Die direksie is die uiteindelike bewaarder van sy korporatiewe reputasie en verhoudinge met belanghebbendes. Remgro se verhoudinge met alle belanghebbendes is gegrond op die volgende waardes wat verskans, en ondersteun word, deur die maatskappy se Etiese Kode: integriteit, bevoegdheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, billikheid en deursigtigheid. Remgro het ’n belangegroepbeleid aanvaar wat die maatskappy se benadering en strategie ten opsigte van skakeling met belanghebbendes uiteensit, waardeur verseker word dat die benadering korporatiewe bestuursriglyne in ag neem.
In die jaar onder oorsig het die direksie die groep-bestuursraamwerk hersien wat sy rigting ten opsigte van verhoudinge en die uitvoering van gesag regdeur die Remgro-groep verwoord, en waardeur erkenning aan groepmaatskappye as belanghebbendes van Remgro verleen word.
Remgro se hoofbelangegroepe is sy aandeelhouers en die beleggingsgemeenskap, sy personeel, die maatskappye waarin belê word en die ander aandeelhouers van hierdie maatskappye, die gemeenskap, die omgewing waarin sake bedryf word, verskaffers en diensverskaffers, asook die Suid-Afrikaanse regering en regulerende liggame. Die verwagtinge van hierdie belanghebbendes word in ag geneem by die vasstelling van die areas waaroor regdeur die volhoubare ontwikkelingsverslag gerapporteer word.
Effektiewe kommunikasie met aandeelhouers en ander belanghebbendes is grondliggend in die handhawing van Remgro se reputasie as ’n beleggingsvennoot van keuse. Remgro benut ’n wye verskeidenheid van kommunikasiemetodes om te verseker dat kommunikasie met belanghebbendes duidelik en verstaanbaar, sowel as deursigtig, ewewigtig en geloofwaardig is en dat alle relevante feite, hetsy positief of negatief, verskaf word. Sorg word gedra dat die skakeling met belanghebbendes, waar toepaslik, nie slegs eenrigtingkommunikasie nie, maar konstruktiewe, vennootskapsgegronde skakeling is. Dit verseker dat alle regmatige verwagtinge van belanghebbendes sover moontlik geïdentifiseer en gehanteer word.
Kommunikasie met sy aandeelhouers en die publiek is gegrond op die beginsels van tydigheid, ewewigtigheid en die duidelikheid en deursigtigheid van inligting. In hierdie verband het die beleggingsgemeenskap toegang tot dieselfde inligting as Remgro se aandeelhouers. Streng protokols bestaan om die aard, omvang en frekwensie van kommunikasie met beleggers te beheer. Aandeelhouers en die beleggingsgemeenskap word aangemoedig om Remgro se algemene vergaderings by te woon, waar tersaaklike kwessies openlik bespreek word. Bykomende interaksie met institusionele beleggers vind twee keer per jaar plaas tydens die inbel-aanbiedings van die tussen- en finale resultate wanneer vrae aan die HUB en HFB gestel kan word. Gedurende die jaar het Remgro ‘n nuwe beleggersverhoudingsfunksie daargestel om skakeling met beleggers te verbeter. Die beleggersgemeenskap word aangemoedig om die beleggersverhoudingsbestuurder direk te kontak.
Die direksie is beskikbaar om by die algemene jaarvergadering van Remgro genader te word en te reageer op aandeelhouers se navrae oor hoe die direksie sy bestuursverpligtinge nakom. Die aangewese vennoot van die eksterne ouditeursfirma woon ook die algemene jaarvergadering by. Die uitkoms van Remgro se algemene jaarvergadering is in die openbaar op die effektebeurs se nuusdiens (SENS) beskikbaar.
Remgro, soos ander organisasies, het baie ekonomiese impakte op sy belangegroepe deur, onder andere, die skep en verspreiding van welvaart, die skep van indiensnemings-geleenthede, die billike en mededingende vergoeding van werknemers, die betaling van belastings en KMB-inisiatiewe. Remgro bestuur hierdie impakte deurlopend en skakel met belanghebbendes oor sake wat relevant vir hulle is.
Remgro se primêre doelwit is om welvaartskepping en volhoubare groei maksimaal na te streef en in hierdie verband word in die besonder gesorg dat alle aandeelhouers, of klasse van aandeelhouers, gelyke behandeling kry. Spesiale sorg word daaraan bestee om minderheidsaandeelhouers te beskerm teen aksies deur, of in belang van, die vernaamste aandeelhouer wat tot hul nadeel mag wees. In hierdie verband het Remgro ’n HOD aangestel om by vergaderings as voorsitter op te tree in situasies waar die voorsitter ’n botsing van belange het.
Die direksie het nie ’n formele geskilbeslegtingsproses met betrekking tot aandeelhouers ingestel nie, omdat dit glo dat die bestaande prosesse in die Remgro-groep bevredigend funksioneer en nie ’n meer formele en afsonderlike meganisme vereis nie. Aandeelhouers mag ook, bykomend, relevante hulpmiddels ingevolge die Maatskappywet (Nr. 71 van 2008), soos gewysig, gebruik.
’n Oorsig van die sleutelfokusareas in die verslagtydperk, asook beplande toekomstige fokusareas met betrekking tot die inklusiwiteit van belanghebbendes, kan in die verkorte volhoubare ontwikkelingsverslag gevind word.