Die nakoming van wette, reëls, regulasies en relevante kodes is integraal tot Remgro se risiko- en geleentheidsbestuursproses. Die oudit-en-risikokomitee is, onder andere, daarvoor verantwoordelik dat ’n behoorlike nakomingsraamwerk ingestel, nie-nakoming gerapporteer word, asook om enige wesentlike skending van relevante wetlike regulerende vereistes na te gaan. Die maatskaplike-en-etiesekomitee het ook ’n mandaat om die doeltreffendheid van nakomingsbestuur in die Remgro-groep te monitor.
Die oudit-en-risikokomitee monitor nakoming van die Etiese Kode en gee aandag aan gevalle van bedrog en onreëlmatig-hede. Die Remgro-groep het ’n effektiewe teen-korrupsie bedrogvoorkomings- en -opsporingsproses en verseker daardeur nakoming en risikovermindering. ’n Enkele nie-wesentlike ondersoek is gedurende die verslagtydperk afgehandel.
Gedurende die jaar onder oorsig het die direksie Remgro se wetlike nakomingsbeleid en -raamwerk aan die hand van die beginsels van King IV hersien. Die direksie het bevestig dat daar voldoende bestuursvermoë en -beheermaatreëls bestaan om te verseker dat alle relevante wette en bedryfspraktyke nagekom word. Die wetlike nakomingsbeleidraamwerk identifiseer watter nie-bindende reëls, kodes en standaarde deur Remgro aanvaar is.
Die administrasie van Remgro se wetlike nakomingstelsel berus by ’n lid van senior bestuur wat oor die nodige wetlike kwalifikasies beskik. Senior bestuurslede word op ’n gereelde grondslag ingelig oor alle relevante nuwe wetgewing en wysigings.
Nakomingsbeheer berus ook by senior bestuur, wat gereeld aan die RGTIB-komitee moet verslag doen oor hul nakoming deur die gebruik van ’n selfevalueringsmetodiek. Hierdie proses vorm deel van die jaarlikse gesamentlike gerusstellingsproses.
Die maatskappysekretaris is verantwoordelik om leiding aan die direksie gesamentlik, en direkteure afsonderlik, te gee oor hul pligte, verantwoordelikhede en gesag en hulle bewus te maak van wetgewing en regulasies wat op Remgro van toepassing is. Die maatskappysekretaris is verantwoordelik vir die behoorlike administrasie van direksieverrigtinge en sake rakende toepaslike wetgewing en prosedures.
Wetlike nakoming is ’n staande agendapunt vir direksie-vergaderings. Terugvoering oor die Remgro-groep se wetlike en regulerende risiko’s word op ’n gereelde basis aan die oudit-en-risikokomitee verskaf. Die direksie sien toe dat nakoming begryp word, nie alleen vir die verpligtinge wat dit meebring nie, maar ook vir die regte en beskerming wat dit bied, dat nakomingsbestuur beteken dat ’n holistiese siening geneem word van hoe toepaslike wette en nie-bindende reëls, kodes en standaarde verband hou met mekaar en dat nakoming die volgehoue monitering van die regulerende omgewing, en ’n paslike reaksie ten opsigte van veranderinge en ontwikkelinge, behels.
Me Mariza Lubbe, as ’n uitvoerende direkteur, is verantwoordelik vir nakoming en korporatiewe maatskaplike besteding. As deel van haar pligte rakende nakoming, monitor sy Remgro se verantwoordelikhede ingevolge die Maatskappywet, die JSE se noteringsvereistes en King IV, sowel as die behoorlike en wetlike implementering van Remgro se korporatiewe bedrywighede.