Algemene verslag – Beleggingsoorsig
(Let wel: Slegs beperkte kommentaar word gelewer oor genoteerde maatskappye aangesien die inligting algemeen beskikbaar is. Die ongenoteerde beleggings word in meer besonderhede behandel.)NYWERHEIDSBELANGE
RAINBOW CHICKEN BEPERK – effektiewe belang: 73.3%
| MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R5 465 MILJOEN | |
![]() |
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: M DALLY | |
| PROFIEL
Rainbow is the holding company of one principal operating subsidiary, which is a vertically integrated chicken producer. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
J J Durand, P R Louw, M H Visser |
|
| WEBWERF: www.rainbowchicken.co.za | |
Vir die die jaar geëindig 31 Maart 2010 het Rainbow Chicken Beperk (“Rainbow”) se wesensverdienste met 10% (2009: afname van 40%) van R319 miljoen tot R351 miljoen toegeneem. Positiewe billike waarde aanpassings op finansiële instrumente, wat in Rainbow se grondstofaankoopstrategie gebruik word, ten bedrae van R52 miljoen (2009: R153 miljoen negatief), is by wins voor belasting ingesluit. Met die uitsluiting van hierdie billike waarde aanpassings is daar ’n dalende tendens in wesensverdienste, wat hoofsaaklik toeskryfbaar is aan laer hoenderrealiserings en die eksterne voerbesigheid se kleiner bydrae.
Rainbow se totale omset het met 2.1% (2009: 14.4%) toegeneem, ondersteun deur groei van 2.9% in hoenderomset wat 80% van die totale omset verteenwoordig. Algeheel het hoenderverkoopsvolumes met 5.1% toegeneem. Die laer toename in omset, in vergelyking met 2009, is hoofsaaklik toeskryfbaar aan laer voerverkoopspryse en volumes wat buite Rainbow verkoop is met voerverkope wat 11% (2009: 13%) tot totale omset bygedra het.
Die prys van voergrondstowwe het in die 2009 finansiële jaar historiese hoë vlakke bereik en regdeur die huidige finansiële jaar onbestendig gebly. Met die uitsondering van soja het die prys van grondstowwe in 2010 aansienlik gedaal met die rand wat verder teenoor die belangrikste geldeenhede verstewig het. Die spoed waarteen insetpryse gedaal het en Rainbow se termyn-aankoopstrategie, het dit moeilik gemaak om die volle voordeel van die laer pryse te benut. Voerkoste kan vorentoe verder daal mits grondstofpryse op die huidige lae vlakke bly.
Die toegevoegdewaarde-kleinhandelprodukte het goed gevaar. Rainbow Polony het sy markleiersposisie verder verstewig met die bekendstelling van Rainbow Family Polony, terwyl Rainbow Viennas goeie volumegroei behaal het. Die Rainbow Freezer to Fryerhoenderburgers en -filette het vanjaar stewige groei getoon en het hom onlangs as die markleier op die gebied van gekrummelde hoenderprodukte in Suid- Afrika gevestig. FoodSolutions het aanvaarbare groei getoon gegewe die stram ekonomie en die gevolglike impak op diskresionêre aankope soos geriefskos. Die algemene voedseldienskanaal het verlangsaam wat tot ’n daling in hoenderaankope gelei het.
Rainbow se toegevoegdewaarde-handelsmerkstrategie het weereens bewys dat dit die kern is waarom konsekwente winslewering in hierdie strawwe ekonomiese tye draai. Rainbow se volhoubaarheidsprogram laat die fokus op die maatskappy se koolstofvoetspoor val en inisiatiewe in hierdie verband sal voortgaan om bedrywighede positief te beïnvloed wat verbeterde elektrisiteits- en steenkoolverbruik betref
MEDI-CLINIC KORPORASIE BEPERK –effektiewe belang: 45.7%
| MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R16 011 MILJOEN | |
![]() |
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: D P MEINTJIES | |
| PROFIEL Medi-Clinic se besigheid behels die voorsiening van omvattende, hoëgehalte hospitaaldienste op ’n kostedoeltreffende grondslag in Suidelike Afrika, die Verenigde Arabiese Emirate en Switserland. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
E de la H Hertzog, C M van den Heever, M H Visser |
|
| WEBWERF: www.mediclinic.co.za | |
Medi-Clinic Korporasie Beperk (“Medi-Clinic”) se omset het gedurende die jaar onder oorsig met 5% tot R17 141 miljoen (2009: R16 351 miljoen) toegeneem, terwyl die wesensverdienste met 65% tot R1 028 miljoen (2009: R624 miljoen) toegeneem het. Die wesentlike toename in wesensverdienste kan hoofsaaklik toegeskryf word aan twee nie-herhalende items ten bedrae van R176 miljoen wat verband hou met ’n verlaging in belastingkoerse in twee kantons in Switserland, sowel as ’n aanpassing aan verstreke dienskoste van die Hirslanden pensioenfonds. Kernwesensverdienste, wat die effek van die twee nie-herhalende items uitsluit, het vanaf R624 miljoen tot R852 miljoen toegeneem, as gevolg van hoër bedryfswins.
Medi-Clinic het ’n belang van 100% in Hirslanden, die houermaatskappy van die grootste privaat hospitaalgroep in Switserland. Hirslanden is die leier in privaathospitaalsorg in Switserland met 13 privaat akute versorgingsfasiliteite. Hirslanden se omset vir die jaar onder oorsig was 5% laer op R8 335 miljoen (2009: R8 737 miljoen) en kernbedryfswins voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (“kern- EBIT DA”), wat die effek van die twee nie-herhalende items uitsluit, was effens laer op R1 953 miljoen (2009: R1 961 miljoen). Die daling in die gemiddelde rand/ Switserse frank-wisselkoers gedurende die jaar het die daling in die randekwivalent van die finansiële syfers hierbo veroorsaak, met omset en kern-EBITDA wat ’n styging van 4% en 9% onderskeidelik, getoon het teen konstante wisselkoerse. Die Suider-Afrikaanse groepinkomste het gedurende die jaar onder oorsig met 13% tot R7 680 miljoen (2009: R6 792 miljoen) toegeneem, as gevolg van ’n 2.1%-toename in beddae verkoop en ’n styging van 10.3% in die gemiddelde inkomste per beddag. EBITDA het met 13% toegeneem tot R1 651 miljoen (2009: R1 458 miljoen) en die Suider-Afrikaanse bedrywighede het R659 miljoen (2009: R553 miljoen) tot Medi-Clinic se toeskryfbare verdienste bygedra.
Medi-Clinic het ’n belang in Emirates Healthcare Holdings Limited wat die Welcare Hospital en The City Hospital in Dubai besit en bedryf. Emirates Healthcare het ook die reg om ’n verdere hospitaal te ontwikkel waarmee dit die grootste privaat gesondheidsverskaffer in Dubai sal word. Omset vanaf die Verenigde Arabiese Emirate het met 37% toegeneem tot R1 126 miljoen (2009: R822 miljoen) vir die jaar onder oorsig, terwyl EBIT DA tot R132 miljoen (2009: R12 miljoen) toegeneem het.
Die groep is uniek geposisioneer oor drie uiteenlopende internasionale bedryfsplatforms. Die fokus van die groep bly op sy kernbesigheid, naamlik akute sorg, spesialisgeoriënteerde hospitaaldienste. Sodoende word daar gestreef dat sy visie verwesenlik word om deur pasiënte, dokters en gesondheidsorgbefondsers as die bes vertroude en mees gerespekteerde verskaffer van sulke dienste beskou te word.
DISTELL GROEP BEPERK – effektiewe belang: 33.3%
| MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R13 721 MILJOEN | |
![]() |
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: J J SCANNELL | |
| PROFIEL
Distell produseer en bemark gehaltewyne, spiritualieë en gegeurde alkoholiese drank in Suid-Afrika en internasionaal. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
P E Beyers, E de la H Hertzog, M H Visser |
|
| WEBWERF: www.distell.co.za | |
Aangesien Distell Groep Beperk (“Distell”) se finansiële jaareinde 30 Junie is, word die maatskappy se resultate vir die twaalf maande geëindig 31 Desember 2009 in Remgro se wesensverdienste ingesluit.
Distell se omset het in die jongste gerapporteerde sesmaandetydperk geëindig 31 Desember 2009 met 9% (2008: 22%) tot R6.6 miljard (2008: R6.1 miljard) toegeneem, terwyl verkoopsvolume met 7.7% gestyg het. Verkoopsvolumes in Suid-Afrika het met 5.8% (2008: 10.7%) toegeneem. Internasionale verkoopsvolume, met insluiting van Afrika, was 14% (2008: 37%) hoër, terwyl ’n sterker rand teenoor die vernaamste geldeenhede groei in internasionale omset tot 12% beperk het.
Die afname van 4.2% (2008: 19.9%-toename) in Distell se wesensverdienste vir die ses maande tot R623 miljoen (2008: R650 miljoen) was hoofsaaklik vanweë hoër finansieringskoste as gevolg van die verkryging van die Bisquit-handelsmerk, asook ’n afname in bedryfsmarge.
UNILEVER SOUTH AFRICA HOLDINGS (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 25.8%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R16 878 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: MRS G A KLINTWORTH | |
| PROFIEL
Unilever vervaardig en bemark ’n wye reeks voedsel- en huishoudelike en persoonlike produkte. Unilever geniet markleierskap in die meeste van sy hoofkategorieë. Bekende handelsmerke sluit die volgende in: Robertsons, Rama, Flora, Lipton, Joko, Mrs Ball’s, Sunlight, Omo, Surf, Vaseline en Lux. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
P E Beyers, M H Visser |
|
| WEBWERF: www.unilever.co.za | |
Vir die twaalf maande geëindig 31 Maart 2010 het Remgro in sy wesensverdienste R279 miljoen (2009: R231 miljoen) van Unilever South Africa Holdings (Edms) Beperk (“Unilever Suid-Afrika”) se verdienste ingesluit. Herstruktureringskoste van R53 miljoen (2009: R23 miljoen) is ingesluit by Remgro se deel van Unilever se verdienste. Die verhoging in verdienste is hoofsaaklik as gevolg van hoër marges toeskryfbaar aan aansienlike opwaartse druk op kommoditeitspryse gedurende die vorige tydperk wat nie gedurende die huidige jaar ervaar is nie.
Unilever Suid-Afrika se omset vir die jaar geëindig 31 Maart 2010 het met 5.1% toegeneem, wat bestaan uit groei van 5.5% in die kleinhandelbesigheid en ‘n afname van 3% in die voedselverskaffingoplossingsbesigheid.
Die groei in die kleinhandelbesigheid is gedryf deur beide prys en volumes, met die Geurmiddels en Slaaisouse (“S&D”)-, Gesigsorg- en die Velsorgkategorie wat aansienlik tot hierdie groei bygedra het. S&D het die goeie vertoning oor die reekse van soppe en maaltydoplossings voortgesit. Gesigsorgkategorieë het uitsonderlike groei getoon na die bekendstelling van die premiumreeks Pondsprodukte. Groei in die velsorgkategorie is gedryf deur die bekendstelling van Vaseline for Men en Sunlight Germiguard.
Groei in pryse is toeskryfbaar aan die oordrageffek van ‘n aantal prysstygings in 2008 as gevolg van die ongekende styging in kommoditeitspryse en hoë wisselkoerse. Hierdie tendens het in die laaste deel van 2009 omgeswaai. Mededingers het hul pryse ooreenkomstig aangepas en Unilever Suid-Afrika se prysstrategie is gehandhaaf, relatief tot hierdie mededingers.
Voedselverskaffing-oplossings se negatiewe groei is toeskryfbaar aan ‘n afname in volumes as gevolg van die impak van die ekonomiese verlangsaming op uitdie- huis-etes.
TOTAL SOUTH AFRICA (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 24.9%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R4 338 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: J D ROYERE | |
| PROFIEL
Filiaal van Total (Frankryk). Die besigheid van Total South Africa is die raffinering en bemarking van petroleum en petroleumprodukte in Suid-Afrika. Versprei ook aan aangrensende lande en het ’n 36%-belang in National Petroleum Refiners of S.A. (Edms) Beperk (Natref). |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
L Crouse, E de la H Hertzog |
|
| WEBWERF: www.total.co.za | |
Aangesien Total South Africa (Edms) Beperk (“Total”) se finansiële jaareinde 31 Desember is, is die maatskappy se resultate vir die twaalf maande geëindig 31 Desember 2009 ingesluit in Remgro se wesensverdienste. Die herstel in oliepryse het Total se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die tydperk onder oorsig vanaf ’n verlies van R25 miljoen in die vorige jaar na ’n verdienste van R42 miljoen laat toeneem.
Total het ’n netto wins van R131 miljoen vir 2009 gerapporteer in vergelyking met ’n verlies van R101 miljoen vir 2008. Die herstel van internasionale oliepryse gedurende 2009, nadat dit gedurende 2008 baie wisselvallig was, het herwaardasies van voorraad vir die huidige jaar beperk, in vergelyking met die aansienlike voorraadafskrywings tydens 2008. Die industrie se winsgewendheid het gely onder lae raffineringsmarges en oorkapasiteit van raffinaderye wêreldwyd. Die industrie het ’n verhoging van 6.2 sent in die gereguleerde groothandelmarge gedurende Oktober 2009 ontvang, maar dit hou steeds nie tred met inflasie nie.
Total se verkope van hoofbrandstowwe het, ondanks die resessie, met 2.3% vanaf die vorige jaar toegeneem, terwyl kleinhandelverkope met 1.7% toegeneem het. Die stygende tendens is hoofsaaklik toe te skryf aan laer oliepryse dwarsdeur die jaar, in vergelyking met 2008, terwyl die positiewe impak van die herstel in die Suid-Afrikaanse ekonomie na verwagting in 2010 sigbaar sal wees. Die maatskappy het gedurende die jaar onder oorsig aksieplanne geloods om kostes te verminder, maar het nietemin dieselfde vlakke van investering in gesondheid, veiligheid, omgewing en kwaliteitaspekte gehandhaaf, veral by depots. Die maatskappy het ook aan die einde van 2009 met ’n herstruktureringsproses begin met die doel om kostes te verminder.
Natref, waarin Total ’n 36%-belang het, se bedrywighede was meer betroubaar gedurende die jaar onder oorsig as in 2008. Die raffineringsmarges het egter aansienlik afgeneem, met baie lae vlakke gedurende die tweede helfte van die jaar, as gevolg van ’n afname in die vraag na olieprodukte in internasionale markte.
Verlaagde bedryfskapitaalbehoeftes as gevolg van laer oliepryse dwarsdeur die jaar, in vergelyking met 2008, het gelei tot ’n afname van R126 miljoen in finansieringskoste.
NAMPAK BEPERK – effektiewe belang: 13.3%
| MARKKAPITALISASIE OP 31 MAART 2010: R11 820 MILJOEN | |
![]() |
GENOTEER OP DIE JSE BEPERK |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: A B MARSHALL | |
| PROFIEL
Nampak is die grootste en mees gediversifiseerde verpakkingsvervaardiger in Afrika met bedrywighede in die Verenigde Koninkryk en Europa. Dit produseer verpakkingsprodukte van metaal, papier, plastiek en glas en is die grootste vervaardiger en verspreider van “tissue”- produkte in Suid-Afrika. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEUR
M H Visser |
|
| WEBWERF: www.nampak.co.za | |
Nampak Beperk (“Nampak”) het ’n Septemberjaareinde. Nampak se bydrae van R73 miljoen (2009: R105 miljoen) tot Remgro se wesensverdienste het betrekking op sy resultate vir die twaalf maande tot 31 Maart 2010.
Vir die ses maande geëindig 31 Maart 2010 het Nampak gerapporteer dat omset met 7% tot R9 434 miljoen (2009: R10 091 miljoen) afgeneem het as gevolg van laer verkoopsvolumes in Suid-Afrika en die uitwerking van ’n sterker rand op omgerekende omset vanaf Europa en die res van Afrika. Teen ’n konstante wisselkoers was omset op dieselfde vlak as die ooreenstemmende tydperk.
Nampak se wesensverdienste vir die tussentydperk het met 17% toegeneem tot R458 miljoen (2009: R392 miljoen). Die toename was hoofsaaklik as gevolg van ’n afname in finansieringskoste en verbetering in die papierbesighede van beide Suid- Afrika en Europa, wat bygedra het tot verbetering in bedryfsmarge.
TSB SUGAR HOLDINGS (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 100.0%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R2 506 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: J DU PLESSIS | |
| PROFIEL
Tsb Sugar is betrokke by die suikerrietbedryf en die produksie, vervoer en bemarking van suiker, asook veevoere. Sitrus word ook op plase van die groep verbou. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
J W Dreyer, C M van den Heever, T van Wyk |
|
| WEBWERF: www.tsb.co.za | |
Tsb Sugar Holdings (Edms) Beperk (“Tsb Sugar”) is hoofsaaklik betrokke by die verbouing van suikerriet en die produksie, vervoer en bemarking van geraffineerde suiker, bruinsuiker, veevoer en sitrus. Bedrywighede vind hoofsaaklik in die Nkomazi-streek van die Mpumalanga Laeveld en in die Pongolastreek in noordelike KwaZulu-Natal plaas. Suikerprodukte word bemark onder die gevestigde Selatihandelsmerk, wat markleierskap in sy teikenmarkte (Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Limpopo) geniet, terwyl markaandeel in die ander geografiese markte groei. Tsb Sugar het ’n 27.4%-belang in Royal Swaziland Sugar Corporation Limited wat twee suikermeulens in Swaziland besit en bedryf. Tsb Sugar het ook ’n effektiewe belang van 63.7% in Mananga Sugar Packers – ’n suikerverpakkings- en bemarkingsmaatskappy gesetel in Swaziland, wat suiker onder die First and other handelsmerke verpak en in Swaziland en Suid-Afrika bemark.
Die wesensverdienste het met 21% tot R227 miljoen (2009: R188 miljoen) toegeneem ondanks die huidige globale ekonomiese situasie en kostestygings regdeur die waardeketting. Omset het vanweë ’n toename in volumes en pryse, met 11% tot R4 149 miljoen (2009: R3 732 miljoen) toegeneem. Suiker, sitrus en veevoer maak onderskeidelik 84%, 5% en 8% van omset uit (2009: 82%, 6% en 8%). Ingesluit in die huidige jaar se wesensverdienste is ’n bykomende billike waarde aanpassing van R34 miljoen as gevolg van ’n verandering in die waardasiemetodologie van biologiese landboubates (suikerriet, sitrus en piesangs).
Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf se totale suikerproduksie het in 2009/2010 met 3.6% gedaal. Tsb Sugar se rusuikerproduksie het egter met 8.2% toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van die suikerproduksie by die Pongola meule wat gedurende die jaar verkry is. Gedurende die jaar onder oorsig het die Komati meule die meeste suiker van al die meulens in die suikerbedryf geproduseer, met die Malelane meule in die derde plek.
Die verkryging van die Pongola meule gedurende die jaar het tot die verhoogde suikerproduksie bygedra. Tsb Sugar se suikermeulens het 4.535 miljoen ton suikerriet (2009: 4.093 miljoen ton) gedurende die seisoen verwerk, met ’n produksie van 550 016 ton rusuiker (2009: 508 473 ton). Die riet-tot-suikerverhouding van 8.04 vergelyk gunstig met die Suid-Afrikaanse bedryfsgemiddelde van 8.53, wat op goeie produksiedoeltreffendheid by al drie meulens dui. Tsb Sugar bedryf ’n raffinadery by die Malelane Meulekompleks, asook by die Pongola meule en rusuiker wat van die maatskappy se suikermeulens ontvang word, word vir beide die binnelandse en uitvoermark geraffineer. Die raffinaderye het 417 403 ton (2009: 342 489 ton) geraffineerde suiker gedurende die jaar geproduseer.
Tsb Sugar se veevoerbedrywigheid, Molatek, vervaardig ’n verskeidenheid veevoerprodukte. Die hoofgrondstowwe (molasse en bagasse) wat in die produksieproses gebruik word, is byprodukte van suikerproduksie. Molatek het ’n uitstekende jaar beleef en het daarin geslaag om produksie met 19.1% teenoor die vorige jaar te verhoog.
Tsb Sugar belê ook in sitrus deur sy 51%-belang in Golden Frontiers Citrus (“GFC”). GFC besit drie sitrusplase waar pomelo’s en lemoene vir die uitvoermark verbou, geoes en verpak word. Sitrusbemarking word deur Komati Fruits, ’n vennootskap tussen verskeie sitrusprodusente, onderneem. GFC het 71 520 ton pomelo’s en lemoene geoes in die vorige seisoen. Die persentasie uitvoere het tot 58% (2009: 70%) van produksie gedaal, hoofsaaklik as gevolg van negatiewe marktoestande in teikenmarkte. GFC huur ook ’n sitrusplaas van, en bestuur die verbouing van piesangs op plase van, nuutgestigte trusts van grondeisers.
Die afhandeling van die grondeise wat op Tsb Sugar se plase geregistreer is, het aanvanklik goed gevorder met die Tenbosch-grondeis wat reeds gedurende 2008 afgehandel is. Gesamentlike bestuursondernemings wat gestig is na die oordrag van grond, het produksie en finansiële verwagtinge oortref. Die grondhervormingsproses het egter verlangsaam as gevolg van die regering se finansiële beperkinge en Tsb Sugar kon nie daarin slaag om die beplande grondhervorming gedurende die jaar onder oorsig af te handel nie.
AIR PRODUCTS SOUTH AFRICA (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 50.0%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R3 504 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: M HELLYAR | |
| PROFIEL
Air Products SA produseer suurstof, stikstof, argon, waterstof en koolstofdioksied vir verkoop in gasvorm deur middel van pypleidings, ingevolge langtermynkontrakte aan groot industriële gebruikers, asook die verkoop en verspreiding van industriële gasse en chemikalieë, saam met die toepaslike toerusting, aan die algemene handelsmark. Die ander 50% van die gewone aandele word gehou deur Air Products and Chemicals Incorporated, ’n VSA-maatskappy. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
J W Dreyer, T van Wyk, N J Williams |
|
| WEBWERF: www.airproducts.co.za | |
Air Products South Africa (Edms) Beperk (“Air Products”) het ’n September-jaareinde. Vir die twaalf maande geëindig 31 Maart 2010 het Air Products se omset gegroei met 9.0% (2009: 13.1%) van R1 139 miljoen tot R1 241 miljoen. Remgro se aandeel in Air Products se wesensverdienste het toegeneem met 12.7% (2009: 8.3%) van R102 miljoen tot R115 miljoen.
Air Products is die grootste vervaardiger van industriële gasse in Suidelike Afrika. Air Products is ook ’n invoerder en verspreider van ’n verskeidenheid spesialiteitsgasse en chemiese produkte wat gelewer word aan ’n wye reeks industrieë wat insluit staal, chemikalieë, olieraffinering, hulpbronminerale, glas, pulp en papier, voedselverpakking asook algemene vervaardiging, fabriekswese en sweiswerke.
Die maatskappy bedryf ’n aantal groot aanlegte in Suidelike Afrika wat koste-effektiewe gasverskaffingsgeriewe bied aan groot maatskappye via pyplyne of grootmaat vloeibare gasse wat per pad afgelewer word deur tenkwaens. ’n Aantal kleiner kliënte word voorsien van ’n verskeidenheid produkte in silinders of minitenkwaens. Verskeie kliënte word bygestaan in die gebruik van hierdie produkte deur innoverende tegnologieë wat deur Air Products verskaf word.
Moeilike handelstoestande het tydens die tydperk onder oorsig voortgeduur, met volumes wat in baie van die industrieë onder druk gebly het, maar dit het oor die algemeen gestabiliseer of effens verbeter teen die einde van die tydperk. Inisiatiewe gemik op kostebesparings en produktiwiteit het die impak van laer volumes teengewerk en tot beskeie groei in verdienste gelei het.
KAGISO TRUST INVESTMENTS (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 42.5%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R3 369 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: K MATSEKE | |
| PROFIEL
Kagiso Trust Investments (“Kagiso”) is ’n gevestigde swart ekonomies beheerde maatskappy met ’n fokus op beleggingsbankdienste, media- en strategiese beleggings. Kagiso beskik oor ’n beleggingsportefeulje en -strategie wat aanvullend is tot dié van Remgro. Kagiso se belangrike beleggings sluit in Kagiso Media Beperk en Metropolitan Holdings Beperk. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
J W Dreyer, T van Wyk, M H Visser |
|
| WEBWERF: www.kagiso.com | |
Kagiso Trust Investments (Edms) Beperk (“KTI ”) is ’n swart ekonomies beheerde beleggingshouermaatskappy. Sy beleggings is oorwegend in die finansiëledienste-, media- en die mynwesesektor. Sy twee grootste beleggings volgens waarde is sy belange in Metropolitan Holdings Beperk en Kagiso Media Beperk.
Aangesien KTI se finansiële jaareinde 30 Junie is, word die maatskappy se resultate vir die twaalf maande geëindig 31 Desember 2009 in Remgro se wesensverdienste ingesluit.
KTI het wesensverdienste van R301 miljoen vir die twaalf maande geëindig 31 Desember 2009 gerapporteer teenoor ’n wesensverlies van R332 miljoen in die vergelykende tydperk. Die resultate van die vorige jaar sluit ’n ongunstige billike waarde aanpassing op die omskakelingsregte verbonde aan die hou van die Metropolitan Holdings Beperk omskepbare voorkeuraandele in, asook billike waarde verliese toeskryfbaar aan die aansienlike daling in die platinumprys. Sekere van die Metropolitan-voorkeuraandele is gedurende die tweede helfte van die jaar onder oorsig in gewone aandele omgeskakel, terwyl die billike waarde aanpassing op die oorblywende voorkeuraandele (R85 miljoen) en die herstel van die platinumprys ook ’n positiewe impak op verdienste gehad het.
Met ingang van 1 Junie 2009 het Kagiso Media Beperk ’n filiaal van KTI geword. Voor hierdie datum is die belegging as ’n geassosieerde maatskappy verantwoord.
WISPECO HOLDINGS BEPERK – effektiewe belang: 100.0%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R381 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| BESTURENDE DIREKTEUR: H ROLFES | |
| PROFIEL
Wispeco se hoofbesigheid is die vervaardiging en verspreiding van geëkstrueerde aluminiumprodukte vir gebruik in die geboue-, ingenieurs- en duursamegoederesektore |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
J W Dreyer, C M van den Heever, T van Wyk |
|
| WEBWERF: www.wispeco.co.za | |
Vir die twaalf maande onder oorsig het Wispeco Holdings Beperk (“Wispeco”) se wesensverdienste, wat ingesluit is in Remgro se resultate, tot R63 miljoen (2009: R30 miljoen) toegeneem, ten spyte van ’n afname in omset van 18% vir dieselfde tydperk.
Die negatiewe impak van ’n vermindering in jaarlikse verkoopsvolumes as gevolg van die wêreldwye ekonomiese insinking en ‘n laer gemiddelde verkoopprys vir die jaar is meer as vergoed deur die positiewe impak van verhoogde bedryfsmarges wat toeskryfbaar is aan herstrukturerings- en effektiwiteitsverbeteringe in groot bedryfsafdelings. Die verdienste van die huidige jaar sluit in ’n positiewe voorraadherwaardasie van R9 miljoen teenoor ’n afwaartse voorraadwaardasie van R39 miljoen gedurende die vorige jaar.
Die plaaslike mark vir Wispeco se produkte het onder druk gebly vir die grootste deel van die jaar met slegs enkele tekens van oplewing gedurende die eerste kwartaal van 2010. ’n Voortgesette herstel in die mark sal na verwagting geleidelik wees en grootliks aan die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie gekoppel wees.
Streng prysmededinging het voortgeduur as gevolg van oorskot plaaslike kapasiteit en hernieude groei in invoere. Teen die agtergrond van moeilike handelstoestande het Wispeco die besigheid van Sheerline verkry en sodoende sy plaaslike distribusienetwerk vir argitektoniese aluminiumprodukte uitgebrei. Die Sheerline-besigheid bestaan uit nege distribusieafsetpunte landwyd en vul Wispeco se huidige netwerk aan. Wispeco het voortgegaan om die ontwikkeling van tegniese vaardighede in die industrie te bevorder deur middel van sy verskeidenheid opleidingsinisiatiewe.
PGSI BEPERK – effektiewe belang: 28.7%
| EKWITEITSWAARDASIE OP 31 MAART 2010: R1 279 MILJOEN | |
![]() |
ONGENOTEER |
| HOOFUITVOERENDE BEAMPTE: S JENNINGS | |
| PROFIEL
PGSI hou ’n belang van 100% in PG Group. PG Group is Suid-Afrika se leier in die geïntegreerde plaatglasbedryf wat hoë kwaliteit motor- en konstruksieglasprodukte vervaardig, versprei en installeer. |
|
| REMGRO GENOMINEERDE DIREKTEURE
M H Visser, J du Toit (Alternate) |
|
| WEBWERF: www.pggroup.co.za | |
Aangesien PGSI Beperk (“PGSI”) se finansiële jaareinde 31 Desember is, is die maatskappy se resultate vir die twaalf maande geëindig 31 Desember 2009 ingesluit in Remgro se wesensverdienste. PGSI se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die tydperk onder oorsig was R1 miljoen (2008: R40 miljoen).
PGSI, deur sy volfiliaal PG Group (Edms) Beperk, is die grootste vervaardiger van plaatglas in Afrika. Produkte word gelewer aan industrieë soos konstruksie, residensiële verbeteringe, meubels, sonkrag, nuwevoertuig-vervaardiging, motorglasvervanging en spoorweë. Die groep is ook ‘n wesentlike uitvoerder van konstruksie- en motorglas-klaarprodukte na die res van Afrika, Europa, die VSA en meer onlangs ook na Indië.
Vir die jaar geëindig 31 Desember 2009 het PGSI se omset met 3% afgeneem en sy wesensverdienste het tot R6 miljoen afgeneem vanaf R174 miljoen in 2008.
Die resultate van PG Group is negatief beïnvloed deur twee vername faktore. Die ernstige wêreldwye en plaaslike resessie het ‘n wesentlike uitwerking op die motor- en boubedryf gehad. Vervaardiging van nuwe motors in Suid-Afrika het met 31% afgeneem en alle sektore in die boubedryf was in ‘n ernstige afswaai. Die aggressiewe prysbeleid van die plaaslike voertuigmonteringsaanlegte het ook die verhaling van marges verhoed, wat vererger is deur die lae produksievolumes van voertuie. Die versterking van die rand gedurende die tweede helfte van die jaar het die bydrae van uitvoere nadelig beïnvloed.
Die ander vername faktor wat resultate beïnvloed het, is die kapitaaluitbreiding aan een van die groep se twee hoof dryfglas-vervaardigingslyne. R680 miljoen is in hierdie program geïnvesteer en die vervaardigingslyn was vir 23 weke buite werking, wat tot die onderverhaling van vaste koste gelei het. Die groep het egter nou ‘n goeie belegging in toerusting en die vier jaar lange herkapitalisasieprogram is afgesluit met die voltooiing van die dryfglasaanleguitbreidings gedurende September 2009. Hierdie program is aanvanklik slegs deur skuld gefinansier, maar gedurende die jaar het PGSI R300 miljoen in die vorm van aandeelhouerlenings aan PG Group bygedra, wat deur ‘n regte-uitgifte en uitgifte van voorkeuraandele vanaf PGSI se aandeelhouers gedurende die eerste helfte van 2009 verkry is. Hierdie fondse het PG Group se tekorte in bedryfskontantvloei gedek en gehelp met die nakoming van kapitaalinvesteringsverpligtinge. Die PG Group besit nou twee wêreldklas dryfglasaanlegte met beduidende kapasiteit.
Netto finansieringskostes ten opsigte van eksterne skuld van R176 miljoen (2008: R149 miljoen) het toegeneem vanaf die vorige jaar aangesien die kapitaalinvesteringsprogram grootliks deur skuld gefinansier is.
Die herstel in die plaaslike en wêreldwye ekonomie sal na verwagting stadige maar volgehoue groei oor die volgende twee jaar lewer. Die sterk rand en geadministreerde prysverhogings (soos verhogings in koste van elektrisiteit) sal egter verdere strategieë vir kosteverminderings noodsaak en ‘n demper plaas op groeiverwagtinge. Die groep sal in die plaaslike en uitvoermarkte op groeistrategieë fokus om die nuut geïnstalleerde kapasiteit te benut.
| ANDER NYWERHEIDSBELANGE | |
CAXTON CTP BEPERK – effektiewe belang: 1.7% |
|
|
PROFIEL
Caxton is een van die grootste uitgewers en drukkers van boeke, tydskrifte, koerante en kommersiële drukwerk in Suid- Afrika. |
| WEBWERF: www.caxton.co.za | |
Dorbyl BEPERK – effektiewe belang: 41.4% |
|
|
PROFIEL
Dorbyl is ’n nywerheidsgroep in die voertuigingenieursweseveld. Die maatskappy spesialiseer in die vervaardiging en montering van ’n uiteenlopende reeks voertuig-komponente. |
| WEBWERF: www.dorbyl.co.za | |
GEMS II EN III – effektiewe belang: 5% en 8.1% |
|
|
PROFIEL
GEMS, wat in Hongkong gesetel is, is ’n privaatekwiteitsfonds- bestuursgroep wat beleggings in die Asië-Stille Oseaanstreek maak. |
| WEBWERF: www.gems.com.hk | |
INVENFIN (EDMS) BEPERK – effektiewe belang: 100% |
|
|
PROFIEL
InVenFin fokus op kleiner vroeëfase-beleggings. |
| WEBWERF: www.invenfin.co.za | |
KAGISO INFRASTRUCTURE EMPOWERMENT FUND – effektiewe belang: 45.4% |
|
|
PROFIEL
KIEF is ’n fonds wat daarna streef om te belê in infrastruktuurprojekte, insluitende paaie, lughawens, elektrisiteits- en telekommunikasie-installasies, spoorwegstelsels, hawens, water- en maatskaplike infrastruktuur.. |
| WEBWERF: www.kagiso.com | |
VHF TECHNOLOGIES SA – effektiewe belang: 15.6% |
|
|
PROFIEL
VHF Technologies SA, wat in Switserland gesetel is, ontwikkel en vervaardig buigbare dunfilm-sonkragselle op plastiese substratum. |
| WEBWERF: www.flexcell.com | |











