% myURL = request.servervariables("URL") %>
| 2007 | 2006 | |
| R miljoen | R miljoen | |
| R&R Holdings | 2 369 | 5 795 |
Daar was nie ’n verandering in die aantal BAT-aandele wat R&R hou nie. Die positiewe uitwerking van BAT se volgehoue aandeleterugkoopprogram het egter R&R se belang in BAT tot 29.4% op 31 Maart 2007 laat toeneem (2006: 28.9%).
R&R, Remgro, Richemont en BAT is partye tot ’n Stilstandsooreenkoms (die ooreenkoms) wat oorspronklik ten tye van die samevoeging van Rothmans International en BAT in 1999 aangegaan is. Ingevolge hierdie ooreenkoms word BAT nie toegelaat om voort te gaan met sy aandeleterugkoopprogram sonder R&R, Remgro en Richemont se goedkeuring wanneer laasgenoemde drie se gesamentlike belang 30% bereik nie. Teen hierdie vlak vereis die Londense Oornamekode normaalweg dat ’n kontantaanbod gemaak word vir die aandele in BAT wat R&R nog nie reeds besit nie. Die ooreenkoms beskerm dus vir R&R en sy aandeelhouers teen die verpligting om ’n aanbod vir BAT te maak.
Op 1 Maart 2007 het BAT aangekondig dat R&R, Remgro en Richemont se goedkeuring verlang word om BAT toe te laat om voort te gaan met sy aandeleterugkoopprogram, ten spyte daarvan dat BAT glo dat die 30% limiet binne 12 tot 15 maande bereik sal word. Om R&R, Remgro en Richemont te vrywaar van enige verpligting om ’n kontantaanbod te maak vir die aandele wat hulle nog nie reeds besit nie, het BAT aangebied om goedkeuring van sy onafhanklike aandeelhouers te verkry dat daar van hierdie vereiste, ingevolge die Londense Oornamekode, afstand gedoen word.
R&R, Remgro en Richemont het ingestem tot BAT se voorstel en in ruil vir hul goedkeuring het hulle ’n onderneming van BAT gevra, en verkry, dat indien so ’n versoek gerig word, BAT aansoek sal doen vir ’n sekondêre notering op die JSE Beperk vir sy gewone aandele, onderhewig daaraan dat alle regulerende goedkeurings verkry word. Op 26 April 2007 het die onafhanklike aandeelhouers BAT se voorstel goedgekeur en dat daar van die vereiste, ingevolge die Londense Oornamekode, afstand gedoen word.
R&R se belang in BAT se verdienste vir die twaalf maande tot 31 Maart 2007 is gebaseer op BAT se resultate vir die jaar geëindig
31 Desember 2006 plus die resultate vir die kwartaal tot 31 Maart 2007 minus die resultate vir die kwartaal tot 31 Maart 2006.
Remgro se deel van R&R se wesensverdienste bestaan uit 35.46% van R&R se deel van die toeskryfbare inkomste van BAT en sy belang in R&R se nie-BAT wins (dit sluit inkomste toeskryfbaar aan sy belegging in die “2006” deelnemende sekuriteite wat gedurende Maart 2006 deur R&R uitgereik is in).
| 2007 | 2006 | |
| £ miljoen | £ miljoen | |
| Toeskryfbare inkomste van BAT voor kapitale en nie-herhalende items | 2 077 | 1 942 |
| R&R se deel van die toeskryfbare inkomste van BAT: | ||
| – 29.06% tot 29.40% (2006: 28.56% tot 28.89%) | 607 | 558 |
| R&R se nie-BAT inkomste | 9 | 29 |
| R&R se wesensverdienste vir die jaar geëindig 31 Maart | 616 | 587 |
| Remgro se belang daarin: | ||
| – 35.46% van R&R se deel van die toeskryfbare inkomste van BAT | 215 | 198 |
| – deel van R&R se nie-BAT inkomste | 8 | 10 |
| 223 | 208 | |
| R miljoen | R miljoen | |
| Omgereken teen ’n gemiddelde R/£-koers van 13.2898 (2006: 11.4050) | 2 964 | 2 369 |
Die onderstaande kommentaar is op die BAT-jaarverslag vir die jaar geëindig 31 Desember 2006 gebaseer.
BAT se aangesuiwerde verwaterde verdienste per aandeel, wat ’n goeie aanwyser van sy onderliggende vertoning is, het met 10% tot 98.12 pennies per aandeel toegeneem danksy die verbeterde onderliggende bedryfsvertoning van beide filiale en geassosieerdes, ’n verminderde effektiewe belastingkoers, asook die voordeel van die aandeleterugkoopprogram. Dit is teengewerk deur hoër netto finansieringskoste en minderheidsbelange.
Sigaretverkoopvolumes van BAT se filiale het in die jaar tot 31 Desember 2006 met 2% tot 689 miljard op ’n werklike en vergelykbare grondslag toegeneem. Netto inkomste het met 5% op ’n werklike en vergelykbare grondslag gestyg. Hierdie volume- en inkomstegroei het oor ’n wye spektrum van die mark voorgekom. Die vier voorste wêreldhandelsmerke (Kent, Dunhill, Lucky Strike en Pall Mall) het hul indrukwekkende vertoning voortgesit, met ’n groei van 17% in volume. Hierdie handelsmerke verteenwoordig nou meer as 21% van BAT se volumes van filiale, terwyl internasionale handelsmerke saam 40% van die totaal uitmaak.
BAT se bedryfswins was 8% hoër op £2 622 miljoen, of 7% op ’n vergelykbare grondslag, met die Asië-Pasifiese, Latyns-Amerikaanse en Afrika- en die Midde-Ooste streke as beste bydraers.
In Europa was die wins effens laer op £781 miljoen vanweë die baie mededingende handelstoestande in verskeie markte, asook die insluiting van die eenmalige voordeel in Italië in die vergelykende tydperk. Met uitsluiting van hierdie voordeel, het die wins met
£9 miljoen toegeneem, met sterk groei in Rusland, Hongarye, Italië en Frankryk, wat deels geneutraliseer is deur dalings in Spanje, Pole, Duitsland, Nederland en die Oekraïne. Op ’n vergelykbare grondslag was streekvolumes 2% hoër op 248 miljard, met groei in Rusland, Frankryk, Spanje en Hongarye, deels geneutraliseer deur dalings in die Oekraïne, Italië en Duitsland.
In die Asië-Pasifiese gebied het die streekswins met £85 miljoen tot £616 miljoen toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van die goeie vertonings in Australasië, Maleisië, Suid-Korea en Pakistan. Op 142 miljard was volumes 4% hoër. Sterk stygings in Pakistan, Bangladesj, Suid-Korea en Viëtnam is deels geneutraliseer deur dalings in Maleisië en Indonesië.
In Latyns-Amerika het die wins met £81 miljoen tot £611 miljoen gestyg vanweë goeie vertonings regoor die gebied, tesame met ’n sterker gemiddelde wisselkoers in Brasilië. Volumes het in die meeste markte gegroei en dit het tot ’n algehele toename van 2% tot 153 miljard gelei.
Wins in Afrika en die Midde-Oostestreek het met £34 miljoen tot £468 miljoen gegroei, hoofsaaklik aangedryf deur Suid-Afrika, Nigerië, die Midde-Ooste en Egipte. Volumes was effens hoër op 103 miljard, danksy Nigerië, Egipte en die Midde-Ooste, maar is deels geneutraliseer deur dalings in Turkye.
Die wins van die Amerikaanse Pasifiese streek het met £12 miljoen tot £424 miljoen gedaal, terwyl volumes met 3% tot 44 miljard sigarette afgeneem het. Die toename in wins en volumes in Japan is meer as geneutraliseer deur die laer bydrae deur Kanada.
BAT se geassosieerde maatskappye het hul volumes met 4% tot 241 miljard sigarette verhoog en eersgenoemde se aandeel in die na-belaste resultate het £431 miljoen bedra. Met uitsluiting van uitsonderlike items, het die aandeel in die na-belaste resultate van geassosieerdes, hoofsaaklik van Reynolds American en ITC, met £38 miljoen tot £427 miljoen toegeneem. Die bydrae deur Reynolds American, met uitsluiting van handelsmerkwaardedalings, die voordeel spruitend uit die gunstige uitkoms van sekere belastingaangeleenthede in beide jare, asook ander uitsonderlike kostes in 2005, was £18 miljoen hoër op £285 miljoen. Dit was hoofsaaklik te danke aan beter verkoopspryse en kosteverminderings, wat deels geneutraliseer is deur laer volumes. Die bydrae van ITC, BAT se geassosieerde in Indië, het met £11 miljoen tot £91 miljoen toegeneem.

Beide FirstRand Beperk en RMB Holdings Beperk het Junie-jaareindes en gevolglik is hul resultate vir die twaalf maande tot
31 Desember geëkwiteer.
Vir die jongste gerapporteerde ses maande geëindig 31 Desember 2006 het FirstRand se wesensverdienste met 26% tot R4 569 miljoen (2005: R3 636 miljoen) toegeneem. Hierdie resultate is behaal in ’n gunstige ekonomiese klimaat, met sterk organiese groeigeleenthede in al die besigheidseenhede, veral by die FirstRand Bankgroep.
RMBH se ander belange sluit RMB Structured Insurance Beperk, OUTsurance Beperk en Glenrand M.I.B Beperk in.
OUTsurance het vir die ses maande tot 31 Desember 2006 uitstekende resultate behaal. Netto verdiende premie-inkomste het R1.3 miljard oorskry, wat ’n toename van 27% verteenwoordig. Dit is gedryf deur sterk organiese groei in persoonlike en besigheidsprodukte, sowel as volgehoue toenames in doeltreffendheid. OUTsurance se wesensverdienste vir die sesmaandetydperk het met 18% toegeneem. RMB Structured Insurance het beskeie groei in wesensverdienste van 7% getoon terwyl Glenrand M.I.B wesensverdienste van R3.6 miljoen (2005: R9 miljoen) getoon het te midde van uitdagende marktoestande.

KTI het goeie resultate behaal vir die ses maande geëindig 31 Desember 2006, met ’n wesensverdienste van R625.9 miljoen teenoor R473.5 miljoen vir die volle jaar tot einde Junie 2006.
Ingesluit in die verdienste is wins wat gerealiseer is met die verkoop van ekwiteitsbelange in Alstom en Norman Bissett & Geassosieerdes (NBA), wat deur Kagiso Ventures Private Equity Fund I gehou is. Daar moet kennis geneem word dat KTI sedertdien herbelê het in beide Alstom en NBA deur Kagiso Strategic Investments II.
In Oktober 2006 het KTI, as deel van ’n breër SEB-konsortium, ’n belang van 7.5% in Macsteel bekom.
Hierbenewens is ’n ongerealiseerde billike waardeverdienste van R302 miljoen, wat by die wesensverdienste ingesluit is, verdien op die belegging in MHB.
KTI het sy opsie om ’n belang in FirstRand se Bemagtigingstrust te bekom, in Augustus 2006 uitgeoefen. Dit het ’n verkrygingswins van R81 miljoen meegebring, wat ook in die wesensverdienste ingesluit is.
Rainbow se omset het met 15.3% toegeneem en die hoenderomset met 13%. Rainbow se gemiddelde prysrealisasiegroei van 8% was die gevolg van ’n verbeterde produkmengsel. Algeheel het hoendervolumes met 5% toegeneem, terwyl daar bemoedigende groei was in verkope aan die sneldiens-restaurantsektor, asook aan teikenkliënte en -handelsmerke.
Gedurende die jaar het die makro-ekonomiese omgewing gunstig gebly ten spyte van toenemende inflasie en rentekoerse. Die verbruikersvraag was ook sterk. Na verwagting sal die volle impak van die rentekoersverhogings egter in die komende maande
gevoel word.
Epol is ’n kernelement in Rainbow se algehele kosteketting. Dit het goed vertoon gedurende die jaar, met verbeterde kapasiteitsbenutting deur middel van hoër eksterne volumes. Epol se verkrygingstrategie vir grondstowwe het die mededingendheid van sy pryse verseker, ondanks inflasionêre druk. Die beduidend hoër mieliepryse sal egter in die voer- en hoenderpryse van die nuwe jaar weerspieël word. Dit sal druk plaas op winsmarges in die 2008-finansiële jaar.
Die plaaslike hoenderbedryf bly bedag op die gevare van voëlgriep. Deur middel van die Suider-Afrikaanse Pluimveeraad en in samewerking met die Nasionale Departement van Landbou, konsentreer Rainbow en die plaaslike bedryf hul aktiwiteite op voorkoming. Dit word by wyse van verhoogde biosekuriteit, verbeterde toesig en die monitering van tropgesondheid gedoen.
Rainbow se goeie prestasie kan toegeskryf word aan ’n aantal strategiese inisiatiewe. Die uitwerking van dié inisiatiewe sluit die volgende in: verhoogde hoendervolumes in produkte vir teikenkliënte en -handelsmerke, strategiese vennootskappe met belangrike kliënte en die benutting van die gunstigste markgeleenthede en produkmengsel.
Op 27 Maart 2007 het die groep se verkryging van ’n beherende belang (50% plus een aandeel) in Emirates Healthcare Holdings Limited onvoorwaardelik geword. Emirates Healthcare besit en bedryf die Welcare Hospitaal (120 beddens) en daar is begin met die bou van die City Hospitaal met 210 beddens wat einde 2007 in gebruik gestel behoort te word. Emirates Healthcare het ook die reg om ’n verdere hospitaal en klinieke te ontwikkel. Hiermee sal Emirates Healthcare die grootste privaat gesondheidsverskaffer in Dubai word. As gevolg van die verkryging kort voor jaareinde, is geen bedryfsresultate van Emirates Healthcare by die Medi-Clinic inkomste ingesluit nie.
Plaaslike verkrygings gedurende die jaar onder oorsig sluit in ’n 49.9% belang in die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum met 190 beddens, ’n 100%-belang in die Legae Privaat Hospitaal (137 beddens) asook ’n 51% belang in die 200-bed Protector Groep. Met uitsluiting van die toename in kapasiteit, het Medi-Clinic se omset met 11% gegroei, deels deur ’n toename in beide beddae verkoop en gemiddelde inkomste per beddag asook ’n klein verandering in die profiel van pasiënte wat behandel is.
Die markaandeel van hoofbrandstowwe was 14.7% aan die einde van 2006 (2005: 14.6%). Terwyl die markaandeel van kleinhandel gedurende 2006 die groeitendens volgehou het, het Kommersieel en Spesialiteite die fokus op die konsolidering van kliëntewinsgewendheid voortgesit. Gedurende 2006, na die bekendstelling van Clean Fuel 1, het die Natrefraffinadery ’n aantal onbeplande onderbrekings ondervind wat veroorsaak het dat produksie laer was as verwag. Natref is tans besig met beplande onderhoud en opgradering wat ’n 50-dae onderbreking gaan veroorsaak. Ná hierdie proses word verwag dat die produksietempo gaan toeneem.
Die maatskappy het gedurende die jaar weereens ’n hoë vlak van investering in sy bemarkingsaktiwiteite gehandhaaf. Beduidende aandag word steeds aan veiligheid gegee as deel van die Total-groep se klem op gesondheids-, veiligheids-, omgewings- en kwaliteitsaangeleenthede.
Israel
Die algemene ekonomiese klimaat in Israel het verbeter, met BBP-groei van omtrent 5%, rentekoerse teen historiese lae vlakke (3.75%) en die shekel, wat geredelik teen die belangrikste geldeenhede, veral die VSA dollar, verstewig het. Hierdie gunstige ekonomiese omgewing is gehandhaaf ten spyte van die voortslepende politieke spanning in die streek en die verslegtende krisis in die nabygeleë Gazastreek. Prysstabiliteit word gehandhaaf, met geringe deflasie gedurende die laaste paar maande. In die voedselsektor bly prysdruk deur mededingende kleinhandelaars ’n sleutelkenmerk, met ’n gepaardgaande toename in spandering op promosie-aktiwiteite.
Omset in shekel vir die twaalf maande geëindig 31 Maart 2007 het met 3.5% toegeneem teenoor die vergelykende tydperk. Hierdie styging is ondersteun deur ’n 2.4%-toename in die professionele marksektor, terwyl kleinhandelomset met 4.0% toegeneem het.
Bruto marges het met 2.6% toegeneem teenoor die vergelykende tydperk. Hierdie toename was die gevolg van ’n wesentlik verbeterde verkoopsmengsel, met hoëmarge ontbytgraanverkope wat sterk gegroei het, asook prysverhogings in die slaaisous- en margarien-kategorieë. Kostebesparings is ook behaal soos beplan, veral wat verspreidingskoste betref.
Indirekte koste het met R25.6 miljoen teenoor die vergelykende tydperk gedaal, hoofsaaklik vanweë die effek van die herstruktureringsprogram wat in Maart 2007 voltooi is. Dit het gelei tot ’n groot afname in personeelgetalle vir die tydperk van 2005 tot Maart 2007 en het voordele gebring in die vorm van besigheidsvereenvoudiging en prosesverbetering.
Suid-Afrika
2006/2007 was die tweede jaar van die maatskappy se Groeistrategie 2010. Volumegroei in die kleinhandel was 6.0%, in ooreenstemming met die strategiese doelwit om volumegroei tot ’n volhoubare 5-6% te verhoog. Markaandeel het in die meeste kategorieë toegeneem, veral wat betref gewone sop, vleisekstrakblokkies en kruie en speserye, terwyl tee onveranderd gebly het.
Omset het met 10.3% toegeneem. Dit was as gevolg van goeie vertonings in Smaakmiddels & Slaaisous (S&D) en Kookmiddels, met belangrike produkloodsings deur Rama/Flora en Knorr, wat goeie resultate behaal het. Grootmaatverkope het met 11.3% toegeneem vanaf die vorige jaar, met sterk volumegroei oor die hele reeks in die tweede helfte van 2006. Die groei was hoofsaaklik aangevuur deur nuwe produkvrystellings en handelsmerkgerigte aktiwiteite, wat deels geneutraliseer is deur laer groei in die Maart 2007-kwartaal weens mededingende prysvasstelling in Tee en ’n gebrek aan inkope van S&D voor prysverhogings.
Rente op die aandeelhouerslenings het afgeneem vanweë die terugbetaling van ’n gedeelte van die leningskapitaal. Remgro se gedeelte hiervan het R164 miljoen bedra.
UBR se bydrae tot Remgro se wesensverdienste is soos volg saamgestel:
| 2006 | 2006 | |
| R miljoen | R miljoen | |
| Verdienste voor kapitale en nie-herhalende items | ||
| Suid-Afrika | 162 | 108 |
| Israel | 51 | 18 |
| 213 | 126 | |
| Min: Kapitale en nie-herhalende items teen wesensverdienste verantwoord | (17) | (1) |
| Wesensverdienste | 196 | 125 |
| Rente op die aandeelhouerslening na belasting | 14 | 21 |
| Bydrae tot wesensverdienste | 210 | 146 |
Vir die jongste gerapporteerde sesmaandetydperk geëindig 31 Desember 2006 het Distell se omset met 16.6% tot R4.3 miljard toegeneem, terwyl verkoopsvolumes met 11.0% gestyg het. Plaaslike verkoopsvolumes het met 11.9% toegeneem. Internasionale verkoopsvolumes, met uitsluiting van Afrika, was 3.3% hoër en het gelei tot ’n 27.5% toename in internasionale omset. Omset in Afrikalande het met 16.3% toegeneem, terwyl verkoopsvolume met 10.5% gestyg het.
Die toename van 30.2% in Distell se wesensverdienste vir die ses maande geëindig 31 Desember 2006, SEB-koste van die vorige jaar uitgesluit, tot R460 miljoen is te danke aan die toename in omset as gevolg van bemarking- en prysstrategieë.
Nampak het onlangs ’n toename in wesensverdienste per aandeel van 6.2% tot 87.6 sent (2006: 82.5 sent) vir die ses maande geëindig 31 Maart 2007 gerapporteer. Verdienste het egter met 3.4% afgeneem na R462.2 miljoen vanaf R478.3 miljoen.
Omset het met 11% toegeneem, aangehelp deur goeie volumegroei in Suid-Afrika. Alhoewel die winsmarge toegeneem het, het bedryfswins met 1.5% afgeneem na R781 miljoen.
Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf se totale suikerproduksie het in 2006/2007 weens klimaatstoestande met 10.8% gedaal. Tsb Sugar se produksie het slegs met 7.7% afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van die beter klimaatstoestande in Tsb Sugar se wateropvanggebied en die gevolglike toename in besproeiingswater. Die gevolge van ’n kleiner oes is egter teengewerk deur ’n verbetering in wêreldsuikerpryse en die verswakking in die rand wat ’n positiewe uitwerking op die finansiële prestasie van meulenaars en produsente in die bedryf gehad het.
Tsb Sugar se twee suikermeulens het 3.629 miljoen ton suikerriet (2006: 3.737 miljoen ton) gedurende die seisoen verwerk, met ’n produksie van 436 804 ton ru suiker (2006: 461 057 ton). Die suiker-tot-rietverhouding van 8.3 vergelyk gunstig met die Suid-Afrikaanse bedryfsgemiddelde van 8.6, wat op goeie produksiedoeltreffendheid by beide meulens dui.
Tsb Sugar bedryf ’n raffinadery by die Malelane Meulekompleks. Ru suiker wat van die maatskappy se suikermeulens ontvang word, word vir beide die binnelandse en uitvoermark geraffineer. Die raffinadery het 314 432 ton (2006: 329 689 ton) geraffineerde suiker gedurende die jaar geproduseer.
Die veevoerbedrywigheid, Molatek, vervaardig ’n verskeidenheid veevoerprodukte. Die hoofgrondstowwe (molasse en bagasse) wat in die produksieproses gebruik word, is byprodukte van suikerproduksie.
Tsb Sugar belê ook in sitrus deur sy 51%-belang in Golden Frontiers Citrus (GFC). GFC besit drie sitrusplase waar pomelo’s en lemoene vir die uitvoermark verbou, geoes en verpak word. Sitrusbemarking word deur Komati Fruits, ’n vennootskap tussen verskeie sitrusprodusente, onderneem. GFC het 48 000 ton sitrus geoes, waarvan 37 000 ton pomelo’s en 11 000 ton lemoene was. Die uitvoerpersentasie van 63% (2006: 70%) was laer as die vorige jaar, maar ’n verandering in bemarkingstrategie en hoër pryse het tot ’n verbetering in die winste van die afdeling bygedra.
Tsb Sugar se groepresultate is gunstig beïnvloed deur die ommekeer in winste van die sitrusafdeling en die verhoogde bydrae van beleggings. Die hoër wêreldsuikerprys in vergelyking met die vorige finansiële jaar en die verswakking van die rand het ook bygedra tot die verhoogde wesensverdienste van R115 miljoen (2006: R52 miljoen). Omset het met 39% toegeneem tot R2 282 miljoen en die netto wins het met 225% toegeneem.
Daar word verwag dat die verlaging in die wêreldsuikerprys ’n negatiewe impak op 2007/2008-resultate sal hê, terwyl verhoogde suikerproduksie hierdie negatiewe impak in ’n groot mate sal teenwerk.
Die afhandeling van die grondeise wat op Tsb Sugar-plase geregistreer is vorder goed en die Tenboschgrondeis is reeds in die registrasiefase. Onderhandelinge ten opsigte van die ander eise vind tans plaas en die verwagting is dat die grondeise gedurende die jaar afgehandel sal word. Die kontantvloei van R285 miljoen ten opsigte van afgehandelde eise sal gedurende 2007/2008 plaasvind terwyl die kontantvloei ten opsigte van onafgehandelde eise in die volgende jaar verwag word.
Die maatskappy spits hom toe op die kostedoeltreffende oplossings in die verskaffing van gasse aan groot ondernemings deur middel van pypleidings vanaf groot terreinaanlegte en massavloeistoftenkwaens. Kleiner kliënte word direk deur ’n groot verskeidenheid silinders, minitenks en spesialiteitsgasse bedien, of deur ’n omvattende verspreidingsnetwerk.
Die maatskappy het sy markaandeel in die verpaktegasbedryf vergroot deur die leiersposisie wat in die klein vloeibare- en minitenk/maksitenk-produkverskeidenheid gevestig is.
Die nuwe lugskeidingsaanleg wat vir die Impala Platinum Raffinadery digby Springs gebou is, presteer goed. Dit het die maatskappy in staat gestel om sy omvattende pyplynnetwerk uit te brei deur die lewering van dienste aan nabygeleë kliënte in die veiligheidsglas- en koperpypnywerhede.
Die maatskappy het ook onlangs sy reeks innoverende lewerings uitgebrei deur die byvoeging van atmosferiese gasmengsels wat gebruik word in die verpakking van hoë kwaliteit vars produkte. Verder is ook ’n suurstofryke toepassing bekend gestel wat bewys is om die uitbroeikoerse in die hoendernywerheid te verhoog.
Kapitaaluitbreidingsprogramme vir die komende jaar sluit in ’n wesentlike uitbreiding van die bestaande lugskeidingsaanlegte ten einde te voorsien in die groeiende vraag na atmosferiese gasse aan die Mittal Staal aanlegte en om te voorsien in die groeiende vraag in die handelaarsmarkte.
Air Products het ’n September-jaareinde. Vir die ses maande geëindig 31 Maart 2007 het Air Products se omset met 22.4%
(2006: 0.7%) van R364.2 miljoen tot R445.9 miljoen toegeneem en sy wesensverdienste met 25.2% (2006: 0.9%) van R62.6 miljoen tot R78.4 miljoen.
In afwagting van ’n volgehoue volumegroei en om Wispeco se filosofie van vinnige aflewering te ondersteun, het die maatskappy gedurende die finansiële jaar ’n kapasiteitsuitbreidingsprogram onderneem waarvan ’n wesentlike gedeelte reeds voltooi en operasioneel is.
Opleidingsprogramme is vir Wispeco van strategiese belang. Interne programme is gemik op produktiwiteitsverhoging, asook op leierskap- en tegniese vaardigheidsontwikkeling, terwyl eksterne programme, wat op markontwikkeling fokus, praktiese vaardigheidsopleiding vir kliënte, sowel as formele leerderskappe vir werkloses in die gemeenskap insluit.
Dorbyl se wesensverdienste per aandeel het met 104.1% van ’n 176.1 sent wesensverlies per aandeel in 2006 tot ’n 7.3 sent wesensverdienste per aandeel in 2007 toegeneem.
Totale ru-diamantverkope vir die finansiële jaar het met 12% afgeneem en die rand omset was 5% laer as in die vorige jaar. Die effek van die laer verkoopsvolumes is gedeeltelik teengewerk deur die swakker rand en effens hoër verkooppryse. Hierdie faktore het tot ’n 39.4 sent verdienste per aandeel (2006: 112.7 sent verlies per aandeel) bygedra.
KORPORATIEWE FINANSIES EN ANDER BELANGE |
||
| 2007 | 2006 | |
| R miljoen | R miljoen | |
| Sentrale tesourie | 266 | 146 |
| Netto korporatiewe koste | (61) | (56) |
| Pensioenfondssurplus | 70 | |
| Ander belange | 6 | 6 |
| 281 | 96 |
Die netto na-belaste korporatiewe koste hierbo, wat salarisse, donasies en die koste van die aandeleaansporingskema insluit, het met R5 miljoen van R56 miljoen in 2006 tot R61 miljoen in 2007 toegeneem. Wesensverdienste is ook gunstig beïnvloed deur die rekeningkundige verantwoording van ’n pensioenfondssurplus ten bedrae van R70 miljoen na die afhandeling van ’n surplusverdelingsproses.
![]() |
![]() |
| Johann Rupert | Thys Visser |
| Stellenbosch | |
| 18 Junie 2007 |