Remgro en die maatskappye waarin belê is, het, by die vervaardiging en verskaffing van produkte en dienste, ‘n impak op die omgewing. As sodanig is Remgro krities afhanklik van gesonde en werkende ekostelseldienste om voorspoedig te wees en waarde vir sy kliënte, werknemers, gemeenskappe en aandeelhouers te skep. Hierdie dienste sluit skoon en voldoende watervoorrade, die verskaffing van betroubare energie en die hantering van afvalstowwe in. Remgro erken sy rol in hierdie verband en probeer om sy impak tot ‘n minimum te beperk deur gefokusde omgewingsbestuur en die daarstelling van toepaslike teikens, terwyl ook gekyk word na vindingryke oplossings wat ‘n netto maatskaplike en omgewingsvoordeel inhou.
Aan die spits van Remgro se reaksie is die maatskappy se veiligheids-, gesondheids- en omgewingsbestuursbeleid, wat Remgro Bestuursdienste Beperk (RBD – die diensmaatskappy), RCL Foods, Siqalo Foods, Distell en Wispeco insluit. Die beleid bepaal die omvang, grense en bestuurstrukture van Remgro se omgewingsverpligtinge. Remgro se direksie is uiteindelik verantwoordelik vir die implementering van die beleid, maar delegeer hierdie verantwoordelikheid na die risiko-, geleentheids-, tegnologie- en inligtingsbestuurskomitee (‘n subkomitee van die oudit-en-risikokomitee) en die maatskaplike-en-etiesekomitee. Hierdie komitees hersien en beveel die goedkeuring van die omgewingsprosedures aan wat deur RBD geïmplementeer en gehandhaaf word. Sover dit RCL Foods, Siqalo Foods, Distell en Wispeco betref, is dit die verantwoordelikheid van Remgro se verteenwoordigers in die direksies van hierdie maatskappye om die nodige gerusstelling te kry oor die doeltreffendheid van hul onderskeie omgewingsbestuursprosesse. As ‘n sentrale funksie stel Remgro jaarliks ‘n omgewingsrisiko-oorsig op van die maatskappye waarin belê is en word omgewingsprestasies in die onderskeie risikobestuursraamwerke geïnkorporeer.
Meer inligting rakende Remgro se inisiatiewe om sy impak op die omgewing te minimaliseer, word in die volledige volhoubare ontwikkelingsverslag verskaf.