Die direksie is in die finale instansie verantwoordelik vir die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsbestuursproses en interne beheerstelsel. Die direksie het ’n omvattende risiko- en geleentheidsbestuurstelsel ingestel, wat onderhou word, en voortdurende risiko- en geleentheidsidentifisering en -beoordeling, asook die vaslegging van interne beheermaatreëls, insluit.

Die risiko- en geleentheidsbestuursproses behels die beplanning, rangskikking en beheer van bedrywighede en hulpbronne om die negatiewe impak van risiko’s te verminder tot vlakke wat Remgro kan verdra, sowel as om geleenthede wat sommige risiko’s bied te optimaliseer. Bykomend daartoe beoordeel die prosesse strategiese risiko en die belyning van strategie met die doelwitte en visie van Remgro. Aangesien Remgro ’n beleggingshouermaatskappy is, neem die risiko- en geleentheidsbestuursproses kennis van die risiko’s en geleenthede binne Remgro, asook dié inherent in die beleggingsportefeulje.

Die direksie het die aard en omvang van risiko’s wat Remgro bereid is om te aanvaar in navolging van strategiese doelwitte, beoordeel en aanvaar. Die direksie formaliseer en keur die risiko-aptyt, risikodraende vermoë en risiko-toleransievlakke op ’n jaargrondslag goed.

Die oudit-en-risikokomitee is integraal in die implementering van die ondernemingswye risiko- en geleetheidsbestuursbeleid en monitor, volgens die mandaat verleen deur die direksie, die risiko- en geleentheidsbestuursprosesse en interne beheerstelsels van Remgro en sy volfiliale. Die oudit-en-risikokomitee gee minstens jaarliks terugvoer aan die direksie oor die doeltreffendheid van die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsbestuurprosesse.

Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid definieer die doelwitte, metodiek en verantwoordelikhede van die onderskeie bestuursrolspelers in Remgro. Die risiko- en geleentheidsbeleid streef, onder andere, daarna om die risiko’s en geleenthede voortspruitend uit die drieledige verband waarin Remgro sy sake bedryf, en die kapitaal wat Remgro gebruik en in werking stel, te evalueer ten einde prestasie en hulpbronontplooiing te optimaliseer. Die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid is onderhewig aan ’n jaarlikse hersiening en enige voorgestelde wysigings word aan die oudit-en-risikokomitee voorgelê, en daarna vir aanbeveling aan direksie, wat dit goedkeur. In die jaar onder oorsig het die direksie die risiko- en geleentheidsbestuursbeleid hersien aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV, asook die 2017-COSO-onderneming-risikobestuursraamwerk.

Die oudit-en-risikokomitee het toesig van die risiko- en geleentheidsbestuursfunksie oorgedra na die RGTIB-komitee, wat ’n subkomitee van die oudit-en-risikokomitee is. Die mandaat van RGTIB sluit die handhawing van die risiko- en geleentheidsbestuurbeleid, die daarstelling van ’n bedryfsrisiko- en -geleentheidsregister, tegnologie- en inligtingsrisikobestuur, wetlike nakoming en beroepsgesondheid en -veiligheid in. In die jaar onder oorsig het die oudit-en-risikokomitee die mandaat van die RGTIB-komitee aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien.

’n Jaarlikse onafhanklike interne oudit word gedoen oor die doeltreffendheid van die RGTIB-komitee, wat deel is van die risiko- en geleentheidsbestuursproses wat deur die direksie goedgekeur word.

Die HFB tree as voorsitter van die RGTIB-komitee op en die 15 ander lede is almal senior bestuurders van Remgro. Die voorsitter van die oudit-en-risikokomitee woon vergaderings as ’n ex officio-lid by om die doeltreffende werking van die komitee te verseker en te sorg dat toepaslike risiko-inligting met die komitee gedeel word.

Die Remgro-groep se risiko- en geleentheidsraming, wat alle maatskappye in Remgro se beleggingsportefeulje insluit, word deur die bestuursraad beoordeel.

Remgro se interne ouditafdeling is ’n effektiewe, onafhanklike beoordelingsfunksie en vorm ’n integrale deel van die ondernemingswye risiko- en geleentheidsbestuurstelsel wat gerusstelling verskaf oor die doeltreffendheid van Remgro se interne beheerstelsel. Die oudit-en-risikokomitee het in die jaar onder oorsig verslae oor die doeltreffendheid van die interne beheerstelsels, wat deur die interne ouditfunksie uitgevoer is, geëvalueer, oorweging geskenk aan inligting wat deur bestuur verskaf is, en samesprekings met die eksterne ouditeur gevoer oor die resultate van sy oudit.

Meer besonderhede oor Remgro se risiko-bestuursfunksie is vervat in die risiko- en geleentheidsbestuursverslag. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede dat die stelsel, sowel as die proses van risiko- en geleentheidsbestuur, doeltreffend is.

Remgro het ’n behoorlik saamgestelde gesondheid-en-veiligheidskomitee, soos vereis deur die Wet op Beroeps-gesondheid- en -veiligheid (Nr. 85 van 1993). Die komitee is ’n subkomitee van die RGTIB-komitee en verseker dat Remgro ’n veilige en risikovrye gesondheidsomgewing vir personeel en besoekers verskaf, en in stand hou, deur risiko’s te identifiseer en te sorg dat maatreëls om die risiko’s te verminder, doeltreffend is en nagekom word. Verder monitor dit omgewingspraktyke.

’n Oorsig van sleutelfokusareas in die verslagtydperk, beplande areas vir toekomstige fokus, sowel as doelstellings, asook die kernrisiko’s wat Remgro in die gesig staar, word in die risiko- en geleentheidsbestuursverslag ingesluit.