Groepprofiel

Remgro Beperk is ’n Suid-Afrikaanse beleggingshouermaatskappy wat in sy huidige vorm op 1 April 2000 tot stand gekom het na die herstrukturering van die voormalige Rembrandt Groep Beperk wat in 1948 geïnkorporeer is. 2008 was ’n waterskeidingsjaar, met die suksesvolle ontbondeling van die groep se tabakbelange aan aandeelhouers as ’n dividend in specie.

Gedurende November 2009 is die verkryging van VenFin Beperk suksesvol afgehandel en die belange van die groep bestaan nou hoofsaaklik uit beleggings in bankwese en finansiële dienste, drukwerk en verpakking, glasprodukte, mediese dienste, mynwese, petroleumprodukte, voedsel, wyn en spiritualieë, media, tegnologie en verskeie ander handelsmerkprodukte.

Die maatskappy is hoofsaaklik toegespits op beleggingsbestuur en die verskaffing van strategiese insette eerder as op die dag-tot-dag-bestuur van besigheidseenhede van die maatskappye waarin belê is.

Bedryfsfiliale bestaan uit genoteerde en ongenoteerde maatskappye met onafhanklike direksies, waar hierdie maatskappy op nie-uitvoerende vlak verteenwoordig word. Beleggings in nie-filiale sluit genoteerde en ongenoteerde maatskappye in wat nie deur hierdie maatskappy beheer word nie en meesal as geassosieerde maatskappye beskou word op grond van beduidende invloed en direksieverteenwoordiging.

 

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English