Gesamentlike gerusstelling

Die direksie erken sy aanspreeklikheid teenoor belanghebbendes om inligting wat relevant, akkuraat en betroubaar is, te verskaf. In hierdie verband moet genoem word dat Remgro ’n gesamentlike gerusstellingsmodel volg, wat bestuur, interne oudit en eksterne gerusstelling (bv. verifiëring van BBSEB-telkaart en koolstofopenbaarmakingsprojek) insluit. Remgro glo dat hierdie gerusstellingsmodel die nodige gerusstelling oor die gehalte en betroubaarheid van inligting verskaf. Die verskillende opsies en vlakke van onafhanklike gerusstelling beskikbaar, word deurlopend evalueer om optimale gerusstelling te verseker.

Die gekonsolideerde finansiële jaarstate van Remgro is deur die onafhanklike eksterne ouditeur, PricewaterhouseCoopers Geink., in ooreenstemming met internasionale ouditstandaarde, geoudit. Remgro erken die toenemende vereistes van beleggers en regulerende en ander riglyne, soos King IV en die geïntegreerde rapporteringsriglyne, vir die eksterne gerusstelling van gekose nie-finansiële inligting.

Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik om te verseker dat die gesamentlike gerusstellingsmodel toegepas word om ’n gekoördineerde benadering tot alle gerusstellingsaktiwiteite te verskaf, en dat die gesamentlike gerusstelling wat ontvang word, geskik is om aandag te gee aan al die wesentlike risiko’s waarmee Remgro te doen kry. Dit is ook daarvoor verantwoordelik om die verhouding tussen Remgro en eksterne diensverskaffers te monitor. Verskeie ander vrywillige eksterne akkreditering-, sertifisering- en gerusstellingsinisiatiewe word in die Remgro-groep onderneem.

Remgro het ’n ondernemingswye risiko- en geleentheids-bestuurstelsel geïmplementeer wat deel van die algehele gesamentlike gerusstellingsplan vorm. Tegnologie- en inligtingsrisiko en geleentheidsbestuur is ten volle in Remgro se gesamentlike gerusstellingsproses geïntegreer.

Die direksie is tevrede dat ’n gesamentlike gerusstellingsmodel toegepas word wat die onderskeie gerusstellingsdienste en -funksies insluit op ’n wyse wat die doelwitte van gerusstelling ondersteun.

Die direksie se leiding neem wetlike vereistes in ag met betrekking tot gerusstelling, en of dit toegepas moet word op die onderliggende gegewens wat gebruik word om ’n verslag voor te berei, of op die proses vir die voorbereiding en aanbieding van ’n verslag, of beide. In die bepaling van hoe om gerusstelling ten opsigte van eksterne verslae te verkry, word oorweging daaraan geskenk of die aard, omvang en mate van gerusstelling geskik is vir die teikengehoor, en doel van die verslag, en die evaluering van die onderliggende inhoud van die verslag. Die direksie is tevrede dat die eksterne verslae van Remgro die aanbevole praktyke van King IV nakom.

Interne oudit

Interne oudit vorm ’n integrale deel van Remgro se ondernemingswye risiko- en geleentheidsbestuurstelsel om gerusstelling oor die doeltreffendheid van Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursproses en interne beheerstelsel te gee. Die interne ouditfunksie is onafhanklik van bestuur en het onbelemmerde toegang tot die oudit-en-risikokomitee en senior bestuur.

Remgro se hoofouditbestuurder (HOB) verskaf ’n jaarlikse geskrewe beoordeling van die doeltreffendheid van Remgro se interne beheerstelsels en risiko- en geleentheidsbestuur aan die oudit-en-risikokomitee. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede met die onafhanklikheid, gehalte en omvang van die interne ouditproses.

Verslae oor die doeltreffendheid van Remgro se interne beheermaatreëls word in die risiko- en bestuursverslag en die oudit-en-risikokomiteeverslag ingesluit. Die oudit-en-risikokomitee het onder andere die verslae van die interne en eksterne ouditeure nagegaan en is tevrede met die geskiktheid en doeltreffendheid van die Remgro-groep se interne beheerstelsels.

In die jaar onder oorsig het die oudit-en-risikokomitee die interne ouditmandaat, aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV, hersien vir goedkeuring deur die direksie.

Die direksie kyk deurlopend daarna dat interne oudit ’n omvattende gehalteversekering- en verbeteringsproses volg, dat Remgro se risikoprofiel gereeld hersien word en dat die risikogebaseerde jaarlikse interne ouditwerkplan daarvolgens goedgekeur word.

Die oudit-en-risikokomitee het mnr Deon Annandale as Remgro se HOB aangestel. Die direksie is tevrede met die eienskappe, objektiwiteit en onafhanklikheid van die HOB en dat hy oor die nodige status en bevoegdheid beskik. Die HOB word genooi om vergaderings van die bestuursraad by te woon, soos en wanneer nodig, bykomend tot staande uitnodigings na die RGTIB en tesouriekomitee se vergaderings en die beleggingstrategie-konferensie.

’n Eksterne, onafhanklike hersiening van die interne ouditfunksie word minstens elke drie jaar gedoen.