Verslag van die onafhanklike ouditeur
aan die lede van remgro beperk
Ons het die groep finansiële jaarstate en finansiële jaarstate van Remgro Beperk geoudit. Hierdie finansiële state bestaan uit die gekonsolideerde en afsonderlike state van finansiële stand soos op 31 Maart 2010, en die gekonsolideerde en afsonderlike inkomstestate, die gekonsolideerde en afsonderlike state van omvattende inkomste, die gekonsolideerde en afsonderlike state van veranderinge in ekwiteit en gekonsolideerde en afsonderlike state van kontantvloei vir die jaar wat op daardie datum geëindig het, en ’n opsomming van beduidende rekeningkundige beleid en ander verduidelikende aantekeninge, en die direkteursverslag.
Direkteure se verantwoordelikheid vir die finansiële state
Die maatskappy se direkteure is verantwoordelik vir die opstel en redelike voorstelling van hierdie finansiële state ooreenkomstig Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde en op die wyse wat deur die Maatskappywet van Suid-Afrika vereis word. Hierdie verantwoordelikheid sluit in: die ontwerp, implementering en instandhouding van interne beheer relevant tot die opstel en redelike voorstelling van finansiële state wat vry is van wesentlike wanvoorstelling, hetsy weens bedrog of foute; die keuse en toepassing van toepaslike rekeningkundige beleid; en die maak van rekeningkundige ramings wat in die omstandighede redelik is.
Ouditeur se verantwoordelikheid
Dit is ons verantwoordelikheid om op grond van ons oudit ’n mening oor hierdie finansiële state uit te spreek. Ons het ons oudit ooreenkomstig Internasionale Ouditstandaarde uitgevoer. Daardie standaarde vereis dat ons voldoen aan etiese vereistes en die oudit beplan en uitvoer om redelike gerusstelling te verkry of die finansiële state vry is van wesentlike wanvoorstelling. ’n Oudit behels die uitvoer van prosedures om ouditbewyse te verkry oor die bedrae en openbaarmaking in die finansiële state. Die prosedures wat gekies word hang af van die ouditeur se oordeel, insluitende die beoordeling van die risiko’s van wesentlike wanvoorstelling van die finansiële state, hetsy weens bedrog of foute. Tydens daardie risikobeoordeling oorweeg die ouditeur interne beheer relevant tot die entiteit se opstel en redelike voorstelling van die finansiële state, ten einde ouditprosedures te ontwerp wat in die omstandighede toepaslik is, maar nie met die doel om ’n mening uit te spreek oor die effektiwiteit van die entiteit se interne beheer nie. ’n Oudit sluit ook ’n evaluering van die toepaslikheid van rekeningkundige beleid wat gebruik is en die redelikheid van rekeningkundige ramings wat deur bestuur gemaak is in, asook ’n evaluering van die algehele voorstelling van die finansiële state. Ons glo dat die ouditbewyse wat ons verkry het, toereikend en toepaslik is om ’n grondslag vir ons ouditmening te bied.
Mening
Na ons mening is die finansiële state, in alle wesentlike opsigte, ’n redelike voorstelling van die gekonsolideerde en afsonderlike finansiële stand van Remgro Beperk soos op 31 Maart 2010, en van die maatskappy se gekonsolideerde en afsonderlike finansiële prestasie en gekonsolideerde en afsonderlike kontantvloei vir die jaar wat op daardie datum geëindig het, ooreenkomstig Internasionale Finansiële Rapporteringstandaarde en op die wyse wat deur die Maatskappywet van Suid-Afrika vereis word.
|
| PricewaterhouseCoopers Ing. Direkteur: N H Döman Geregistreerde Ouditeur |
| Kaapstad |
| 21 Junie 2010 |
