Die direksie, en die onafhanklikheid van onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, word jaarliks deur die HOD en die direksie geëvalueer. Die vertoning van direkteure word nie op ’n individuele grondslag gedoen nie. Die subkomitees van die direksie doen jaarliks ’n selfevaluering deur lede, met terugvoering aan die raad, terwyl die direksie self ook ’n beoordeling doen.

Die direksie bepaal sy eie funksies, verpligtinge en prestasiemaatstawwe (wat onder andere die beginsels en aanbevole praktyke van King IV in aanmerking neem), sowel as dié van subkomitees, om as norm vir prestasiebeoordeling te dien. Die direksie het besluit om, vanweë die moontlike sensitiewe aard daarvan, nie ’n oorsig van die evalueringsproses, resultate en aksieplanne in die geïntegreerde jaarverslag bekend te maak nie.

Die direksie is tevrede met die onafhanklikheid van die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, insluitende die onafhanklikheid van mnre Fred Robertson, Paul Harris en Murphy Morobe, wat onderskeidelik reeds 18, 17 en 12 jaar op die direksie dien. Gegrond op die evaluering van voorgenoemde direkteure, is daar geen getuienis van enige omstandighede of verwantskappe wat hulle oordeel sal benadeel nie en die direksie is tevrede dat hulle onafhanklikheid op geen manier deur hul dienstermyn beïnvloed word nie.

Soos hierbo genoem, het die direksie ’n HOD aangestel om leiding ten opsigte van die beoordeling van die voorsitter se vertoning te gee.

Die direksie is tevrede dat die evalueringsproses die volgehoue verbetering van Remgro se prestasie en doeltreffendheid tot gevolg het.