Die direksie delegeer sekere funksies en verantwoordelikhede na individuele direkteure, asook na staande of ad hoc-direksiekomitees. Die direksie verstaan egter dat die delegering van verantwoordelikhede na ’n komitee of ’n spesifieke direkteur op geen wyse ontheffing van die direksie se aanspreeklikheid beteken nie.

Spesifieke verantwoordelikhede word na die direksie se subkomitees gedelegeer, wat duidelike take in ooreenstemming met goedgekeurde mandate het. Die delegering na komitees word by wyse van formele opdragte aan elke komitee aangeteken. Dié opdragte word jaarliks deur die direksie hersien. Terugvoering van die komitees se werksaamhede word by elke direksievergadering aan die raad voorgelê.

Lede van die uitvoerende en senior bestuur word genooi om komiteevergaderings op ’n staande of ad hoc-grondslag by te woon om tersaaklike inligting en insigte in hul onderskeie verantwoordelikheidsgebiede te verskaf.

Oudit-en-risikokomitee

Remgro het ’n oudit-en-risikokomitee aangestel wat uit vier onafhanklike, nie-uitvoerende direkteure, met voldoende vaardighede en ondervinding, bestaan. Een van die lede van die komitee is deur die direksie aangestel om as voorsitter van die komitee op te tree.

Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik vir die Remgro-groep se geïntegreerde jaarverslag, interne finansiële beheermaatreëls en rekenkundige stelsels, interne oudit, eksterne oudit, risiko- en geleentheidsbestuur, die finansiële state en enige ander voorgenome vrystelling van pryssensitiewe inligting vir eksterne distribusie of publisering, insluitende dit wat deur enige regulerende of statutêre owerheid vereis word. Die oudit-en-risikokomitee is verantwoordelik vir die toepassing van ’n gekombineerde gerusstellingsmodel om ’n gekoördineerde benadering tot alle gerusstellingsaksies te verseker.

Die verantwoordelikhede van die oudit-en-risikokomitee is gekodifiseer in ’n formele opdrag wat minstens jaarliks hersien word. In die jaar onder oorsig het die direksie die opdrag van die oudit-en-risikokomitee aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien. ’n Verslag van die oudit-en-risikokomitee, wat beskryf hoe die komitee sy verpligtinge nagekom het, word jaarliks gepubliseer.

Die direksie glo dat die huidige lede van die oudit-en-risikokomitee voldoende bevoeg en ervare is. Die HUB en HFB is nie lede van die oudit-en-risikokomitee nie, maar woon vergaderings op uitnodiging by, indien nodig, om tersaaklike inligting en insigte te verskaf.

Die oudit-en-risikokomitee onderneem jaarliks ’n hersiening van Remgro se HFB en die finansiële funksie. Remgro het ’n uitvoerende finansiële direkteur (mnr Neville Williams) as HFB van die maatskappy aangestel. Die oudit-en-risikokomitee is tevrede met die toepaslike kundigheid en ervaring van die finansiële direkteur.

Die oudit-en-risikokomitee vergader jaarliks met die interne en eksterne ouditeure onderskeidelik, sonder die teenwoordigheid van bestuur, om ’n uitruiling van sienings en besorgdhede, wat moontlik nie geskik is vir ’n openbare gesprek nie, te vergemaklik.

Die oudit-en-risikokomitee het in die jaar onder oorsig PricewaterhouseCoopers Geïnk. (PwC) as onafhanklike eksterne ouditeur benoem en sy fooi, asook sy aanstellingsvoorwaardes, bepaal. Die aanstelling is by Remgro se algemene jaarvergadering aan aandeelhouers voorgelê vir goedkeuring. Die komitee is tevrede dat Remgro se eksterne ouditeure onafhanklik van die maatskappy is en daarom hul funksies sonder onbehoorlike beïnvloeding kan verrig. Die aangewese eksterne ouditvennoot wissel elke vyf jaar. PwC is reeds die afgelope 51 jaar die maatskappy se ouditeur. Die besigheid van die maatskappy is voorheen deur Rembrandt Groep Beperk behartig van wie, gegrond op beskikbare statutêre rekords, PwC en sy voorgangers reeds vir 71 jaar die eksterne ouditeur is. Die komitee is tevrede dat PwC, nieteenstaande sy termyn as eksterne ouditeur, onafhanklik van die maatskappy is.

Die oudit-en-risikokomitee vergader minstens vier keer gedurende ’n verslagtydperk. Die doeltreffendheid van die komitee word op ’n jaarlikse grondslag beoordeel by wyse van selfevaluering, asook ’n beoordeling deur die direksie.

Die oudit-en-risikokomitee verskaf terugvoering aan die direksie by elke direksievergadering wat op die vergadering van die oudit-en-risikokomitee volg. Rapportering aan aandeelhouers geskied deur die oudit-en-risikokomiteeverslag wat by die geïntegreerde jaarverslag hier ingesluit word.

Die oudit-en-risikokomitee is tevrede dat Remgro toepaslike finansiële rapporteringsprosedures daargestel het, wat werk, en dat die komitee sy verpligtinge, in terme van sy opdrag, nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die oudit-en-risikokomitee sy verantwoordelikhede nagekom het.

Maatskaplike-en-Etiesekomitee

Die direksie het die algemene oorsig en rapportering oor volhoubaarheid aan die oudit-en-risikokomitee, bygestaan deur die maatskaplike-en-etiesekomitee, gedelegeer. Die maatskaplike-en-etiesekomitee hou toesig en doen verslag oor Remgro se etiek, volhoubare ontwikkeling, asook verhoudinge met belanghebbendes en verseker daardeur dat Remgro ’n goeie en verantwoordelike korporatiewe burger is, en bly. Die rol en verantwoordelikhede van die maatskaplike-en-etiesekomitee is gekodifiseer in ’n handves (beskikbaar hier) wat minstens jaarliks nagegaan en gedurende die verslagtydperk aan die hand van die beginsels en aanbevole praktyke van King IV hersien is. ’n Maatskaplike-en-etiesekomiteeverslag word jaarliks gepubliseer waarin aangedui word hoe die komitee sy verpligtinge nagekom het.

Die maatskaplike-en-etiesekomitee bestaan tans uit vyf lede, insluitende uitvoerende en nie-uitvoerende lede, waarvan die meerderheid onafhanklike, nie-uitvoerende direkteure is. Die direksie glo dat die huidige komiteelede oor voldoende kundigheid en ervaring beskik.

Die maatskaplike-en-etiesekomitee vergader minstens twee keer gedurende ’n verslagtydperk. Die doeltreffendheid van die komitee word op ’n jaarlikse grondslag beoordeel by wyse van selfevaluering, asook direksiebeoordeling.

Rapportering aan aandeelhouers geskied deur die maatskaplike-en-etiesekomiteeverslag. Die maatskaplike-en-etiesekomitee is tevrede dat dit sy verantwoordelikhede ingevolge die handves nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die komitee sy verantwoordelikhede nagekom het.

Vergoedings-en-nominasiekomitee

Die vergoedings-en-nominasiekomitee bestaan uit vier lede, almal nie-uitvoerende direkteure, met die meerderheid wat as onafhanklik geklassifiseer kan word. Die voorsitter tree as ex officio-voorsitter van die vergoedings-en-nominasiekomitee op. Hoewel hy nie onafhanklik is nie, ondersteun die direksie sy voorsitterskap gegewe die noodsaaklikheid om Remgro se vergoedingsbeleid in ooreenstemming met sy korporatiewe strategie te bring, asook die feit dat hy geen vergoeding van Remgro ontvang nie.

Die vergoedings-en-nominasiekomitee vergader minstens een keer per jaar. Die HUB woon alle vergaderings van die komitee ex officio by. Die vergoedings-en-nominasiekomitee se mandaat (beskikbaar op Remgro se webwerf) word jaarliks hersien en die komitee se doeltreffendheid word daarvolgens beoordeel. Die komitee is tevrede dat dit sy verantwoordelikhede, in terme van sy opdrag, nagekom het. Die direksie is ook tevrede dat die vergoedings-en-nominasiekomitee sy verantwoordelikhede nagekom het.