Volhoubaarheidsverslag

 

Sosiale belegging

Korporatiewe burgerskap, naamlik die verbintenis van ’n maatskappy om op ’n volhoubare wyse tot ekonomiese ontwikkeling by te dra, onderskryf die beginsel dat geen besigheid in isolasie bestaan nie maar onmiskenbaar deel is van die omgewing waarin sake gedoen word. In sy verhoudinge met alle belanghebbendes (kliënte, personeel en die gemeenskap) streef Remgro daarna om ’n waardevennoot te wees.

Die klem van die maatskappy se donasieprogram val veral op die ontwikkeling van jongmense uit benadeelde gemeenskappe om aan hulle ’n gevoel van eiewaarde te gee. Dit word gedoen in die geloof dat sodanige beleggings tot ver in die toekoms goeie dividende sal lewer.

Skenkings aan verdienstelike instansies word meesal oor termyne gemaak, en hoewel bydraes oor ’n taamlike breë spektrum strek, is daar twee ooglopende uitsonderings – politieke partye en godsdienstige instellings. Hoewel die maatskappy sy werknemers se reg respekteer om volgens eie keuse by hierdie organisasies betrokke te raak, oefen hyself nie ’n keuse uit nie.

Die afgelope jaar was die maatskappy by die volgende betrokke:

Entrepreneurskap en opleiding
TSiBA – ook bekend as die entrepreneursuniversiteit van Kaapstad, het in 2009 sy vyfde verjaardag gevier en die dapper stap gedoen om sy werksaamhede na die Suid-Kaap uit te brei, waar hy sy bedrywighede by dié van die Eden-kampus in Karatara, naby Sedgefield, gevoeg het.

Die Eden-kampus het in 2006 as ’n residensiële “groen” besigheidskollege tot stand gekom en spits hom toe op entrepreneurskap en vaardigheidsontwikkeling. Die besluit om Eden in die TSiBA-familie in te bring, was strategies van aard. Vir TSiBA was die tyd reg om sy bedrywighede uit te brei en te toon dat sy onderrigmodel die potensiaal het om elders herhaal te word. Sy BBA-graad was geakkrediteer en sy eerste gegradueerdes besig om hulself goed in die werkplek van hul taak te kwyt en beurse vir nagraadse studie te bekom.

Nog ’n mylpaal was die aankondiging dat twee van TSiBA se studente aangewys is as ontvangers van die Mandela-Rhodes-beurs. Hul prestasie bevestig dat TSiBA daarin slaag om jongmense met uitsonderlike leierskapvermoë te ontwikkel om hulle maatskaplike verantwoordelikheid, entrepreneurskap en akademiese voortreflikheid prakties te demonstreer.

In 2009 het altesaam 55 studente hul basisjaar met welslae voltooi en ’n volle onderrigbeurs van TSiBA ontvang om hulle studie vir ’n BBA-graad in entrepreneursleierskap voort te sit, terwyl 110 studente in 2010 tot die basisjaar toegelaat is.

Remgro het hom verbind om TSiBA vir ’n volle studentesiklus van vier jaar te ondersteun.

Shalamuka Stigting – is ’n befondsingsliggaam wat aan SEB -transaksies en ander beleggingsgeleenthede deelneem om langtermynbeleggings te skep wat voldoende fondse sal lewer om Penreach jaarliks te ondersteun en ruimte vir beplanning, uitbreiding en noodsaaklike navorsing te laat.

Penreach is ’n nie-winsgewende, holistiese skoolontwikkelingsprogram wat in 1994 tot stand gekom het met die doel om die vaardighede van onderwysers en die gehalte van onderwys in Mpumalanga en omliggende gebiede te verbeter. Penreach het met 40 onderwysers uit 10 skole weggespring en het hand oor hand gegroei. Tans word meer as 2 000 onderwysers, afkomstig uit meer as 900 skole, jaarliks bereik en sowat 350 000 leerders, in hoofsaaklik plattelandse gebiede, deur die program bevoordeel.

Twee opwindende loodsprojekte word tans deur Penreach van stapel laat loop in ooreenstemming met sy benadering om ’n enkele hoërskool as sentrum te gebruik vir die skep van effektiewe leergemeenskappe waarby alle belanghebbendes, soos voederskole, plaaslike nie-regeringsorganisasies, politieke strukture en ouers, betrek word. Penreach is vandag ’n skitterende voorbeeld van wat bereik kan word deur mense met ’n positiewe gesindheid wat ’n besondere liefde en passie vir hul land het.

Beyers Naudé-Skoolontwikkelingsprogram (BNSOP) – goeie vordering is sedert 2005 gemaak om swak presterende skole te omskep in sentrums vir doeltreffende onderrig en opleiding. Die BN SOP van Kagiso Trust het ’n omkeerstrategie vir plattelandse skole ontwikkel en voorsien hulle van onderwysinfrastruktuur wat normaalweg by hierdie skole ontbreek.

Kagiso gebruik die BNSOP vir ’n tydperk van vier tot vyf jaar in ’n groep van 10 skole in ’n bepaalde distrik. Die kern van die program behels spanbou en werketiek, asook verbeterde dissipline en aanspreeklikheidsvlakke vir skoolhoofde, onderwysers en leerders.

In 2009 het BNSOP ondere andere drie media sentrums (‘n kombinasie van ’n biblioteek en ’n rekenaarsentrum), vier laboratoriums en ’n rekenaarsentrum by vyf skole in die Vrystaat ingerig. Altesaam 184 rekenaars is aan sewe skole in die Vrystaat en Limpopo verskaf.

SciMathUS – is in 2001 deur die Universiteit van Stellenbosch as ’n oorbruggingsprogram ontwikkel met die doel om hoër onderwys meer toeganklik te maak vir swart studente wat gretig is om hul studies in fisiese en toegepaste wetenskap, ingenieurswese, mediese en gesondheidswetenskappe en ekonomiese en bestuurswetenskappe voort te sit.

Van ’n groep van 40 studente in 2001 het die program tot die huidige omvang gegroei waar 100 studente per jaar toegelaat word. Oor die afgelope dekade is 539 studente tot die program toegelaat, waarvan probleemgebaseerde onderrig ’n integrale deel vorm. Studente kry ook die geleentheid om algemene akademiese vaardighede, soos studieen denkvaardighede, akademiese taalvaardighede en rekenaargeletterdheid, te ontwikkel.

‘n Nuwe uitdaging wat SciMathUS die hoof moes bied, was die inskakeling van studente met wiskundegeletterdheid in die program. Wanneer hulle wiskundegeletterdheid as vak kies, is baie leerders nie bewus van die implikasies van hul keuse nie, naamlik dat sekere studierigtings in hoër onderwys dan ontoeganklik raak. Sedert 2008 is ’n nuwe kurrikulum ontwikkel om aandag aan hierdie probleem te gee.

Die sukses van die SciMathUS-program kan daaraan gemeet word dat ’n 100%-slaagsyfer die afgelope twee jaar behaal is, wiskunde-uitslae die laaste nege jaar met 15% verbeter het en 76.6% van SciMathUS se studente die afgelope ses jaar tot die Universiteit van Stellenbosch toegelaat is.

Paul Roos Akademie – het die afgelope jaar onder geweldige finansiële druk gekom hoofsaaklik vanweë ’n verskuiwing in die korporatiewe maatskaplike besteding van sommige donateurs. As gevolg hiervan moes die Akademie noodgedwonge sy skoolvakansie-aanbiedinge gedurende Junie/Julie en September kanselleer. As die situasie nie verbeter nie, sal die Akademie die aantal leerders aansienlik moet verminder of selfs die program beëindig.

Aan die einde van 2009 het die Akademie se tweede graad 12-groep (33% van die 80 leerders wat in 2003 toegelaat is) die matriekeksamen geskryf en 38% het vir ’n baccalaureus-graad gekwalifiseer – ’n groot verbetering op die resultate wat in 2008 behaal is. Wiskunde en wetenskap blyk steeds struikelblokke te wees en het tot sommige van die mislukkings bygedra. Gedurende 2009 het 180 leerders onderrig by die Akademie ontvang, maar ’n gebrek aan fondse het hierdie getal in 2010 aansienlik laat krimp.

Weens die wêreldwye ekonomiese krisis het die Creative Education Foundation in die VSA nie die Akademie besoek nie. Die Geheue-instituut in Bellville het egter voortgegaan om graad 8-leerders met denk-, leer- en lewensvaardighede by te staan, terwyl Master Maths deur middel van rekenaars wiskundeonderrig aan leerders in graad 9, 10 en 11 gegee het.

Bergzicht Opleidingsentrum – bied basiese vaardigheidsopleiding en indiensnemingsdienste aan behoeftige persone uit arm gemeenskappe in en om Stellenbosch. Sy benadering is uniek deurdat hy verskeie kort, sowel as omvattende, kursusse in verskillende rigtings deur die jaar aanbied, soos tuisbestuur, bejaardesorg, spyseniering en kindersorg. Geen kursus duur langer as drie maande nie.

Die sentrum sien om na die behoeftes van talle mense wat in die Stellenbosse omgewing bly en desperaat op soek is na werkgeleenthede. Dikwels het hierdie mense nie hul skoolopleiding voltooi of enige lewensvatbare vaardighede verwerf wat hulle in staat stel om ’n werk te bekom nie.

Bergzicht Opleiding is nie alleen ’n erkende instituut op Stellenbosch nie, maar het vir hom ’n goeie naam regoor die land verwerf. Dit het reeds meer as 10 000 mense oor die jare opgelei, van wie baie in bestendige poste geplaas is.

Equip – is ’n ontwikkelingsprogram van die Nasionale Besigheidsinstituut wat deur Remgro in vyf skole in die Stellenbosch-omgewing geborg word. Die afgelope jaar is goeie vordering gemaak by die laerskole Ikaya en Kayamandi, twee skole wat probleme ondervind het. Hierdie positiewe ontwikkeling toon weer eens die waarde van Equip se vennootskap met die onderwysowerhede.

Sover dit die drie hoërskole in die program betref, is gerapporteer dat hulle nou selfversorgend is ten opsigte van die opstel en bestuur van hul skoolverbeteringsplanne. Die skoolbestuurspanne en personeel beplan en bedryf, onder die leiding van Equip, hul eie projekte en prosesse ten einde die vaardighede wat nodig is om die proses in elke skool volhoubaar te maak, op te skerp en te verbeter.

ORT SEED – is ’n driejaar-vennootskapsprojek tussen ORT-Tech, die Wynlanddistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en Remgro wat spesiale opleiding en ondersteuning in kurrikulumontwikkeling en die onderrig van wiskunde, natuurwetenskap, tegnologie en geletterdheid aan leerders in graad R-7 verskaf.

ORT-Tech fasiliteer ter plaatse kurrikulumontwikkeling by twee ankerskole, die laerskole Idasvallei en Rietenbosch, en voorsien hierdie skole van bykomende hulpbronne om leerders toegang tot klaskameronderrig van goeie gehalte te gee.

Die Naskoolse Wiskunde-uitreikprogram, waarby 47 opvoeders van 16 skole in die Stellenbosse distrik betrokke is, het weer ’n positiewe uitwerking gehad, soos blyk uit die vertoning van die leerders. Die skole het erkentlikheid getoon vir die hulp wat hulle ontvang het.

ORT-Tech het sy besondere waardering uitgespreek vir Remgro se bereidwilligheid om die projek moontlik te maak en opgemerk: “Die belegging in ons land se waardevolle bate, ons kinders, sal daartoe bydra om Suid-Afrika ’n beter land te maak.“

Omgewing
WWF Suid-Afrika (WWF -SA) – ook bekend as die Wêreld-Natuurfonds Suid-Afrika, het in 1968 as die plaaslike kantoor van die wêreldwye WWF-netwerk tot stand gekom – een van die grootste en mees ervare bewaringsorganisasies, met nagenoeg vyf miljoen ondersteuners en ’n globale netwerk in meer as 100 lande.

WWF werk saam met verskeie vennote om spesiale omgewings en bedreigde spesies te bewaar. Saam met die regering, die burgerlike gemeenskap en die private sektor beywer WWF hom vir gesonde mariene- en varswater-ekosisteme wat die volhoubare ontwikkeling van Suid-Afrika kan rugsteun. Hy is ook ’n voorstander van ’n laekoolstof-ekonomie vir Suid- Afrika en laat die soeklig op klimaatsverandering en volhoubare handel en belegging val.

Deur verskeie omgewingsopvoedkundige inisiatiewe belê WWF in die bewaringsbestuurders en omgewingsleiers van die toekoms, met die doel om die agteruitgang van die planeet se natuurlike omgewing te probeer stuit. Dit word gedoen ondere andere deur die bewaring van die wêreld se biodiversiteit, deur te verseker dat die gebruik van hernieubare natuurlike hulpbronne volhoubaar is en deur die vermindering van besoedeling en verkwistende verbruik te bevorder.

Remgro gebruik WWF as enigste kanaal binne Suid-Afrika om die streek se ryk natuurlike hulpbronne te bewaar.

Kulturele ontwikkeling
Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK ) – Remgro het aan die einde gekom van ’n tien jaar lange ondersteuning van die fees. Sy bydrae tot beurse en ander programme het jong kunstenaars, wat andersins nie die geleentheid sou gehad het nie, in staat gestel om hul loopbane in die kunste te bevorder.

In ooreenstemming met hierdie filosofie, is ’n gedeelte van die maatskappy se laaste bydrae as saadkapitaal toegewys vir die daarstelling van ’n nuwe beurs- en mentorskema, terwyl die balans vir die subsidiëring van produksies op die 2010-kalender gebruik is.

Veldorkesstigting (FBF) – die doel van die FBF is om die jeug te betrek in gemeenskappe wat voor groot uitdagings op ekonomiese en maatskaplike gebied staan en ’n opwindende en skeppende aktiwiteit aan te bied waarby hulle jare lank op ’n betekenisvolle wyse betrokke kan bly en wat die moontlikheid bied om uit die greep van armoede te ontsnap.

Die FBF se prestasies is in 2009 met die voorsitterstoekenning van Business Arts South Africa bekroon. Ander hoogtepunte het drie nuwe projekte ingesluit wat in die Noord-Kaap, Noordwes en Plettenbergbaai van stapel laat loop is. ’n Uitnodiging is ook aan die FBF gerig om tydens die opening- en sluitingseremonie van die 2010 FIFA Wêreldbekertoernooi op te tree, asook by ondersteunersparke, oop areas en korporatiewe geleenthede wat met dié toernooi verband hou.

Die bande tussen FBF en die Noorweegse Orkesfederasie, asook laasgenoemde se verbintenis tot FBF se bedrywighede, gaan van krag tot krag en het oor die jare ’n groot impak gehad. Die deurlopende en konstruktiewe betrokkenheid van ’n land, waar gemeenskapsorkeste ’n belangrike rol in nasiebou gespeel het, is gewis van onskatbare waarde.

Die lae vlak van praktiese en tegniese vaardighede by jeugleiers wat die veldorkesbeweging in die volgende dekades vorentoe moet vat, is ’n groot uitdaging waarvoor die FBF nou staan. Die probleem geniet die aandag van die FBF-akademie, wat hom ten doel stel om na die emosionele, intellektuele en geestelike behoeftes van leerders om te sien en hulle onderwysen sosiale vaardighede tot die punt te bring waar selfvertroue, selfrespek en selfonderrig oorneem.

WAT – ondanks moeilike finansiële omstandighede het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) daarin geslaag om sy bedrywighede gedurende 2009 vol te hou sonder dat te diep in kapitaalreserwes gedelf is.

Die bekendstelling van Deel XIII van die woordeboek (die letter R) in Julie 2009 was ongetwyfeld die hoogtepunt van die jaar. Die werk aan Deel XIV (die letter S) het ook verlede jaar begin en goeie vordering word gemaak.

Die gebrek aan vordering ten opsigte van die kapitaalfonds was egter ’n teleurstelling. Die fonds staan tans op ’n vlak tussen R5 miljoen en R6 miljoen, na gelang van markbewegings, en skiet ver tekort van die R30 miljoen wat nodig is om WAT se langtermynbedrywighede te ondersteun. Die vermindering in die staat se subsidie maak dit baie moeilik om die kapitaalfonds te versterk, veral in die moeilike ekonomiese tye wat tans ervaar word.

Children’s Art Festival (CAF ) – as ’n gevestigde instelling by die Grahamstad Nasionale Kunstefees stel CAF homself ten doel om tydens hierdie jaarlikse gebeurtenis ’n bron van inspirasie vir kinders van die Oos-Kaap te wees deur hulle aan ’n wye verskeidenheid en verskillende vertakkinge van die kunste bloot te stel. Baie van die kinders kom uit ’n agtergrond waar enige vorm van kuns heeltemal vreemd is en die blydskap op hul gesigte wanneer hulle iets nuuts ervaar, én bemeester, is iets om te aanskou.

CAF volg ’n baie praktiese benadering by die werkwinkels wat hy aanbied en laat die klem val op eenvoudige tegnieke en die maak van nuttige items wat die kinders tuis in hul eie omgewing kan reproduseer. Dit sluit in: die weef van mandjies, krale-, mosaïk-, sand- en verfwerk, fisiese teater, tromspeel en die maak van items soos windklokkies, elektriese stroombane, papiergewigte, versierde sleutelrakkies en bedrukte T-hemde.

Ondanks die ekonomiese resessie het die bywoningsyfer in 2009 bestendig gebly en dieselfde word in 2010 verwag wanneer die fees as gevolg van die 2010 FIFA Wêreldbeker-toernooi, en die verlengde skoolvakansie, oor 15 dae aangebied word.

Sportontwikkeling
SA Gholfontwikkelingsraad (SAGOR ) – het in 2009 ook die koue winde van die ekonomiese resessie ervaar en as gevolg daarvan moes die begroting tot die minimum besnoei word. Aan die positiewe kant het die ekonomiese werklikhede SAGOR gedwing om ’n ekstra poging aan te wend om die doeltreffendheid van sy administratiewe en bedryfstrukture te verbeter.

Die stabiliteit wat daardeur bereik is, het SAGOR in staat gestel om sy programme met ’n beperkte begroting aan die gang te hou. Projek 312 verskaf steeds ’n stewige raamwerk vir SAGOR se afrigtingspogings en verseker dat elke streek doeltreffend gemeet en gemonitor kan word. Tans is 60 afrigters, met die vermoë om 3 500 kinders landwyd af te rig, onder kontrak.

In tien jaar van gholfontwikkeling het SAGOR nagenoeg 17 000 jongmense afgerig en 56 junior provinsiale spelers gelewer. Die raad het as fasiliteerder opgetree vir die deelname van 1 500 spelers aan toernooie van die Suid-Afrikaanse Junior Gholfstigting en 16 van die mees talentvolle spelers is genooi om hulle by die toonaangewende Ernie Els & Fancourt Stigting aan te sluit.

SAGOR is deurlopend bewus van die behoefte om die vlak van afrigting wat aangebied word te verbeter en is baie dank verskuldig aan die Beroepgholfspelersvereniging van Suid-Afrika (PGA) vir sy ondersteuning. Die PGA se mentorprogramme het top-afrigters beskikbaar gestel om ondersteuning en aanmoediging aan die ontwikkelingsafrigters van SAGOR te gee.

By ’n terugblik oor die afgelope dekade het SAGOR besondere waardering uitgespreek teenoor die voorsitter van hierdie maatskappy vir sy toewyding aan gholfontwikkeling. Sy bydrae, sê SAGOR, het die raad in staat gestel om onder moeilike omstandighede met sy werksaamhede voort te gaan. “Sy grootmoedigheid en volgehoue aanmoediging het ons toegelaat om die spel uit te brei na jong Suid-Afrikaners wat ’n dringende behoefte aan positiewe ervarings het en om aan hulle die waardevolle lewenslesse oor te dra wat die spel ons leer.”

Wes-Kaapse Krieketakademie – Ondanks organisatoriese veranderinge op nasionale vlak wat opleidingen oefeningsessies beïnvloed en tot die kansellasie van sommige Sondag-wedstryde gelei het, het die Akademie, volgens sy oorsig, ’n redelik suksesvolle seisoen beleef.

Die Akademie het andermaal sy stempel op Suid- Afrikaanse krieket afgedruk deur talentvolle spelers aan provinsiale spanne en die nasionale groep te verskaf. Drie lede van die Akademie is ingesluit in Suid-Afrika se span wat in Mei aan die Twintig20- wêreldbekertoernooi in die Wes-Indiese Eilande deelgeneem het, terwyl twee gewese lede vir die A-span gekies is vir die reeks teen Bangladesj wat op dieselfde tydstip plaasgevind het.

Nie minder nie as 13 gewese spelers van die Akademie was lede van die Cobras-span wat die Supersport-kompetisiereeks in 2010 gewen het – geen geringe prestasie vir die uitstekende werk wat deur die Akademie gedoen word nie. Vanweë sy noue verbintenis met die Akademie sedert die vroeë 1990’s was Remgro oor die jare ’n getuie van die organisasie se groei in ledetal en statuur in die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap.

Gemeenskapsontwikkeling
Ikamva Labantu – is ’n breëbasis-gemeenskapsprojek wat ’n holistiese benadering volg ten opsigte van die ontwikkeling van arm gemeenskappe: van voorskoolse kinders, veral kwesbare kinders, en ondersteuningsdienste vir gesinne tot die omsien na die behoeftes van bejaardes en gestremdes.

Gedurende die afgelope jaar is kospakkies aan nagenoeg 200 kleuterskole en 200 kwesbare gesinne verskaf. Sowat 7 000 kinders het gebaat by hierdie vermindering van voedselonsekerheid in hul huishoudings. Daarby is ondersteuning aan 370 versorgers gegee, waardeur 1 300 kwesbare kinders bereik is.

Ikamva se span hoogs ervare en toegewyde gemeenskapswerkers het voortgegaan om risikogevalle te identifiseer en die kinders te ondersteun. ’n Ervare multidissiplinêre span ontwikkel versorgingsplanne vir elke kind binne die konteks van sy/ haar huishouding. Gesinne word dan voorsien van dienste soos kospakkies, finansiële bystand, hulp met aansoeke om staatstoelae, voedingsonderrig, bystand met skoolverwante koste, soos uniforms, boeke en skryfbehoeftes, asook emosionele en sielkundige ondersteuning.

Die vermoëskeppende projek wat daarop gemik is om die bestuurskapasiteit van meer as 70 senior klubs in die groter Wes-Kaapse gebied te verbeter, is in 2009 voortgesit. Goeie vordering is ook gemaak met die organisasie se stedelike groentetuine, wat ’n gebied van 8 091 vierkante meter beslaan. Vars groente word gereeld aan kleuterskole, senior klubs en kwesbare gesinne gelewer.

Die afgelope vier jaar is 269 kinders bereik deur die program vir kwesbare kinders wat deur Remgro geborg word. Die projek is as ’n loodsmodel ontwikkel, met die potensiaal om dit in soortgelyke gemeenskappe elders in die land te herhaal.

uMephi – sien om na die behoefte van kinders in nood deur middel van ’n netwerk van satelliet-, halfweg- en pleegsorghuise. Die afgelope jaar alleen is 669 kinders in 25 pleegsorghuise en ses spesiale versorgingsoorde opgeneem.

uMephi se ideaal is om aan elke behoeftige kind ’n huis en ’n gesin te gee. Hy werk saam met plaaslike en provinsiale regerings om weeskinders in die beplanning van toekomstige grond- en eiendomsontwikkelings in te sluit. Die gedagte is om dit vir weeskinders moontlik te maak om eendag die huise te besit waarin hulle opgroei en sodoende ’n soort van neseier aan hulle te bied vir hul latere lewe. Vir hierdie doel het uMephi reeds grond gekoop en hy hoop dat die oordrag van eienaarskap in die afsienbare toekoms moontlik sal wees.

Die getal MIV-positiewe babas in uMephi se sorg het die afgelope jaar verdubbel. Grond vir die bou van pleegsorghuise is in vyf provinsies bekom, maar die aanvraag blyk groter te wees as wat uMephi kan hoop om te hanteer.

Gemolesteerde kinders bied ook ’n groot uitdaging. Huisouers het voortdurend berading nodig aangesien die kinders wat opgeneem word erg getraumatiseer is en dikwels sielkundige behandeling nodig het. uMephi sien om na 259 kinders in 30 tehuise met ’n span van 90 versorgers. Die strawwe program eis ’n hoë tol en personeel en huisouers moet deurlopend opgelei word om die stremming te hanteer.

Stellenbosch-Gemeenskapsontwikkelingsprogram (SGOP) – voeding vir volhoubaarheid is die hoofdoel van die SGOP, wat glo dat die voedingstatus van kinders in ’n gemeenskap ’n waardevolle aanwyser is van die algehele ontwikkeling en verspreiding van beskikbare hulpbronne in sodanige gemeenskap.

SGOP is in Kayamandi, ’n stedelike gebied aan die rand van Stellenbosch, gevestig waarheen die meeste inwoners (30 000) gekom het in hul soektog na werk. Hier leef hulle in informele nedersettings en in uiterste armoede. Dit, saam met die hoë voorkoms van ongeletterdheid en MI V/vigs, maak van Kayamandi ’n gemeenskap wat hulp dringend nodig het.

Die belangrikste doelwit van SGOP is om honger te help bekamp en voedsel aan behoeftige en wangevoede laerskoolkinders te verskaf om hul leer- en konsentrasievermoë te verbeter, dissipline op te skerp en hul algemene gesondheid te verbeter. Hierbenewens het die organisasie ook ’n landbou-inisiatief in die vorm van ’n groentetuin vir die moeders van die kinders wat gevoed word. Omgewingsvolhoubaarheid kry aandag deur ’n handwerkklub, waar items gemaak word om te verkoop.

SGOP verskaf daagliks aan nagenoeg 1 200 kinders kos. Die afgelope jaar het hierdie syfer met sowat 200 toegeneem. Kospakkies word maandeliks aan 60 gesinne voorsien.

Yabonga – wat tien jaar gelede ontstaan het, probeer om die ergste gevolge van MI V en vigs te bestry en die lewe van die armste mense te verbeter deur sy fokus op onderwys, persoonlike ontwikkeling en die verwerwing van vaardighede waardeur ’n inkomste verdien kan word.

Yabonga se programme word oor 12 gemeenskappe versprei en verskaf ondersteuning aan duisende vroue, mans en kinders wat deur MI V besmet is. Die gebrek aan koers en motivering onder die jeug is ’n groot bron van kommer vir Yabonga, sowel as die feit dat hulle maklik dwelmmisbruik en geringe misdaad ten prooi val.

‘n Nuwe groeiarea het in die program vir weesen kwesbare kinders na vore gekom. Die aantal kinders in hierdie program het van 40 in 2006 tot 250 in 2009 toegeneem, waarvan ’n derde wees en ’n derde MIV-besmet is. Die inname van meer kinders word ongelukkig deur onvoldoende fondse beperk. Behalwe dat na die basiese behoeftes van kinders omgesien word (voeding, onderwys en sielkundige ondersteuning), word hulle ook gedurende skoolvakansies deur teaterproduksies, besoeke aan interessante plekke, rekenaargeletterdheidsklasse en sportaktiwiteite vermaak.

Gesondheidsorg
Wits Donald Gordon-Mediese Sentrum (WDGMS) – die akademiese programme van WDGMS, wat in die opleidingsprogramme van Wits se Fakulteit vir Gesondheidswetenskappe geïntegreer is, is nou in die vierde jaar en die groei was bevredigend volgens ’n onlangse verslag van die Sentrum. Die leerkurwe was steil sover dit kwessies betref wat hanteer moet word wanneer ’n opleidingsprogram in die privaathospitaal-omgewing bekendgestel word.

Die afgelope jaar het WDGMS drie registrateursposte befonds, twee in anestesiologie en een in interne medisyne. Altesaam 48 registrateurs het die afgelope drie jaar die geleentheid gehad om deur die Sentrum se intensiewesorgeenheid te roteer vir hul verpligte hoësorgopleiding. Almal was dit eens dat die ondervinding wat hulle opgedoen het, beduidend anders was as wat by ander opleidingsentra ervaar is.

In volwassene-onkologie is die eerste opleidingsiklus in Desember 2009 voltooi en die uitdaging is nou om vir die suksesvolle kandidaat ’n betrekking in die openbare sektor te vind sodat hy binne die universiteit behou kan word. Die kandidaat het ’n dubbele kwalifikasie in genetika en onkologie, wat uitsonderlik in die land is.

Volgens WDGMS is dit belangrik dat sy ervaring gedokumenteer en die uitwerking daarvan op spesialiste en subspesialiste ondersoek word. Die bekendstelling van elke nuwe program bring nuwe uitdagings wat die Sentrum in staat stel om dit wat reeds aangebied word te verbeter. Indien die Sentrum sy model regkry, kan dit as voorbeeld dien vir ander universiteite om die tekort aan vaardighede op die gebied van spesialiste en subspesialiste in die land te hanteer.

Stigting vir Orgaanskenkers van SA – gee aandag aan die probleme wat verband hou met die tekort aan orgaan- en weefselskenkers in Suid-Afrika. Wanneer organe beskikbaar raak, is dit van die uiterste belang dat dit die fasiliteite waar potensiële ontvangers wag, so spoedig moontlik bereik. Dit is hier waar Remgro hulp aanbied deur vier vlugte per jaar te borg.

Hierdie vlugte, wat op kort kennisgewing gereël en dikwels laat in die nag plaasvind, sou nie moontlik gewees het sonder die onselfsugtige en opofferende bydrae deur die personeel van die vliegtuigmaatskappy Falconair nie. Ons bring hulde aan hul verdienstelike poging.

 

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English