Volhoubaarheidsverslag

 

Sosiale belegging

Korporatiewe burgerskap, naamlik die verbintenis van ’n maatskappy om op ’n volhoubare wyse tot ekonomiese ontwikkeling by te dra, onderskryf die beginsel dat geen besigheid in isolasie bestaan nie, maar onmiskenbaar deel is van die omgewing waarin sake gedoen word. In sy verhoudinge met alle belanghebbendes (kliënte, personeel en die gemeenskap) streef Remgro daarna om ’n waardevennoot te wees.

Die klem van die maatskappy se donasieprogram val veral op die ontwikkeling van jongmense uit benadeelde gemeenskappe om aan hulle ’n gevoel van selfwaarde te gee. Dit word gedoen in die vertroue dat sodanige beleggings in die toekoms goeie dividende sal oplewer.

Skenkings aan verdienstelike instansies word meesal oor termyne gemaak en hoewel bydraes oor ’n taamlike breë spektrum strek, is daar een ooglopende uitsondering: politieke partye. Die maatskappy respekteer die individu se reg om volgens eie keuse by hierdie organisasies betrokke te raak, maar Remgro oefen nie self ’n keuse uit nie.

Die afgelope jaar was die maatskappy by die volgende betrokke:

Entrepreneurskap en opleiding

Tsiba – vir die Tersiêre Skool in Besigheidsadministrasie (Tsiba), wat vyf jaar gelede in Kaapstad gestig is, was 2008 ’n jaar van heelparty eerstes. Die heel belangrikste was Tsiba se eerste studente wat hul B-graad in Besigheidsadministrasie (BBA) verwerf het. Dit was ook die eerste jaar dat Tsiba ’n onafhanklike takserings-en-evalueringsraad gebruik het om toesig te hou oor sy gehalteversekeringsprosesse.

Nog ’n prestasie was dat 95% van die voorbereidingsklas kon voortgaan met die graadkursus – ’n aansienlike verbetering op vorige jare. ’n Slaagkoers van 64% is behaal en ’n volle studiebeurs is aan hierdie studente toegeken om vir ’n BBA-graad te studeer. In onlangse jare het Tsiba sy kapasiteit sodanig uitgebrei dat 120 studente in die begin van 2009 tot die voorbereidingsklas toegelaat kon word – ’n toename van 50% vergeleke met 2008.

Tsiba se Entrepreneursentrum was ook in die nuus toe ’n rekenaaropleidingsentrum wat in Khayelitsha ondersteun word, die eerste prys in die Wes-Kaapse afdeling van ’n sakeplankompetisie vir beginnerondernemings gewen het. Baie klein sakeondernemings het reeds by hul betrokkenheid by Tsiba se sentrum baat gevind.

Remgro het hom verbind om Tsiba vir ’n volle studentesiklus van vier jaar te ondersteun.

Shalamuka-Stigting – dit is die doelwit van hierdie stigting om langtermynbefondsing te bekom vir die hoogs suksesvolle Penreach-program waardeur leerkragontwikkeling ondersteun word, veral in Mpumalanga.

Penreach is ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word as mense regtig ’n verskil wil maak en wanneer hulle hulself vrywillig verbind tot verandering en ontwikkeling. Meer as 2 000 swart onderwysers (95% vroue) word jaarliks deur Penreach bereik, wat die lewe van meer as 350 000 leerders in plattelandse gebiede beïnvloed.

Behalwe die werk wat met onderwysers en skoolbesture gedoen word, is Penreach ook by graad 10 tot 12-leerders in wiskunde en wetenskap betrokke. Hierdie jong leerders woon op Saterdagoggende gereelde klasse by en dis verblydend om te sien hoe hulle punte deur die jaar merkbaar verbeter.

Met sy doelstelling om die gehalte en toeganklikheid van onderwys vir onderwysers en leerders in benadeelde skole te verbeter, het Penreach ’n model daargestel wat elders gebruik kan word. Die voorbereidingswerk hiervoor word tans gedoen.

Beyers Naudé-Skoolontwikkelingsprogram (BNSOP) – die bekamping van armoede deur onderwys, met ’n spesifieke klem op plattelandse gemeenskappe, was uit die staanspoor die rigtingwyser vir BNSOP, wat onder die beskerming van die Kagiso Trust val.

Die filosofie agter die program is dat plattelandse gemeenskappe die potensiaal het om ’n belangrike rol in die nasionale ekonomie te speel mits jongmense toegang het tot goeie onderwys. Die rol van skole in plattelandse gemeenskappe is wesentlik, nie net vanweë die verskaffing van noodsaaklike onderwys nie, maar ook omdat dit dikwels die enigste instansies in hierdie gemeenskappe is en meerdoelig benut word.

BNSOP is daargestel met die doel om die kultuur van leer en onderrig in skole te herstel en terselfdertyd funksionele en volhoubare verhoudinge tussen belanghebbendes in die skoolgemeenskap te vestig. Tans is die organisasie by 50 skole in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat betrokke.

SciMathUS – vir hierdie postmatriekprogram van die Universiteit van Stellenbosch was 2008 ’n jaar van uitdaging en vervulling. Die studente se honger na sukses was die dryfkrag wat hulle gehelp het om die nuwe kurrikulum met entoesiasme onder die knie te kry.

Die program het ’n 100%-slaagsyfer gehad en die meeste studente het hul punte aansienlik verbeter. Die gebruik van probleemgebaseerde onderrig het ’n baie doeltreffende manier geblyk te wees om die kurrikulumgaping te oorbrug. Die eksamen aan die einde van die jaar het later as in ander jare begin, wat die studente ’n ekstra maand vir onderrig en hersiening gegee het.

Van 2008 se finale groep van 62 studente, almal uit mindergegoede gemeenskappe, was daar 27 vroue en 35 mans; 22 swart en 40 Kleurlinge en Indiërs. Altesame 42 studente het van die Wes-Kaap gekom, ses van Gauteng, vier elk van die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal, twee elk van die Oos-Kaap en Noordwes en een elk van Mpumalanga en Limpopo. Al 62 studente het hul kursus suksesvol voltooi en aansoek gedoen om toegang tot tersiêre onderwys.

Sedert 2001 het meer as 450 studente die program voltooi. Dit sou billik wees om te sê dat solank as graad 12-leerders die skool verlaat met uitslae in wiskunde en natuurwetenskappe wat hulle verhinder om toegang tot tersiêre onderrig te verkry, SciMathUS ’n rol sal hê om te speel.

Paul Roos Akademie – tydens die sesde jaar van bedrywighede het die Akademie sy fokus verskuif van leerders wat die potensiaal het om matriek te slaag na diegene wat die vermoë het om wiskunde in matriek te slaag. Hierdie besluit is deels beïnvloed deur die verlies van een van die voorste borge en dit het tot gevolg gehad dat die getalle van 233 leerders in 2008 tot 180 in 2009 verminder het.

In 2008 het die eerste groep leerders ook hul matriekeksamen geskryf. Hulle was lede van die eerste toelating van 60 graad 7-leerders in 2002. Weens ’n gebrek aan ondervinding in die keuringsproses was al die leerders nie akademies die sterkste in hul besondere groep nie. Vyf-en-twintig (42%) het enduit volgehou, van wie 22 suksesvol was.

Benewens finansiële steun, vind die Akademie ook baat by die vrywillige bydraes deur verskeie organisasies. So, byvoorbeeld, het die Creative Education Foundation, met twee lede elk van Amerika, Nederland en Suid-Afrika, vir die sesde agtereenvolgende jaar sy skeppende probleemoplossings- en jeugleierskapskursus aangebied.

Bergzicht-Opleidingsentrum – met sy basis in Stellenbosch, verskaf hierdie sentrum onderrig in werkverwante vaardighede aan ongeskoolde en werklose mense uit ’n minder gegoede agtergrond en word hulle na afloop van die opleiding gehelp om werk te kry. Deur aan mense die gereedskap te gee om die armoedespiraal te breek, gee Bergzicht aandag aan een van die mees knellende probleme waarmee kwesbare gemeenskappe in die land worstel.

Sedert sy totstandkoming in 1992 het die Bergzicht-sentrum reeds meer as 9 000 mense opgelei en ’n naam verwerf vir die gehalte van sy opleiding en die welslae wat behaal word waar dit werklik saak maak. Met behulp van sy infrastruktuur en vaardighede het Bergzicht ’n belangrike rolspeler in die ontwikkeling van die land se menslike potensiaal geword.

Remgro het hom verbind om die Opleidingsentrum vir drie jaar te ondersteun.

Equip – hierdie ontwikkelingsprogram van die Nasionale Besigheidsinisiatief in vyf skole in die Stellenbosch-omgewing word sedert 2005 deur Remgro geborg. Na ’n wankelmoedige begin het die program momentum gekry en in 2008 is uitstekende resultate behaal. Die Hoërskool Kayamandi het sy slaagsyfer vir graad 12-leerders van 71% tot 86% verhoog, terwyl die Laerskool Stellenzicht ’n styging van 62% tot 74.4% ondervind het.

By die oorhandigingsfunksie van die laaste bewilliging aan die skole in November is gemeld dat in alle fasette van skoollewe – van die akademiese tot sport, die skoolterrein en fasiliteite – geweldige verbeteringe sigbaar was. Die verhoogde motivering en energie van onderwysers was ook opmerklik.

Gedurende die afgelope jaar het die groei in leerdergetalle, veral in Kayamandi, tot die oprigting van twee bykomende skole gelei. Toe hy deur Equip genader is, het Remgro ingestem om sy steun aan die program, met insluiting van die twee nuwelinge, vir nog ’n jaar te verleng.

ORT SEED – is ’n vennootskapsooreenkoms tussen ORT-Tech, die Wynlanddistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en Remgro om gespesialiseerde opleiding en ondersteuning te verskaf in kurrikulumontwikkeling en implementering vir onderrig in wiskunde, natuurwetenskap, tegnologie en geletterdheid van graad R tot 7.

ORT-Tech fasiliteer ter plaatse kurrikulumontwikkeling by die laerskole Idasvallei en Rietenbosch. Die skole het toegang tot ondersteunende vaardighede en hulpbronne en dien as ankerskole vir ’n uitreikprogram na 15 omliggende laerskole. As uitbreiding van sy steun aan die Equipprojek, het Remgro homself verbind om die program vir drie jaar te ondersteun.

Die hoofdoelwitte van ORT Seed sluit die volgende in: om te verseker dat leerders in die ankerskole die volle voordeel geniet van ORT-Tech se kundigheid ten opsigte van leermetodes; om ’n rolmodel vir ander skole te word in die implementering van tegnologie, wiskunde, natuurwetenskappe en geletterdheid; om die professionele ontwikkeling van onderwysers te ondersteun deur opleiding in die klaskamer; om aan opvoeders toegang tot hulpbronne te bied en hulle vaardighede en kennis te verbeter; en om deur uitreiking ’n geleentheid vir onderwysers te skep om onderling te skakel en die beste onderrig-, leer- en beoordelingspraktyke met mekaar te deel.

Omgewing

WWF Suid-Afrika (WWF-SA) – sedert die stigting van die Suider-Afrikaanse tak van hierdie internasionale bewaringsorganisasie deur Remgro se stigter meer as 40 jaar gelede, het die maatskappy WWF-SA as die enigste kanaal gebruik vir sy betrokkenheid by die bewaring van die streek se natuurlike hulpbronne. In onlangse jare het WWF-SA toenemend ons nasionale gewete ten opsigte van omgewingsake geword.

WWF-SA speel ’n kernrol in die bewaringsektor, beide sover dit die uitvoer van huishoudelike bewaringsprojekte betref, asook die verskaffing van finansiering aan ander om verwante werk te doen. As deel van die wêreldwye WWF-netwerk, wat in byna 100 lande bedrywig is, bevind WWF-SA hom in ’n besondere posisie in ’n ontwikkelende ekonomie om pragmatiese, wetenskaplik gefundeerde oplossings vir wêreldwye omgewingsuitdagings te ontwikkel.

Klimaatsverandering is die grootste mensgemaakte krisis wat die wêreld vandag in die gesig staar. Suider-Afrika, in die besonder, sal waarskynlik geraak word deur uiterste temperature, tesame met ’n kwaai daling in reënval. Dis om hierdie rede dat WWF-SA sy fokus verskuif het van die bewaring van spesies en die natuurlike omgewing, na die aanpak van wêreldwye omgewingsuitdagings, soos klimaatsverandering, watertekorte en die menslike voetspoor.

Deur die sakesektor en die breër gemeenskap te betrek, is dit steeds moontlik, glo WWF-SA, om gedrag te verander en ’n lewende planeet vir die nageslag na te laat.

Kulturele ontwikkeling

Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) – het ’n baie suksesvolle 15de jaar beleef, met ’n goeie balans wat gehandhaaf is tussen kaartjiekopende feesgangers en feesbesoekers. Opvoerings het ’n bywoningskoers van 65% behaal teenoor 40% in 2008.

Die Remgro/VenFin-beurs vir die ontwikkeling van ’n loopbaan in die kunste is vanjaar toegeken aan ’n leerder van die Hoërskool George, Zaida Fortuin, wat voornemens is om die geld vir ’n professionele dansloopbaan te gebruik.

Remgro se bydrae is ook gedeeltelik gebruik vir gehoorontwikkeling. As deel van hierdie proses is ’n komitee, bestaande uit kuns- en kultuurverteenwoordigers, saamgestel om gratis en goedkoper kaartjies te oorweeg. Meer as 3 000 sulke kaartjies is aan kore, toneelverenigings, dansskole, skoolgroepe en bejaardes beskikbaar gestel, met die klem hoofsaaklik op klassieke musiek, dansteater en toneel.

Veldorkesstigting – ’n kombinasie van onvoldoende onderwys, neerdrukkende sosio-ekonomiese omstandighede en lae indiensnemingsvooruitsigte dreig om die land se jeug te marginaliseer. Dit is die uitdaging wat die Veldorkesstigting met entoesiasme aanvaar het.

Vir die Stigting was 2008 ’n bedrywige jaar. Beide die Amerikaanse en Noorweegse uitruil-programme het ’n klompie jongmense die ondervinding van ’n leeftyd gebied en terselfdertyd hul musiekvaardighede bevorder. Die Stigting werk ook hard daaraan om ’n ken-jou-status-kultuur by sy lede aan te wakker. Tydens ’n MIV-werkwinkel is 338 Stigtingslede tussen die ouderdom van 14 en 24 getoets, van wie vier positief was. Die uitslae was beter as wat verwag is en toon dat die Stigting daarin slaag om sy lede te help om verantwoordelikheid vir hul persoonlike ontwikkeling te aanvaar.

’n Profiel van die Stellenbosse Veldorkes gee ’n aanduiding van die sosiale struktuur van die gemeenskap en die moeilike omstandighede waaronder die Stigting funksioneer. Die orkes het 313 lede, wat die susterorkeste van Cloetesville en Macassar insluit. Hiervan is 153 seuns en 160 meisies uit 30 skole in die streek. Van die lede bly 137 (43.8%) by beide ouers, 83 net by moeders, nege by vaders en die ander by grootouers, familie of voogde. Van die ouers is 24% van die moeders en 75% van die vaders werkloos.

WAT – die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het ’n moeilike begin in 2008 gehad toe sy jaarlikse PanSAT-subsidie met ’n derde verminder is. Uitstekende ondersteuning deur borge het egter gehelp om hierdie aansienlike verlies te absorbeer.

Aan die bedryfskant is goeie vordering gemaak. Die manuskrip van die 14de volume van WAT (die letter R) is teen die einde van Oktober voltooi waarna begin is met die uitleg en die set- en proefleeswerk. WAT beplan om vanjaar met die letter S te begin.

Een van die hoogtepunte van die jaar was die aanbied van die 13de internasionale Afrilex-kongres (Afrilex is die akroniem vir die African Association for Lexicography). Nagenoeg 100 persone het vir die kongres geregistreer en 35 referate is gelewer.

WAT is toeganklik op die internet en die feit dat die ses grootste Suid-Afrikaanse universiteite reeds die gebruiksreg van die internetweergawe aangekoop het, waardeur sowat 300 000 studente bevoordeel word, dui op die relevansie van die woordeboek.

Children’s Art Festival (CAF) – sedert die ontstaan daarvan 21 jaar gelede, het CAF bestendig gegroei en die afgelope drie jaar het sowat 2 000 kinders die werkwinkels bygewoon, wat dit ’n gevestigde instelling by die Grahamstad Nasionale Kunstefees maak. CAF se doel is om aan kleuterskoolkinders en laerskoolleerders op elke vlak van die samelewing ’n stimulerende en opwindende blootstelling aan kuns te gee.

CAF probeer om die status van kuns en kultuur, wat om verskeie redes nog ’n agterstand in Suid-Afrikaanse laerskole het, te verhoog. Dit word gedoen in die geloof dat afgeronde, gesonde leerders die resultaat is van ’n goeie balans tussen akademiese en kreatiewe bedrywighede. Die hartklop van die program is die strewe om die slapende kunstenaar in elke kind wakker te maak deur ’n blootstelling aan nuwe vaardighede, wat hand-oog-koördinasie, diverse kulture en die talente van vakmanne, kunstenaars, akteurs, dansers en musikante insluit.

In 2008 is 227 leerders wat CAF se werkwinkels tydens die Nasionale Kunstefees bygewoon het, geborg. Danksy Remgro se borgskap kon die omvang van die werkwinkels vergroot en beter toerusting en meer gesofistikeerde tegnieke gebruik word. Die geborgde werkwinkels word sodanig ingerig dat die kinders bruikbare items wat hulle maak, huis toe kan neem, soos kerse, mosaïekspieëls en naambordjies.

Sportontwikkeling

SA Gholfontwikkelingsraad (SAGOR) – deur afrigting en speelgeleenthede aan kinders uit agtergeblewe gebiede beskikbaar te stel, het SAGOR die spel toeganklik gemaak vir baie wat andersins nie die hulpbronne sou hê om dit te speel nie. Die afgelope nege jaar het nagenoeg 16 000 jong Suid-Afrikaners voordeel uit hierdie program getrek.

Die klem val egter nie net op die spel nie. SAGOR is steeds besig om die sport te gebruik om waardevolle lewenslesse aan jongmense te leer wat net so belangrik buite die gholfbaan is as daarop. Hulle word geleer dat toewyding, integriteit en geloof in jouself kernelemente van sukses is wat vir alle fasette van die lewe geld. Terwyl die spel uitgebrei word, is SAGOR ook besig met die bou van veilige, volhoubare en gesonde gemeenskappe – een kind op ’n slag.

’n Mylpaalontwikkeling, met goeie gevolge vir SAGOR, is in September verlede jaar aangekondig toe die SA Gholfvereniging (SAGV) ’n belangrike besluit geneem het om die uitbreiding van gholf regoor die land te ondersteun. Vanaf Januarie 2010 sal die SAGV sy jaarlikse affiliasiefooi verhoog en die opbrengs hiervan sal na SAGOR gaan. Dit beteken dat die liggaam wat verantwoordelik is vir die uitbreiding van die spel oral in Suid-Afrika, nou verseker sal wees van ’n bron van volgehoue ondersteuning.

Vanweë hierdie verreikende besluit sal SAGOR, wat 3 000 kinders in sy nasionale programme het en as ’n bron van nuwe talent erken word, in staat wees om sy huidige bedrywighede vol te hou en dit ook vir die eerste keer na Noordwes, Mpumalanga en Limpopo uit te brei.

Wes-Kaapse Krieketakademie – Remgro het ’n verbintenis met die Akademie sedert die vroeë 1990’s en kon waarneem hoe dit in spelergetalle en statuur in die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap toeneem.

Oor die jare het dit talle puik spelers vir die Westelike Provinsie, die Boland en ander provinsies opgelewer. In die onlangse verlede het ons gesien hoedat twee uitsonderlike spelers, JP Duminy en Paul Harris, koerantopskrifte haal.

Die huidige Cobras-span van 22 spelers beskik oor nie minder nie as 17 huidige en gewese Akademiespelers, terwyl die Westelike Provinsie en die Boland se amateurspanne onderskeidelik 17 en 16 huidige en vorige spelers van die Akademie in hul geledere het.

Uitstekende vordering is ook in die vroue-afdeling gemaak. Noemenswaardig was die ses spelers wat Suid-Afrika die afgelope jaar by die Wêreldbeker in Australië verteenwoordig het.

Gemeenskapsontwikkeling

lkamva Labantu – is ’n breëbasis-gemeenskapsontwikkelingsprojek vir swart stedelike inwoners in die Wes-Kaap. Dit sien om na die behoeftes van kleuterskoolkinders, weeskinders, bejaardes en die jeug en dit het ’n model geword van wat bereik kan word deur mense met inisiatief, toewyding en ’n diepgaande kennis van die gemeenskappe wat hulle bedien.

Die afgelope twee jaar het die program vir kwesbare kinders, wat deur Remgro/VenFin geborg word, in sekere opsigte die bedrywighede van Ikamva se gesinsdienstesektor herdefinieer – ’n sektor wat daarop ingestel is om die vermoë van geaffilieerde versorgers te verhoog sodat hulle op hul beurt die versorging van wees- en kwesbare kinders in ander gebiede kan bevorder.

Die projek is ontwikkel as ’n loodsmodel, met die potensiaal om dit in soortgelyke gemeenskappe elders in die land te herhaal. Die loodsprojek kyk na sewe verskillende gebiede: onderwys (die inskrywing van kinders, skoolgeld, skooldrag, skryfbehoeftes, ens.), finansiële ondersteuning, voedselsekuriteit, toegang tot dokumentasie en toelae, emosionele ondersteuning en toegang tot gesondheidsdienste en voedseltuine.

Die sukses en impak van die loodsprojek het Ikamva in staat gestel om hierdie aanvaarbare, effektiewe en volhoubare intervensiemodel oral toe te pas in sy program vir kwesbare kinders, wat ongeveer 1 000 kinders in die woongebiede van Philippi-Oos, Gugulethu, Khayelitsha, Langa, New Crossroads, Blue Downs, Du Noon en Nyanga bereik.

In ’n eksterne beoordeling van die program vir kwesbare kinders is die volgende oor Ikamva gesê: “ ’n Organisasie wat voortdurend vrae vra met die doel om homself te verbeter, is meer geneig om daarin te slaag as een wat dit nie doen nie. Ikamva is nie bang om dinge te heroorweeg met die oog daarop om dit meer doeltreffend te doen nie.”

u Mephi – neem behoeftige kinders in sy sorg deur ’n netwerk van satelliet-, halfweg- en pleegsorghuise. Tien jaar gelede was behoeftige kinders meesal gemolesteerde en verwaarloosde kinders. Vandag lyk die prentjie heeltemal anders en is nagenoeg 80% van alle behoeftige kinders vigs-geaffekteerdes.

Teen 2015 sal daar na verwagting sowat 3.5 miljoen behoeftige kinders in Suid-Afrika wees en u Mephi raam dat hy sy dienste met 25% per jaar sal moet uitbrei om die kinders te versorg wat deur dié pandemie geraak word. Die organisasie beoog om drie nuwe halfweghuise in elke provinsie teen die einde van 2009 daar te stel.

Sedert 2001 het u Mephi meer as 2 500 babas by sy aanneemouers geplaas is. Meer as 45% van die babas uitgebreide families herenig.

Stellenbosch-Gemeenskapsontwikkelingsprogram (SGOP) – daagliks word tussen 900 en 1 000 laerskoolleerders in Kayamandi gevoed as deel van hierdie voedingsprojek. Volgens onlangse opnames het die aantal wangevoede kinders in hierdie woongebied drasties afgeneem.

Die moeders wat aan die voedselpakkieprogram deelneem, betuig voortdurend hul dankbaarheid teenoor die SGOP vir die hulp wat hulle in hul desperate arm omstandighede ontvang. Hulle toewyding aan die groentetuin en handwerkklub getuig hiervan.

SGOP rapporteer dat die verbeteringe wat sigbaar is sedert die program vier jaar gelede begin is, tasbaar en werklik is – lewens word ten goede verander en die terugvoer van die kinders en hul moeders is hoogs verblydend.

Gesondheidsorg

Wits/Donald Gordon-Mediese Sentrum (WDGMS) – die afgelope jaar was prakties die tweede jaar van die amptelike integrasie van WDGMS by die opleidingsprogramme van Wits se Fakulteit vir Gesondheidswetenskappe. Die integrasie is moontlik gemaak deur die ruim bydraes van donateurs. Wat ontwikkelinge in die akademiese program in 2008 betref, was dit ’n jaar van selfondersoek sover dit die betrekkinge tussen WDGMS en sy vennote, Wits se Fakulteit vir Gesondheidswetenskappe en Medi-Clinic, aangaan.

In Desember 2007 is ’n strategiese beplanningsessie gehou tussen senior lede van die fakulteit en WDGMS se akademiese leierskap waartydens beide die visie van WDGMS en sy strategiese belangrikheid in die fakulteit herbevestig is. Dit is opgevolg in Mei 2008 met ’n strategiese beplanningsdag, waar sake soos die bestuur van die raad, asook probleme met die bestuur van die verskille tussen WDGMS en ander private hospitale, bespreek is. Hoe om die hospitaal doeltreffend en koste-effektief te bestuur sonder om ontwikkeling te smoor is ’n vraag wat in die nuwe jaar aandag behoort te geniet.

WDGMS sal na verwagting op verskeie maniere ’n uitwerking op spesialis- en subspesialisopleiding in Wits se Fakulteit vir Gesondheidswetenskappe hê. Die sentrum beoog om binne die volgende vyf jaar die aantal subspesialiste wat die land lewer, met meer as 40% te verhoog. Die afgelope 12 maande was daar ongelukkig weer ’n oplewing in die aantal dokters wat Suid-Afrika verlaat het. WDGMS is hierdie verlies grootliks gespaar en hoop om voort te gaan om aan dokters ’n billike alternatief vir emigrasie te bied deur hulle in staat te stel om die voordele van beide private en akademiese praktyke in een fasiliteit te geniet.

Stigting vir Orgaanskenkers van SA – het sy 20ste verjaardag in Junie 2008 gevier en kan trots wees op sy rol oor soveel jare om iets te doen aan die kritieke tekort aan orgaan- en weefselskenkers in Suid-Afrika. 2008 was ’n baie positiewe jaar vir die Stigting, met ’n stewige toename in die aantal orgaanskenkers wat geregistreer het. Statistiek van die laaste drie jaar toon dat al hoe meer Suid-Afrikaners opgevoed en ingelig raak oor die kwessie van orgaanskenking.

Remgro het weer ’n bydrae tot hierdie verdienstelike saak gemaak deur vier vlugte te borg vir die vervoer van organe. ’n Spesiale woord van dank gaan andermaal aan Falconair se personeel vir hul wonderlike ondersteuning in hierdie verband.