BEGRIP VIR REMGRO SE STATUTÊRE RAPPORTERING OOR NETTO WINS
Ten einde Remgro se kontantgenererende proses te verstaan, moet sy gerapporteerde resultate eerstens verstaan word.
Remgro se statutêre gerapporteerde netto wins bestaan hoofsaaklik uit die volgende:
- Gekonsolideerde resultate van sy bedryfsfiliale, naamlik Distell, RCL Foods, Wispeco en Siqalo Foods;
- Geëkwiteerde resultate van sy beleggings in geassosieerdes en gesamentlike ondernemings, bv. Mediclinic, RMI, CIVH, Air Products en TotalEnergies;
- Wins/verlies met die realisasie van beleggings;
- Netto waardedaling van beleggings;
- Dividende ontvang van onderliggende beleggings en wat nie as filiale, geassosieerdes en gesamentlike ondernemings geklassifiseer is nie, bv. FirstRand, Discovery en Momentum Metropolitan (beide beleggings ontbondel deur RMI), die Milestone China Fondse en die Pembani Remgro Infrastruktuurfonds;
- Rente ontvang;
- Rente betaal;
- Netto korporatiewe koste, insluitende vergoeding en ander voordele betaal aan werknemers; en
- Belasting.

Kapitaaltoewysing – Remgro se mees kritieke funksie
Kapitaal is duur en nie onbeperk nie. Aangesien ons met ‘n onseker toekoms te doen het, vererger deur huidige globale ekonomiese en geopolitieke druk en uiteraard kapitaaltoewysingsbesluite op sekere aannames oor die toekoms grond, moet ons omsigtig wees en in ons beleggingsbesluite ‘n marge van veiligheid handhaaf.
Ons moet gedissiplineerd in ons toewysing van kapitaal wees en, as ons blyk verkeerd te wees, moet daar vinnig en beslissend opgetree word. ’n Groot deel van Remgro se suksesvolle waardeskeppingsrekord is toeskryfbaar aan die vermoë om ’n balans te handhaaf tussen jong groeiondernemings, netwerkbates en meer gevestigde kontantgenererende maatskappye ten einde voortreflike opbrengste vir aandeelhouers by wyse van volhoubare dividende en kapitaalgroei te verseker.
As ‘n sleutelelement van sy doelwit, het Remgro sy fokus verskerp oor hoe sy bates bestuur en beleggings in besighede nagejaag word met die oog daarop om, naas finansiële opbrengste, by te dra tot ‘n positiewe, meetbare maatskaplike en omgewingsimpak. In hierdie verband verskaf Remgro se beleggingsraamwerk nou duidelike riglyne vir kapitaaltoewysingsbesluite in ooreenstemming met sy omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-strewe.
BELEGGINGSHOUERMAATSKAPPY
Remgro streef daarna om onderliggende beleggings in staat te stel om hul groeistrategieë en teikens te bereik. Die ondersteuning wat ons bied, ongeag die vlak van beïnvloeding, sluit in:
- Strategiese insette
- Kapitaaltoewysing
- Geduldige finansiële kapitaal om groeistrategieë te bevorder
- Vervaardigingskapitaal
- Menslike kapitaal by wyse van bestuursondersteuning
- Verhoudingskapitaal in die identifisering van geleenthede
- Intellektuele kapitaal
- Omgewingskapitaal
- Transaksievermoë (omgewing vir korporatiewe transaksies)
- Gedesentraliseerde bestuursbenadering
- Tesouriedienste (soos benodig)
- Interne oudit en risikodienste (soos benodig)
- Formele en informele verbintenisse, waardeur onderliggende beleggings geleenthede gebied word om voordeel uit ‘n wyer netwerk te trek

Beleggings
Die waarde en prestasie van onderliggende beleggings, eerder as die bedrywighede op houermaatskappyvlak, sal in ‘n groot mate die waarde bepaal vir houermaatskappy-aandeelhouers, hoewel transaksiebeklinking op houermaatskappyvlak ook aansienlike waarde kan byvoeg.
Die beste benadering tot Remgro se wins op houermaatskappyvlak (by die kern) behels:
Gegewe die aard as ‘n beleggingshouermaatskappy, en die aansienlike kontant wat beskikbaar is en bestuur word, word die beheer van tesourierisiko’s as baie belangrik beskou. Dit word in meer besonderhede in die hoof finansiële beampte (HFB) se verslag behandel.

Uitkerings aan aandeelhouers
Kontantuitkerings word befonds uit dividendinkomste en rente ontvang by die kern. Ons doel ten opsigte van normale dividende is om aan aandeelhouers ‘n konstante jaarlikse dividendvloei te voorsien wat hulle ten minste teen inflasionêre druk sal beskerm. Soos in die verlede, evalueer Remgro deurlopend die geskiktheid van ander uitkerings in die vorm van spesiale dividende, terugkoop van aandele of die ontbondeling van beleggings aan aandeelhouers oorweeg.
BEOORDELING VAN SUKSES DEUR INTRINSIEKE WAARDE
Remgro beoordeel sy vertoning verder aan die hand van die toename in sy intrinsieke netto batewaarde. Dit meet die groei in die waarde van die onderskeie onderliggende beleggings, gemeet aan die genoteerde markwaarde of, in die geval van ongenoteerde beleggings, deur die beginsels van IFRS 13: Billike Waarde Meting toe te pas. Verwys na die hoofuitvoerende beampte se verslag vir ’n meer gedetailleerde ontleding van Remgro se intrinsieke netto batewaarde, waar kortliks verwys word na die verskille tussen ‘n IFRS 13-waardasie en ‘n transaksie-waardasie.