Bydrae tot wesensverdienste 30 Junie
2025
R miljoen
30 Junie
2024
R miljoen
 Mediclinic 2 386 1 515

Mediclinic Group Beperk

(Mediclinic)

Effektiewe belang: 50.0%

Profiel: Mediclinic is ’n gediversifiseerde internasionale dienstegroep vir privaat gesondheidsorg wat in 1983 in Suid-Afrika gestig is en afdelings in Switserland, Suider-Afrika (Suid-Afrika en Namibië) en die Midde-Ooste het.

Hirslanden, die grootste privaat gesondheidsorgverskaffer in Switserland, word erken vir kliniese uitnemendheid en ’n uitmuntende kliëntervaring. Hirslanden dien ongeveer ’n derde van binnepasiënte wat in Switserse privaat hospitale behandel word. Die bedrywigheid sluit in 17 hospitale en vyf dagklinieke.

Mediclinic Suider-Afrika, een van die drie grootste privaat gesondheidsorgverskaffers in die streek, fokus daarop om akute sorg, hospitaaldienste met ’n spesialis-ingesteldheid en in ’n wye verskeidenheid vakgebiede, asook verwante diensaanbiedinge te verskaf. Die bedrywigheid sluit in 50 hospitale, vyf sub-akute hospitale, ses geestesgesondheidsgeriewe, 15 dagklinieke regoor Suid-Afrika en 11 nierklinieke.

Mediclinic Midde-Ooste is ’n gevestigde en toonaangewende gesondheidsorgverskaffer in die Verenigde Arabiese Emirate (UAE), met die meerderheid van sy bedrywighede in Dubai en Abu Dhabi (insluitend Al Ain), wat kliniese sorg van internasionaal erkende standaarde verskaf. Die bedrywigheid sluit in sewe hospitale, een dagkliniek en 28 buitepasiëntklinieke.


Korporatiewe inligting

Ekwiteitswaardasie op 30 Junie 2025: $4 676 miljoen
Ongenoteer
Hoofuitvoerende beampte: R van der Merwe
Remgro genomineerde direkteure: J J Durand, A Elias, C P F Vosloo en S Crouse (alternatief)

 

Volhoubaarheidsmaatstawwe

KMB-spandering: R141 miljoen
Opleidingspandering: R205 miljoen
Aantal werknemers: 38 338
BBSEB-status: Vlak 2
Omgewingsaspek: Vlak 1- en 2-uitlatings van 172 817 ton CO2e
 Finansiële hoogtepunte Jaar geëindig 31 Maart
2025
$ miljoen
2024(1)
$ miljoen
%
verandering
 Omset 4 818 4 592 4.9
 Aangepaste EBITDA 737 673 9.5
 Aangepaste bedryfswins 415 356 16.6
 Aangepaste verdienste 239 197 21.3
(1) Vergelykende syfers was vir Mediclinic en is nou vir Manta Bidco hersaamgestel.

Mediclinic se bydrae tot Remgro se wesensverdienste, wat Manta Bidco Beperk (Manta Bidco) se bydrae insluit, het R2 386 miljoen (2024: R1 515 miljoen) bedra, wat ’n toename van 57.5% verteenwoordig. As gevolg van die Mediclinic-verkryging (die verkryging deur Remgro se 50%-belang in Manta Bidco, wat gesamentlik deur Remgro en MSC Mediterranean Shipping Company SA (MSC) besit word, van die volle uitgereikte gewone aandelekapitaal van Mediclinic) het Remgro se indirekte belang in Mediclinic van 44.6% tot 50.0% (of met 5.4%) gedurende Junie 2023 toegeneem. Aangesien Mediclinic ’n Maart-jaareinde het, het die vergelykende jaar Remgro se gedeelte van Mediclinic se resultate vir die twee maande geëindig 31 Mei 2023 teen 44.6% en vir die tien maande tot 31 Maart 2024 teen 50.0% ingesluit. Mediclinic se bydrae in die vergelykende jaar sluit ook transaksiekoste van R165 miljoen in wat met die Mediclinic-verkryging verband hou. Met uitsluiting van hierdie transaksiekoste, het Mediclinic se bydrae tot wesensverdienste van R1 680 miljoen tot R2 386 miljoen (of met 42.0%) toegeneem.

Mediclinic (Manta Bidco ingesluit) rapporteer aangepaste verdienste, wat onbestendigheid ten opsigte van sekere buitengewone inkomste en koste verwyder uit wesensverdienste in die beoordeling van finansiële en bedryfsprestasie, en as ’n manier om aan beleggers en ontleders aanvullende inligting te verskaf vir ’n beter begrip van die finansiële vertoning. Hierdie aanpassings sluit die gedeelte van die bogenoemde transaksiekoste wat deur Mediclinic aangegaan is in. Die vergelykende jaar het ook ’n toename in die aflosbare verpligting van $40 miljoen ingesluit wat met die verkryging van Hirslanden La Colline Grangettes SA verband hou.

Mediclinic het goeie resultate vir die jaar geëindig 31 Maart 2025 gelewer teen die agtergrond van ’n volgehoue uitdagende bedryfsomgewing. Gelyktydige druk op tariewe en bedryfskoste het veral in Switserland ’n invloed op gesondheidsorg-diensverskaffers se vertoning uitgeoefen. Mediclinic se direksie en bestuurspan reageer op hierdie uitdagings met ’n omvattende plan wat daarop gemik is om koste te verminder, effektiwiteit te verbeter en die besigheid op ’n pad van volhoubaarheid en groei te plaas.

Mediclinic se vertoning vir die jaar geëindig 31 Maart 2025 is gedryf deur goeie volumegroei in alle afdelings. Mediclinic se groepomset was 5% hoër teen $4 818 miljoen (2024: $4 592 miljoen) en 4% hoër in konstante wisselkoersterme. Binnepasiënt- en dagtoelatings het met onderskeidelik 1.5% en 3.2% gegroei.

Aangepaste EBITDA was 9% hoër op $737 miljoen (2024: $673 miljoen) en 9% hoër in konstante wisselkoersterme. Die aangepaste EBITDA-marge was 15.3% (2024: 14.7%), ’n aanduiding van goeie omsetgroei en kostedoeltreffendheid wat deels teengewerk is deur hoër verbruiks- en verskaffingskoste as gevolg van volgehoue mengselveranderinge. Aangepaste bedryfswins was 16% hoër teen $415 miljoen (2024: $356 miljoen) en 16% hoër in konstante wisselkoersterme. Aangepaste verdienste was 21% hoër teen $239 miljoen (2024: $197 miljoen). Aangepaste waardevermindering en amortisasie was 2% hoër op $323 miljoen (2024: $318 miljoen) wat dui op volgehoue investering in geriewe en toerusting in die drie afdelings, en aangepaste netto finansieringkoste was 1% hoër op $107 miljoen (2024: $106 miljoen) wat verder die toenames in aangepaste bedryfswins en aangepaste verdienste verduidelik.

Mediclinic het ’n kontantomskakeling van 104% (2024: 92%) gelewer, wat net voor die omskakeling-teikenkoers van 90-100% val, hoofsaaklik vanweë verbeterde invorderings in Switserland en die Midde-Ooste.

Switserland se omset vir die jaar het met 2% tot CHF1 940 miljoen (2024: CHF1 905 miljoen) toegeneem wat gesonde groei van 2.2% in binnepasiënttoelatings weerspieël. Die algemene versekeringsamestelling was marginaal hoër teen 52.6% (2024: 52.1%) vanweë toelatings met algemene versekering wat dié met aanvullende versekering oorskry het. Groei in binnepasiënt-toelatings het tot ’n verbeterde besettingskoers van 58.8% (2024: 58.1%) gelei en is deels deur ’n afname van 3.4% in gemiddelde duur van verblyf teengewerk. Omset vir buitepasiënte en daggevalle was relatief onveranderd teen CHF417 miljoen (2024: CHF408 miljoen) en het 21% (2024: 21%) tot die totale omset gedurende die tydperk bygedra. Die omsetgroei het ’n toename van 4% in aangepaste EBITDA tot CHF266 miljoen (2024: CHF255 miljoen) gelewer. Die aangepaste EBITDA-marge het van 13.4% tot 13.7% toegeneem wat dui op gedissiplineerde kostebestuur wat deur hoër verbruiksgoedere- en voorraadkoste weens verhoogde volumes en samestellingveranderinge teengewerk is.

Suider-Afrika se omset vir die jaar het met 8% tot R22 369 miljoen (2024: R20 786 miljoen) toegeneem in ’n uitdagende ekonomiese omgewing. Betaalde pasiëntdae het met 1.2% toegeneem vergeleke met die vorige jaar en daggevalle met 3.2%. Besetting het verbeter tot ’n gemiddeld van 67.7% (2024: 67.4%) danksy die toelating-groei wat deels deur ’n 0.3% afname in gemiddelde duur van verblyf teengewerk is. Gemiddelde omset per bed per dag was 6.5% hoër vergeleke met die vorige jaar wat dui op jaar-op-jaar-tariefverhogings en spesialiteits-samestellingveranderinge. Aangepaste EBITDA het met 8% tot R4 097 miljoen (2024: R3 784 miljoen) toegeneem wat tot ’n aangepaste EBITDA-marge van 18.3% (2024: 18.2%) gelei het.

Omset vir die Midde-Ooste vir die jaar het met 5% tot AED5 135 miljoen (2024: AED4 892 miljoen) toegeneem danksy voortgesette groei in kliëntbedrywighede en verhoogde apteek-omset. Binnepasiënttoelatings en daggevalle was onderskeidelik 4.8% en 3.5% hoër, en buitepasiëntgevalle het met 1.0% toegeneem. Aangepaste EBITDA het met 10% tot AED788 miljoen (2024: AED714 miljoen) toegeneem danksy omsetgroei en streng kostebestuur. Die aangepaste EBITDA-marge het tot 15.4% (2024: 14.6%) toegeneem.