024: R855 miljoen) bedra.

RCL Foods se omset uit voortgesette bedrywighede het vir die jaar geëindig 30 Junie 2025 hoofsaaklik onveranderd gebly en met 1.8% tot R26 494 miljoen (2024: R26 017 miljoen) toegeneem. Die onderliggende EBITDA vir 30 Junie 2025 het met 7.9% tot R2 391 miljoen (2024: R2 216 miljoen) toegeneem.

Die kruideniersbesigheidseenheid (kookkuns, troeteldiervoedsel en drank) het ’n verbeterde resultaat gelewer danksy ’n gunstige produksamestelling vir troeteldiervoedsel met ’n verhoogde fokus op premie-handelsmerke, besparings danksy netto omsetbestuur (NRM) en voortgesette verbetering (CI)-inisiatiewe, algehele vervaardigingsdoeltreffendhede en ’n afname in beurtkrag. Omset het met 1.8% tot R5 410 miljoen (2024: R5 313 miljoen), onderliggende EBITDA met 19.1% tot R592 miljoen (2024: R497 miljoen) en onderliggende marges van 9.4% tot 10.9% toegeneem. Die kookkuns-kategorie het verbeterde marges gelewer ondanks volumes wat met 3.6% afgeneem het. NRM- en CI-besparings, ’n afname in beurtkragkoste, tesame met ’n fokus om die handelsmerk-aanbod in die mark uit te brei, het tot die algehele verbetering van marges bygedra. Ten spyte van volumes wat met 4.9% afgeneem het, kan troeteldiervoedsel se omkeer grootliks aan besparingsinisiatiewe en ’n afname in beurtkrag toegeskryf word. Drank het ’n verbeterde resultaat gelewer vergeleke met die vorige jaar ondanks volumes wat steeds onder druk verkeer (af met 16.1%), hoofsaaklik danksy die beëindiging van sekere nie-winsgewende produklyne.

Die bakbesigheidseenheid (brood en broodrolletjies, meul, pasteie en spesialiteit) het ’n sterk omkeer regoor bedryfs-eenhede ervaar, hoofsaaklik danksy bedryfsdoeltreffendhede en volumegroei. Omset het met 1.8% tot R9 298 miljoen (2024: R9 137 miljoen), onderliggende EBITDA met 55.0% tot R800 miljoen (2024: R516 miljoen) en onderliggende marges van 5.6% tot 8.6% toegeneem. Die brood- en broodrolletjie-besigheid het ’n aansienlike verbetering in onderliggende EBITDA gelewer met beskeie volumegroei van 1.3%. Dit is danksy bedryfsdoeltreffendhede in bakkerye en kostebesparings deur CI-inisiatiewe. Die meul-besigheid het ondanks laer volumes (af met 2.6% vergeleke met die vorige jaar) ’n sterk vertoning gelewer danksy ’n gunstiger verkoopsamestelling en ’n algehele verbetering in marges. Pasteie het ’n verbetering in wins gelewer deur verspreiding- en vervaardigingskostebesparing deur CI-inisiatiewe. Die spesialiteitsbesigheid het ’n goeie prestasie gelewer met hoër volumes wat verbeterde aanleg-aanwending bevorder het.

Die suikerbesigheidseenheid (suiker, Molatek, molasse-gebaseerde dierevoer) se resultate is laer as in die vergelykende jaar. Omset het met 0.8% tot R11 712 miljoen (2024: R11 811 miljoen), onderliggende EBITDA met 24.3% tot R963 miljoen (2024: R1 272 miljoen) en onderliggende marges van 10.8% tot 8.2% afgeneem. Die bedryf het druk ervaar in die tweede helfte van die jaar, hoofsaaklik weens ’n laer vraag deur verbruikers en ’n aansienlike toename in invoere. Die Molatek-bedryfseenheid het goeie resultate gelewer danksy ’n gunstige verkoopsamestelling en ’n verbetering in bedryfsdoeltreffendhede.

Heineken Beverages Holdings Beperk

(Heineken Beverages)

Effektiewe belang: 18.8%

Profiel: Heineken Beverages het op 26 April 2023 tot stand gekom ná die samevoeging van Heineken South Africa, Distell Group Holdings Beperk (Distell) en Namibia Breweries Beperk (Namibia Breweries). Die maatskappy se handelsmerkportefeulje sluit die vooraanstaande globale handelsmerk Heineken® in, sowel as verskeie wêreldgehalte handelsmerke, waaronder Savanna, Windhoek Lager en Nederburg. Heineken Beverages is stewig ingewortel in Suider-Afrika, waar werk aan meer as 6 000 mense verskaf word.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: R35 868 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte: J Borrut
Remgro genomineerde direkteure: J J Durand, P R Louw, J Sendzul (alternatief)

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R50 miljoen
Opleidingspandering: R49 miljoen
Aantal werknemers: 6 133
BBSEB-status: Vlak 4
Omgewingsaspek: Vlak 1- en 2-uitlatings van 87 500 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Twaalf
maande tot
31 Desember 2024
Agt
maande tot
31 Desember 2023
R miljoen R miljoen
 Omset (aksynsbelasting ingesluit) 54 118 34 938
 Bedryfswins/(-verlies) voor addisionele IFRS 3-aanpassings 1 836 (6 216)
 Verlies voor addisionele IFRS 3– aanpassings (11) (6 630)

Heineken Beverages het ’n Desember-jaareinde, en sy resultate vir die 12 maande tot 30 Junie 2025 is in Remgro se resultate vir die jaar onder oorsig ingesluit. Heineken Beverages se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die jaar onder oorsig het ’n verlies van R50 miljoen (2024: verlies van R595 miljoen) bedra. Hierdie resultate sluit amortisasie- en waardeverminderingskoste van R22 miljoen in die vergelykende jaar in vergeleke met Rnul vir die jaar onder oorsig. Dit hou verband met die bykomende bates wat geïdentifiseer is toe Remgro gedurende die 2023-finansiële jaar aansienlike invloed oor Heineken Beverages verkry het. Met die Remgro IFRS 3-uitgawes uitgesluit, bedra die verlies wat aan Remgro toegeskryf kan word R50 miljoen (2024: ’n verlies van R573 miljoen).

Heineken Beverages se wesensverdienste vir die 12 maande geëindig 30 Junie 2025 het ’n verlies van R268 miljoen (Junie 2024: verlies van R3 047 miljoen) bedra. Hierdie resultate sluit amortisasie- en waardeverminderingskoste van R747 miljoen (na belasting) (Junie 2024: R1 69 miljoen) in en hou verband met die bykomende bates wat geïdentifiseer is toe Heineken Beverages op 26 April 2023 beheer oor Distell en Namibia Breweries verkry het (IFRS 3-aanpassings). Met die IFRS 3-aanpassings uitgesluit, bedra die wesensverdienste van Heineken Beverages ’n wins van R479 miljoen (Junie 2024: verlies van R1 678 miljoen).

Die integrasie van Heineken Beverages se alleenstaande kategorieë is gedurende die 2024-kalenderjaar voltooi en vestig Heineken Beverages as ’n sterk deelnemer met ’n mededingende multikategorie-sakemodel. Met uitsluiting van Namibia Breweries, het Heineken Beverages ’n hoë enkelsyferpersentasie volume- en omsetgroei vir die ses maande geëindig 31 Desember 2024 behaal, terwyl Namibia Breweries sterk volume- en omsetgroei van in die middel tiene behaal het. Gedurende dieselfde tydperk het bier in die lae tiene volumegroei behaal met Heineken®, Windhoek en Amstel aan die voorpunt.

Vir die ses maande geëindig 30 Junie 2025, het omset middel-enkelsyfergroei behaal. Totale gekonsolideerde volume het met ‘n lae enkelsyferpersentasie verminder, terwyl bier ‘n lae enkelsyfer-volumegroei behaal het. In Suid-Afrika het biervolume gestabiliseer en verbeter met verloop van tyd gedurende die sesmaande-tydperk. Markaandeel het ook in die tweede helfte van die tydperk gestabiliseer, met die handelsmerke Heineken® en Amstel aan die spits. Die gereed-om-te-drink handelsmerk Bernini het met meer as 30% gegroei, wat deels teengewerk is deur ‘n afname in die sider- en gereed-om-te-drink-portefeulje. Wyn- en spiritualieë-volumes het afnames van meer as 10% getoon te midde van aktiewe aanpassings van die portefeulje in ‘n mededingende omgewing.

In Namibië het volumes hoë enkelsyfergroei behaal en is markaandeel in alle kategorieë verhoog, met Windhoek Lager en Savanna aan die spits. Buite Suid-Afrika en Namibië is besondere sterk groei deur Kenia, gedryf deur spiritualieë, en Tanzanië, met die handelsmerk Heineken® aan die voorpunt, gelewer namate beide markte die voordele van ‘n multikategorie drankportefeulje ten volle benut het.

Volgehoue belegging in kernhandelsmerke regoor die portefeulje sal vir die res van die jaar voortduur. Daadwerklike optrede om veranderlike en vastekoste te verminder, het tot dusver prysenswaardige resultate opgelewer en sal ’n prioriteit bly.

Siqalo Foods Eiendoms Beperk

(Siqalo Foods)

Effektiewe belang: 100.0%

Profiel: Siqalo Foods vervaardig smere wat onder toonaangewende handelsmerke verkoop word.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: R6 416 miljoen
Ongenoteer
Besturende direkteur: R Plumbley
Remgro genomineerde direkteure: J J du Toit, L Zingitwa, S P May

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R5 miljoen
Opleidingspandering: R3 miljoen
Aantal werknemers: 255
BBSEB-status: Vlak 1
Omgewingsaspek: Vlak 1-en 2-uitlatings van 32 047 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 30 Junie
2025
R miljoen
2024
R miljoen
%
verandering
 Omset 3 715 3 594 3.4
 Bedryfswins 595 575 3.4
 Wesensverdienste 467 452 3.3

Siqalo Foods vervaardig smere wat verkoop word onder markleier-handelsmerke soos Rama, Flora, Stork en Rondo binne die Suider-Afrikaanse doeane-uniegebied.

Siqalo Foods se bydrae tot Remgro se wesensverdienste het in die jaar onder oorsig R467 miljoen (2024: R452 miljoen) bedra, met uitsluiting van ’n bykomende IFRS 3-amortisasie van R2 miljoen (2024: R2 miljoen) wat deur Remgro verantwoord is.

Die handelsomgewing bly beperkend weens lae ekonomiese groei, verbruikers wat onder druk verkeer, wisselvallige kommoditeitspryse en wisselkoerse. Die besigheid het pryse in Maart 2025 verhoog om stygings in kommoditeitspryse teen te werk en winsmarges te herstel. ’n Gefokusde spaaragenda het inflasiekostedruk verminder en beleggings in handelsmerkbemarking verhoog, wat die besigheid in staat gestel het om winsgewende volumegroei met 1.1% en bedryfs- EBITDA met 1.7% in die jaar onder oorsig te verhoog.

Daar was ’n negatiewe IFRS 9-billike waarde aanpassing van R2 miljoen (2024: negatief R5 miljoen) op kommoditeits- en buitelandse valutakontrakte wat aangegaan is as deel van die grondstofverkrygingstrategie. IFRS 9-billike waarde aanpassings word by bedryfs-EBITDA uitgesluit.

Groei in die smere-kategorie bly ingeperk met ’n toename van 0.5% in volume oor die afgelope 12 maande vergeleke met die vorige jaar. Siqalo Foods se prestasie in hul markaandeel van die kategorie het stabiel gebly met ’n geringe afname van 0.8% in sy 12 maande-bewegende gemiddelde volumemarkaandeel tot 58.0% op 30 Junie 2025 (2024: 58.8%). Die besigheid se fokus vir 2025 en 2026 is steeds om winsgewende groei vir volumes en handelsmerke oor die lang termyn te bewerkstellig.

’n Bestuursdienstekontrak bly in plek met RCL Foods wat sekere dienste reguleer wat RCL Foods se “Shared Services“-platform op ’n armlengtebasis aan Siqalo Foods lewer.

Rainbow Chicken Beperk

(Rainbow)

Effektiewe belang: 80.0%

Profiel: Rainbow het drie afdelings, naamlik hoender, dierevoedsel en afval-tot-waarde (W2V)-bedrywighede.

Rainbow hoenderafdeling is ’n geïntegreerde Suid-Afrikaanse pluimvee-vervaardiger wat ’n verskeidenheid hoenderprodukte bied, insluitend bevrore, vars en verder-verwerkte waardetoegevoegde opsies. Die afdeling se handelsmerke sluit in Rainbow Fresh (hoenderprodukte), Farmer Brown (hoenders word nie in hokke aangehou nie en volg ’n vegetariese dieet), Rainbow Ready to-Go-produkte (vir voedseldienskanale) en Rainbow Simply Chicken (soos Weense worsies en polonie).

Die dierevoedsel-afdeling vervaardig onder die Epol-handelsmerk graangebaseerde voer vir verskeie dierespesies. Produkte word direk of deur vennootherverkopers verskaf, in grootmaat sowel as in sakke. Die Driehoek Feeds-handelsmerk dien die wildsvleisbedryf.

Rainbow beskik oor ’n 50%-belang in Matzonox wat W2V-geriewe in Worcester en Rustenburg bedryf. Hierdie geriewe verwerk afloopwater en ander afvalmateriaal om krag, hitte en herwonne water te vervaardig.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: R3 688 miljoen
Genoteer op: JSE Beperk
Hoofuitvoerende beampte: M P Stander
Remgro genomineerde direkteure: P R Louw, W O van Wyk

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R6 miljoen
Opleidingspandering: R19 miljoen
Aantal werknemers: 9 995
BBSEB-status: Vlak 6
Omgewingsaspek: Vlak 1- en 2-uitlatings van 380 458 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 30 Junie
2025
R miljoen
2024
R miljoen
%
verandering
 Omset 15 838 14 527 9.0
 Bedryfswins 697 336 107.5
 Wesensverdienste 585 180 224.3

Rainbow se wesensverdienste het vir die jaar geëindig 30 Junie 2025 met 224.3% tot R585 miljoen (2024: R180 miljoen) toegeneem. Remgro se gedeelte van die wesensverdienste het R469 miljoen (2024: R145 miljoen) bedra.

Dit was Rainbow se eerste jaar as ’n alleenstaande en genoteerde entiteit. Rainbow was deel van RCL Foods in die vergelykende jaar en is teen die einde van Junie 2024 ontbondel en genoteer. Omset het met 9.0% tot R15 838 miljoen (2024: R14 527 miljoen) toegeneem, hoofsaaklik danksy ’n sterker prestasie in verkope in die hoenderafdeling. EBITDA het met R422 miljoen tot R1 059 miljoen (2024: R637 miljoen) toegeneem en die EBITDA-marge het vanaf 4.4% tot 6.7% verbeter.

Omset in die hoenderafdeling het met 9.6% tot R13 969 miljoen (2024: R12 746 miljoen), EBITDA met 102.8% tot R685 miljoen (2024: R338 miljoen) en die EBITDA-marge van 2.7% tot 4.9% toegeneem. Die verbetering is hoofsaaklik danksy hoër verkoopvolumes vanweë verhoogde kapasiteit by die Hammarsdale-verwerkingsaanleg wat deels deur prysbepaling teengewerk is. Ander faktore sluit in voortgesette verbeterings in landbou- en bedryfsprestasie, laer kommoditeitsinsetkoste, tesame met ’n kostevermindering wat beurtkrag en voëlgriep betref. Laer volumes vir kitsdiensrestaurante is grootliks deur ’n sterk vertoning in klein- en groothandel- en diverse kanale teengewerk.

Omset in die dierevoedselafdeling het met 2.8% tot R7 389 miljoen (2024: R7 186 miljoen), EBITDA met 30.0% tot R329 miljoen (2024: R253 miljoen) en die EBITDA-marge van 3.5% tot 4.5% toegeneem. ’n Voortgesette fokus op voergehalte, optimalisering van die kliëntewaarde-aanbod en ’n herstel van pluimveegetalle ná die uitbreking van voëlgriep in die vergelykende jaar het tot ’n volumetoename van 5.3% gelei. Die toename is deels deur ’n verlangsaming van verkoopspryse weens laer kommoditeitspryse teengewerk. Kapitaalbeleggings in die voerfabrieke het tot verbeterde verwerking en betroubaarheid bygedra en dit, tesame met ’n afname in beurtkrag, het doeltreffendheid en uitset gedryf.

Omset in die W2V-afdeling het met 6.1% tot R102 miljoen (2024: R96 miljoen), EBITDA met 16.9% tot R37 miljoen (2024: R32 miljoen) en die EBITDA-marge van 33.1% tot 36.5% toegeneem. Die afdeling het egter ’n bedryfsverlies van R30 miljoen (2024: nie-wesentlike verlies) gelewer. Die Rustenburg-fasiliteit het, ondanks ’n verbetering in bedryfsprestasie gedurende die jaar, steeds beduidende uitdagings ervaar wat verband hou met die verskaffing van voervoorraad en opeenhoping van pluimvee-afval in die verteertoestel, wat blokkasies veroorsaak en doeltreffendheid van biogasvervaardiging belemmer. Hierdie bedryfsuitdagings, tesame met groengas-sertifikate wat nie hernu is nie en ander ongunstige invloede op omset, het ’n waardedaling van R33 miljoen tot gevolg gehad.

Capevin Holdings Eiendoms Beperk

(Capevin)

Effektiewe belang: 33.6%

Profiel: Capevin is aan die einde van April 2023 as deel van die Heineken/Distell-transaksie uit Distell ontbondel. Met die verkoop van die Gordon’s Gin-handelsmerk aan Diageo gedurende die vorige finansiële jaar, is die Skotse whiskybesigheid, CVH Spirits, die grootste oorblywende bate van Capevin. Die maatskappy besit verskeie bekroonde handelsmerke, waaronder die enkelmout-handelsmerke Bunnahabhain, Deanston, Tobermory en Ledaig, asook die vermengde Skotse whisky van Scottish Leader en Black Bottle.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: R3 342 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte: R O’Rahilly
Remgro genomineerde direkteure: J J du Toit, S Crouse, M Lubbe, L Zingitwa

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-/Opleidingspandering: R2 miljoen
Aantal werknemers: 298
Omgewingsaspek: Totale energie van 6 004 ton CO2e regoor distilleerderye, versnit-en botteleringsbedrywighede
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 30 Junie
2025
R miljoen
2024
R miljoen
%
verandering
 Omset uit voortgesette bedrywighede 1 923 2 659 (27.7)
 Bedryfswins 98 285 (65.6)
 Wins uit voortgesette bedrywighede (8) 236 (103.4)

Capevin se bydrae tot Remgro se wesensverdienste, bestaande uit Remgro se gedeelte van Capevin se resultate vir die jaar geëindig 30 Junie 2025, het ’n verlies van R3 miljoen bedra teenoor die vergelykende 12 maande tot 30 Junie 2024 wat ’n wins van R79 miljoen bedra het.

Wat Gordon’s Gin betref, is alle kontrakvolumes in die vorige finansiële jaar suksesvol behaal, en die uitgestelde gedeelte van die beëindigingsoorweging wat R300 miljoen bedra, is dienooreenkomstig in die vorige jaar ontvang. Die totale beëindigingsvergoeding wat van Diageo in die vorige finansiële jaar ontvang is, het R1 miljard bedra, en die Gordon’s Gin-besigheid is in die vorige finansiële jaar se resultate onder beëindigde bedrywighede ingesluit.

Benewens die Skotse whiskybates, besit Capevin ook ’n klein aantal eiendomme in Stellenbosch waarvan dit ’n huurinkomste verdien.

Capevin se bedryfswins vir die 2025-finansiële jaar, wat enige waardedalings en opbrengste van Gordon’s Gin in die vorige finansiële jaar uitsluit, het met 65.6% tot R98 miljoen afgeneem. Hierdie afname is hoofsaaklik vanweë die beëindiging van die wyn- en Amarula-handelsmerke se verspreiding en ’n wêreldwye afname van die premie-spiritualieëbedryf en die Skotse whisky-kategorie. Capevin het voorheen die verkope, verspreiding en bemarking van wyn (byvoorbeeld Nederburg) en Amarula namens Heineken Beverages in hul internasionale markte bestuur, en aan die begin van die huidige finansiële jaar is hierdie handelsmerke aan Heineken Beverages terugbesorg. Die verkoop van wyn en Amarula het ongeveer 20.6% (R503 miljoen) van totale omset in die vergelykende jaar bygedra. Netto omset het op ’n genormaliseerde grondslag, en met wyn en Amarula uitgesluit, met 10.8% vergeleke met die vorige jaar afgeneem.

Benewens die finansiële impak van die beëindiging van wyn- en Amarula-produkte se verspreiding, het die algehele Skotse whiskysektor ’n beduidende afname in wêreldwye verkope vergeleke met die vorige finansiële jaar ervaar. Matigheidstendense en voortgesette geopolitiese en makro-ekonomiese onsekerheid, saam met hoë inflasie en rentekoerse, het volgehoue druk op verbruikers geplaas en voortgesette kostedruk en ’n afname in besteebare inkomste lei tot ’n swakker aanvraag, ook tot ’n afwaartse aanpassing in produkkeuse.

Capevin se grootste Skotse whiskymarkte, naamlik Taiwan, die VSA en China, het veral ’n afname in omset getoon vanweë verbruikers wat steeds versigtig bestee. Groot multinasionale spiritualieë-maatskappye het soortgelyke tendense gerapporteer waar ander spiritualieë-kategorieë (byvoorbeeld konjak) aansienlike afnames in kernmarkte, naamlik China en die VSA, ervaar het. Sekere van CVH Spirits se Skotse whiskyhandelsmerke het veerkragtig presteer ondanks die onbestendige en uitdagende globale handelsomgewing. Scottish Leader in Taiwan het ’n sterk vertoning gelewer en behou sy posisie as die naasgrootste vermengde Skotse handelsmerk in die land (Taiwan is die vierde waardevolste Skotse whiskymark in die wêreld). Scottish Leader sowel as Deanston kon te midde van ’n dalende mark hul markaandeel in Taiwan verhoog. Omset en wins wat deur ons enkelmout-handelsmerk-huise Bunnahabhain, Deanston en Tobermory gegenereer is, het dubbelsyfergroei behaal.

Die gedissiplineerde bestuur van bedryfsuitgawes, wat vanaf die vorige jaar met 13% afgeneem het, het sekere omset-uitdagings help teenwerk, en dit bly ’n prioriteit terwyl die maatskappy sy weg deur die huidige uitdagende handelsomgewing baan. Bestuur het in reaksie op hierdie moeilike handelstoestande gedurende April 2025 ’n herstrukturering van die besigheid geloods om algehele personeelgetalle en koste verder te verminder en kommersiële voorverkope-vermoëns te versterk. ’n Eenmalige herstruktureringskoste van R21 miljoen is gevolglik in die huidige finansiële jaar aangegaan. Die skraler strukture sal ’n meer gefokusde en beweegliker losstaande Skotse whiskybesigheid bewerkstellig. CVH Spirits glo sy portefeulje van premie-enkelmoutwhisky is, ondanks die huidige uitdagende handelstoestande, ’n aanloklike aanbod vir verbruikers danksy die skaarsheid, beskikbaarheid van verouderde drank, uniekheid en besondere herkoms daarvan.

Met die oorskot kontant wat uit die verkoop van Gordon’s Gin gegenereer is, het Capevin in Desember 2024 ’n dividend van R1 per aandeel uitbetaal waarvan Remgro R73 miljoen ontvang het.