Volhoubaarheidsverslag

 

SOSIALE BELEGGING

Korporatiewe burgerskap, naamlik die verbintenis van ’n maatskappy om op ’n volhoubare wyse tot ekonomiese ontwikkeling by te dra, onderskryf die beginsel dat geen besigheid in isolasie bestaan nie, maar onmiskenbaar deel is van die omgewing waarin sake gedoen word. In sy verhoudinge met alle belanghebbendes (kliënte, personeel en die gemeenskap) streef Remgro daarna om ’n waardevennoot te wees.

Die klem van die maatskappy se donasieprogram val veral op die ontwikkeling van jongmense uit benadeelde gemeenskappe om aan hulle ’n gevoel van selfwaarde te gee. Dit word gedoen in die geloof dat sodanige beleggings tot ver in die toekoms goeie dividende sal oplewer.

Skenkings aan verdienstelike instansies word meesal oor termyne gemaak en strek oor ’n taamlike breë spektrum. Daar word egter geen skenkings aan politieke partye gemaak nie. Die maatskappy respekteer die individu se reg om volgens eie keuse by hierdie organisasies betrokke te raak, maar oefen nie self ’n keuse uit nie.

Die afgelope jaar was die maatskappy onder andere by die volgende projekte en instansies betrokke:

ENTREPRENEURSKAP EN OPLEIDING

Tsiba – die Tersiêre Skool in Besigheidsadministrasie (Tsiba) is in 2004 in Kaapstad gestig met die doel om jongmense met potensiaal deur middel van ’n B-graad in Besigheidsadministrasie voor te berei vir die sakewêreld. Die kursus, wat oor vier jaar strek, word ten volle geborg en daar word probeer om ’n inspirerende omgewing te skep waar studente, personeel en vrywilligers saamwerk om kennisoordrag sinvol te integreer met die werklikhede van die gemeenskap waarbinne dit geskied.

Leierskap en entrepreneurskap maak ’n belangrike deel van die kurrikulum uit en studente word tydens die kursus blootgestel aan verskillende praktiese elemente van kampusbestuur en gemeenskapsdiens. Tsiba-studente betaal nie hul studiebeurse terug nie, maar word aangemoedig om dit “vooruit” te betaal deur aktief aan gemeenskapsinisiatiewe deel te neem en sodoende die land se mensebronne te verryk.

Tsiba is by die Departement van Onderwys en die Raad vir Hoër Onderwys geakkrediteer en het elke jaar sedert sy ontstaan sowat 80 studente ingeneem, waarvan die eerste groep aan die einde van 2008 sal gradueer. Remgro het hom verbind om Tsiba vir ’n volle studentesiklus van vier jaar te ondersteun.

Shalamuka-Stigting – hierdie stigting het in 2006 tot stand gekom om langtermynbefondsing te bekom vir die hoog aangeskrewe Penreach-program waardeur gekwalifiseerde en ongekwalifiseerde onderwysers in Mpumalanga en omliggende gebiede ondersteun word.

Selfs na 14 jaar van demokrasie bestaan daar steeds groot ongelykhede in skoolonderrig in Suid- Afrika. Penreach probeer hierdie gaping oorbrug deur weekliks vaardigheidswerkwinkels aan te bied vir onderwysers, skoolbeheer- en -bestuursliggame en leerders in graad 11 en 12. Heelwat klem word op wiskunde-, wetenskap- en ook sokkerontwikkeling gelê.

Van ’n beskeie begin toe 40 onderwysers en 10 skole in 1994 betrek is, het Penreach gegroei tot ’n organisasie wat tans jaarliks sowat 2 200 onderwysers van 900 skole bereik. Na raming word meer as 350 000 leerders in plattelandse gebiede jaarliks deur dié program bevoordeel. Shalamuka benut SE B-transaksies en ander beleggingsgeleenthede om volhoubare fondse te verseker sodat die Penreach-program uitgebrei kan word en al hoe meer jongmense die vaardighede bekom wat die land so nodig het.

Beyers Naudé-Skoolontwikkelingsprogram (BNSOP) – die Kagiso Trust het enkele jare gelede die behoefte aan geriewe en hulpbronne van afgeleë skole in hoofsaaklik die Limpopo-provinsie raakgesien en ’n program geloods om gesonde, lewenskragtige en volhoubare skoolgemeenskappe in dié gebied te bevorder.

Aandag word veral gegee aan die infrastruktuur van skole wat aan die BNSOP deelneem. Remgro het hom vir drie jaar tot die program verbind en het die afgelope jaar gehelp met die finansiering van ’n wetenskap- en rekenaarlaboratorium by die Hoërskool Gwamasenga in Limpopo, terwyl ’n bydrae ook by twee skole in Noordwes-provinsie gelewer is.

SciMathUS – aanpassings moes aan hierdie postmatriekprogram van die Universiteit van Stellenbosch gemaak word aangesien daar tans heelwat meer roetes is waarlangs leerders, met laer punte as wat vroeër gegeld het, toegang tot hoër onderwys kan verkry.

Vir SciMathUS, wat ten doel het om talentvolle swart studente uit benadeelde gemeenskappe met toegang tot hoofstroom tersiêre opleiding te help, het dit die gevolg dat werwing gedoen moet word onder leerders met heelwat laer graad 12-punte as in onlangse jare. Hierdie uitdaging is die afgelope jaar aanvaar en die meeste doelwitte kon bereik word, waaronder dat ’n minimum van 80% van SciMathUS-studente na die oorbruggingsjaar inskryf vir graadkursusse in natuurwetenskap, toegepaste wetenskap of ekonomiese en bestuurswetenskap.

Vyftig studente is in 2007 tot die kursus toegelaat, 31 van die Wes-Kaap en die res van sewe ander provinsies. Van hierdie studente het 45 die finale eksamen in die hoër graad geskryf, waaronder 15 wat wiskunde in 2006 op standaardgraad geneem het. ’n Slaagsyfer van 83% is in wiskunde behaal, 98% in natuurwetenskap en 80% in die nuwe spesiale rekeningkundekursus.

SciMathUS gee deurlopend aandag aan sy kurrikulum met die doel om studente van gehalte te lewer – studente wat nie alleen afgerig word om hul graad 12-simbole te verbeter nie, maar studente wat hoër onderwys suksesvol kan aandurf omdat hulle denk-, analitiese en probleemoplossingsvaardighede aangeleer het.

Paul Roos Akademie – toe die eerste groep van 61 graad 7-leerders uit agtergeblewe skole in April 2003 tot die Akademie toegelaat is, was daar ’n gevoel dat die ekstra onderrig tydens skoolvakansies die leerders sou kon help om hulle vir die oorgang na die hoër grade voor te berei. Daar is gehoop dat die leerders vir minstens drie jaar, dus tot die einde van graad 9, deel van die program sou bly.

Uiteindelik is met dieselfde leerders tot in graad 11 voortgegaan toe 21 van die oorspronklike klas in 2007 hul sertifikate ontvang het. Aan die einde van 2008 sal hulle hul finale eksamen skryf en dan sal daar uit ’n akademiese oogpunt beoordeel kan word wat die Akademie se tussenkoms werklik beteken het. Met sekerheid kan nou reeds gesê word dat hulle op die gebied van selfstandigheid en die ontwikkeling van ander vaardighede met rasse skrede gevorder het.

In 2007 het 280 leerders bykomende onderrig aan die Akademie ontvang. Daar word beplan om die getal mettertyd tot 200 te verminder sodat meer op meriete gekonsentreer kan word. Naas die akademiese fokus word leerders ook aan opvoedkundige uitstappies blootgestel. Die afgelope jaar het dit besoeke aan die Jonkershoek-natuurreservaat, die Waterfront-akwarium en die MTN-wetenskapsentrum by Canal Walk ingesluit.

Rally to Read – baie arm skole in plattelandse gebiede wat die ergste ly onder die gebrekkige verskaffing van noodsaaklike hulpmiddele, sou heeltemal vergete gewees het as dit nie vir Rally to Read se geletterdheidsprogram was nie.

In die eerste tien jaar van hierdie program is meer as R26 miljoen belê in geletterdheidsmateriaal vir arm skole, en saam met vanjaar se bydrae sal dié bedrag die R30 miljoen-kerf oorskry. Die begin in 1998 was heel beskeie, met 25 viertrekvoertuie wat R100 000 se boeke by 13 skole in KwaZulu- Natal afgelewer het. Tydens vanjaar se 11de saamtrek het 450 voertuie deelgeneem en is skole in agt provinsies besoek.

Naas boeke, en die befondsing van ’n onderwysontwikkelingsprogram, word wetenskapstelle, skryfbehoeftes, sporttoerusting en ander nuttige items aan behoeftige skole geskenk. Remgro is een van sowat 100 borge van dié projek.

Equip – na die probleme wat die vorige jaar ondervind is, is goeie vordering gemaak by die vyf skole in die Stellenbosch-omgewing wat Remgro as deel van dié ontwikkelingsprogram van die Nasionale Besigheidsinisiatief ondersteun. Verblydend veral was die vordering by die skole wat die grootste uitdagings gebied het, naamlik Laerskool Ikaya, Hoërskool Kayamandi en Hoërskool Stellenzicht.

Die Equip-program fokus veral op skoolverbeteringsprogramme; leerkragontwikkeling en mentorskap; bou van verhoudinge, veral tussen skoolbestuursliggame en onderwysers; leierskapen bestuursintervensies; en leerdermotivering.

ORT SEED – Remgro het ’n vennootskapsooreenkoms met ORT-Tech en die distrikskantoor van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangegaan om deur middel van die ORT SEED-program gespesialiseerde opleiding en kurrikulumontwikkeling by twee Stellenbosse skole te doen vir implementering in die onderrig van wiskunde, natuurwetenskap, tegnologie en geletterdheid.

ORT-Tech sal die kurrikulumontwikkeling ter plaatse by die laerskole Idasvallei en Rietenbosch doen. Hierdie skole, wat as ankerskole bekend sal staan, sal ondersteunende hulp en ander hulpbronne ontvang en van hierdie basis sal na 15 omliggende laerskole uitgereik word.

OMGEWING

WWF Suid-Afrika (WWF-SA) – Remgro is ’n ondersteuner van Suid-Afrika se grootste bewaringsorganisasie sedert die stigting daarvan 40 jaar gelede. Die afgelope vier dekades het WW F-SA sy betrokkenheid uitgebrei van ’n natuurlewe-fokus na ’n veel wyer bewaringsfokus, waar daar gestreef word om die mens in harmonie met die natuur te laat lewe.

Deur middel van die Eko-skoleprogram, ’n gesamentlike inisiatief met Wessa, is besondere sukses die laaste jaar behaal met bewaringsonderrig. Die program, wat reeds vyf jaar bestaan en waarby 887 skole vanjaar geregistreer het, skakel bewaringsonderrig by die skoolleerplan in. Daarbenewens het die ses leerders wat beurse by SABOT (Suid-Afrikaanse Bewaringsopvoedkundige Trust) ontvang het, hul studies suksesvol by die SA Natuurlewekollege in 2007 voltooi.

Die gebiedsuitbreidingsprogram vir swartrenosters het 11 swartrenosters vrygelaat in die Somkhandareservaat, ’n stuk grond wat onlangs deur die Gumbi-gemeenskap teruggeëis is. Die gemeenskap het homself daartoe verbind dat sy grond vir bewaringsdoeleindes gebruik mag word.

KULTURELE ONTWIKKELING

Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) – Remgro se bydrae aan die fees word aangewend vir kunste-ontwikkeling, waaronder die beskikbaarstelling van ’n beurs om ’n loopbaan in die kunste te ontwikkel, werkwinkels tydens die fees en ’n gehoorontwikkelingsprojek waardeur dit vir kuns-, kultuur- en skoolgroepe moontlik gemaak word om produksies by te woon.

Die Remgro/VenFin-beurs is vanjaar toegeken aan ’n jong pianis van Oudtshoorn, wat tans ’n eerstejaarstudent aan die SA College for Music in Kaapstad is. Die beurs is bemark by skole en biblioteke in die Eden-Distriksmunisipaliteit.

’n Nuwe projek wat by die borgskap baat gevind het, is die Klein Karoo Kunste-Akademie, wat die fees as geleentheid benut om vaardighede op kunsgebied – van kunsdissiplines, tegniese kundigheid tot kunstebestuur – aan jonger feesgangers in die streek oor te dra. Vyf gratis sessies is aangebied en van die temas het gewissel van sang- en ritmiese musiekuitvoerings tot gemeenskapskuns en -kultuurbestuur.

Veldorkesstigting – ’n kombinasie van onvoldoende onderwys, neerdrukkende sosio-ekonomiese omstandighede en lae indiensnemingsvooruitsigte veroorsaak dat jongmense in die agtergeblewe gebiede van Suid-Afrika toenemend kwesbaar is en vatbaar raak vir versoekings soos misdaad en dwelms.

Sedert sy totstandkoming elf jaar gelede het die stigting iets hieraan probeer doen. Met inagneming van die histories gebrekkige onderwysstelsel in Suid-Afrika, is daar van die standpunt uitgegaan dat die volhoubare ontwikkeling van jongmense slegs moontlik gaan wees indien hulle verantwoordelikheid vir hulle eie onderrig en ontwikkeling aanvaar.

Deur musiek maak die Veldorkesstigting jongmense bewus van hulle talente en ontwikkelingsvermoë. Terwyl die oordra van kennis en vaardighede noodsaaklik is, is selfs belangriker nog die ontwikkeling van selfvertroue. Wat die stigting reeds vermag het, kan as ’n morele heropbouprogram bestempel word wat jongmense bemagtig en hulle help om positiewe keuses uit te oefen onder moeilike omstandighede.

WAT – tydens sy 80-jarige vieringe in 2006 het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) homself ten doel gestel om sowat R20 miljoen in te samel om die WAT-reeks suksesvol af te handel. Goeie vordering na hierdie mikpunt word gemaak en Remgro het hom verbind om die WAT vir ’n tweede termyn van drie jaar te ondersteun.

Die WAT hou hom in hoofsaak besig met die dokumentering van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang. Daarby is dit die kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke, is dit op die internet toeganklik vir 300 000 studente aan Suid-Afrikaanse universiteite en word dit as elektroniese hulpmiddel gebruik in die onderrig van Afrikaans op skool.

Children’s Art Festival (CAF) – tydens die jaarlikse kunstefees op Grahamstad word spesiale werkwinkels aangebied waar kinders aan verskillende handvaardighede blootgestel word. Dit geskied op ’n baie praktiese vlak en deur items te maak wat vir eie sak verkoop kan word, leer die kinders vaardighede waarmee ’n inkomste verdien kan word.

Die kinders wat die werkwinkels bywoon, kom meesal uit ’n behoeftige agtergrond en sou nie andersins die geleentheid gehad het om hul skeppende vermoëns te ontdek nie. Danksy Remgro se borgskap kon die omvang van die werkwinkels uitgebrei en van beter toerusting en meer gesofistikeerde tegnieke gebruik gemaak word. Een van die hoogtepunte van die vorige fees was ’n werkwinkel oor Afrika-musiek. Die kinders het nie alleen kennis gemaak met ’n groot verskeidenheid instrumente nie, maar is selfs die kans gegee om hul eie tromme te bou.

SPORTONTWIKKELING

SA Gholfontwikkelingsraad (SAGOR) – stel homself hoofsaaklik ten doel om gholf toeganklik te maak vir duisende jong Suid-Afrikaners wat andersins nie die geleentheid sou gehad het nie. Gehalte-afrigting word regoor die land verskaf aan gholfspelers uit minder gegoede gebiede met die oog daarop om hulle so gou moontlik in die hoofstroom van junior gholf te bring.

Om die vaardighede van die spel oor te dra, is egter nie die enigste faset van SAGOR se aktiwiteite nie. Die besondere waardes van die spel word ook gebruik om lewenskwaliteite soos integriteit, selfvertroue en respek by jong spelers in te skerp.

’n Belangrike ontwikkeling vanjaar is die samewerking tussen die Vereniging vir Beroepsgholfspelers (PGA) en SAGOR om ’n mentorskapsprogram daar te stel waarvolgens die PGA se voorste afrigters sessies hou om kundigheid aan ontwikkelingsafrigters oor te dra. Dit beloof om die gehalte van afrigting in die land aansienlik te verhoog en te verseker dat jong spelers uit die staanspoor die regte tegnieke geleer word.

Wes-Kaapse Krieketakademie – ’n belegging in jong talent wat besondere dividende gelewer het, is die Wes-Kaapse Krieketakademie. In die nasionale oefengroep is daar tans vyf voormalige Akademiespelers, terwyl nog vyf die SA span vroeër verteenwoordig het. Daarby bestaan die huidige span van die Cobras (WP/Boland) uit nie minder nie as 14 gewese Akademielede.

In net ’n bietjie meer as ’n dekade het die Akademie ’n belangrike katalisator vir krieketontwikkeling in die land geword. Nasionale en provinsiale spanne wemel letterlik van spelers wat hul talente by die Akademie geslyp het. Eers was dit net manskrieket wat hierby baat gevind het. Nou is vrouekrieket geleidelik besig om dieselfde pad te loop. Vyf vroue het Suid-Afrika reeds verteenwoordig, terwyl die kaptein van die SA 0.19-span na Nieu-Seeland en Sri Lanka ook uit die Akademie gekom het.

Die Universiteit van die Wes-Kaap, wat as borgfasiliteerder vir die Akademie optree, vind ook baat by Remgro se jaarlikse skenking en kon die afgelope jaar sy geriewe sodanig uitbrei dat die Akademie oefensessies daar kan hou.

GEMEENSKAPSONTWIKKELING

Ikamva Labantu – het sy ontstaan 45 jaar gelede as ’n “ongevalle-afdeling” vir swart stedelike gemeenskappe in die Wes-Kaap gehad. Vandag dien dit as vroedvrou en laboratorium vir gemeenskapsinisiatiewe en het dit ’n model geword van hoe wanhoop in hoop kan verander.

Die afgelope jaar het sowat 30 000 voorskoolse kinders, 1 000 weeskinders, 750 bejaardes en 6 000 jongmense voordeel getrek uit Ikamva se programme. Voedingsdienste word aan alle programme verskaf en maaltye wat deel vorm van hierdie programme, word uit Ikamva se 50 stedelike voedseltuine aangevul.

In die gesinsdienstesektor is Remgro se loodsprojek ’n belangrike fokuspunt. Toegang tot pleegsorg, skole en staatstoelaes vorm deel van die projek en die afgelope jaar is 271 kinders uit 73 huishoudings hiermee gehelp. Alle “Remgro”-kinders ontvang psigo-maatskaplike ondersteuning, asook materiaal, insluitende voedselpakkies, skryfbehoeftes, skooluniforms en skoolgeld.

Ikamva and Remgro have evaluated this model and are planning to replicate it elsewhere in the country as it has proved to be a successful system to help vulnerable children to support themselves. Ikamva en Remgro het bogenoemde model geëvalueer en is van voorneme om dit elders in die land te herhaal aangesien daar bo alle twyfel bevind is dat dit ’n suksesvolle stelsel is om kwesbare kinders te help op die pad na selfversorging.

u Mephi – is ’n intensiewe versorgingsprogram wat na weeskinders, asook mishandelde en gemolesteerde kinders omsien. Pleks van hulle in tehuise te versorg, word die kinders in huise in die gemeenskap geplaas. Daar is tans 27 sulke satelliethuise. Die doel is om so vroeg moontlik by kinders betrokke te raak voordat hulle misbruik word of op straat beland.

’n Ander hooffaset van u Mephi se kinderversorgingsprogram is die plasing van babas wat deur swangerskap-krisissentra na hulle verwys word. Vir die doel is 19 halfweghuise in die groter stede van die land ingeruim. Die eerste prys is altyd om die kinders terug by hul moeders of die uitgebreide familie te kry. Indien dit nie moontlik is nie, is die volgende opsie aanneming. Slegs in uitsonderlike gevalle word pleegsorgtehuise oorweeg.

u Mephi het reeds meer as 2 500 babas onder sy sorg geneem en die volgende mikpunt is ’n deurvloei van minstens 10 000 kinders teen 2010.

Stellenbosch-Gemeenskapsontwikkelingsprogram (SGOP) – een van die belangrikste oogmerke van hierdie program is om na die voedingsbehoeftes van die Laerskool Ikaya in Kayamandi, Stellenbosch, om te sien. Sowat 900 kinders word daagliks gevoed. Vroeër is melding gemaak dat Remgro deur die ORT-SEED-program ook by ander fasette van hierdie skool se ontwikkeling betrokke is.

Ander programme van die SGOP sluit in naskoolse sorg vir kinders wat aan wanvoeding ly, asook diegene in die oorgewigkategorie, hulp aan werklose moeders deur middel van die groentetuin- en handvaardigheidsprojek, asook ’n betrokkenheid by onderwysers en die gemeenskap ten opsigte van die higiëne en dissipline van kinders.

GESONDHEIDSORG

Wits/Donald Gordon-Mediese Sentrum (WDGMS) – die afgelope jaar het die akademiese program aansienlike vordering gemaak op die gebied van subspesialis-opleiding. Die eerste genoot (subspesialis in opleiding) is in die departement Pedriatiese Onkologie aangestel, terwyl die departemente Interne Medisyne en Anestesiologie by die akademiese opleidingsprogram ingeskakel is deur die aanstelling van drie registrateurs.

In Maart 2007 is die departement Geriatrie by die hospitaal gestig met die aanstelling van ’n konsultant (’n gekwalifiseerde subspesialis) in geriatriese medisyne. Geriatrie vorm nou vir die eerste keer deel van Wits se Fakulteit vir Gesondheidswetenskap.

Die integrering van die WDGMS as ’n volwaardige opleidingshospitaal is nou goed onderweg. Die positiewe effek hiervan is reeds sigbaar in die fakulteit en word ook as sodanig ervaar deur pasiënte wat die fakulteit besoek. Die skep van sulke akademiese poste in die privaatsektor het die verdere positiewe gevolg dat bekwame mediese personeel vir Suid-Afrika behoue bly.

Stigting vir Orgaanskenkers van SA – die beskikbaarheid van lewensonderhoudende organe is letterlik ’n saak van lewe en dood. Die Stigting vir Orgaanskenkers beywer hom om die oorgang van skenker na ontvanger so glad moontlik te laat verloop. Daar is baie dankbare mense wat vandag kan getuig dat hulle danksy die stigting se onvermoeide pogings ’n kans op ’n nuwe lewe gegun is.

Remgro ondersteun hierdie humanistiese poging deur jaarliks vier vlugte te borg vir die vervoer van noodsaaklike organe. Falconair se personeel speel ’n onmisbare rol in dié verband, waarvoor daar groot waardering is.