Algemene verslag – Beleggingsoorsig

(Let wel: Slegs beperkte kommentaar word gelewer oor genoteerde maatskappye aangesien die inligting algemeen beskikbaar is. Die ongenoteerde beleggings word in meer besonderhede behandel.)

 

 

FINANSIËLE DIENSTE

Beide FirstRand Beperk (“FirstRand”) en RMB Holdings Beperk (“RMB H”) het Junie-jaareindes en gevolglik is hul resultate vir die twaalf maande tot 31 Desember 2009 in Remgro se resultate vir die tydperk onder oorsig geëkwiteer.
  2010 2009  
  R miljoen R miljoen  
  FirstRand 635 815  
  RMBH 720 761  
  135 1 576  

 

FIRSTRAND – effektiewe direkte belang: 9.1% ( totale effektiewe belang: 17.2%)

MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R113 886 MILJOEN
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK
HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: S E NXASANA

PROFIEL

Die FirstRand groep van maatskappye doen sake in die finansiëledienste-sektor insluitende kleinhandel, korporatief, beleggings en aksepbanksake, korttermynversekering, lewensversekering, werknemervoordele en batebestuur. Die bank- en versekeringsaktiwiteite word verteenwoordig deur die volfiliale FirstRand Bank Holdings Beperk en Momentum Groep Beperk onderskeidelik. Die groep se handelsbesighede sluit in Eerste Nasionale Bank (“ENB”), Rand Aksepbank (“RAB”), WesBank, OUT surance en Momentum.
REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
L Crouse, M H Visser
WEBWERF: www.firstrand.co.za

FirstRand se bydrae tot Remgro se wesensverdienste verteenwoordig slegs Remgro se direkte belang van 9.1% in FirstRand en sluit nie die indirekte bydrae van FirstRand deur Remgro se belegging in RMBH in nie.

Vir FirstRand se jongste gerapporteerde resultate vir die ses maande geëindig 31 Desember 2009 het wesensverdienste met 1% tot R4 492 miljoen (2008: R4 553 miljoen) afgeneem. Hierdie resultate weerspieël vroeë tekens van ’n verbetering in die wêreldwye en plaaslike ekonomiese omgewing.

Die Bankgroep se resultate vir die tydperk onder oorsig weerspieël ’n aansienlike verbetering (112%- toename) in winsgewendheid teenoor die ses maande geëindig 30 Junie 2009, alhoewel dit slegs 3% onder die vlak van Desember 2008 is. Die verbetering in verdienste vanuit die bankbedrywighede weerspieël die omswaai van die twee mees beduidende negatiewe aspekte van die vorige vergelykende tydperk, asook die jaar tot 30 Junie 2009, naamlik slegte skulde wat ontstaan uit die kleinhandelbesigheid se finansieringsboek en verliese vanuit sekere internasionale ekwiteitverhandelingsportefeuljes binne die beleggingsbankdivisie. Momentum se genormaliseerde verdienste het met 15% tot R850 miljoen (2008: R740 miljoen) toegeneem vir die ses maande geëindig 31 Desember 2009, wat ’n weerspieëling is van die positiewe impak van die herstel in ekwiteitsmarkte en ’n volgehoue sterk bedryfsvertoning ondanks negatiewe druk in baie sektore van die mark.

Die FirstRand groep maak steeds goeie vordering wat sy Afrika-strategie betref. Die toenemende geskiktheid van Afrika se ekonomiese omgewing vir beleggings sal na verwagting meer geleenthede skep vir finansiële dienste en FirstRand is besig om homself gunstig te plaas om voordeel daaruit te trek.

 

RMBH – effektiewe belang: 25.0%

MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R39 139 MILJOEN
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK
HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: P COOPER
PROFIEL
RMBH se belange is:
– FirstRand Beperk (32%)
– RMB Structured Insurance Beperk (80%)
– OUTsurance Beperk (62%)
– Discovery Holdings Beperk (27%)
REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE

J J Durand, M H Visser

WEBWERF: www. rmbh.co.za

Vir die ses maande geëindig 31 Desember 2009 was 78.5% (2008: 79.6%) van RMB H se wesensverdienste, voor inagname van ander netto inkomste en koste van befondsing, afkomstig van FirstRand, terwyl 21.5% (2008: 20.4%) deur die ander belange bygedra is. RMB H se ander belange sluit in Discovery Holdings Beperk, OUT surance Beperk en RMB Structured Insurance Beperk.

Die Discovery Groep is bedrywig in die markte in Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk vir versekerings- en gesondheidsorgbefondsing en het besonder goed gevaar, met ’n toename van 54% in wesensverdienste vir die ses maande geëindig 31 Desember 2009 tot R755 miljoen (2008: R489 miljoen). Die korttermynversekeraar, OUT surance, het R176 miljoen (2008: R205 miljoen) tot RMB H se wesensverdienste vir die ses maande geëindig 31 Desember 2009 bygedra, na inagname van die vestigingskoste van “Youi”, RMBH se direkte versekeraar gesetel in Australië. RMB Structured Insurance (“RMB SI”) skep oplossings vir individuele versekerings- en finansiële risiko’s van groot korporatiewe besighede deur gebruik te maak van innoverende finansiële strukture en het ‘n wesensverlies van R4 miljoen (2008: wesensverdienste van R25 miljoen) bygedra tot die wesensverdienste van RMBH vir die tydperk onder oorsig.

Die groter RMBH Groep fokus steeds op die beskerming van sy oorspronklike handelsbesighede en balansstate om dit in ‘n optimale posisie te plaas om voordeel te trek uit geleenthede vir groei soos dit ontstaan, in besonder die omswaai van die negatiewe kredietsiklus.

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English