REKENINGKUNDIGEBELEID

VIR DIE JAAR GEËINDIG 31 MAART 2010

Die finansiële jaarstate word volgens die historiese kostegrondslag, tensy anders vermeld, ooreenkomstig Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde (IFRS), die vereistes van die Maatskappywet (Nr. 61 van 1973), soos gewysig, en die noteringsvereistes van die JSE Beperk opgestel.

Hierdie finansiële state inkorporeer rekeningkundige beleid wat konsekwent in beide jare wat aangebied word, toegepas is, met die uitsondering van die implementering van IFRS 8: Operasionele segmente en die wysigings aan IFRS 7: Finansiële instrumente – Openbaarmaking en IAS 1 (gewysig): Aanbieding van finansiële state. Die implementering van hierdie nuwe rekeningkundige standpunt en wysigings aan IFRS het slegs ’n impak op openbaarmaking gehad en geen uitwerking op die resultate van die huidige of vorige jare nie.

Die samestelling van die groep se netto wins is relevant vir ’n behoorlike begrip van sy finansiële resultate. Uit die aard van die groep se bedrywighede is ’n beduidende gedeelte van sy netto wins afkomstig vanaf geassosieerde maatskappye en gesamentlike ondernemings. Gevolglik word addisionele inligting met betrekking tot die groep se belang in die na-belaste wins van geassosieerde maatskappye en gesamentlike ondernemings afsonderlik in aantekening 29 aangebied.

Ten einde vergelykbaarheid te bevorder, word geëkwiteerde inkomste vanaf geassosieerde maatskappye en gesamentlike ondernemings, wat op ’n na-belaste grondslag aangebied word, ná die belastinglyn op die inkomstestaat geopenbaar.

“Gekonsolideerde wins” verteenwoordig die wins van die maatskappy en sy filiaalmaatskappye voor ekwiteitsinkomste terwyl “Handelswins“ die wins van die bedryfsfiliale in die groep verteenwoordig, voor beleggingsinkomste, finansieringskoste en items van ’n kapitale aard.

Die rekeningkundige beleid wat die groep toegepas het in die aanbieding van die finansiële state, word hieronder uiteengesit.

(I)       KONSOLIDASIE EN EKWITEITSVERANTWOORDING
 

Konsolidasie – filiaalmaatskappye

Alle entiteite waarin die groep, direk of indirek, ’n belang van meer as die helfte van die stemreg hou of andersins oor die vermoë beskik om beheer oor die finansiële en bedryfsbeleid uit te oefen, word op die gebruiklike wyse in die gekonsolideerde finansiële state ingesluit. Die bestaan en uitwerking van potensiële stemregte wat tans uitoefenbaar of omskepbaar is, word in ag geneem by die oorweging of die groep ’n ander entiteit beheer.

Die aankoopmetode word toegepas om die verkryging van filiale te verantwoord. Identifiseerbare bates verkry en laste en voorwaardelike verpligtinge aangeneem in ’n besigheidskombinasie word, ongeag die omvang van minderheidsbelange, aanvanklik teen billike waarde op die verkrygingsdatum gemeet. Die oorskot van die koste van die verkryging bo die billike waarde van die groep se deel van die identifiseerbare netto bates verkry, word as klandisiewaarde verantwoord. Indien die koste van die verkryging minder is as die billike waarde van die netto bates van die filiaal verkry, word die verskil direk in die inkomstestaat verantwoord. Die koste van ’n verkryging word gemeet teen die billike waarde van bates gegee, ekwiteitsinstrumente uitgereik en verpligtinge aangegaan of aanvaar op die datum van oordrag, plus koste direk toeskryfbaar aan die verkryging.

Die resultate van filiaalmaatskappye gekoop of verkoop gedurende die jaar is ingesluit by die gekonsolideerde inkomstestaat vanaf of tot die datum waarop effektiewe beheer verkry is of staak.

Intergroeptransaksies, -balanse en ongerealiseerde winste word met konsolidasie uitgeskakel. Ongerealiseerde verliese word ook uitgeskakel tensy die transaksie dui op die waardedaling van die bate wat oorgedra is.

Die rekeningkundige beleid van die filiale stem ooreen met dié wat deur die groep aangeneem is. Rekeningkundige beleid van verskeie nywerhede is in lyn gebring tot dié mate dat dit wesentlik en toepaslik vir die spesifieke nywerheid is.

Spesialedoel-entiteite word gekonsolideer wanneer die wese van die verhouding tussen die groep en die spesialedoel-entiteit toon dat die groep effektief die entiteit beheer.

Die groep beskou transaksies met minderheidsaandeelhouers as transaksies met aandeelhouers van die groep. Met die aankoop van minderheidsbelange word die verskil tussen die koopsom en die gedeelte van die drawaarde van die betrokke filiaal se netto bates verkry, van ekwiteit afgetrek. Met die verkoop van belange in filiale aan minderhede word verskille tussen enige opbrengs verkry en die belang van die minderheidsaandeelhouer in die drawaarde van die filiaal se netto bates ook in ekwiteit verantwoord.

Konsolidasie – Die Remgro Aandeletrust

Aangesien dit effektief deur die maatskappy beheer word, word Die Remgro Aandeletrust gekonsolideer.

Ekwiteitsverantwoording – gesamentlike ondernemings

Alle ondernemings wat gesamentlik beheer word, word volgens die ekwiteitsmetode verantwoord soos by geassosieerde maatskappye.

Ekwiteitsverantwoording – geassosieerde maatskappye

Entiteite wat nóg filiale nóg gesamentlike ondernemings is, maar waarin ’n langtermyn belang gehou word, en oor wie se finansiële en bedryfsbeleid ’n beduidende invloed uitgeoefen kan word, word volgens die ekwiteitsmetode as geassosieerde maatskappye verantwoord. Die resultate van geassosieerde maatskappye gekoop of verkoop word by die gekonsolideerde inkomstestaat ingesluit vanaf en tot die datum waarop beduidende effektiewe invloed begin of staak. Ongerealiseerde winste op transaksies tussen die groep en sy geassosieerde maatskappye word uitgeskakel tot die omvang van die groep se belang in die geassosieerde. Ongerealiseerde verliese word ook uitgeskakel tensy die transaksie dui op ’n waardedaling van die bate wat oorgedra is. Die groep se belang in behoue inkomste word na nie-verdeelbare reserwes oorgeplaas. Die groep se belang in ander bewegings in die reserwes van geassosieerde maatskappye word in ander omvattende inkomste verantwoord. Die drawaarde van die groep se geassosieerde maatskappye sluit klandisiewaarde in wat by verkryging geïdentifiseer is. Wanneer die groep se deel van verliese in ’n geassosieerde maatskappy gelyk is aan of groter is as sy belang in die geassosieerde, insluitende enige onversekerde lenings ontvangbaar, erken die groep nie enige verdere verliese nie, tensy die groep verpligtinge aangegaan of betalings namens die geassosieerde maatskappy gemaak het.

Die verwaterings- en teenverwateringsuitwerking van ekwiteitstransaksies deur geassosieerde maatskappye waarby Remgro nie ’n party is nie, word in ander omvattende inkomste verantwoord.

Sekere geassosieerde maatskappye se jaareindes stem nie ooreen met dié van die maatskappy nie. In sulke gevalle word die resultate van genoteerde en sekere ongenoteerde maatskappye vanaf die jongste gepubliseerde inligting en bestuurstate op jaareinde onderskeidelik, verantwoord. Waar nodig is die rekeningkundige beleid van geassosieerde maatskappye verander ten einde dit in lyn te bring met dié van Remgro en sy filiale tot dié mate dat dit wesentlik en toepaslik is vir die spesifieke nywerheid waarin die geassosieerde bedryf word.

Afsonderlike finansiële state

In Remgro se afsonderlike finansiële state word beleggings in filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatskappye teen kosprys getoon.

   
(II)      eienDOM, AANLEG EN TOERUSTING EN WAARDEVERMINDERING
 

Grond en geboue, masjinerie, toerusting, kantoortoerusting en voertuie –– word teen historiese kosprys minus opgehoopte waardevermindering getoon. Daaropvolgende koste word ingesluit by die drawaarde van die bate of as ’n afsonderlike bate erken, waar van toepassing, slegs wanneer dit waarskynlik is dat toekomstige ekonomiese voordele wat met die item verband hou na die groep sal vloei en die koste daarvan betroubaar gemeet kan word. Alle ander herstelwerk en onderhoud word in die inkomstestaat verantwoord in die tydperk wanneer die koste aangegaan is. W aardevermindering op geboue, masjinerie, toerusting, kantoortoerusting en voertuie word op die reguitlynmetode oor hul verwagte nuttige lewensduur voorsien teen koerse wat die koste daarvan afskryf na ’n geskatte reswaarde. Die geskatte reswaardes en verwagte nuttige lewensduur van bates word jaarliks op verslagdoeningsdatum hersien en aangepas indien nodig. Geen waardevermindering word op grond voorsien nie.

Huurbates –– Bates wat ingevolge ’n finansieringsbruikhuurooreenkoms gehuur word, d.i. waar die groep effektief al die risiko en voordele verbonde aan eiendomsreg verkry, word met ingang van die ooreenkoms teen die laagste van die billike waarde van die gehuurde bate of die huidige waarde van die minimum bruikhuurbetalings gekapitaliseer. Gehuurde bates word afgeskryf oor die kortste van die huurtermyn of die tydperk waaroor die betrokke batekategorie andersins afgeskryf word. Die ooreenstemmende huurverpligting, netto van finansieringskoste, word in nie-bedryfslaste ingesluit. Elke huur- betaling word geallokeer tussen die las en finansieringskoste ten einde ’n konstante koers op die uitstaande finansieringsbalans te verkry. Finansieringskoste word oor die huurtermyn in die inkomstestaat verantwoord deur van die effektiewe rentekoersmetode gebruik te maak.

Die huur van bates ingevolge waarvan alle risiko’s en voordele verbonde aan eiendomsreg effektief deur die verhuurder behou word, word as bedryfshure geklassifiseer. Betalings ten opsigte van bedryfshure word op die reguitlynmetode oor die huurtermyn teen inkomste verreken.

Voorproduksiekoste en rente –– Voorproduksiekoste en rente direk toeskryfbaar aan die verkryging, konstruksie of produksie van kwalifiserende bates, d.i. bates wat noodwendig ’n aansienlike tyd neem om gereed te maak vir hul voorgenome gebruik of verkoop, word gekapitaliseer as deel van die koste van die bate totdat die bate wesentlik gereed is vir sy voorgenome gebruik of verkoop. Beleggingsinkomste verdien op tydelike beleggings van spesifieke lenings in afwagting van hul spandering op kwalifiserende bates, word van gekapitaliseerde finansieringskoste afgetrek.

   
(III)     BIOLOGIESE LANDBOUBATES
 

Die billike waarde van die biologiese landboubates word op die volgende wyse in berekening gebring:

Groeiende oeste en boorde – Groeiende–en boorde bestaan uit twee elemente:
  • Draende biologiese bates – suikerrietwortels, sitrusbome en piesangplante
  • Verbruikbare biologiese bates – Staande suikerriet, sitrusvrugte en piesangs

Draende biologiese bates word gemeet teen billike waarde gebaseer op die huidige vervangingskoste van aanplanting en vestiging, waarna die waarde verminder word oor die nuttige lewensduur.

Verbruikbare biologiese bates word gemeet teen billike waarde, wat bepaal word volgens huidige geraamde markpryse minus geraamde koste ten opsigte van die oes, vervoer en verpakking van die bates en verkoopspuntkostes.
  • Staande suikerriet volgens geraamde sukrose inhoud, ouderdom en markprys.
  • Groeiende vrugte volgens geraamde opbrengs, kwaliteitstandaarde, ouderdom en markprys.

Broeivoorraad – Broeivoorraad sluit alle teel- en lê-bedrywighede in. Broeieiers word by broeivoorraad ingesluit. Broeivoorraad word gemeet teen billike waarde minus geskatte verkoopspuntkoste op rapporteringsdatums. Die bepaling van die billike waarde is gebaseer op markpryse of, waar markpryse nie beskikbaar is nie, met verwysing na sektorale norme.

Winste en verliese wat ontstaan met die aanvanklike erkenning van hierdie bates teen billike waarde minus beraamde verkoopspuntkoste en as gevolg van ’n verandering in billike waarde minus beraamde verkoopspuntkoste word in wins en verlies verantwoord gedurende die tydperk waarin dit ontstaan.

Groeiende oeste en boorde – draende biologiese bates word as nie-bedryfsbates in die staat van finansiële stand verantwoord, terwyl broeivoorraad en groeiende oeste en boorde – verbruikbare biologiese bates as bedryfsbates verantwoord word.

   
(IV)     BELEGINGSEIENDOMME
 

Beleggingseiendomme word gehou om huurinkomste te genereer en kapitaalwaarde toe te voeg. Beleggingseiendomme word as langtermynbeleggings verantwoord en word teen kosprys minus opgelope waardevermindering getoon. Waardevermindering op geboue word op die reguitlynmetode oor hul verwagte nuttige lewensduur voorsien ten einde die geboue na hul geskatte reswaardes af te skryf.

Beleggingseiendomme word elke derde jaar waardeer deur eksterne onafhanklike professionele waardeerders..

   
(V)      ONTASBARE BATES
 

Klandisiewaarde – Met die verkryging van ’n belegging word billike waardes soos op datum van belangsverkryging aan identifiseerbare bates, laste en voorwaardelike verpligtinge verkry, toegedeel. K landisiewaarde is die verskil tussen die koste van die beleggings en die billike waardes van toeskryfbare netto bates van filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatskappye op die datum van belangsverkryging. Klandisiewaarde word as nie-bedryfsbates in die staat van finansiële stand verantwoord en word teen koste minus opgehoopte waardedalingsverliese getoon. K landisiewaarde toeskryfbaar aan geassosieerde maatskappye en gesamentlike ondernemings word by die drawaarde van hierdie maatskappye ingesluit.

Handelsmerke – Die koste om handelsmerke te ontwikkel en te vestig, word met die aangaan van sulke koste afgeskryf. Gevolglik word die waardes daarvan nie in die finansiële jaarstate aangetoon nie. Die koste van handelsmerke wat aangekoop is, word op die reguitlynmetode oor hul verwagte nuttige lewensduur afgeskryf.

Navorsings- en ontwikkelingskoste – Navorsingskoste word met die aangaan van sulke koste afgeskryf. Waar daar aan al die bate-erkenningsmaatstawwe voldoen word, word ontwikkelingskoste gekapitaliseer en oor die verwagte nuttige lewensduur van die produk afgeskryf. Ontwikkelingskoste wat voorheen as ’n uitgawe erken is, word nie in ’n daaropvolgende tydperk as ’n bate erken nie.

Handelsmerke en gekapitaliseerde ontwikkelingskoste met onbepaalde leeftye word nie geamortiseer nie.

   
(VI)     FINANSIËLE INSTRUMENTE
 

Finansiële instrumente in die finansiële state geopenbaar sluit in kontant en kontantekwivalente, beleggings, afgeleide instrumente, debiteure en korttermynlenings, handels- en ander krediteure en lenings. Finansiële instrumente word aanvanklik teen billike waarde, transaksiekoste ingesluit, erken, wanneer die groep ’n party word by die kontraktuele terme van die instrumente. Die transaksiekoste verwant aan die verkryging van finansiële instrumente gehou teen billike waarde deur wins en verlies word in die inkomstestaat verantwoord. Ná aanvanklike erkenning word die instrumente soos volg verantwoord:

Lenings en debiteure – Lenings en debiteure is nie-afgeleide finansiële instrumente met vaste of bepaalbare paaiemente wat nie in ’n aktiewe mark gekwoteer is nie. Hierdie instrumente word teen geamortiseerde koste getoon deur van die effektiewe rentekoersmetode gebruik te maak.

Finansiële instrumente gehou tot vervaldatum – Instrumente met ’n vaste vervaldatum, waar die groep die bedoeling en vermoë het om dit tot die vervaldatum te hou, word geklassifiseer as finansiële instrumente gehou tot vervaldatum en teen geamortiseerde koste verantwoord deur gebruik te maak van die effektiewe rentekoersmetode.

Finansiële instrumente beskikbaar vir verkoop – Ander langtermyn finansiële instrumente word geklassifiseer as beskikbaar vir verkoop en teen billike waarde verantwoord. Ongerealiseerde winste en verliese wat voortspruit uit veranderinge in die billike waarde van finansiële instrumente beskikbaar vir verkoop, word in ander omvattende inkomste verantwoord in die tydperk waarin dit ontstaan. Wanneer hierdie finansiële instrumente óf onterken word óf ’n waardedaling plaasvind, word die opgelope billike waarde aanpassings gerealiseer en in die inkomstestaat verantwoord.

Finansiële instrumente gehou teen billike waarde deur wins en verlies – Hierdie instrumente, wat bestaan uit finansiële instrumente gehou vir verhandeling en dié wat by hul ontstaan aangewys word as gehou teen billike waarde deur wins en verlies, word teen billike waarde verantwoord. Afgeleide instrumente word ook as gehou vir verhandeling geklassifiseer tensy dit as ’n skans aangewys is. Gerealiseerde en ongerealiseerde winste en verliese wat voortspruit uit veranderinge in die billike waarde van hierdie finansiële instrumente word in die inkomstestaat ingesluit in die tydperk waarin dit ontstaan.

Handelskrediteure en lenings – Handelskrediteure en lenings word aanvanklik teen billike waarde erken en daarna teen geamortiseerde koste gemeet deur van die effektiewe rentekoersmetode gebruik te maak. A lle aankope en verkope van finansiële instrumente word op transaksiedatum verantwoord. Finansiële bates (of gedeeltes daarvan) word onterken wanneer die groep sy regte, soos in die kontrak gespesifiseer, realiseer, die regte verval of die groep sy kontraktuele regte, wat die finansiële bate omvat, prysgee of beheer daaroor verloor. By die onterkenning van ’n finansiële bate word die verskil tussen die drabedrag van dié bate en die opbrengs ontvang, sowel as enige vorige aanpassings ten einde die billike waarde daarvan te weerspieël en teen ander omvattende inkomste verantwoord was, in die inkomstestaat verantwoord. Finansiële laste (of gedeeltes daarvan) word onterken wanneer die groep onthef word van die verpligting gespesifiseer in die kontrak, die verpligting gekanselleer word, of dit verval. By die onterkenning van ’n finansiële las word die verskil tussen die drabedrag van dié las, ingesluit verwante ongeamortiseerde kostes sowel as enige bedrag daarvoor betaal, in die inkomstestaat verantwoord.

Raming van billike waarde – Finansiële instrumente wat teen billike waarde in die staat van finansiële stand gemeet word, word geopenbaar in een van die volgende vlakke van billike waarde hiërargie:
  • Vlak 1 – Genoteerde pryse (onaangepas) in aktiewe markte vir soortgelyke bates of laste;
  • Vlak 2 – Insette (anders as genoteerde pryse binne vlak 1) wat waarneembaar is vir die bate of las, direk (as pryse) of indirek (afgelei vanaf pryse); en
  • Vlak 3 – Insette vir die bate of las wat nie op waarneembare markinligting gebaseer is nie (nie-waarneembare insette).

Die billike waarde van finansiële instrumente wat in ’n georganiseerde finansiële mark verhandel, word teen die toepaslike gekwoteerde pryse gemeet. Die billike waarde van finansiële instrumente wat nie in ’n georganiseerde finansiële mark verhandel nie, word bepaal deur gebruik te maak van ’n verskeidenheid van metodes en aannames gebaseer op markomstandighede en risiko wat op verslagdoeningsdatum bestaan, ingesluit onafhanklike evaluerings en verdiskonteerdekontantvloeimetodes. Billike waarde verteenwoordig ’n beraming van moontlike waardes wat mag verskil van die waarde wat uiteindelik gerealiseer gaan word.

Daar is groepmaatskappye wat ook partye is by afgeleide finansiële instrumente wat die blootstelling aan finansiële risiko’s verlaag. Hierdie instrumente bestaan hoofsaaklik uit termynkontrakte. Sekere groepmaatskappye pas verskansingsrekeningkunde toe. Winste en verliese wat voortspruit uit kontantvloeiskanse word in ander omvattende inkomste erken, terwyl winste en verliese wat voortspruit uit billikewaardeskanse in die inkomstestaat erken word in die tydperk waarin dit ontstaan. Groepmaatskappye wat nie verskansingsrekeningkunde toepas nie, erken veranderinge in die billike waarde van hierdie en ander afgeleide instrumente in die inkomstestaat in die tydperk waarin dit ontstaan.

Enige afgeleide instrumente ingesluit in finansiële instrumente word van die gasheerkontrak geskei wanneer hul ekonomiese eienskappe nie ’n noue verwantskap toon met dié van die gasheerkontrak nie en die gasheerkontrak nie teen billike waarde verantwoord word nie. Winste en verliese word in die inkomstestaat verantwoord.

Waar ’n wetlike huidig afdwingbare reg bestaan om erkende finansiële bates en laste teen mekaar te verreken, en daar die voorneme is om gelyktydig die las te vereffen en die bate te realiseer, of om op ’n netto grondslag te vereffen, word alle verwante finansiële uitwerkings teen mekaar verreken.

   
(VII)    nie-BEDRYFSBATES GEHOU VIR VERKOOP EN STAAK VAN BEDRYWIGHEDE
 

Nie-bedryfsbates (of vervreemdingsgroepe) word geklassifiseer as gehou vir verkoop indien hul drawaardes hoofsaaklik deur ’n verkoopstransaksie, eerder as deur voortdurende verbruik, verhaal sal word. Hierdie bates (of vervreemdingsgroepe) word gemeet teen die laagste van óf drawaarde óf billike waarde minus verkoopskoste.

Die groep klassifiseer ’n komponent as ’n beëindigde bedrywigheid wanneer daardie komponent vervreem is, of as gehou vir verkoop geklassifiseer is; en
  • dit ’n aparte hooflyn van besigheid of geografiese area van bedrywighede verteenwoordig;
  • dit deel is van ’n enkele plan om ’n aparte hooflyn van besigheid of geografiese area van bedrywighede te vervreem; of
  • dit ’n filiaal is wat verkry is met die uitsluitlike doel om herverkoop te word.

’n Komponent van die groep bestaan uit bedrywighede en kontantvloeie wat duidelik vir bedryfs- en finansiële rapporteringsdoeleindes onderskei kan word van die res van die groep.

   
(VIII)   vOORRAad
 

Voorraad word teen die laagste van kosprys of netto realiseerbare waarde getoon. Die grondslag waarvolgens koste, wat finansieringskoste uitsluit, bepaal word, is die eerste-ineerste- uit-kostemetode. Netto realiseerbare waarde is die beraamde verkoopprys in die normale gang van besigheid, minus veranderlike verkoopskoste. Waar van toepassing, word voorsiening vir stadig bewegende en verouderde voorraad gemaak. Onvoltooide werk en klaarprodukte sluit direkte koste en ’n toepaslike deel van vervaardigingsbokoste in.

   
(IX)     BELASTING
 

Lopende belasting word voorsien deur gebruik te maak van heersende belastingkoerse gebaseer op toepaslike belastingwette.

Uitgestelde belasting word voorsien volgens die staat van finansiële stand-aanspreeklikheidsmetode en deur gebruik te maak van heersende belastingkoerse. Voorsiening word gemaak vir alle tydelike verskille tussen die belastingbasis van bates en laste en hulle drawaardes in die staat van finansiële stand. Geen uitgestelde belastingaanspreeklikheid word erken in daardie omstandighede waar die aanvanklike erkenning van ’n bate of las geen invloed het op rekeningkundige of belasbare inkomste nie. Geen uitgestelde belastingbates word erken nie tensy dit waarskynlik is dat voldoende belasbare inkomste beskikbaar sal wees in toekomstige tydperke waarteen dié bates aangewend kan word.

Sekondêre belasting op maatskappye word voorsien ten opsigte van dividendbetalings, netto van dividende ontvang of ontvangbaar, en word erken as ’n belastinguitgawe vir die jaar.

   
(X)      BUITELANDSE VALUTA
 

Funksionele en verslagdoeningsgeldeenheid

Items wat by die finansiële state van elk van die groep se entiteite ingesluit is, word gemeet deur gebruik te maak van die geldeenheid van die primêre ekonomiese omgewing waarin die entiteit bedryf word, d.i. sy funksionele geldeenheid. Die funksionele geldeenheid van die maatskappy en die verslagdoeningsgeldeenheid van beide die maatskappy en die groep is rand. Alle bedrae, tensy anders aangetoon, word in miljoene getoon.

Transaksies en balanse

Transaksies in buitelandse geldeenhede word na die funksionele geldeenheid omgereken teen die wisselkoers wat op die transaksiedatum heers. Wisselkoerswinste en -verliese wat ontstaan uit die vereffening van sulke transaksies en die omrekening op jaareinde teen die dan heersende wisselkoerse van monetêre bates en laste wat gedenomineer is in buitelandse geldeenhede, word in die inkomstestaat erken, tensy dit in ander omvattende inkomste uitgestel word as kwalifiserende kontantvloeiskanse en kwalifiserende netto beleggingskanse. Omrekeningsverskille op nie-monetêre items word volgens die klassifikasie van die onderliggende items verantwoord. Wisselkoerswinste en -verliese op finansiële instrumente geklassifiseer as beskikbaar vir verkoop word in ander omvattende inkomste ingesluit, terwyl dié op finansiële instrumente gedra teen billike waarde deur wins en verlies as deel van die billike waarde wins of verlies verantwoord word.

Groepsentiteite

Die resultate en finansiële posisie van alle buitelandse bedrywighede (uitgesluit dié wat in hiperinflasionêre ekonomieë bedryf word) met ’n funksionele geldeenheid wat verskil van die groep se verslagdoeningsgeldeenheid, word soos volg na die verslagdoeningsgeldeenheid omgereken:
  • Bates en laste word teen die sluitingskoers op die verslagdoeningsdatum omgereken.
  • Inkomste en uitgawes vir elke inkomstestaat word teen die gemiddelde wisselkoerse vir die jaar omgereken, tot dié mate dat die gemiddelde wisselkoerse die werklike koerse weerspieël.
  • Alle voortspruitende wisselkoersverskille word in ander omvattende inkomste verantwoord. Met konsolidasie word wisselkoersverskille, voortspruitend uit die omrekening van die netto belegging in buitelandse bedrywighede, en van lenings en ander geldeenheidinstrumente wat as skans van sulke beleggings aangewys is, in ander omvattende inkomste verantwoord.

Met die vervreemding van buitelandse bedrywighede word die verwante wisselkoersverskille in die inkomstestaat erken as deel van die wins of verlies met die verkoop. Klandisiewaarde en billike waarde aanpassings voortspruitend uit die verkryging van buitelandse bedrywighede word as bates en laste van die buitelandse bedrywigheid hanteer en teen die sluitingskoers op verslagdoeningsdatum omgereken.

   
(XI)     WAARDEDALING VAN BATES
 

Klandisiewaarde en ontasbare bates met onbeperkte lewensduur

Hierdie bates word jaarliks oorweeg vir moontlike waardedalings. Ten einde te bepaal of ’n waardedaling daarop plaasgevind het, word klandisiewaarde toegedeel aan kontantgenererende eenhede. ’n Kontantgenererende eenheid is die laagste komponent van die besigheid wat in bestuurstate gemeet word en waarvan verwag word om kontantvloeii te genereer wat grotendeels onafhanklik van ’n ander besigheidskomponent is. Waardedalingsverliese wat verband hou met klandisiewaarde word nie teruggeskryf nie. Enige waardedaling word in inkomste verantwoord.

Ander bates

Op elke rapporteringsdatum oorweeg die groep of daar objektiewe bewyse van ’n waardedaling van ander bates bestaan.

 

  • Waardedaling – filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatskappye
    ’n Waardedaling van ’n bate vind plaas wanneer die drabedrag groter is as die verwagte verhaalbare bedrag. Die verhaalbare bedrag is die hoogste van billike waarde minus verkoopskoste of die waarde in gebruik. Die drawaardes van filiale, gesamentlike ondernemings en geassosieerde maatskappye word hersien, indien daar objektiewe bewyse bestaan wat op ’n waardedaling dui, en afgeskryf vir waardedalings waar nodig.

  • Beleggingseiendomme, eiendom, aanleg en toerusting en ontasbare bates met beperkte lewensduur
    Waar geïdentifiseer word dat die verhaalbare bedrag van hierdie bates gedaal het benede die betrokke bates se drabedrag, word die drabedrag verminder ten einde die waardedaling te reflekteer. Sulke afskrywings word in die inkomstestaat verantwoord.

  • Finansiële instrumente getoon teen geamortiseerde koste
    ’n Waardedaling word erken en die finansiële bate se drabedrag word afgeskryf slegs indien daar objektiewe bewyse van ’n waardedaling bestaan en laasgenoemde die gevolg is van een of meer gebeure wat plaasgevind het na die aanvanklike erkenning van die bate (’n ‘waardedalingsgebeurtenis’) en die waardedalingsgebeurtenis ’n uitwerking het op die verwagte toekomstige kontantvloei van die finansiële bate, en betroubaar gemeet kan word.

    Indien daar objektiewe bewyse bestaan dat ’n waardedalingsverlies op lenings en debiteure óf beleggings gehou tot vervaldatum wat teen geamortiseerde koste verantwoord word, plaasgevind het, word die bedrag van die verlies gemeet as die verskil tussen die bate se drabedrag en die huidige waarde van die verwagte toekomstige kontantvloei verdiskonteer teen die finansiële bate se oorspronklike effektiewe rentekoers. Die drabedrag van die bate word verminder en die bedrag van die verlies word in die inkomstestaat verantwoord. In die geval van ’n belegging gehou tot vervaldatum of ’n lening met ’n veranderlike rentekoers, is die verdiskonteringskoers vir die meting van die waardedalingsverlies die huidige effektiewe rentekoers wat ingevolge die kontrak bepaal is.

    As ’n praktiese hulpmiddel, mag die groep waardedaling meet op die basis van ’n instrument se billike waarde deur van waarneembare markpryse gebruik te maak. Indien die bedrag van die waardedalingsverlies in ’n daaropvolgende tydperk afneem en die afname objektief aan ’n gebeurtenis gekoppel kan word wat plaasgevind het nadat die aanvanklike waardedaling erken is, soos ’n verbeterde kredietgradering, word die waardedalingsverlies wat voorheen erken is teruggeskryf en in die inkomstestaat verantwoord.

  • Finansiële bates getoon teen billike waarde
    Indien enige objektiewe bewyse van ’n waardedaling bestaan vir finansiële bates beskikbaar vir verkoop, word die kumulatiewe verlies, gemeet as die verskil tussen die verkrygingskoste en huidige billike waarde minus enige waardedalingsverliese ten opsigte van die finansiële bate wat voorheen in wins en verlies verantwoord is, uit ander omvattende inkomste verwyder en in die inkomstestaat verantwoord. W aardedalingsverliese op ekwiteitsinstrumente wat in die inkomstestaat verantwoord is, word nie later deur die inkomstestaat teruggeskryf nie, maar word in ander omvattende inkomste verantwoord.
   
(XII)    vOORSIENINGS
 

Voorsienings word erken wanneer ’n wetlike of konstruktiewe verpligting ontstaan as gevolg van gebeure in die verlede, dit waarskynlik is dat ’n uitvloei van hulpbronne wat ekonomiese voordele omvat vereis sal word om die verpligting te vereffen, en ’n betroubare beraming van die bedrag van die verpligting gemaak kan word. Voorsienings word gemeet teen die huidige waarde van die uitgawes wat na verwagting benodig gaan word ten einde die verpligting af te los. Die huidige waarde word bereken deur gebruik te maak van ’n voorbelaste koers wat die huidige markaanslag van die tydwaarde van geld en die spesifieke risiko’s wat met die verpligting verband hou in aanmerking neem. Die toename in die voorsiening as gevolg van tydsverloop word as rente-uitgawe erken.

   
(XII)    WERKNEMERVOORDELE
 

Na-aftredevoordele

Pensioenverpligtinge – Maatskappye in die groep verskaf omskrewevoordeel- en omskrewebydrae-na-aftredefondse vir hulle werknemers. Die planbates van dié fondse word in afsonderlike trustee-bestuurde fondse gehou. Die fondse word deur betalings van die werknemers en die groep befonds, gebaseer op aanbevelings deur onafhanklike, gekwalifiseerde aktuarisse.

Die rekeningkundige pensioenkoste van die omskrewevoordeel-fondse word bepaal deur gebruik te maak van die geprojekteerde kredieteenhedemetode. Die koste om pensioene te voorsien word in die inkomstestaat verreken deur die koste te versprei oor die dienstermyn van werknemers in ooreenstemming met advies van gekwalifiseerde aktuarisse. Die pensioenverpligting word bepaal volgens die huidige waarde van die geskatte toekomstige kontantuitvloeie deur gebruik te maak van rentekoerse van staatseffekte wat ongeveer dieselfde terme tot vervaldatum het as die verwante verpligting.

Verstrekediens-koste word onmiddellik afgeskryf, behalwe waar veranderinge in die pensioenplan die voorwaarde stel dat werknemers in diens bly vir ’n bepaalde vestigingstydperk, in welke geval die verstrekediens-koste op ’n reguitlyngrondslag oor die vestigingstydperk geamortiseer word.

Die netto surplus of tekort van die voordeelverpligting is die verskil tussen die huidige waarde van die befondsde verpligtinge en die billike waarde van die fondsbates. Indien die opgelope onerkende aktuariële winste en verliese aan die einde van die vorige verslagdoeningstydperk die grootste van 10% van die omskrewevoordeel-verpligting of -bate oorskry, word dié oorskot in toekomstige tydperke oor die verwagte gemiddelde oorblywendedienstermyne van die deelnemende werknemers verantwoord.

Die groep se bydrae tot die omskrewebydraepensioenfondse word verreken in die inkomstestaat in die jaar waarop dit betrekking het.

Na-aftrede mediese verpligtinge – Die groep verskaf na-aftrede mediese voordele aan afgetrede werknemers. Die geregtigheid op na-aftrede mediese voordele is gebaseer op die vereiste dat die werknemers in diens bly tot aftrede en die voltooiing van ’n minimum diensperiode. Die geprojekteerde kredieteenhedemetode van waardasie word gebruik vir die berekening van die na-aftrede mediese verpligting. D ie verwagte koste van dié voordele word as uitgawe verantwoord en die verpligting oor die tydperk van diens geakkumuleer deur gebruik te maak van rekeningkundige metodologie wat ooreenstem met dié van omskrewevoordeelpensioenfondse. Waardasies van dié verpligtinge word uitgevoer deur onafhanklike, gekwalifiseerde aktuarisse.

Ekwiteitsvergoedingsplanne

Die Remgro groep bedryf verskeie ekwiteitskikkende aandeelgebaseerde vergoedingsplanne. Alle aanbiedinge toegestaan na 7 November 2002 en wat nog nie teen 1 Januarie 2005 gevestig het nie, word as aandeelgebaseerde betalingstransaksies verantwoord. Die billike waarde van aanbiedinge word op die toekenningsdatum bepaal en as werknemersdienskoste oor die vestigingstydperk van die aanbod verantwoord, met ’n ooreenstemmende toename in ekwiteit, gebaseer op die groep se beraming van die aantal aandele wat uiteindelik sal vestig. Die billike waarde word bepaal deur van ’n binomiale model gebruik te maak. Die verwagte kontraklewe wat gebruik is in die model is aangepas volgens bestuur se beste beraming van die effek van nieoordraagbaarheid, uitoefeningsbeperkinge en gedragsoorwegings.

Enige winste en verliese wat realiseer uit aandele gelewer aan die deelnemers van die skemas word direk in ekwiteit erken. Die opbrengs ontvang, na aftrekking van enige direk toeskryfbare transaksiekostes, word teen tesourie-aandele verreken wanneer die opsies uitgeoefen word.

Korttermynvoordele

Werknemers se geregtigheid op verlof word erken wanneer dit ophoop ten gunste van die betrokke werknemers. ’n Krediteur word geskep vir die beraamde aanspreeklikheid vir verlof as gevolg van dienste wat deur werknemers gelewer word tot op verslagdoeningsdatum.

   
(XIV)   KONTANT EN KONTANTEKWIVALENTE
 

Vir doeleindes van die staat van kontantvloei bestaan kontant en kontantekwivalente uit kontant voorhande, korttermyn regeringskuldinstrumente, daggeld-deposito’s by banke en beleggings in geldmarkinstrumente, netto van bankoortrekkings. Bankoortrekkings word in die staat van finansiële stand by korttermyn rentedraende lenings ingesluit.

   
(XV)    beleggings in geldmarkfondse
 

Beleggings in geldmarkfondse hou verband met beleggings in aandele in likiditeitsfondse waarvan die onderliggende beleggings vervaldatums van tot een jaar het. Die aandele in hierdie fondse mag daagliks teruggerroep word.

   
(XVI)   INKOMSTE-ERKENING
 

Inkomste uit die verkoop van produkte word verantwoord wanneer die wesentlike risiko’s en voordele van eienaarskap na die koper oorgedra is. Inkomste uit dienste word verantwoord sodra die diens gelewer is. Verkope bestaan uit die billike waarde van die vergoeding ontvang of ontvangbaar vir die verkoop van goedere en dienste in die normale gang van die groep se bedrywighede en word netto van belasting op toegevoegde waarde, teruggestuurde goedere en afslag getoon.

Rente word op ’n tydsbasis verantwoord (met inagneming van die uitstaande kapitaal, die effektiewe koers en die tydperk), tensy invorderbaarheid twyfelagtig is. Dividende word verantwoord wanneer die reg om betaling te ontvang, gevestig word

   
(XVII)  AANDELEKAPITAAL
 

Gewone aandele en B-gewone aandele van die maatskappy word as ekwiteit geklassifiseer. Koste wat direk aan die uitreiking van nuwe aandele toegeskryf kan word, word as ’n aftrekking teen die opbrengs in ekwiteit verantwoord.

Aandele in die maatskappy wat deur groepmaatskappye gehou word, word as tesourieaandele geklassifiseer en teen kosprys getoon. Hierdie aandele word as ’n aftrekking teen die uitgereikte aantal aandele hanteer en in berekening gebring by die bepaling van die geweegde gemiddelde aantal aandele. Die kosprys van die aandele word teen die groep se ekwiteit verreken.

   
(XVII)  UITKERING VAN DIVIDENDE
 

Uitkering van bates aan aandeelhouers van die maatskappy word teen billike waarde verantwoord.

   
(XIX)   ONDERSKEIDING TUSSEN KORTTERMYN/LANGTERMYN
 

Items word as korttermyn geklassifiseer indien daar verwag word dat dit gerealiseer, verhandel, verbruik of afgelos sal word binne twaalf maande na die verslagdoeningsdatum, óf indien die groep nie ’n onvoorwaardelike reg het om aflossing uit te stel tot ten minste twaalf maande na die verslagdoeningsdatum nie.

   
(XX)    SEGMENTVERSLAGDOENING
 

Operasionele segmente word aangebied op ’n soortgelyke wyse as wat dit vir doeleindes van interne rapportering aan die hoof bedryfsbesluitnemer gebied word. Die hoof bedryfsbesluitnemer, wat verantwoordelik is vir die toewysing van hulpbronne en evaluering van die prestasie van die operasionele segmente, is geïdentifiseer as die raad van direkteure van die maatskappy, wat strategiese besluite neem.

   
(XXI)   KRITIESE REKENINGKUNDIGE OORDEEL EN KRITIESE REKENINGKUNDIGE RAMINGS EN AANAMES
 

Die voorbereiding van die finansiële state noodsaak die gebruik van ramings, aannames en oordeel wat die gerapporteerde bedrae in die staat van finansiële stand en inkomstestaat beïnvloed. Hoewel ramings op bestuur se beste kennis en oordeel van bestaande feite op verslagdoeningsdatum gebaseer is, kan die werklike resultate van hierdie ramings verskil.

Kritiese oordeel in die toepassing van die groep se rekeningkundige beleid

Die mees beduidende oordeel uitgeoefen hou verband met die klassifikasie van beleggings as geassosieerde maatskappye pleks van beleggings beskikbaar vir verkoop. Daar is sekere beleggings waaroor, na die mening van Remgro, ’n beduidende invloed uitgeoefen word, hoewel Remgro ’n belang van minder as 20% in hierdie maatskappye het. Aangesien Remgro egter direksieverteenwoordiging het en een van die grootste aandeelhouers in hierdie maatskappye is, het hy beduidende invloed in hulle finansiële en bedryfsbeleid en word daardie beleggings volgens die ekwiteitsmetode as geassosieerde maatskappye verantwoord. Die billike waarde van geassosieerde maatskappye word in aantekening 6 by die finansiële jaarstate uiteengesit.

Kritiese oordeel word ook toegepas ten opsigte van die bepaling van die funksionele geldeenheid van die buitelandse entiteite wat die groep se kontant en korttermynbeleggings huisves. Die funksionele geldeenhede van hierdie entiteite word bepaal met verwysing na die geldeenheid waarin die entiteite se kontantinvloeie uit bedrywighede genereer, aangesien dit die betroubaarste weerspieëling is van die ekonomiese impak van die onderliggende transaksies, gebeure en toestande. Die bedrywighede van hierdie entiteite kan duidelik onderskei word van die houermaatskappy en die entiteite word afsonderlik van mekaar bedryf in terme van ’n strategiese beleggingsplan om in sterk geldeenhede te belê, gebaseer op spesifieke en voorafbepaalde portefeuljetoekennings. Gevolglik word wisselkoersverskille wat op die omskakeling van hierdie entiteite na die verslagdoeningsgeldeenheid van die groep ontstaan, in ander omvattende inkomste uitgestel totdat dit gerealiseer is, in plaas daarvan om dit op ’n deurlopende basis in die inkomstestaat te verantwoord.

Kritiese rekeningkundige ramings en aannames

’n Beduidende raming hou verband met die groep se rekeningkundige beleid om uitgestelde belasting te voorsien op alle tydelike verskille tussen die drawaarde en die belastingbasis van beleggings. Hierdie belasting word gemeet teen die beraamde belastinggevolge gebaseer op die wyse waarop die entiteit, op die verslagdoeningsdatum, verwag om die drawaarde van die onderskeie beleggings te realiseer. Die drawaarde van beleggings in geassosieerde maatskappye word hoofsaaklik by wyse van dividende verhaal. Aangesien geen belasbare tydelike verskille bestaan nie, word geen uitgestelde belasting voorsien nie. Uitgestelde belasting op die billike waarde aanpassings van beleggings beskikbaar vir verkoop word voorsien gebaseer op die toekomstige ekonomiese voordeel wat die entiteit na verwagting uit die bate sal realiseer, d.i. ’n kombinasie van dividende en kapitale winste of verliese.

Ander ramings en aannames hou verband met die bepaling van die nuttige lewensduur van bates, waardedalings, die waardasie van ongenoteerde beleggings, die voorsiening van uitgestelde belasting vir die maatskappy se onbenutte SBM (sekondêre belasting op maatskappye)-krediete en die aannames wat gebruik is in die berekening van die verpligtinge wat verband hou met aftreevoordele en aandeelgebaseerde betalings. Besonderhede van hierdie ramings en aannames word in die toepaslike aantekeninge by die finansiële jaarstate uiteengesit.

Kritiese rekeningkundige ramings en aannames is gemaak tydens die aankoopprys allokasie proses in die verantwoording van die VenFinverkryging as ’n besigheidsamevoeging ingevolge IFRS 3: Besigheidsamevoegings. Hierdie ramings en aannames hou verband met die bepaling van nuttige lewensdure van bates, diskontokoerse, groeikoerse en waardasie van ongenoteerde beleggings.

   
(XXII)  nUWE REKENINGKUNDIGE STANDPUNTE EN INTERPRETASIES
 

Bestuur het alle nuwe rekeningkundige standpunte, interpretasies en wysigings aan IFRS wat reeds op 31 Maart 2010 uitgereik is maar nog nie op dié datum van krag geword het nie, oorweeg. Die standpunte wat op die groep van toepassing is, maar nie vroeg geïmplementeer is nie, is die volgende:

  • IFRS 9: Finansiële Instrumente
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Januarie 2013) D ie Raad van Internasionale Rekeningkundige Standaarde (IASB) het IFRS 9: Finansiële Instrumente uitgereik as ’n eerste stap ter vervanging van IAS 39: Finansiële Instrumente – Erkenning en Meting. IFRS 9 stel nuwe vereistes vir die klassifisering en meting van finansiële bates.

    Die IASB beplan om IFRS 9 gedurende 2010 uit te brei om nuwe vereistes vir klassifisering en meting van finansiële laste, onterkenning van finansiële laste, waardedaling en skansrekeningkunde daar te stel. Teen die einde van 2010 sal IFRS 9 ’n algehele plaasvervanger vir IAS 39 wees, maar die toepassing daarvan sal eers vanaf 1 Januarie 2013 verpligtend wees.

  • IFRIC 17: Verdeling van Nie-kontant Bates aan Eienaars
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2009)
    Hierdie interpretasie verskaf riglyne vir ’n entiteit se verantwoording en meting van:
    • verdeling van nie-kontant bates aan sy eienaars; en
    • distribusies wat eienaars ’n keuse bied tussen die ontvangste van nie-kontantbates of ’n kontant-alternatief.

    ’n Entiteit moet die dividend betaalbaar meet teen die billike waarde van die netto bates wat verdeel word. Die verskil tussen die dividend betaal en die boekwaarde van die netto bates wat verdeel word moet in wins en verlies verantwoord word.

  • IFRIC 18: Oordrag van Bates vanaf Kliënte
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2009)
    Hierdie interpretasie bevestig die vereistes van IFRS’e vir ooreenkomste waarvolgens ’n entiteit eiendom, aanleg en toerusting vanaf ’n kliënt ontvang wat aangewend moet word om die kliënt toegang tot ’n netwerk te gee of om voortgesette toegang tot goedere en dienste aan die kliënt te bied.

    IFRIC 18 verskaf riglyne aangaande die identifisering van die entiteit se verpligting om een of meer apart identifiseerbare dienste in ruil vir die bate wat oorgedra word te lewer – en dus, die erkenning van hierdie inkomste.

  • IFRIC 19: Delging van Finansiële Laste met Ekwiteitsinstrumente
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2010)
    H ierdie interpretasie bevestig die vereistes van IFRS wanneer ’n entiteit weer die terme van ’n finansiële las met sy krediteur onderhandel en die krediteur toestem om die entiteit se aandele of ander ekwiteitsinstrumente te aanvaar ten volle of gedeeltelike vereffening van die finansiële las:
    • Die entiteit se ekwiteitsinstrumente uitgereik aan ’n krediteur vorm deel van die teenprestasie betaal ter vereffening van die finansiële las.
    • Die ekwiteitsinstrumente wat uitgereik word, word teen billike waarde gemeet. Indien die billike waarde nie betroubaar gemeet kan word nie, moet die ekwiteitsinstrumente gemeet word teen die billike waarde van die finansiële las wat vereffen word.
    • Die verskil tussen die drabedrag van die vereffende finansiële las en die aanvanklike metingsbedrag van die ekwiteitsinstrumente wat uitgereik word, moet in die entiteit se inkomstestaat vir die tydperk verantwoord word.

  • Gewysigde IFRS 3: Besigheidsamevoegings
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2009)
    Die gewysigde standpunt vestig beginsels vir die erkenning en meting van identifiseerbare bates verkry, laste aanvaar en enige nie-beherende belange wat in ’n entiteit verkry word.

    Enige klassifikasie of aanwysing gemaak in die erkenning van hierdie items moet ingevolge kontraktuele voorwaardes, ekonomiese omstandighede, die verkryger se operasionele en rekeningkundige beleid en ander faktore, wat op die verkrygingsdatum bestaan, gedoen word.

    Elke identifiseerbare bate en las word gemeet teen sy billike waarde op die verkrygingsdatum. Enige nie-beherende belang in ’n verkreë entiteit word gemeet teen billike waarde of teen die nie-beherende belang se proporsionele gedeelte van die verkreë entiteit se netto identifiseerbare bates.

    Die standpunt verskaf beperkte uitsonderings tot hierdie erkennings- en metingsbeginsels.

  • Gewysigde IAS 24: Verwante Party Openbaarmaking
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Januarie 2011)
    D ie gewysigde standpunt bied ’n vrystelling van openbaarmakingsvereistes vir transaksies tussen entiteite wat beheer, gesamentlik beheer of waaroor beduidende invloed uitgeoefen word deur dieselfde staat (‘staatsbeheerde entiteite’).

    Die definisies van ’n verwante party en ’n verwante party transaksie is ook gewysig om die bedoelde betekenis te bevestig en sekere teenstrydighede te verwyder.

  • Gewysigde IAS 27: Gekonsolideerde en Afsonderlike Finansiële State
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2009)
    Die standpunt spesifiseer in watter omstandighede ’n entiteit die finansiële state van ’n ander entiteit (synde ’n filiaal) moet konsolideer, die rekeningkundige verantwoording van veranderinge in die eienaarsvlakke in ’n filiaal, die verantwoording van verlies van beheer van ’n filiaal en die inligting wat ’n entiteit moet openbaar om gebruikers van finansiële state in staat te stel om die aard van die verhouding tussen die entiteit en sy filiale te evalueer.

    Die standpunt vereis verder dat niebeherende belange in die gekonsolideerde staat van finansiële stand binne ekwiteit, afsonderlik van dié van die eienaars van die houermaatskappy, geopenbaar word. Totale omvattende inkomste moet toegedeel word aan beide die eienaars van die houermaatskappy en die nie-beherende belange, selfs indien dit veroorsaak dat die niebeherende belang ’n negatiewe balans het.

    Veranderinge in die houermaatskappy se ekwiteitsbelang in ’n filiaal wat nie tot gevolg het dat beheer verloor word nie, word binne ekwiteit verantwoord.

    Wanneer ’n entiteit beheer oor ’n filiaal verloor, onterken hy die bates en laste en verbandhoudende ekwiteitskomponente van die voormalige filiaal. Enige wins of verlies word in die inkomstestaat verantwoord. Enige belegging wat in die voormalige filiaal behou word, word teen die billike waarde op die dag waarop beheer verloor is, verantwoord.

  • Wysiging aan IFRS 1: Aanvanklike Toepassing van Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde (beperkte vrystelling van IFRS 7 openbaarmaking vir vergelykende tydperke, vir entiteite wat IFRS vir die eerste keer toepas)
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2010)
    Die wysiging bied sekere vrystellings vir IFRS 7 openbaarmaking vir vergelykende tydperke, vir entiteite wat IFRS vir die eerste keer toepas.

  • Wysiging aan IFRS 2: Aandeelgebaseerde Betaling (groep kontantvereffende aandeelgebaseerde betaling transaksies)
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Januarie 2010)
    Hierdie wysiging bevestig die omvang en die rekeningkundige verantwoording van groep kontantvereffende aandeelgebaseerde betaling transaksies in die afsonderlike of individuele finansiële state van die entiteit wat die goedere of dienste ontvang, wanneer daardie entiteit geen verpligting het om die aandeelgebaseerde betaling transaksie te vereffen nie.

    Die wysiging inkorporeer ook die bepalings van IFRIC 8: Omvang van IFRS 2 en IFRIC 11: IFRS 2 – Groep en tesourie aandeel transaksies, wat lei tot die onttrekking van die voorgenoemde IFRIC’s.

  • Wysiging aan IAS 32: Finansiële Instrumente: Aanbieding (klassifikasie van regte-uitgifte)
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Februarie 2010)
    Die wysiging bevestig dat regte, opsies of waarborge om ’n vaste aantal van die entiteit se eie ekwiteitsinstrumente vir ’n vaste bedrag van enige geldeenheid te verkry, ekwiteitsinstrumente is (en nie finansiële laste nie) indien die entiteit die regte, opsies en waarborge pro rata aan al sy bestaande eienaars van dieselfde klas van sy eie nieafgeleide ekwiteitsinstrumente aanbied.

  • Wysiging aan IAS 39: Finansiële Instrumente – Erkenning en Meting (items wat vir verskansing in aanmerking kom)
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Julie 2009)
    Die wysiging bevestig die toepassing van beginsels wat bepaal of ’n verskanste risiko of gedeelte van kontantvloeie in aanmerking kom vir verskansing in spesifieke omstandighede.

  • Wysiging aan IFRIC 14: Vooruitbetalings van ’n Minimum Befondsingsvereiste
    (effektiewe datum – finansiële tydperke wat ’n aanvang neem op/na 1 Januarie 2011)
    Die wysiging aan IFRIC 14, wat op sy beurt ’n interpretasie van IAS 19: Werknemervoordele is, is van toepassing in die beperkte omstandighede wanneer ’n entiteit onderhewig is aan minimum befondsingsvereistes en ’n vooruitbetaling van bydraes maak om aan sodanige vereistes te voldoen. Die wysiging laat ’n entiteit toe om in so ’n geval die voordeel van ’n vooruitbetaling as ’n bate te hanteer.

  • IASB se eerste en tweede jaarlikse verbeteringsprojekte
    D ie IASB het sy eerste twee jaarlikse verbeterings projekte afgehandel en verskeie rekeningkundige standpunte is gewysig. Hierdie wysigings word, tensy anders vermeld in die oorgangsbepalings, effektief vir tydperke wat ’n aanvang neem op of na 1 Julie 2009.
Die toepassing van bogenoemde standpunte, interpretasies en wysigings aan IFRS in toekomstige finansiële verslagdoeningstydperke sal na verwagting nie ’n wesentlike uitwerking op die groep se finansiële resultate, finansiële posisie en kontantvloei hê nie, behalwe vir die volgende:
  • Gewysigde IFRS 3: Besigheidsamevoegings en gewysigde IAS 27: Gekonsolideerde en Afsonderlike Finansiële State – Hierdie standpunte sal vooruitwerkend toegepas word op alle besigheidsamevoegings en veranderinge in ’n houermaatskappy se belang in ’n filiaal vanaf 1 April 2010 en sal dus slegs ’n uitwerking hê op die groep na hierdie datum.
  •  

 

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English