Algemene verslag – FINANSIËLE oorsig

 

FINANSIËLE HOOFTREKKE

 
   
Gewone dividend per aandeel

+ 10.0%

Wesensverdienste per aandeel (BAT ingesluit in die vergelykende jaar)

- 30.1%

Wesensverdienste per aandeel van voortgesette bedrywighede (BAT uitgesluit in die vergelykende jaar)

+ 2.8%

Toename in intrinsieke waarde per aandeel

+ 22.7%

Suksesvolle voltooiing van die verkryging van VenFin op 23 November 2009
 



INLEIDING

Soos in groot dele van die wêreld die geval was, het ekonomiese toestande in Suid-Afrika ook groot uitdagings in 2009 gebied, met die BB P wat met 1.8% gedaal het, die eerste jaarlikse inkrimping sedert die vroeë 1990’s. Die plaaslike ekonomie het ‘n dubbele terugslag ondervind toe verbruiksbesteding, te midde van aansienlike werkverliese, afgeneem en uitvoere sterk gedaal het weens die afname in wêreldvraag. Een van besigheid se reaksies was om vaste investering te verminder/uit te stel, wat ‘n verdere demper op ekonomiese bedrywighede geplaas het. Die wêreld se BB P het in 2009 met 0.5% gedaal, die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat die globale ekonomie oor ‘n volle kalenderjaar afgeneem het.

Terwyl die gegewens vir 2009 as geheel neerdrukkend is, was daar reeds in die tweede helfte van die jaar ‘n terugkeer na wêreldgroei, wat ondersteun is deur ongekende regeringsaansporingsmaatreëls en ‘n verlangsaming in die koers van voorraadvermindering. Na ‘n inkrimping van meer as 5% (kwartaal tot kwartaal op ‘n jaargrondslag) in die eerste kwartaal van 2009, het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF ) gerapporteer dat die wêreldekonomie in die tweede helfte van 2009 met 4.5% gegroei het. Belangrike aanwysers, soos die wêreld-aankoopbestuurdersindeks(1) wat in April 2010 tot ‘n 71-maandehoogtepunt gestyg het, dui aan dat die wêreld se ekonomiese herstel in die vroeë gedeelte van 2010 voortgeduur het.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het volgens alle aanduidings ook in die middel van 2009 gedraai. Nadat die reële BB P ‘n aansienlike daling van 7.4% (kwartaal tot kwartaal op ‘n jaargrondslag) in die eerste kwartaal van 2009 getoon het en deur nog ‘n daling, hoewel ietwat kleiner, in die tweede kwartaal gevolg is, het Suid-Afrika in die derde kwartaal uit die resessie gekom, met ‘n toename van 0.9% in reële BB P. Die herstel het in die laaste kwartaal versnel, met groei van 3.2% op ‘n kwartaalgrondslag. ‘n Sektorale ontleding toon dat die Suid-Afrikaanse ekonomie se herstel (in ooreenstemming met die wêreldneiging) grootliks deur die vervaardigingsektor gedryf is, terwyl die handelsektor, wat van verbruiksaanvraag afhanklik is, effens agtergebly het.

Die plaaslike ekonomiese gegewens wat sover in 2010 uitgereik is, is taamlik gemeng. Die rentekoers-sensitiewe sektore van die ekonomie (veral die huis- en voertuigmark) herstel teen ‘n robuuste tempo, terwyl Naamsa gerapporteer het dat die verkope van nuwe voertuie, hoewel van ‘n lae basis in 2009, in die eerste vier maande van 2010 met 22% op ‘n jaargrondslag gestyg het. Die onderskeie huisprysindekse van die belangrikste bankgroepe dui ook op ‘n terugkeer na huisprysgroei, selfs in reële terme. Hierdie tendense weerspieël die positiewe uitwerking wat die vermindering van 550 basispunte in die rentekoers sedert Desember 2008 op die ekonomie gehad het.

Benewens die herstel in uitvoere (die uitvoervolume van voertuie het in April 2010 met 51.6% op ‘n jaargrondslag toegeneem) het verbeterde omstandighede in die wêreldekonomie Suid-Afrika ook bevoordeel deur die sterk styging in die aankope van plaaslike aandele en effekte. In die jaar tot 30 April 2010 was buitelandse beleggers netto kopers van effekte ten bedrae van R30 miljard en R12.5 miljard se aandele op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE). Die herstel van wêreldgroei was sigbaar in die sterk styging in die pryse van sleutelkommoditeite, soos platinum en koper, en dit het ook Suid-Afrika se uitvoere ‘n hupstoot gegee en buitelanders gelok om in die hulpbrongedrewe JSE te belê.

Ondanks hierdie positiewe ontwikkelings kry die Suid-Afrikaanse ekonomie op verskeie gebiede die wind van voor. Die belangrikste hiervan is die indiensnemingsituasie. Onlangse statistiek van Statistiek SA dui daarop dat die ekonomie 171 000 werkgeleenthede in die eerste kwartaal van 2010 verloor het, wat die amptelike werkloosheidskoers weer bokant 25% opgestoot het. ‘n Stadige herstel in die arbeidsmark is een van die grootste risiko’s vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel, omdat dit verbruiksbesteding strem, wat vir meer as 60% van BBP verantwoordelik is.

Hoewel die herstel beter is as wat verwag is, hou die wêreldekonomie ‘n risiko vir Suid-Afrika se groeivooruitsigte in. Die onlangse skerp daling in wêreld-aandelebeurse in reaksie op die kommer oor staatskuld in verskeie Suid-Europese lande (Griekeland, Spanje, Portugal, ens.) is ‘n aanduiding dat die herstel uit die wêreldresessie nie gelykmatig gaan verloop nie. Wat kommer wek, is dat ‘n aantal lande wat meer belangrik vir die wêreldekonomie is, in die besonder Amerika en die Verenigde Koninkryk, ook die moeilike uitdaging in die gesig staar om reuse fiskale tekorte (bokant 10% van BB P) te verminder in ‘n stadium dat volhoubare ekonomiese groei nie gewaarborg is nie. Op die pad vorentoe sal die groot tekorte die vermoë van ontwikkelde lande se regerings om hul ekonomieë in moeilike tye te ondersteun, aan bande lê. Daarbenewens mag die stappe wat in die nadraai van die wêreldkrisis gedoen is, waaronder voorstelle om die finansiële sektor beter te beheer, asook die moontlikheid van hoër belasting (Australië het reeds planne aangekondig om die belasting van mynmaatskappye te verhoog), bydra tot laer groei in BB P as wat die geval in die 1990’s en vroeë 2000’s was.

(1) Die aankoopbestuurdersindeks is ‘n bygewerkte aanwyser wat die welstand van die vervaardigingsektor meet.

WESENSVERDIENSTE

Vir die jaar tot 31 Maart 2010 het wesensverdienste met 28.0% vanaf R4 660 miljoen tot R3 355 miljoen afgeneem, terwyl wesensverdienste per aandeel met 30.1% vanaf 987.7 sent tot
690.1 sent afgeneem het.

Ten einde vergelykbaarheid op ’n jaargrondslag te vergemaklik, word wesensverdienste en wesensverdienste per aandeel ook vir voortgesette bedrywighede aangebied, wat die geëkwiteerde inkomste van BAT sowel as alle nie-herhalende kostes wat met die ontbondeling verband hou, uitsluit, soos in die volgende tabel uiteengesit.

 
Jaar geëindig 31 Maart
  2010   2009  
  R miljoen   R miljoen  
Wesensverdienste soos gerapporteer 3 355   4 660  
Geëkwiteerde inkomste van BAT -    (2 211) 
SBM op die BAT-ontbondeling -    686  
Ander nie-herhalende koste wat verband hou met die ontbondeling    33  
Wesensverdienste van voortgesette bedrywighede 3 355   3 168  
Wesensverdienste per aandeel soos gerapporteer (sent) 690.1   987.7  
Wesensverdienste per aandeel van voortgesette bedrywighede (sent) 690.1   671.5  

Wesensverdienste van voortgesette bedrywighede het met 5.9% vanaf R3 168 miljoen tot R3 355 miljoen toegeneem, terwyl wesensverdienste per aandeel van voortgesette bedrywighede met slegs 2.8% vanaf 671.5 sent tot 690.1 sent toegeneem het, as gevolg van die verwateringseffek met die uitreiking van gewone aandele vir die aankoop van VenFin.

Bydrae tot wesensverdienste
       
  Jaar geëindig 31 Maart
  BAT   BAT  
  %   uitgesluit   ingesluit  
  2010   ver-  2009   2009   
  R miljoen   andering   R miljoen   R miljoen   
Tabakbelange -     -   2 295  
Finansiële dienste 1 355   (14.0)  1 576   1 576  
Nywerheidsbelange 1 982   50.4   1 318   1 318  
Mediabelange 17       -   -   
Mynbelange 96   (41.5)  164   164  
Tegnologiebelange 13     -   -   
Ander beleggings (64)  20.0   (80)  (80) 
Sentrale tesourie 57   (79.5)  278   194  
Ander netto korporatiewe koste (101)  (14.8)  (88)  (807) 
  3 355   5.9   3 168   4 660  

Verwys na die samestelling van wesensverdienste op bladsy 17 vir verdere inligting. Die wesensverdienste “BAT uitgesluit” soos hierbo aangebied, verteenwoordig wesensverdienste van voortgesette bedrywighede.

Die verkryging van VenFin het die skep van twee nuwe rapporteringsgroepe genoodsaak, “Mediabelange” en “Tegnologiebelange”. ’n Derde nuwe rapporteringsgroep, “Ander beleggings”, is ook geskep. Ten einde vergelykbaarheid op ’n jaargrondslag te vergemaklik, is die inligting wat vir die vergelykende jaar aangebied word, dienooreenkomstig aangepas.

Die kommentaar wat hierop volg, wat die resultate met dié van die vorige jaar vergelyk, is gebaseer op wesensverdienste van voortgesette bedrywighede alleen.

Finansiële dienste
FirstRand en RMB H se gesamentlike bydrae tot Remgro se wesensverdienste uit finansiële dienste het R1 355 miljoen (2009: R1 576 miljoen) bedra. Die afname van 14.0% kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n toename in slegte skulde in die kleinhandeluitleningsbedrywighede van die banksegment, sowel as verliese met die verhandeling van ekwiteitsinstrumente.

Nywerheidsbelange
Die bydrae van die nywerheidsbelange tot wesensverdienste het met 50.4% tot R1 982 miljoen (2009: R1 318 miljoen) toegeneem. Kagiso Trust Investments (KTI ) se bydrae tot wesensverdienste het R128 miljoen (2009: R139 miljoen verlies) bedra. KTI se resultate is beïnvloed deur gunstige billike waarde aanpassings van R20 miljoen (2009: R368 miljoen ongunstig), wat verband hou met sy aandeelhouding in Metropolitan Holdings Beperk. Total South Africa se bydrae tot wesensverdienste het R42 miljoen (2009: R25 miljoen verlies) bedra. Die verbeterde prestasie van Total South Africa is hoofsaaklik die gevolg van ’n meer stabiele internasionale olieprys as in 2008, wat gelei het tot laer voorraadherwaardasieverliese. Rainbow het verbeterde resultate gerapporteer met ’n bydrae tot Remgro se wesensverdienste ten bedrae van R259 miljoen (2009: R235 miljoen). Medi-Clinic se bydrae tot wesensverdienste het R460 miljoen (2009: R288 miljoen bedra. Hierdie wesentlike toename is die gevolg van verbeterde bedryfsresultate, sowel as nie-herhalende items ten bedrae van R176 miljoen (waarvan Remgro se deel R81 miljoen is). Distell en Unilever se bydraes tot wesensverdienste het onderskeidelik R274 miljoen en R279 miljoen (2009: R304 miljoen en R231 miljoen) bedra. Tsb Sugar se bydrae tot wesensverdienste het R227 miljoen (2009: R188 miljoen) bedra. Hierdie toename is hoofsaaklik die gevolg van ’n verandering in die waardasiemetodologie van sy biologiese landboubates, wat tot ’n toename in wins van R34 miljoen gelei het.

Mediabelange
Mediabelange bestaan hoofsaaklik uit die belang in Sabido wat voorheen deur VenFin gehou is. Sabido se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die drie maande tot Maart 2010 het R11 miljoen bedra.

Mynbelange
Mynbelange se bydrae tot wesensverdienste het met 41.5% tot R96 miljoen (2009: R164 miljoen) afgeneem. Dividende wat van Implats ontvang is, het R85 miljoen (2009: R346 miljoen) bedra, terwyl Remgro se deel van die resultate van Trans Hex R11 miljoen (2009: R182 miljoen verlies) bedra het. Daar moet daarop gelet word dat, met ingang van 30 November 2009, die belegging in Trans Hex herklassifiseer is as ’n belegging “gehou vir verkoop” en gevolglik is Trans Hex slegs vir die agt maande tot 30 November 2009 volgens die ekwiteitsmetode verantwoord.

Tegnologiebelange
Tegnologiebelange verteenwoordig hoofsaaklik die belang in die CIV groep van maatskappye wat saam met VenFin verkry is. Vir die jaar onder oorsig is die CIV groep slegs vir die drie maande tot Maart 2010 volgens die ekwiteitsmetode verantwoord en het dit R7 miljoen tot Remgro se wesensverdienste bygedra.

Ander beleggings
Die bydrae van ander beleggings tot wesensverdienste het met R16 miljoen verbeter tot ’n verlies van R64 miljoen (2009: R80 miljoen verlies). Business Partners se bydrae tot wesensverdienste het R12 miljoen (2009: R28 miljoen) bedra, terwyl verliese ten bedrae van R79 miljoen van die belegging in Xiocom geëkwiteer is (2009: R108 miljoen verlies). Xiocom is in Maart 2010 verkoop.

Sentrale tesourie en ander netto korporatiewe koste
Laer rentekoerse asook laer gemiddelde kontantsaldo’s het veroorsaak dat die bydrae deur die sentrale tesourieafdeling met R221 miljoen afgeneem het. Daar moet daarop gelet word dat buitelandse valutawinste ten bedrae van R50 miljoen in die vergelykende jaar gerealiseer het met die repatriasie van R&R dividende. Die toename in ander netto korporatiewe koste tot R101 miljoen (2009: R88 miljoen) is hoofsaaklik die gevolg van die insluiting van VenFin se korporatiewe koste.

VERDIENSTE

Totale verdienste het met 93.2% tot R3 060 miljoen (2009: R45 330 miljoen) afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van die kapitaalwins ten bedrae van R40 805 miljoen wat met die ontbondeling van die belegging in BAT in die vergelykende jaar gerealiseer het. Gedurende die jaar onder oorsig het Remgro ’n voorsiening vir waardedaling ten bedrae van R168 miljoen ten opsigte van drie van sy beleggings, naamlik PGSI, KIEF en Premier Team Holdings, verantwoord aangesien die drawaardes van dié beleggings hul beraamde verhaalbare bedrae oorskry het. In die vergelykende jaar is ’n voorsiening vir waardedaling ten bedrae van R438 miljoen ten opsigte van die beleggings in Dorbyl, Trans Hex en PGSI gemaak.

TEsourie-AANDELE

Op 31 Maart 2009 is 3 500 000 Remgro gewone aandele (0.8%) as tesourie-aandele deur ’n volfiliaalmaatskappy van Remgro gehou. Soos voorheen gerapporteer is hierdie aandele aangekoop ten einde die nuwe aandelegroeireg-skema, wat na die ontbondeling van die belegging in BAT gedurende November 2008 geïmplementeer is, te verskans. Gedurende die jaar onder oorsig is geen Remgro gewone aandele aangekoop nie, terwyl 75 956 Remgro gewone aandele aangewend is ten einde Remgro se verpligting teenoor skema deelnemers, wie aandelegroeiregte wat aan hulle toegeken is uitgeoefen het, te vereffen. Op 31 Maart 2010 is 3 424 044 Remgro gewone aandele (0.7%) as tesourie-aandele gehou.

Dividende

Die finale gewone dividend per aandeel is op 125 sent (2009: 110 sent) vasgestel. Totale gewone dividende per aandeel ten opsigte van die finansiële jaar tot 31 Maart 2010 bedra gevolglik 209 sent (2009: 190 sent). Die dividend is 3.3 keer deur wesensverdienste gedek teenoor 5.2 keer die vorige jaar. Intrinsieke waarde Remgro se intrinsieke waarde per aandeel op 31 Maart 2010 was R121.64 teenoor R99.15 op 31 Maart 2009.

ERKENNING

Ons dra graag ons opregte waardering oor aan almal wat die afgelope jaar tot die groep se sukses bygedra het: die aandeelhouers vir hul volgehoue vertroue; die besturende direkteure en alle kollegas in die onderskeie groepmaatskappye vir hul samewerking en ondersteuning; alle ander direkteure, amptenare en werknemers vir hul toewyding en alle belanghebbendes vir dienste gelewer.

   
Johann Rupert   Thys Visser  
   
Stellenbosch  
22 Junie 2010  

 

Jaarverslag tuisblad   |   Laai PDFs af   |   Druk   |   Boekmerk   |   English