Volgens die JSE se noteringsvereistes moet die eksterne ouditeur van alle genoteerde maatskappye en hul belangrikste filiale by die JSE geakkrediteer wees. Remgro se eksterne ouditeur, PricewaterhouseCoopers Geïnk., is as sodanig by die JSE geakkrediteer. Die eksterne ouditeur woon alle vergaderings van die oudit-en-risikokomitee by en het direkte toegang tot die voorsitter van hierdie komitee, asook die voorsitter van die groep.
Nie-ouditdienste deur die eksterne ouditeur verskaf, word deur die oudit-en-risikokomitee goedgekeur en hou hoofsaaklik verband met belastingaangeleenthede. Hierdie dienste word deur ’n afdeling wat onafhanklik van die ouditvennote is, gelewer.