Verduidelikende notas by die kennisgewing

AAN AANDEELHOUERS

Gewone Besluite

Gewone besluit nommer 1
Goedkeuring van finansiële jaarstate
Kragtens die bepalings van artikel 286(1) van die Maatskappywet (Nr. 61 van 1973), soos gewysig (“die Maatskappywet”), is direkteure verplig om aan die lede van die maatskappy sowel die finansiële jaarstate van die maatskappy as die finansiële jaarstate van die groep by die algemene jaarvergadering vir oorweging voor te lê.

Gewone besluit nommer 2
Heraanstelling van ouditeur

Kragtens die bepalings van artikel 270(1) van die Maatskappywet, moet ’n maatskappy by elke algemene jaarvergadering ’n ouditeur of ouditeure aanstel om sodanige amp te beklee vanaf die einde van daardie vergadering tot die einde van die volgende algemene jaarvergadering van die maatskappy. Kragtens die bepalings van artikel 274(3) van die Maatskappywet, waar ’n firma as ouditeure aangestel word, moet die aanstelling ook die naam aandui van die individuele geregistreerde ouditeur wat die oudit sal onderneem.

Gewone besluit nommer 3
Goedkeuring van direkteure se vergoeding

Kragtens die bepalings van artikel 29.2.1 van die statute van die maatskappy moet die vergoeding betaalbaar aan direkteure deur die lede van die maatskappy vasgestel word.

Gewone besluite nommers 4 – 13
Verkiesing van direkteure

Kragtens die bepalings van artikel 31.1.1 van die statute van die maatskappy tree een-derde van die direkteure of, indien hulle nie ’n veelvoud van drie is nie, die getal naaste aan ’n derde, maar nie minder nie as ’n derde, jaarliks by die algemene jaarvergadering af. Kragtens die bepalings van artikel 31.4.1.1, moet ’n persoon wat deur die direkteure as direkteur aangestel is, by die eersvolgende algemene jaarvergadering aftree en vorm nie deel van die derde van direkteure wat volgens rotasie moet aftree nie. Direkteure mag hulself vir ’n verdere termyn herkiesbaar stel. Biografiese inligting van die direkteure van die maatskappy verskyn op bladsy 8 en 9 van die Jaarverslag.

Gewone besluit nommer 14
Ontbondeling van Trans Hex-aandele

Ingevolge die bepalings van paragraaf 5.85 van die noteringsvereistes, vereis die distribusie deur Remgro van sy Trans Hex-aandele aan sy aandeelhouers ingevolge die bepalings van artikel 90 van die Maatskappywet die goedkeuring van sy aandeelhouers deur ’n gewone besluit.

Spesiale Besluite

Spesiale besluit nommer 1
Algemene magtiging vir die terugkoop van aandele

Die jaarlikse hernuwing van dié magtiging word deur die noteringsvereistes en artikel 85 van die Maatskappywet vereis. Die bestaande goedkeuring aan die direkteure verval by die eerskomende algemene jaarvergadering, tensy dit hernu word.

Spesiale besluit nommer 2
Algemene magtiging vir sluiting van afgeleide transaksies

Die algemene magtiging word aan die direkteure gegee ten einde hulle in staat te stel om, onderhewig aan die bepalings van die Maatskappywet en die noteringsvereistes, afgeleide transaksies aan te gaan wat daartoe mag of sal lei dat die maatskappy sy eie aandele moet koop.

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English