Begrip vir Remgro se statutêre rapportering oor netto wins
Ten einde Remgro se resultate prestasie en kontantgenererende toewysing te verstaan, moet sy gerapporteerde resultate eerstens verstaan word.
Remgro se statutêre gerapporteerde netto wins bestaan hoofsaaklik uit die volgende:
- Gekonsolideerde resultate van sy filiale wat apart bedryf word, waarvan die wesentlikes RCL Foods, Rainbow, Wispeco, Siqalo Foods en Capevin insluit;
- Geëkwiteerde resultate van sy beleggings in geassosieerdes en gesamentlike ondernemings (geëkwiteerde beleggings), bv. Mediclinic, OUTsurance Group, CIVH, Heineken Beverages, Air Products en TotalEnergies;
- Wins/verlies met die realisasie van beleggings;
- Netto waardedaling van beleggings;
- Dividende ontvang van onderliggende beleggings wat as portefeuljebeleggings geklassifiseer word, bv. FirstRand en Discovery;
- Rente ontvang;
- Rente betaal (indien toepaslik);
- Netto korporatiewe koste, insluitende vergoeding en ander voordele aan werknemers betaal; en
- Belasting.

Kapitaaltoewysing – Remgro se mees kritieke funksie
By Remgro beskou ons finansiële kapitaal as ‘n duur en beperkte bron en die weldeurdagte toewysing van hierdie bron is een van ons belangrikste funksies. Ons kapitaaltoewysingsproses moet die dinamiese omgewing waarin ons sake bedryf, in ag neem en die risiko’s en onsekerhede wat ons in die mark waarneem, opweeg teen die opbrengste wat verdien kan word.
Dit is belangrik om gedissiplineerd in ons toewysing van kapitaal te wees, om veranderinge in ons siening van risiko’s en geleenthede te monitor en, waar nodig, beslissende aksie te neem om by die veranderende landskap aan te pas. Ons probeer ook om ‘n balans te handhaaf tussen beleggings in verskillende fases van ontwikkeling en ‘n merkbare deel van Remgro se waardeskeppingsrekord is toe te skryf aan sy vermoë om beleggings, met ‘n mengsel van jong groeiondernemings en meer gevestigde kontantgenererende maatskappye, te balanseer.
Besluite oor kapitaaltoewysing bestaan uit twee gedeeltes – waar die kapitaal vandaan kom en hoe dit aangewend word – en besluite oor hoe die bronne en gebruik van kapitaal gebalanseer word, word bepaal deur interne en eksterne kragte tot die maatskappy.
As ‘n houermaatskappy kry ons kapitaal van vier potensiële bronne: opbrengste uit onderliggende beleggings (dividende, fooie of rente), verkoop van beleggings, toename in lenings of die verkryging van ekwiteitskapitaal. Daarby word kapitaal op vier maniere aangewend: die aangaan van beleggings (nuut of opvolg; organies of nie-organies), terugbetaling van lenings, betaling van dividende of die terugkoop van ons eie aandele. Die volgende tabel gee ‘n uiteensetting van spesifieke oorwegings met betrekking tot ons kapitaaltoewysingsbesluite:
Soos voorheen genoem, volg Remgro ‘n versigtige benadering ten opsigte van lenings by die kern en waar groeigeleenthede, of korporatiewe transaksies, die gebruik van lenings regverdig, sal Remgro daarna kyk om sodanige blootstelling met verloop van tyd verantwoordelik te verminder.
‘n Volhoubare kontantdividend was nog altyd ‘n belangrike kenmerk van Remgro se beleggingsbenadering en daarom bly dit die voorkeurmeganisme om kontant aan aandeelhouers terug te gee.
Remgro sal aandeelterugkope dinamies gebruik in gevalle waar die geleentheid bestaan om aandele te koop teen ‘n marge wat wesentlik laer is as Remgro se interne beoordeling van die waarde van die portefeulje, en wanneer Remgro meer kapitaal beskikbaar het as wat nodig is vir ander prioriteite, waaronder waardetoevoegende groeiinisiatiewe in die portefeulje, die vermindering van lenings en die betaling van dividende.
In opvolging van sy verbintenis om omgewings-, maatskaplike en bestuurs (ESG)-beginsels en korporatiewe volhoubaarheid deel van sy kernstrategie te maak, bly Remgro verbind tot verantwoordelike rentmeesterskap in batebestuur en nuwe beleggings. Die doel is om volhoubare finansiële opbrengste te lewer, terwyl gepoog word om positiewe maatskaplike en omgewingsimpakte te bewerkstellig. Remgro se ESG-beleggingsraamwerk verskaf riglyne vir kapitaaltoewysing in ‘n poging om omgewings-, maatskaplike en ekonomiese verandering regdeur sy ekosisteem te bevorder.
Beleggingsmaatskappy
Remgro streef daarna om onderliggende beleggings in staat te stel om hul groeistrategieë en teikens te bereik wat waarde vir alle belanghebbendes oor die lang termyn skep. Die ondersteuning wat ons bied, ongeag die vlak van beïnvloeding, sluit in:
- Strategiese insette en “denkende vennote”
- Kapitaaltoewysing
- Finansiële kapitaal om groeistrategieë te ondersteun
- Menslike kapitaal by wyse van bestuursondersteuning
- ESG-doelwitte, beginsels en openbaarmakingsriglyne
- Transaksievermoë
- Tesouriedienste (soos benodig)
- Interne oudit
- Risikobestuursdienste (soos benodig)
- Formele en informele netwerke vir wyer geleenthede en voordeel
Ondersteuning aan ons onderliggende beleggings
Terwyl die aangaan van transaksies op houermaatskappyvlak waarde vir aandeelhouers kan toevoeg, is die prestasie van die onderliggende beleggings die belangrikste waarde-dryfveer. Dit is waarom Remgro groot klem daarop plaas om markleiers in sy portefeulje te behou en in vennootskap met daardie spanne en individue opbrengste vir aandeelhouers te lewer.
Beoordeling van sukses
Remgro beoordeel sy vertoning verder aan die hand van die toename in sy intrinsieke netto batewaarde oor tyd. Dit meet die groei in die waarde van die onderskeie onderliggende beleggings, gemeet aan die genoteerde markwaarde of, in die geval van ongenoteerde beleggings, deur die beginsels van IFRS 13: Billike Waarde Meting toe te pas. Verwys na die hoofuitvoerende beampte se verslag hier vir ’n meer gedetailleerde ontleding van Remgro se intrinsieke netto batewaarde, waar kortliks verwys word na die verskille tussen ‘n IFRS 13-waardasie en ‘n transaksie-waardasie.
Ons glo ook dat daar oor die lang termyn ‘n duidelike verband bestaan tussen intrinsieke waarde en kontantvloei, asook opbrengsverdienste, en ons vul ons meting van intrinsieke waarde aan met ‘n bykomende fokus op kontant- en verdienstegenerering as maatstawwe wat objektief gemeet en deursigtig gerapporteer kan word.

