| Bydrae tot wesensverdienste | 30 Junie 2025 R miljoen |
30 Junie 2024 R miljoen |
|---|---|---|
| CIVH | (93) | (75) |
| SEACOM | 12 | 55 |
| Ander | (11) | (13) |
| (92) | (33) | |
Community Investment Ventures Holdings Eiendoms Beperk
(CIVH)
Effektiewe belang: 57.0%

Profiel: CIVH is aktief in die telekommunikasie- en inligtingstegnologiesektor. Die belangrikste bedryfsmaatskappye van die groep is Dark Fibre Africa Eiendoms Beperk (DFA) en Vumatel Eiendoms Beperk (Vumatel), wat optiese veselnetwerke bou en besit. DFA en Vumatel is volfiliale van Maziv Eiendoms Beperk (Maziv), ’n volfiliaal van CIVH.
Korporatiewe inligting
Volhoubaarheidsmaatstawwe
| Finansiële hoogtepunte – CIVH-groep | Jaar geëindig 31 Maart | ||
|---|---|---|---|
| 2025 R miljoen |
2024 R miljoen |
% verandering |
|
| Omset | 6 755 | 6 353 | 6.3 |
| Bedryfswins | 2 330 | 2 090 | 11.5 |
| Wesensverdienste – voortgesette bedrywighede | (162) | (248) | 34.7 |
| Wesensverdienste – totale bedrywighede | (168) | (134) | (25.4) |
CIVH het ’n Maart finansiële-jaareinde en gevolglik is sy resultate vir die 12 maande geëindig 31 Maart 2025 by dié van Remgro vir die jaar onder oorsig ingesluit. Die bydrae van CIVH se bedrywighede tot Remgro se wesensverdienste vir die jaar onder oorsig het ’n verlies van R93 miljoen vergeleke met ’n verlies van R75 miljoen in die vorige jaar bedra.
CIVH se resultate vir die vorige jaar het ’n wins van R108 miljoen op die terugskryf van ’n waarborgvoorsiening van beëindigde bedrywighede ingesluit, terwyl die huidige jaar se resultate negatief geraak is deur ’n billike waarde verlies op rentekoersverskansings van R67 miljoen (2024: wins van R36 miljoen). Ná die uitsluiting van die bogenoemde nie-herhalende items vir albei verslag-tydperke, het CIVH se wesensverdienste met 57.5%, van ’n verlies van R268 miljoen in die vergelykende jaar tot ’n verlies van R114 miljoen in die huidige jaar, toegeneem.
Die groep genereer kontantvloei uit sy bedrywighede, en vir die jaar onder oorsig was die fokus om surplus kontantvloei in die versterking van netwerkveerkragtigheid, die uitbreiding van sy bestaande kliëntebasis en die groei van nuwe intekenare te herinvesteer. CIVH se omset vir die jaar geëindig 31 Maart 2025 het met 6.3% van R6 353 miljoen tot R6 755 miljoen toegeneem. Verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (EBITDA) van voortgesette bedrywighede het met 9.3% van R4 290 miljoen tot R4 689 miljoen toegeneem danksy omsetgroei, namate die vraag van ondernemings en kleinhandelsklante tot uitbreidings bygedra het.
DFA is Suid-Afrika se voorste verskaffer wat vrye toegang tot vesel- en verbindingsinfrastruktuur bied. Die maatskappy bou, installeer, bestuur en onderhou ’n hoëkapasiteit veselnetwerk wat ontwerp is om telekommunikasieverkeer in stedelike gebiede, asook langafstandroetes te hanteer. Die netwerk word aan telekommunikasiemaatskappye en internetdiensverskaffers (IDVs) verhuur deur van ’n groothandel-model gebruik te maak wat vrye toegang bied.
DFA besit en bedryf veselbates wat oor 14 500 km strek met gevestigde netwerke in groot stedelike gebiede, insluitend Johannesburg, Kaapstad, Durban en Pretoria. Die maatskappy brei ook sy teenwoordigheid uit in kleiner stede, onder andere Oos-Londen, Polokwane, Emalahleni en George. DFA se aantal aktiewe skakels het met 7.6% tot 70 434 (2024: 65 433) toegeneem danksy ’n groter vraag na verbinding in sakeondernemings.
DFA se omset vir die finansiële jaar geëindig 31 Maart 2025 het met 1.5% tot R2 757 miljoen (2024: R2 715 miljoen) toegeneem danksy ’n toename in die vraag na sy vesel-tot-besigheid (FTTB)- aanbod. Bedryfswins het, ondanks lae omsetgroei, met 4.2% van R1 083 miljoen tot R1 129 miljoen toegeneem danksy die maatskappy se vermoë om kosteverhogings te beheer.
Vumatel is ’n vrye toegang vesel-tot-huis (FTTH)-verskaffer en verhuur infrastruktuur aan IDVs, wat op hul beurt breëband-kleinhandelsinternetdienste aan eindgebruikers verskaf.
Vumatel is Suid-Afrika se FTTH-markleier in beide huise binne die netwerkvoetspoor en huisverbindings, met ’n markaandeelstatus van ongeveer 32% soos in albei maatstawwe gemeet. Vumatel bly ’n groeibate vir die groep namate dit poog om infrastruktuur na laer lewensstandaardmeting (LSM)-gebiede uit te brei en verbindings in die tradisionele kernnetwerk en LSM Vumatel-gebiede met laer reikwydte te versnel. Vumatel het groei in huise binne die netwerkvoetspoor gedurende die tydperk beperk om meer op groei in intekenare en aantal aktiewe verbindings te fokus. Teen 31 Maart 2025 het huise binne die netwerkvoetspoor met slegs 2% tot 2 040 231 toegeneem, terwyl intekenare met 18.3% tot 864 208 (2024: 730 259) gegroei het.
Vumatel se omset vir die jaar het met 8.4% tot R3 841 miljoen toegeneem, vergeleke met R3 543 miljoen vir die vorige jaar, hoofsaaklik danksy groei in intekenare. Die gesonde omsetgroei en fokus op kostebestuur het tot ’n toename in bedryfswins van 15.4% tot R1 374 miljoen (2024: R1 191 miljoen) vir die jaar onder oorsig gelei.
Maziv ondersteun steeds verskeie KMB-inisiatiewe wat ten doel het om volhoubare ekostelsels te skep in gemeenskappe waar sake gedoen word. Die doel is om betekenisvolle en volhoubare bydraes in hierdie gemeenskappe te lewer en sodoende bande te versterk wat die wese van die handelsmerk weerspieël en dit van mededingers onderskei. Fokusgebiede sluit onderwys, veiligheid, omgewing en gesondheidsorg in. Die besigheid bly verbind tot sy skoleprojek, waar 913 skole reeds met ’n gratis diensaanbod van 1 Gbps verbind is.
SEACOM Capital Beperk
(SEACOM)
Effektiewe belang: 30.0%

Profiel: SEACOM se erfenis spruit uit die skep van verbindings in Afrika. SEACOM was instrumenteel om as telekommunikasieverskaffer die eerste onafhanklike veselverbindings op die vasteland moontlik te maak en sodoende Afrika aan die digitale wêreld bloot te stel. Benewens om betroubare en bewese verbindings te verskaf en om in die globale kommunikasie-ekostelsel ’n deurslaggewende rol te speel, bied SEACOM vandag ’n omvattende suite van IKT-oplossings vir ondernemings, insluitende slimnetwerktegnologie, wolk-en kubersekuriteitsdienste.
Met ’n toekomsgeoriënteerde ingesteldheid en voortdurende beleggings in digitale platforms, stelsels en mense het die maatskappy hom as ’n volwaardige IKT-verskaffer gevestig wat die digitale infrastruktuur- en digitale dienstemarkte in Suider- en Oos-Afrika bedien deur die verskaffing van hoëkapasiteit plaaslike en internasionale verbindings, hoëspoed-internet, veilige wolkdienste en ’n waardetoegevoegde bestuursdiens aanbod.
Korporatiewe inligting
Volhoubaarheidsmaatstawwe
| Finansiële hoogtepunte |
|---|
| SEACOM is ’n privaat maatskappy en sy finansiële inligting word nie in detail geopenbaar nie as gevolg van beperkinge op openbaarmaking soos onderling tussen aandeelhouers ooreengekom. |
Remgro het ’n effektiewe belang van 30% in SEACOM, ’n IKT-diensteverskaffer wat ondersese en land-optiese veselverbindings bedryf en internet-, stem-, wolk-, kubersekuriteits- en bestuursdienste-oplossings aan die digitale infrastruktuur- en digitale dienstemark in Suider- en Oos-Afrika bied.
SEACOM het ’n Desember-jaareinde en dus is sy resultate vir die 12 maande tot 30 Junie 2025 by dié van Remgro ingesluit vir die jaar onder oorsig. SEACOM se bydrae tot Remgro se wesensverdienste vir die jaar onder oorsig het R12 miljoen (2024: R55 miljoen) bedra.
Die besigheid het voortgegaan om in die digitale dienstesektor se stygende vraag na verbindings en wolk- en bestuursdienste te voorsien. Die huidige tydperk se resultate is negatief geraak deur hoër bestuurde kapasiteits- en kabelherstelkoste van byna $7 miljoen weens die onderbreking in die noordelike segment van SEACOM se ondersese kabel in die tweede helfte van die 2024-kalenderjaar, asook verhoogde waardevermindering. Hierdie bykomende uitgawes is deels deur ’n sterker vertoning deur die digitale infrastruktuurbesigheid in die eerste helfte van die 2025-kalenderjaar teengewerk.
SEACOM se vermoë om by die snel ontwikkelende IKT-dienstemark aan te pas, en in die infrastruktuur van sy ondersese en landnetwerke te belê, stel die maatskappy in staat om op die toenemende vraag na vinniger en meer betroubare datadienste te reageer, wat noodsaaklik is om sy mededingende posisie te behou.
Ubiquity Energy Eiendoms Beperk
(Ubiquity)
Effektiewe belang: 75.0%

Profiel: Ubiquity is die houermaatskappy van Energy Exchange of Southern Africa Eiendoms Beperk (Energy Exchange) (100%) en Enerweb Eiendoms Beperk (Enerweb) (51%).
Energy Exchange tree op as die versamelaar van hernubare energie wat deur onafhanklike kragvervaardigers aan industriële en kommersiële gebruikers verskaf word. Die maatskappy is ’n NERSA-gelisensieerde elektrisiteitshandelaar. Deur vraag en aanbod in ooreenstemming met mekaar te bring, word ’n mark vir handel in hernubare energie geskep, tot voordeel van beide kopers en verkopers.
Enerweb is ’n unieke gebruiksgefokusde maatskappy wat ingenieurs-, besigheids- en inligtingstegnologievermoë saamvoeg om elektrisiteitsgebruiksware, handelaars en kragbronne met oplossings te verskaf vir ’n snel veranderende omgewing. Die maatskappy is ’n toonaangewende verskaffer van energieverhandeling, gebruiksontleding, datametingsbestuur en aanvraagreaksie.
Korporatiewe inligting

