In die 74 jaar van ons ryk geskiedenis is ons trots op ons bewese rekord om buitengewone opbrengste aan aandeelhouers terug te gee deur die tydige identifisering van geleenthede wat deur nuwe, gevestigde en/of sleutelbedrywe en besigheidsmodelle gebied is. Die geskiedenis bewys ook dat ons ons verantwoordelikheid om ‘n goeie korporatiewe burger te wees, ernstig opneem ten einde te verseker dat dit deel van ons kernwaardestruktuur bly. Namate die toekoms ontvou, bly ons daartoe verbind om ‘n leidende rol te speel in die bevordering van die volhoubaarheidsagenda.

Skep van aandeelhouerswaarde sedert 1948

Remgro se ontstaangeskiedenis dateer uit die veertigerjare van die vorige eeu toe die groepstigter, dr Anton Rupert, die tabakmaatskappy Voorbrand in Johannesburg, Suid-Afrika, tot stand gebring het. Dit was die voorloper van Rembrandt Groep Beperk (Rembrandt). Rembrandt is in 1948 geïnkorporeer.

Rembrandt het die Suid-Afrikaanse sigaret- en tabakbedryf in 1948 betree en in die vyftigerjare na die buiteland uitgebrei deur internasionale vennootskappe.

Rembrandt se belange in die wyn- en spiritualieë-bedryf dateer ook uit die 1940’s toe dr Rupert en mnr D W R Hertzog Distillers Korporasie gestig het.

Rembrandt is in 1956 op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer.

Rembrandt se oorsese tabakbelange is in 1972 gekonsolideer in Rothmans International, wat op die Londense Aandelebeurs genoteer was.

Sedert die jare sewentig het Rembrandt sy belange buite tabak en drank uitgebrei deur beleggings te maak in verskeie ander ekonomiese sektore in Suid-Afrika, waaronder bankwese en finansiële dienste, mynbou, drukwerk en verpakking, mediese dienste, ingenieurswese en voedselbelange.

In 1988 is ’n skeiding tussen die binneen buitelandse belange van Rembrandt bewerkstellig deur die totstandkoming van Compagnie Financière Richemont AG (Richemont) – ’n Switserse genoteerde luuksegoedere-groep wat handelsmerke soos Cartier, Dunhill en Mont Blanc ingesluit het en toe ’n aandeel in Rothmans International bekom het.

Gedurende 1993 was Rembrandt ’n medestigter in Suid-Afrika se eerste selfoonmaatskappy, Vodacom, wat uiteindelik in 2006 deur VenFin Beperk (VenFin) verkoop is. In 1995 het Rembrandt en Richemont hul tabakbelange saamgevoeg in Rothmans International, in daardie stadium die vierde grootste sigaretvervaardiger in die wêreld. Dit is toe gedenoteer en in 1999 is hierdie belange met dié van British American Tobacco plc (BAT), die wêreld se naasgrootste sigaretvervaardiger, saamgesmelt. Sedertdien was die belegging in BAT gehou deur ’n gesamentlike houermaatskappy waarin Rembrandt (Remgro se voorganger) en Richemont onderskeidelik ’n belang van 331⅓% en 66⅔% gehou het. Na hierdie herstrukturering het Rembrandt uitsluitlik ’n beleggingshouermaatskappy geword.

In September 2000 is die herstrukturering van Rembrandt verder gevoer toe die Suid-Afrikaanse beheerstruktuur, bestaande uit vier genoteerde maatskappye, plek gemaak het vir slegs twee genoteerde maatskappye, naamlik Remgro en VenFin. Hierna het Remgro Rembrandt se gevestigde belange in tabak, finansiële dienste, mynwese en nywerheid verteenwoordig. Die telekommunikasie- en tegnologiebelange was in VenFin gehuisves.

In Januarie 2001 het Remgro sy belang van 8.2% in Billiton plc en 11.3%-belang in Gold Fields verruil vir ‘n belang van 9.3% in FirstRand Beperk en ‘n 23.1%-belang in Rand Merchant Bank Holdings Beperk.

In November 2008, het Remgro sy belegging in BAT ontbondel by wyse van ’n tussendividend in specie ten bedrae van R55.2 miljard. Ná die BAT-ontbondeling het die groep se oorblywende belange hoofsaaklik bestaan uit beleggings in bankwese en finansiële dienste, drukwerk en verpakking, motorkomponente, glasprodukte, mediese dienste, mynwese, petroleumprodukte, voedsel, wyn en spiritualieë en verskeie ander handelsmerkprodukte.

Op 30 Junie 2022 het die waarde van die ontbondelde BAT-aandele tot R143.7 miljard toegeneem.

In November 2009 het Remgro en VenFin weer saamgesmelt, wat mediaen tegnologiebelange by die groep se beleggings gevoeg het.

Remgro het Mediclinic International Beperk (Mediclinic) se verkryging van ‘n 29.9%-belang in Spire Healthcare Group plc gedurende Junie 2015 gefasiliteer en vervolgens ook aan Mediclinic se regte-uitgifte deelgeneem. Mediclinic en Al Noor Hospitals Group plc is saamgevoeg in Februarie 2016.

In Oktober 2016 het Remgro ’n regteuitgifte ten bedrae van R9 945 miljoen voltooi om oor die nodige kontantbronne, en buigsaamheid te beskik om beleggingsgeleenthede te benut.

In Julie 2018 het Remgro sy belang van 25.75% in Unilever South Africa Eiendoms Beperk (Unilever) verkoop in ruil vir laasgenoemde se Smerebesigheid in Suider-Afrika, nou Siqalo Foods, vir ’n bedrag van R7 000 miljoen en ‘n kontantbedrag van R4 900 miljoen.

In Junie 2020 het Remgro sy belegging van 28.2% in RMB Holdings Beperk ontbondel by wyse van ‘n tussendividend in specie ten bedrae van R23.9 miljard.

Potensieel belangrike korporatiewe transaksies, wat verband hou met die beleggings in Mediclinic International plc en Distell Group Holdings Beperk, word aangekondig.