Bydrae tot wesensverdienste 30 Junie
2025
R miljoen
30 Junie
2024
R miljoen
 OUTsurance Group 1 398  1 080
 Business Partners 85 83
1 483 1 163

OUTsurance Group Beperk

(OUTsurance Group)

Effektiewe belang: 30.5%

Profiel: OUTsurance Group is ’n groep vooraanstaande versekerings- en finansiële diensverskaffers wat in twee sleutelmarkte sake dryf. In Suid-Afrika bied OUTsurance motor-, huis-, besigheids-, lewens-, begrafnis- en troeteldierversekering. In Australië verskaf Youi motor-, huis-, besigheids- en verpligte derdepartyversekering (CTP). Die OUTsurance Group het in 2024 ’n derde mark in Ierland betree.


Korporatiewe inligting

Markkapitalisasie op 30 Junie 2025: R121 195 miljoen
Genoteer op: JSE Beperk
Hoofuitvoerende beampte: M C Visser
Remgro genomineerde direkteure: J J Durand, F Knoetze (alternatief)

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R63 miljoen
Opleidingspandering: R97 miljoen
Aantal werknemers: 7 868
BBSEB-status: Vlak 1
Omgewingsaspek: Vlak 1- en 2-uitlatings van 14 993 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 30 Junie
2025
R miljoen
2024
R miljoen
%
verandering
 Inkomste 37 131 31 913 16.4
 Wesensverdienste 4 585 3 525 30.1
 Genormaliseerde wesensverdienste 4 728 3 536 33.7

OUTsurance Group se bydrae tot Remgro se wesensverdienste het met 29.4% tot R1 398 miljoen (2024: R1 080 miljoen) toegeneem. Op ’n genormaliseerde verdienstegrondslag, wat sekere afwykings uitsluit, het OUTsurance Group ’n toename van 33.7% tot R4 728 miljoen (2024: R3 536 miljoen) gerapporteer. Dit is hoofsaaklik te danke aan ’n groter bydrae deur OUTsurance Holdings Beperk (OUTsurance), die belangrikste bate in OUTsurance Group. OUTsurance se genormaliseerde verdienste het met 29.6% tot R4 962 miljoen (2024: R3 830 miljoen) toegeneem. Hierdie bevredigende resultate is ondersteun deur sterk organiese groei, gunstige natuurrampverliese, laer herversekeringskoste en hoër beleggingsinkomste. Die verbeterde verdienste-uitkoms vir die jaar is behaal ondanks die wesentlike toename in die aandeelgebaseerde betalingsuitgawe en die hoër aanvangsverlies wat vir OUTsurance Ierland gerapporteer is.

Die hoër aandeelgebaseerde betalingsuitgawe vir werknemers is gekoppel aan OUTsurance se aandeelprys wat vir die finansiële jaar met 68.7% toegeneem het. Die laaste gedeelte vestig in September 2025 waarna die leeftyd van langtermyn-aansporings na die nuwe voorwaardelike aandeleplan sal skuif. Hierdie plan het ’n laer hefboomfinansieringsverhouding wat ’n bestendiger betalingsuitgawe sal verseker. Die aandeelgebaseerde betalings-uitgawe wat aan die uitgaande skema gekoppel is, was R1 300 miljoen vir die finansiële jaar onder oorsig. Dit is R656 miljoen hoër as die vorige finansiële jaar.

OUTsurance Group is die genoteerde entiteit waarin Remgro ’n belang van 30.5% het.

Die hoofbesigheid van OUTsurance Group is:

OUTsurance Holdings (92.8%) Gereguleerde versekeringsgroep-houermaatskappy
OUTsurance SA (100%) Suid-Afrikaanse korttermyn-versekeringsbedrywigheid, bestaande uit OUTsurance Personal en OUTsurance Business
OUTsurance Life (100%) Suid-Afrikaanse lewensversekeringsbedrywigheid wat onderskrywings- en begrafnisprodukte insluit
Youi group (100%) Australiese korttermynversekeringsbedrywighede, bestaande uit persoonlike, besigheids- en CTP-versekering
OUTsurance Ireland (100%) Nuwe onderneming vir persoonlike eiendoms- en ongevalleversekering in die Republiek van Ierland

OUTsurance SA bestaan uit twee hoofbedryfsafdelings: OUTsurance Personal en OUTsurance Business. Die genormaliseerde verdienste het met 32.4% tot R2 928 miljoen (2024: R2 212 miljoen) toegeneem. Dit is vanweë ’n sterk bedryfsvertoning danksy premie-inflasie, bevredigende organiese groei, gunstige weerstoestande en ’n laer waargenome frekwensie van eise, ondanks ’n uitgawe van R1 105 miljoen wat aan die uitgaande werknemeraandeleskema gekoppel is. OUTsurance SA het ’n algehele groei van onderskeidelik 9.7% en 9.9% in bruto geskrewe en netto verdiende premies gelewer. Die hoër groei in netto verdiende premies is vanweë gunstige herversekeringprysbepaling. Die eiseverhouding het van 49.8% tot 44.6% verbeter, en beide die Personal- en Business-afdelings het beter uitkomste gelewer. Natuurrampeise, gemeet as ’n persentasie van netto verdiende premies, het van 5.9% tot 4.0% afgeneem danksy ’n merkbare afwesigheid van groot katastrofiese gebeurtenisse.

OUTsurance Life se genormaliseerde verdienste het met 66.2% tot R349 miljoen (2024: R210 miljoen) toegeneem danksy goeie momentum in beide die Direct- en Funeral-afdelings. Ná ’n tydperk van strategiese vereenvoudiging het die besigheid se verbeterde kostedoeltreffendheid groei in bedryfswins bevorder. OUTsurance Life het ’n beduidende bykomende koste aangegaan wat aan die uitgaande werknemer-aandeleskema se betalingsuitgawe van R132 miljoen (2024: R64 miljoen) gekoppel word. Indien die hoër betalingsuitgawe geïgnoreer word, het OUTsurance Life ’n marge van 19.8% vergeleke met 12.5% in die vorige jaar behaal wat waarde van nuwe besigheid (VNB) betref. Met die hoër betalingsuitgawe ingesluit, is ’n VNB-marge van 14.7% vergeleke met 9.0% in die vorige jaar behaal. Die laer bedryfsuitgawe-profiel het tot verbeterde marges gelei.

Die Youi group (Youi) se genormaliseerde verdienste het met 45.5% tot R2 290 miljoen (2024: R1 574 miljoen) toegeneem danksy indrukwekkende omsetgroei en bedryfsprestasie vir die jaar onder oorsig. Die sterk premiegroei word toegeskryf aan die Direct-boek waar Youi, bykomend tot die impak van voortgesette premie-inflasie, goeie organiese groei gelewer het. Premie-inflasie het in die tweede helfte van die jaar omgekeer en neem tans af in ooreenstemming met huidige inflasietendense. Youi het gedurende die huidige jaar sy deelname aan die makelaarsverspreidingskanaal BZI beëindig. Benewens premie-inflasie is die gesonde bedryfswinsgroei deur sterk organiese groei en laer eise-ervaring behaal. Ondanks sikloon Alfred, ’n hewige tropiese sikloon wat die suidooste van Queensland en Nieu-Suid-Wallis se noordkus in Australië getref het, was Youi se natuurrampeise as ’n persentasie van netto verdiende premies 1.4% laer as in die vorige finansiële jaar. Bruto geskrewe premie het met 19.7% verhoog in randwaarde ten spyte van die versterking van die rand met 4.2% teen die Australiese dollar. In Australiese dollarterme was die groei 25.1%. Die eiseverhouding het van 61.1% tot 58.5% afgeneem vanweë gunstige weerstoestande en ontwikkeling van aanspreeklikheidseise in die vorige jaar.

OUTsurance Ierland, wat amptelik in Mei 2024 geloods is, het goeie momentum in die Ierse mark behaal en R269 miljoen bruto geskrewe premie in sy eerste volledige bedryfsjaar gegenereer. Genormaliseerde verliese het tot R402 miljoen (2024: genormaliseerde verlies van R180 miljoen) toegeneem. Die bedryfsverlies en netto eisuitgawe word verwring deur die vereiste om aan ’n beswaarde verlies rekenskap te gee. Die beswaarde verliesvoorsiening word deur IFRS 17 vereis vanweë die besigheid se kleiner skaal. Namate die besigheid uitbrei, sal die beswaarde verliesverhouding verklein. Die bedryfsverlies, wat beswaarde verliese uitsluit, het toegeneem vanweë ’n toename in bedryfskoste wat met bemarking en bedryfsinfrastruktuur verband hou.

Business Partners Beperk

(Business Partners)

Effektiewe belang: 45.0%

Profiel: Business Partners se hoofbedryf is om kapitaal, kennis en vaardigheid in lewensvatbare klein- en mediumgrootte ondernemings (KMO’s) te belê. Die maatskappy belê in KMO’s deur befondsing, ondersteuning en mentorskap aan entrepreneurs te verskaf.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: R3 162 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte: J Lang
Remgro genomineerde direkteure: C W Ceasar, M Lubbe, N J Williams

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-/Opleidingspandering: R7 miljoen
Aantal werknemers: 274
BBSEB-status: Vlak 1
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 31 Maart
2025
R miljoen
2024
R miljoen
%
verandering
 Omset 752 739 1.8
 Bedryfswins 376 363 3.6
 Wesensverdienste 189 188 0.5

Business Partners het ’n Maart-jaareinde en gevolglik is sy resultate vir die 12 maande tot 31 Maart 2025 in Remgro se resultate vir die jaar onder oorsig geëkwiteer. Wesensverdienste toeskryfbaar aan Remgro vir die jaar onder oorsig het R85 miljoen (2024: R83 miljoen) bedra. Die toename in Remgro se toeskryfbare wesensverdienste is danksy bykomende Business Partners-aandeleverkrygings gedurende die jaar.

Business Partners se wesensverdienste vir die 12 maande geëindig 31 Maart 2025 het R189 miljoen (2024: R188 miljoen) bedra, terwyl die wins toeskryfbaar aan aandeelhouers met 0.7% van R274 miljoen tot R276 miljoen toegeneem het.

Business Partners se leningsportefeulje het ondanks die ingewikkelde makro-ekonomiese omgewing marginale groei getoon. Hierdie prestasie is hoofsaaklik danksy die aansienlike verbetering in waarde en hoeveelheid leninguitbetalings en sterk vereffenings en invorderings van kliënte.

Business Partners se eiendomsportefeulje het met 8.4% toegeneem, hoofsaaklik vanweë verkrygings van R74 miljoen en billike waarde wins van R75 miljoen. Hierdie prestasie is grootliks gedryf deur toenames in verhurings- en verhalingstariewe, verbeterde invorderings van verhuurders en minder leë ruimtes.

Netto omset vir eiendom van R165 miljoen (2024: R164 miljoen) het op soortgelyke vlakke as die vorige jaar gebly. Die toename in huurinkomste en -verhalings is ondersteun deur verbeterde tariewe vir leë ruimtes teen 5.8% (2024: 9.1%). Verhogings in bedryfsuitgawes wat inflasiekoerse oorskry het, veral versekeringspremies en munisipale eiendomsbelasting, het egter trae netto omset vir die jaar beteken.

Business Partners se beleggingsinkomste en wins het R134 miljoen (2024: R132 miljoen) bedra en bestaan hoofsaaklik uit billike waarde wins op beleggingseiendomme en wins op die verkoop van ongenoteerde beleggings (aandeelhoudings in geassosieerde maatskappye). Die billike waarde wins op die beleggingseiendomsportefeulje het aansienlik toegeneem, vanaf R44 miljoen in 2024 tot R75 miljoen in 2025, hoofsaaklik vanweë die verkoop van groter eiendomme wat in die vorige finansiële jaar swakker presteer het, verbeterde huurinkomste en -verhalings en ’n afname in die aantal leë ruimtes. Die wins op die verkoop van ongenoteerde beleggings van R35 miljoen het vanaf R46 miljoen in die vorige jaar afgeneem en word deur onderliggende beleggings se balansstate, markpryse vir bates en ooreengekome aandeelverkope beïnvloed. Ná ’n balansering van die beleggingsportefeulje gedurende die vorige jaar, wat die verkoop van groter, swakker-presterende eiendomme behels het, het wins op die verkoop van beleggingseiendomme tot R1 miljoen (2024: R19 miljoen) afgeneem.

Business Partners se toekomstige bedryfsomgewing is steeds onseker weens huidige geopolitieke spanning en die potensiële impak daarvan op rentekoerse en ander ekonomiese aanwysers. Die maatskappy bly, ondanks hierdie uitdagings, daartoe verbind om sy beleggingseiendomsportefeulje uit te brei, sy aanbieding te versterk en in KMO’s te belê. Business Partners verwag ’n toename in uitgawes namate die maatskappy sy strategiese doelwitte nastreef, en in tegnologie en digitalisasie belê om sy reikwydte uit te brei, meer KMO’s ondersteun en sy diensaanbod verhoog. Business Partners se gesonde balansstaat met lae skuldvlakke posisioneer die maatskappy om bykomende befondsing vir belegging in mense en tegnologie te verkry. Dit sal die maatskappy se vermoë bevorder om meer KMO’s te finansier en uit te brei.