RMI HOLDINGS BEPERK (RMI)
RMI se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die jaar onder oorsig het tot R1 161 miljoen (2018: R1 228 miljoen) afgeneem.
RMI se onderliggende beleggings (met die persentasie-belang in hakies) sluit Discovery (25.0%), Momentum Metropolitan (26.2%), OUTsurance (89.1%), Hastings (29.9%), RMI Investment Managers (100%) en AlphaCode (100%) in.
Discovery is ‘n pionier markleier met besighede wat uniek geposisioneer is in die gesondheidsorg-, lang- en korttermynversekerings-, welstand- en finansiëledienstesektor in onder meer Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk (VK) en China. Hastings is ‘n VK-genoteerde, vinnig groeiende, behendige, digitaal gefokusde korttermynversekeringsverskaffer vir die VK motor-, afleweringsvoertuig-, motorfiets- en huisversekeringsmark. Momentum Metropolitan is ‘n versekeringsgebaseerde finansiëledienstegroep waarvan die kernondernemings lang- en korttermynversekering, batebestuur, spaar-, beleggings-, gesondheidsorgadministrasie en werknemersvoordele bied. OUTsurance bied kort- en langtermyn-versekeringsprodukte in Suid-Afrika en korttermynversekeringsprodukte in Australië, Nieu-Seeland en Namibië. RMI Investment Managers se geaffilieerde model stel die onderneming in staat om toegang tot ‘n gedifferensieerde deel van die beleggingsbestuursbedryf te verkry deur te belê in ‘n vennootskap met onafhanklike beleggingsbestuurders en spesialisbeleggingspanne.
RMI se wesensverdienste vir die jaar geëindig 30 Junie 2019 het met 6.9% tot R3 801 miljoen (2018: R4 081 miljoen) afgeneem. RMI glo egter dat genormaliseerde verdienste ‘n meer akkurate weerspieëling van die bedryfsvertoning is en daarom word wesensverdienste aangepas om nie-herhalende items en rekeningkundige afwykings in aanmerking te neem. RMI se genormaliseerde verdienste vir die jaar onder oorsig het met 4% tot R4 081 miljoen (2018: R4 266 miljoen) afgeneem vanweë beduidende spandering op nuwe strategiese inisiatiewe, ‘n toename in die eisverhouding van die korttermynversekeraars en ‘n aansienlike belegging in nuwe besigheid groei-aktiwiteite by OUTsurance.
Discovery se genormaliseerde verdienste het met 7% tot R5 miljard afgeneem as gevolg van ‘n beduidende beplande verhoogde belegging in nuwe strategiese inisiatiewe en ‘n onverwagte toename in groot eise van Discovery Life in die eerste helfte van die jaar. Die geannualiseerde premie-inkomste uit nuwe sake het met 13% tot R18.3 miljard toegeneem.
RMI het genormaliseerde verdienste van R552 miljoen vanuit Hastings vir die jaar geëindig 30 Junie 2019 ingesluit. Bruto geskrewe premies vir Hastings se ses maande geëindig 30 Junie 2019 het met 3% tot £499.2 miljoen toegeneem, vergeleke met die ses maande geëindig 30 Junie 2018 van £485.6 miljoen. Die aangepaste bedryfswins na belasting het met 43% tot £59.7 miljoen (2018: £105.1 miljoen) afgeneem as gevolg van die verlaging van markkoerse, hoër eis-inflasie as verdiende premie-inflasie, gekombineer met wetswysigings wat onderskrywingsheffings verhoog het.
Momentum Metropolitan het bestendige vordering gerapporteer wat betref die drie-jaar-strategie wat ‘n jaar gelede aangekondig is. Dit het verwaterde genormaliseerde wesensverdienste van R3.1 miljard vir die jaar gelewer. Dit verteenwoordig ‘n 53% toename teenoor die vorige jaar.
Genormaliseerde verdienste van OUTsurance, insluitend sy aandeelhouding in Hastings, het met 13% tot R2.6 miljard afgeneem, hoofsaaklik te wyte aan hoër eise en kosteverhoudings in die hele groep, tesame met ‘n laer verdienstebydrae van sy belegging in Hastings. Uitgesluit Hastings, het genormaliseerde verdienste met 9% tot R2.4 miljard afgeneem. Die koste-tot-inkomste-verhouding het van 25.6% tot 28.3% toegeneem. Gedurende 2019 het die bestuurspan beduidende beleggings in die bemarkings- en verkrygingsvermoë gemaak om winsgewende groei te stimuleer en die nodige kapasiteit op te bou om die verspreidingstrategie van die OUTsurance-besigheid te ondersteun. As gevolg hiervan het die geannualiseerde nuwe sakepremie met 27% toegeneem.