| « Aantekening 31 | Aantekening 33 » |
| 32. | KAPITAALBESTUUR |
Die maatskappy bestuur sy aandeelhouersekwiteit, d.i. sy uitgereikte kapitaal (insluitende aandelepremie), reserwes en tesourie-aandele, as kapitaal. Die groep se doelwit met kapitaalbestuur is om sy vermoë te beskerm om as lopende saak voort te gaan ten einde n opbrengs aan sy aandeelhouers in die vorm van dividende en kapitaalgroei te lewer. Ten einde die kapitaalstruktuur te onderhou of te verander mag die groep die bedrag van dividende betaal aan aandeelhouers aanpas, kapitaal aan sy aandeelhouers uitkeer, aandele uitreik of aandele vanaf aandeelhouers terugkoop. Vir die jaar onder oorsig is kontantdividende ten bedrae van R902 miljoen (2008: R2 471 miljoen) verklaar en die belegging in BAT ten bedrae van R55.2 miljard is ontbondel deur middel van n tussendividend in specie. Die groep het ook sy eie aandele ter waarde van R666 miljoen (2008: R28 miljoen) teruggekoop. Verwys na die state van veranderinge in ekwiteit vir verdere inligting rakende die groep se kapitaal. |
|