KORPORATIEWE BESTUUR
Remgro onderskryf die waardes van, en is ten volle verbind tot, die King II-verslag se Kode van Korporatiewe Praktyke en Gedrag. Al die maatskappy se genoteerde filiale en geassosieerde maatskappye onderskryf die Kode van Korporatiewe Praktyke en Gedrag
waar toepaslik.
Die maatskappy is n beleggingshouermaatskappy. Verwysing na die maatskappy mag ook beteken die maatskappy en sy volfiliale. Elke onderneming waarin die maatskappy belê, het sy eie bestuurstruktuur. Om sy verantwoordelikheid ten opsigte van risikobestuur na te kom, het Remgro die instandhouding van n wyer deurlopende hersieningsprogram vir risikobestuur goedgekeur ten einde n samehangende benadering in die groep te verseker.
Die Remgro raad is ook n voorstander van goeie korporatiewe bestuur by al die ondernemings waarin die maatskappy belê. Effektiewe korporatiewe bestuur vorm deel van die beoordelingskriteria van Remgro se beleggingsplan. Dit word gemonitor deur middel van Remgro se nie-uitvoerende verteenwoordiging in daardie direksies.
Die Global Reporting Initiative (GRI) Boundary Protocol is gebruik as riglyn vir die opstel van hierdie verslag. Openbaarmaking is beperk tot ondernemings wat n wesentlike invloed op Remgro se volhoubaarheidsprestasie kan hê en ondernemings waar Remgro beheer uitoefen oor finansiële en bedryfsaangeleenthede, tensy daardie ondernemings self die relevante inligting in hul jaarverslae publiseer.
Hieronder volg die vernaamste aspekte van die maatskappy se korporatiewe bestuur.
DIREKSIE-HANDVES
Die direksie het n formele handves aanvaar en geïmplementeer om:
- die verantwoordelikhede, funksies en samestelling van die direksie te identifiseer, te omskryf en te boekstaaf, en
- as verwysing te dien vir nuwe direkteure.
Die handves word deur alle direkteure van Remgro Beperk onderskryf en is by die geregistreerde adres beskikbaar ter insae.
Na besinning oor die onderstaande is die direksie tevrede dat die vereiste handelinge, soos vervat in die handves, in die jaar onder oorsig uitgevoer is.
SAMESTELLING VAN DIREKSIE
Remgro het n ten volle funksionele direksie wat die groep lei en beheer. Op 31 Maart 2007 het die direksie uit vyf uitvoerende en tien nie-uitvoerende direkteure, waarvan vyf onafhanklik is, bestaan.
Die funksies van die voorsitter en die hoofuitvoerende beampte is geskei. Die voorsitter is n nie-uitvoerende direkteur, maar is nie onafhanklik nie.
n Lys van direkteure verskyn hier.
ROL EN VERANTWOORDELIKHEID
Die direksie is uiteindelik verantwoordelik vir die strategiese rigting, risiko-aptyt, prestasie en sake van die maatskappy. In sy rigtinggewende funksie aan die groep verskaf die direksie leierskap, integriteit en oordeel, gegrond op billikheid, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid en deursigtigheid, ten einde die voortgesette voorspoed van die groep te verseker.
Na die goedkeuring van bedryfs- en beleggingsplanne en strategieë, bemagtig die direksie die uitvoerende bestuur om dit te implementeer en tydige, akkurate en toepaslike terugvoering te gee oor die vordering wat gemaak word.
Die direksie bly aanspreeklik vir die algehele sukses van goedgekeurde strategieë, gegrond op waardes, doelwitte en die vereistes van belanghebbendes en vir die proses en beleid wat die effektiwiteit van risikobestuur en interne beheer verseker. Die direksie is die sentrale punt van die groep se korporatiewe bestuur en dit is sy verantwoordelikheid om toe te sien dat aan alle toepaslike wette, regulasies en kodes van beste sakepraktyke voldoen word.
Die direksie is verantwoordelik vir die monitering van die groep se bedryfs- en beleggingsprestasie, wat finansiële en nie-finansiële aspekte insluit. Dit is ook verantwoordelik om toe te sien dat prosedures en praktyke in plek is om te verseker dat die maatskappy se bates en reputasie beskerm word.
Die direksie het die volgende subkomitees daargestel om hom te help om sy pligte en verantwoordelikhede na te kom:
- Die uitvoerende komitee, bestaande uit al vyf uitvoerende direkteure, vergader gereeld tussen direksievergaderings om sake te hanteer wat deur die direksie gedelegeer is.
Die direksie is verantwoordelik vir die aanstelling en oriëntering van nuwe direkteure. Nie-uitvoerende direkteure word aangestel op grond van hul wyer kennis en ondervinding en van hulle word verwag om effektief aan besluitneming en die formulering van strategieë en beleid deel te neem.
Uitvoerende direkteure dra hul insig van die dag-tot-dag-bedrywighede by, wat die direksie in staat stel om doelwitte te identifiseer, rigting te gee en die lewensvatbaarheid te bepaal van strategieë wat voorgestel word. Hierdie direkteure is oor die algemeen verantwoordelik vir die implementering van alle bedryfsbesluite.
VERGADERINGS EN KWORUM
Die statute van die maatskappy vereis dat drie direkteure n kworum vorm vir direksievergaderings. n Meerderheid van lede, met verkieslik n beduidende teenwoordigheid van nie-uitvoerende direkteure, word vereis vir komiteevergaderings.
Die direksie vergader minstens ses keer per jaar. Die oudit-en-risikokomitee kom minstens vier keer per jaar bymekaar, terwyl die vergoedings-en-nominasiekomitee minstens een keer per jaar vergader.
WESENTLIKHEID EN GOEDKEURINGSRAAMWERK
Sake van wesentlike of strategiese aard, wat n invloed op die reputasie van die maatskappy mag hê, word na die direksie verwys. Ander sake word, soos opgedra deur die direksie, op senior bestuursvlak aangespreek.
Die notules van al die komiteevergaderings word aan direksielede gestuur. Sake wat die direksie se aandag moet geniet of n direksiebesluit vereis, word uitgelig en as agendapunte vir die volgende direksievergadering ingesluit.
VERGOEDINGSBEGINSELS
Die maatskappy se beleid, wat as riglyn dien vir die vergoeding van alle direkteure en senior bestuur, het die volgende ten doel:
- Die behoud van die dienste van bestaande direkteure en senior bestuur
- Die werwing van potensiële direkteure en senior bestuurders
- Die verskaffing van vergoeding wat billik en regverdig is aan direkteure en senior bestuur
- Om te verseker dat geen diskriminasie plaasvind nie
- Die erkenning en aanmoediging van prestasie wat buitengewoon is en waarde toevoeg
- Om te verseker dat vergoedingstrukture in ooreenstemming is met die maatskappy se langtermynbehoeftes
- Beskerming van die maatskappy se regte deur dienskontrakvoorwaardes
In ooreenstemming met hierdie doelwitte evalueer die vergoedings-en-nominasiekomitee jaarliks die bydrae van elke direkteur en senior bestuurslid en word jaarlikse salarisaanpassings daarvolgens bepaal. Vir hierdie doel word ook salarisopnames wat deur onafhanklike organisasies gemaak is, in ag geneem.
PLIGTE VAN DIREKTEURE
Die Maatskappywet lê direkteure sekere verpligtinge op en bepaal dat hulle die nodige omsigtigheid en vaardigheid moet aanwend in die uitvoering van hul pligte. Om te verseker dat dit gebeur, word bestepraktyk-beginsels, soos vervat in die King II-verslag oor Korporatiewe Bestuur vir Suid-Afrika, toegepas.
Die direksie is ook verantwoordelik vir die formulering van die maatskappy se kommunikasiebeleid en om seker te maak dat woordvoerders van die maatskappy dit nakom. Hierdie verantwoordelikheid sluit duidelike, deursigtige, gebalanseerde en waarheidsgetroue kommunikasie aan aandeelhouers en relevante belanghebbendes in.
Na evaluasie ingevolge die onderskeie handveste is die direkteure van mening dat die raad en sy subkomitees alle verantwoordelikhede nagekom het.
KONFLIKTE
Meganismes is in plek om enige potensiële belangebotsing raak te sien, daarop te reageer en dit te bestuur. Direkteure onderteken minstens een keer per jaar n verklaring dat hulle nie bewus is van enige onverklaarde botsing van belange wat mag bestaan vanweë hulle belang in, of verbintenis met enige ander maatskappy nie. Daarbenewens verklaar die direkteure hul belange in kontrakte wat vir die maatskappy se besigheid van belang is en neem hulle nie deel aan die stemproses oor die aangeleenthede nie.
Alle inligting wat direkteure in die uitvoering van hulle pligte bekom en wat nie openbaar gemaak word nie, word as vertroulik beskou en direkteure mag nie sulke inligting gebruik, of skyn te gebruik, vir persoonlike gewin of tot voordeel van derde partye nie.
Van alle direkteure van die maatskappy word verwag om die Remgro Gedragskode en die voorskrifte van die JSE Beperk (JSE) insake binne-inligting, transaksies en die openbaarmaking van transaksies na te kom.
MAATSKAPPYSEKRETARIS EN PROFESSIONELE ADVIES
Alle direkteure is geregtig daarop om onafhanklike professionele advies oor die sake van die groep te bekom op koste van die maatskappy.
Alle direkteure het onbeperkte toegang tot die dienste van die maatskappysekretaris wat moet toesien dat behoorlike korporatiewe bestuursbeginsels nagekom word en is daarvoor aan die direksie verantwoordelik. Direksie-oriëntering of -opleiding word gedoen, soos nodig geag.
LOPENDE SAAK
Die direksie oorweeg minstens een keer per jaar die lopendesaak-status van die groep aan die hand van die volgende:
- Netto beskikbare fondse en die likiditeit daarvan
- Die groep se restante risikoprofiel
- Wêreldekonomiese gebeure
- Die volgende jaar se strategiese sakeplan, begrotings en kontantvloeiberamings
- Die groep se huidige finansiële posisie
DIENSMAATSKAPPY
Sedert die totstandkoming van Remgro Beperk en VenFin Beperk in 2000 is bestuurs- en ondersteunende dienste deur M&I Bestuursdienste (Edms) Beperk aan Remgro en VenFin en hul groepmaatskappye gelewer. Nóg Remgro nóg VenFin het enige finansiële belang in M&I Bestuursdienste gehad.
Die diensooreenkomste met Remgro en VenFin het bepaal dat fooie nie meer as 0.463% van hul markkapitalisasie sou wees nie. In die vorige jaar tot 31 Maart 2006 het Remgro fooie ten bedrae van R81 miljoen betaal wat 0.137% van markkapitalisasie was.
Gedurende die afgelope finansiële jaar het n filiaal van Remgro, genaamd M&I Groepsdienste Beperk (nuwe M&I), die besigheid van M&I Bestuursdienste oorgeneem en verhaal van sy kostes by wyse van fooie vanaf groepmaatskappye aan wie dienste gelewer word. n Ooreenkoms is op n onderhandelde basis ook met VenFin aangegaan waarvolgens sekere ondersteunende en administrasiedienste aan die VenFin groep van maatskappye gelewer word teen fooie wat jaarliks beding word.
Die netto koste van die nuwe M&I maak deel uit van die korporatiewe koste van Remgro en is vergelykbaar met die fooie wat Remgro in die verlede aan M&I Bestuursdienste betaal het. Verwys ook aantekening 19.
RISIKOBESTUUR EN INTERNE BEHEER
In die bepaling van strategiese doelwitte het die direksie seker gemaak dat al die risikos verstaan word wat inherent is tot die maatskappy se beleggingsportefeulje met die oog daarop om volhoubare winste en groei te maksimaliseer. Hierdie risikos word voortdurend gemeet aan die risiko-aptyt, soos deur die direksie bepaal.
Die geïdentifiseerde risikokategorieë is in breë trekke soos volg:
- Prestasierisiko hou verband met risikos wat deur die direksie bestuur word en sluit strategiese risiko, geleentheidsrisiko, reputasierisiko, likiditeitsrisiko, asook risikos ten opsigte van korporatiewe bestuur, sosiale verantwoordelikheid en die verhouding met belanghebbendes in.
- Beleggingsrisiko verwys na risikos wat verband hou met bestaande beleggings. Die direksie het die verantwoordelikheid vir beleggingsrisikobestuur aan die direksies van die onderskeie maatskappye waarin belê word, gedelegeer. Die Remgro-direksie monitor dat hierdie gedelegeerde verantwoordelikhede nagekom word deur eie lede in n nie-uitvoerende hoedanigheid in daardie direksies te benoem.
- Bedryfsrisiko sluit in bedryfsdoeltreffendheid, die beveiliging van bates, nakoming van relevante wette en regulasies, betroubaarheid van verslae, effektiewe bedryfsrisikobestuur, menslike hulpbronne-risiko, tegnologierisiko, sakevoortsetting en risikobefondsing.
Die direksie het n omvattende risikobestuurstelsel opgestel en geïmplementeer wat voorsiening maak vir volgehoue risikovasstelling en -beoordeling en die vaslegging van interne beheer.
Die ondernemingswye risikobestuurstelsel van toepassing op die maatskappy is soos volg:
- Groeprisiko-analise
Die doel van die groeprisiko-analise is om die groep se gekonsolideerde risikoprofiel te herbevestig en op datum te hou. Dit verseker dat die risikoprofiel, per belegging en in die geheel, binne die risiko-toleransie bly wat die direksie bepaal het en dat tydig op nuwe risiko’s gereageer word.
- Aktiwiteitsrisikowaardering
Die aktiwiteitsrisikowaardering verfyn verder die maatskappy se risikowaardering op hoofaktiwiteitsvlak met die oog daarop om gedetailleerde doelwitte te bereik en toe te sien dat risikobestuursinisiatiewe voldoende voorrang geniet en toepaslik befonds word.
- Bedryfsrisikobestuur
Die direksie beïnvloed die beheeromgewing deur die daarstelling van etiese waardes en ’n organisasiekultuur en sien toe dat bestuurstyle, gedelegeerde magte, sakeplanne en bestuursbevoegdheid voldoende en doeltreffend is.
Bedryfsrisiko’s word hoofsaaklik deur interne beheer bestuur. Dit is ’n proses wat ontwerp is om redelike gerusstelling te verskaf ten opsigte van die konstante bereiking van organisasie-doelwitte en die beperking van verlies of wanvoorstelling binne aanvaarbare perke. Die mate waarin die maatskappy se risikokoste daal, is die maatstaf waaraan die doeltreffendheid van risikobestuur gemeet word.
Bestuurstrukture is daargestel om na sekere hoofrisiko-aktiwiteite om te sien, insluitende tesourie, veiligheid, gesondheid, omgewing, batebeskerming, belasting en risikobefondsing.
- Tesourie
Gegewe die aard en omvang daarvan, word die beheer van tesourie-risiko as uiters belangrik beskou. Die sentrale tesourie-afdeling van M&I Groepsdienste Beperk se verantwoordelikheid is om, ooreenkomstig ’n geskrewe mandaat, die risiko’s verbonde aan opbrengskoerse en nakomingsvereistes, likiditeit, beleggings-, finansierings- en valutatransaksies te bestuur.
’n Tesouriekomitee, saamgestel uit genomineerde lede van die risiko-en-ouditkomitee en senior bestuur, is verantwoordelik vir die daarstelling van beleid en prosedures, asook duidelik gedefinieerde bevoegdheidsvlakke en gee gereelde terugvoering aan die direksie. Die tesouriebeleid verseker ook dat ’n maksimum opbrengs op kontantreserwes verdien word met inagneming van beleggings- en kredietrisiko’s en die groep se likiditeitsvereistes.
V&R Management Services, ’n maatskappy geregistreer en bestuur in Switserland, lewer tesouriedienste aan R&R Holdings en Remgro Investments (Jersey). Die maatskappye het dienskontrakte wat V&R se pligte en verantwoordelikhede uitspel met verwysing na tesouriebeleide wat deur hulle direksies goedgekeur is en deur hulle gemonitor word. V&R se aktiwiteite en risikobestuurspraktyke word jaarliks onderwerp aan onafhanklike oudits. Remgro en VenFin hou elkeen ’n 50%-belang in V&R.
- Risikobefondsing
Risikobefondsing word beskou as ’n kapitaalkoste-aktiwiteit wat daarop gemik is om die maatskappy se blootstelling aan potensiële risiko’s van rampspoedige omvang of risiko’s wat nie kostedoeltreffend bestuur kan word nie, te verminder.
- Geïntegreerde gerusstelling
Die direksie maak nie alleen staat op die beheerde neergelegde proses nie, maar ontvang en oorweeg ook gereeld verslae oor die doeltreffendheid van risikobestuursfunksies. Die oudit-en-risikokomitee verseker dat die gerusstellingsfunksies van bestuur, asook interne en eksterne oudit, voldoende geïntegreer is.
Die onderskeie verskaffers van geïntegreerde gerusstelling aan die direksie sluit die volgende in:
- Die uitvoerende komitee en senior bestuur oorweeg die maatskappy se risikostrategie en -beleid en die doeltreffendheid daarvan.
- Die oudit-en-risikokomitee oorweeg die geskiktheid van risikobestuurstrategieë, stelsels van interne beheer, risikoprofiel, wetsvoldoening, interne en eksterne ouditverslae en beoordeel ook die onafhanklikheid van die ouditeure, die omvang en aard van hulle verbintenisse, dekking en bevindinge. Hierdie komitee kyk ook na die vlak van openbaarmaking in die jaarverslae en die toepaslikheid van beleid deur bestuur aanvaar, die etiekregister en ander gerapporteerde verliessituasies. Die direksie beoordeel die werking van die oudit-en-risikokomitee aan die hand van sy handves.
INTERNE OUDIT
Die maatskappy se interne ouditfunksie word vervul deur M&I Groepsdienste Beperk se risikobestuurs- en interne ouditafdeling. Dit is ’n effektiewe, onafhanklike waarderingsfunksie wat ’n risikogebaseerde ouditbenadering volg in ooreenstemming met die Instituut vir Interne Ouditeure (IIO) se definisie van interne oudit en wat vervat is in ’n handves deur die direksie goedgekeur. Die hoof van hierdie afdeling het direkte toegang tot die voorsitter van die oudit-enrisikokomitee, sowel as die voorsitter van die groep.
EKSTERNE OUDIT
Die maatskappy se eksterne ouditeure woon alle vergaderings van die oudit-en-risikokomitee by en het direkte toegang tot die voorsitter van die oudit-en-risikokomitee. Hul ouditdekking is voldoende geïntegreer met die interne ouditfunksies sonder dat die omvang daarvan enigsins beperk word.
Ander dienste wat deur die ouditeursfirma verskaf word, sluit hoofsaaklik belastingaangeleenthede in en dit word hanteer deur ’n afdeling wat onafhanklik van die ouditvennote is. Onafhanklikheid word verder verseker deur aanstellingsterme.
Die direkteure is van mening dat, op grond van navrae wat gedoen is en die verslae wat van die interne en eksterne ouditeure ontvang is, die risikobestuursprogramme en interne beheerstelsels van die maatskappy en sy afhanklike filiale in die tydperk onder oorsig doeltreffend was. In hierdie verband word Tsb Sugar en Wispeco as onafhanklik beskou.
Die oudit-en-risikokomitee is ook tevrede dat die ouditkomitees van die maatskappy se onafhanklike filiale en geassosieerde maatskappye behoorlik funksioneer.
VERHANDELINGS IN SEKURITEITE
Ingevolge die noteringsvereistes van die JSE het die maatskappy ’n gedragskode met betrekking tot binnehandel aanvaar. Gedurende ’n geslote tydperk word direkteure en aangewese werknemers verbied om handel te dryf in die maatskappy se aandele. Buite geslote tydperke mag direkteure en aangewese werknemers slegs met toestemming van die voorsitter of besturende direkteur in die maatskappy se aandele handel dryf. Die geslote tydperk duur vanaf die sluiting van die finansiële verslagtydperk tot die publikasie van die resultate vir daardie tydperk. Bykomende geslote tydperke mag van tyd tot tyd verklaar word indien omstandighede dit vereis.
BYWONING VAN VERGADERINGS
|
|
|
|
|
|
|
|
Oudit-en- |
Vergoedings-en- |
|
|
Uitvoerende |
risiko- |
nominasie- |
|
Direksie |
komitee |
komitee |
komitee |
Aantal vergaderings gehou |
6 |
7 |
4 |
2 |
|
|
|
|
|
Bywoning deur direkteure |
|
|
|
|
J P Rupert |
6 |
|
|
2 |
M H Visser |
6 |
7 |
|
2 |
P E Beyers |
6 |
|
|
|
W E Bührmann |
6 |
7 |
|
|
G D de Jager(1) |
5 |
|
2 |
1 |
J W Dreyer |
5 |
|
|
|
D M Falck |
6 |
7 |
4 |
|
P K Harris |
5 |
|
|
2 |
E de la H Hertzog |
5 |
|
|
|
J Malherbe(2) |
3 |
|
|
|
J F Mouton(3) |
2 |
|
2 |
1 |
J A Preller (Mrs) |
6 |
7 |
|
|
D Prins |
5 |
|
4 |
|
M Ramos (Mej)(4) |
1 |
|
|
|
F Robertson |
6 |
|
4 |
2 |
T van Wyk |
6 |
7 |
|
|
(1) |
Mnr G D de Jager was vir ses maande lid van die oudit-en-risikokomitee sowel as die vergoedings-en-nominasiekomitee. |
(2) |
Mnr J Malherbe is op 11 Oktober 2006 as direkteur van hierdie maatskappy aangestel en het sedertdien al die vergaderings bygewoon. |
(3) |
Mnr J F Mouton het op 11 Oktober 2006 as direkteur van hierdie maatskappy uitgetree. |
(4) |
Mej Ramos is op 26 Maart 2007 as direkteur van hierdie maatskappy aangestel. |