VOLHOUBAARHEIDSVERSLAG
MIV/VIGS-BELEID
Uit ’n beleggingshouermaatskappy se perspektief bestaan die risiko verbonde aan MIV/vigs uit twee elemente, naamlik:
Groeprisiko
Gegewe die potensiële uitwerking van MIV/vigs op markte, menslike kapitaal, die koste van indiensneming en die bedryfsprosesse van ondernemings waarin belê is, word hierdie risiko binne die strukture van die onderskeie maatskappye bestuur.
Die vordering van hierdie beleid en strategieë word aan die hand van bestepraktyk-standaarde gemonitor.
Maatskappyrisiko
Remgro en M&I het ’n formele MIV/vigs-beleid en is verbind tot daadwerklike stappe om die pandemie, en die besigheidsrisiko’s daaraan verbonde, te bestuur. Die beleid maak onder andere vir die volgende voorsiening:
- Dat alle wetlike verpligtinge met betrekking tot MIV/vigs nagekom word
- Dat daar op geen wyse teen werknemers of potensiële werknemers gediskrimineer word op grond van hul MIV-status nie
- Dat inligting oor die MIV-status van werknemers streng vertroulik gehanteer word
- Dat algemene maatreëls ingestel en bestuur word om toevallige besmetting te voorkom
Remedi Mediese Hulpskema, waaraan die meeste M&I-personeel behoort, beskik oor ’n bestuursplan vir MIV/vigs waaraan werknemers volgens hul keuse deelneem.